Biebouw-resensie: Solank verlange die sweep swaai deur Danie Marais

  • 0

Titel: Solank verlange die sweep swaai
Outeur: Danie Marais
Uitgewer: NB Uitgewers
ISBN: 9780624068426

Koop Solank verlange die sweep swaai by Kalahari.com

In 2006 debuteer Danie Marais met In die buitenste ruimte, ’n bundel waavoor hy die Ingrid Jonker-prys, die Eugène Marais-prys en die UJ-debuutprys ontvang. Die verhalende inslag van sy debuutbundel, asook van sy tweede, Al is die maan ’n misverstand (2009), het aanleiding gegee tot heelwat bespreking oor die aard van die sogenaamde narratiewe praatvers in Afrikaans. In sy artikel wys Bernard Odendaal (2009) op die gevare verbonde aan hierdie tipe vers: ’n tipe eenselwigheid en ’n alte enumeratiewe uitweidende aanslag, en noem ook dat Marais se herhaaldelike gebruik van Engelse woorde studentikoos aandoen. Odendaal wys ook op oordrywing en sentimentaliteit in Marais se debuut. Adéle Nel (2010) koppel Marais se werk ook aan die sogenaamde Beat-generasie en wys op die “kruising van grense tussen die sogenaamde hoë en lae kulture”. Voorts wys sy ook op die toeganklikheid en die populêre inslag van Marais se verse.

Die sentimentele faktor is, gegewe my siniese siel, steeds sterk aanwesig in Marais se derde bundel en die leser word reeds hierop voorberei deur die titel – in teenstelling met die bandontwerp en illustrasies van Anton Kannemeyer. Die titel is die openingsreël van “As jy wil” (104):

Solank verlange die sweep swaai
sal begeerte blind dikteer
sal liefde die laksman speel
maar vir jou, Kuiltjies,
het ek net so per ongeluk
in die middel eintlik van ’n ander
koue blou oorlog liefgekry.

In breë vertel dié bundel die verhaal van ’n middeljarige man, die probleme met sy vrou en sy liefdevolle afwagting op die koms van sy dogter. Die outobiografiese inslag van Danie Marais se ander bundels word hier voortgesit en die vyf afdelings in die bundel word elk aan ’n bepaalde adres in en om Kaapstad gekoppel. Marais is ook bekend as musiekjoernalis en dit verklaar ook die verwysings na Bruce Springsteen, Emmylou Harris en Elvis. In die gedig “1 2 3 blok myself!” (34) word moderne jazz ’n “mislukte musikale/ masturbasie” genoem. Vernuftig word die vrou in “As my vrou” (38) vergelyk met die karakter Mary uit een van Bruce Springsteen se liedjies, en selfs met ’n karakter uit ’n Russiese roman om aan te dui hoe haar “hulpelose man” in sy huweliksplig faal.

Marais was in 2010 medesamesteller van Nuwe stemme 4 en in die inleiding noem hy die kenmerke van ’n swak gedig. In die eerste afdeling van sy derde digbundel besin hy ook oor die poësie en die kenmerke van goeie poësie. Volgens hom is goeie gedigte daardie gedigte wat jou soos “kopligte/ (...) fataal verblind”. Die oorgrote aanbod van verse in Solank verlange die sweep swaai slaag nie hierin nie. Daarvoor raak Marais se gedigte nou te voorspelbaar en lees sommige – en ek moet die gewraakte uitdrukking gebruik – nes verkapte prosa, asof die digter die virtuouse aanslag van sy debuut begin verloor het.

Ook in “Digter, basterwit” (24) word, net soos by Archibald MacLeish, weer eens besin oor “beste” gedigte wat nie soseer “betekenis” het nie en wat eerder “’n ervaring” as ’n les is. Hierdie gedig lewer ook kommentaar op die sogenaamde “wit basterdigters” wat in postkoloniale Afrika in hul bastertaal probeer sin maak van kwessies soos erfskuld en lewe in Afrika. In “Wit mens se sad” (70) lewer die digter selfondermynende kommentaar as hy in gesprek met Ronelda Kamfer ’n oorsig gee oor sy lewe as buitestander, maar ook hoe bevoorreg hy was as wit middelklasman en of sy geseur oor sy probleme werklik so erg is, gegewe die konteks waarin hy leef en skryf. Trouens, in die gedig “In Oldenburg se winterbiblioteek” (73) – wat skakel met die Duitse verwysingsveld van sy debuut – merk hy tereg op:

In Oldenburg se winterbiblioteek het ek gevoel ek moet ook
pen en papier aan my eie hopeloos bevoorregte
godverlate lewe slaan.

As iemand wat “middeljarig, middelklas bly” en soos ’n Siegfried van die voorstede veg teen “belasting en dilemmas,/ egskeidings of hinkepink huwelike/ tussen misdaad en sleur” (77) moet hy nie net sin maak uit sy eie lewe nie, maar moet hy ook die “superpappa-pak” aantrek en toesien dat sy dogter veilig is.

“Die dronkverdriet hofnar dreig melodramaties om die tuig neer te lê” (91) is eweneens ’n kragtige manifes oor die digterskap en staan ook in die teken van die aanhaling uit Auden elders in die bundel, naamlik dat poësie eintlik tot niks aanleiding gee nie.

In teenstelling met Marais se tradisionele aanslag is die gedig “In die woestyn” (67), waarin hy, na Stephen Crane, ’n meer gestroopte vers aanpak. Ook die slotgedig, na aanleiding van Nabokov, is ’n gestroopter praatvers.

Verblydend is die aanvangreëls van die gedig “Ek en Pappa” (35):

Ek lees Dostojefski se Notes from Underground,
want ek probeer ’n klein Afrikaanse roman skryf
oor ’n ondergrondse middelklasman.

Ek sien uit na hierdie roman – daarin kan Marais sy narratiewe en poëtiese inslag goed kombineer. Miskien voel ek dat die outobiografiese verslaglewering oor sy saai middelklaslewe nou te eenselwig word en dat daar nie genoeg poëtiese eksperimentering is om die leser tot ander insigte te dwing nie.

Bibliografie
Nel, Adéle. 2010. Ruimtelike konfigurasies as narratiewe tegniek in In die buitenste ruimte. Stilet, XXII(2).
Odendaal, Bernard. 2009. Narratiewe elemente in Danie Marais se debuutbundel. Stilet, XXXI (2). Ook op Versindaba.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top