Somer deur Jaco Fouché: ’n resensie

  • 0

Somer
Jaco Fouché
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798175340

“Lank lê sy so stil, met haar wang teen die boom, haar liggaam op die sagte aarde en in haar gebroke hart die diepe wete dat alles moet verbygaan …” (Van den Heever 1957:149). Met die eerste oogopslag van Jaco Fouché se jeugroman Somer het ek my gehawende 1957-kopie van CM van den Heever se klassieke roman, wat in 1935 verskyn het, geraadpleeg. Bostaande aanhaling is die karakter Linda se woorde en die slotsin in daardie roman. Soos seisoene kom en gaan, loop die mens se lewensiklus sy gang en word daardie somerseisoen van die prille jeug met die bewuswording van verganklikheid vervang.

Jaco Fouché is ’n gesoute romansier met ’n rits romans agter sy naam. In 1997 word die Eugène Marais-prys vir Die Ryk van die Rawe (1996) aan hom toegeken. In 2012 ontvang hy die derde prys in NB-uitgewers se Groot Roman-kompetisie vir Liefste Lena. Vanjaar word laasgenoemde prestasie herhaal en ontvang Fouché dieselfde prys vir Die aanspreeklikheid.

Om ’n jeugroman te skryf sit nie in enige skrywer se broek nie. Somer is Fouché se tweede jeugroman naas Siobhán van die sirkus, wat in 2014 verskyn het. Nadene Kriel se aanloklike omslagontwerp prikkel onmiddellik die leser se herinneringe aan vergange somers en jeugdige drome wat soos die wye oseaan voor menige skoolverlater uitgestrek lê. Soortgelyk aan Hans du Plessis se Disse flippen stukkende wêreld dié, my ou (1991) handel die verhaal oor die vriendskap tussen twee seuns uit verskillende sosio-ekonomiese groepe – een wit en een bruin. Die roman belig, soos in Du Plessis se geval, die komplekse rasseverhoudings wat steeds in talle gemeenskappe regoor Suid-Afrika aan die orde van die dag is. Na 24 jaar van ’n veelrassige demokrasie word Suid-Afrikaners steeds deur middel van sosio-ekonomiese faktore van mekaar geskei.

Die verhaal word vanuit Maison Jonkers se perspektief vertel. Maison woon in die onderdorp van Hawston. Sy ma het haar gesin versaak om sendingwerk in Kaapstad te doen. Maison word met allerlei uitdagings, soos armoede en werkloosheid, gekonfronteer. In teenstelling woon André Lourens in die gegoede buurte van Onrus en het nie enige materiële tekort nie. Maison en André se paaie kruis op skool en deur die loop van hul matriekjaar en die daaropvolgende somervakansie word ’n vriendskap tussen hierdie twee jong mans gesmee.

Fouché bespreek talle temas in die roman: emigrasie, godsdiens, seksualiteit, vriendskap, geestesgesondheid, armoede, misdaad, afwesige ouers, rassisme en stereotipering kom aan bod. Beide Maison en André se lewensverhale geniet aandag deur die loop van die roman en enkele raakpunte tussen hul onderskeie lewens word sodoende geïdentifiseer.

Alhoewel die narratief op sigself interessant daar uitsien, is daar enkele aspekte wat my kwel. Maison en André se taalgebruik kom as ongeloofwaardig voor. As kritiese leser het die skrywer se volwasse stem te dikwels deurgeskemer en sodoende afbreuk gedoen aan die geloofwaardigheid van die tienerkarakters. Op bl 137 antwoord Maison André byvoorbeeld soos volg: “Aag, hel. Oud en moeg en der dagen sat in die diens van die Here.” Dit is hoogs onwaarskynlik dat ’n tienerseun (wat homself as ’n swak akademiese presteerder beskryf) in 2018 so ’n Nederlandse aanhaling in ’n informele gesprek met ’n vriend sal gebruik. Op bl 34 sê André hy “hoor [h]ulle het teenspoed gehad”. Alhoewel daar nie noodwendig van skrywers verwag word om streng by Standaardafrikaans te hou tydens die skryf van ’n jeugroman nie, is dié twee karakters se taalgebruik effens dik vir ’n daalder.

Sekere aspekte van die narratief, soos André se broer, Martin, se siektetoestand, die ma wat haar gesin uit die bloute verlaat om sendingwerk te gaan doen, en André se obsessie om met Maison bevriend te raak, laat my met meer vrae as antwoorde. Aanvanklik kom Maison en André se vriendskap gedwonge voor. Waarom reik André eers in sy matriekjaar na Maison uit ten spyte van die feit dat hulle in dieselfde skool en graad is en al ’n geruime tyd saam rugby speel? Die uitbeelding van André se broer wat aan ’n senutoestand ly, skep ’n wanindruk van persone wat aan geestesiektes ly. Hy word as ’n patetiese figuur uitgebeeld. Boonop word daar gesuggereer dat Martin genees kan word as Maison se ma hom help deur vir hom te bid. Om godsdiens as Martin se “kruk” te gebruik, grens net te veel aan ’n sedelessie – ’n aspek wat in jeugromans vermy moet word: “Ek hoop eintlik Martin kan weer beter word as hy net by die kerk is” (38). Alhoewel Martin wel later in die roman in ’n psigiatriese hospitaal opgeneem word, is sy obsessie om deur Maison se ma “genees” te word, problematies. Die slot is vertelagtig en opsommend van aard en skep die indruk dat al die onderskeie verhaallyne met ’n enkele handgreep bymekaar getrek moes word.

Die konsep waarmee Fouché gewerk het, het die potensiaal gehad om ’n opwindende jeugroman tot stand te bring. Die teks kon egter strenger geredigeer gewees het om die verhaal in sy geheel meer vaartbelyn te maak. Te veel temas word by die narratief betrek en die soms té formele taalgebruik doen afbreuk aan die hoofkarakters se geloofwaardigheid. Vergeleke met ander jeugromans wat onlangs verskyn het, haal Somer nie die paal nie.

 

Bibliografie

Van den Heever, CM. 1957 (1935). Somer. Pretoria: JL van Schaik.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top