Beste Pieter
Jou beskrywing van die vereistes van wragtigware Afrikaners is baie humoristies, maar baie waar. Net soos die duikweg onderdeur die spoorlyn met die groot kennisgewing “Slegs vir Blankes” ’n uiters humoristiese herinnering uit my kinderdae is, is dit ook geweldig waar. Ek is egter van mening dat jou puntestelsel, soos my eksklusiewe duikweg, tot die verlede behoort en dat ons moet vorentoe beweeg.
My betoog is dat ons die begrip “Afrikaner” moet verruim en herdefinieer. Ek wil onder andere graag vir Koos Bekker van Media 24, Whitey Basson van Shoprite, Christo Wiese van Pepkor, Japie (ek het nou sy van vergeet) van NASA, Jonathan Jansen van Kovsies, George Claassen, Jurie van den Heever, Adam Small en Breyten Breytenbach almal insluit. Miskien is my voorstel dat die soepel woord “Afrikaner” vir hierdie doeleindes gebruik word heeltemal idealisties en naïef.
Uit die skrywes van Jan Rap, Thys Human en Johannes Comestor lei ek af dat die term “Afrikaner” die eksklusiewe eiendom van ’n sekere denkrigting is (of só dink hulle altans). Enige voorstelle tot die verbreding van die begrip is taboe en moet nie eers oorweeg word nie. In daardie geval bepleit ek ’n ernstige besinning van hulle kant af oor die definisie van “Afrikaner” en mag jou puntestelsel straks baie handig te pas kom.
Indien die term “Afrikaner” dié groep mense beskryf wat na 1994 hulle vryheid ontneem is, waarop voortdurende vyandige aanslae geloods word en vir wie enklawes in die buiteland die enigste werkbare opsie is, is ’n nuwe term vir dié wat nie so voel nie dalk nodig. Vir dié van ons wat ’n toekoms in Suid-Afrika sien en ons vryheid, soos in die grondwet beskryf, opeis terwyl ons vrywillig rondom die Afrikaanse taal verenig, het die tyd dalk aangebreek om ons verknogtheid aan die Afrikanerdom te heroorweeg.
Of moet ons dalk “Afrikaner” vir ons opeis en hulle na ’n nuwe term laat soek?
Groetnis
Thomas


Kommentaar
Beste Thomas,
Ek dank jou vir jou inset, en vir jou gedagtes oor wat juis die begrip Afrikaner insluit. My puntestelsel behoort tot die verlede en definineer ’n elite groep wat vandag nie meer bestaan nie (meeste van hulle is reeds in die graf) maar hulle bly ’n groep waarna gehunker word, veral in die gedagtes van Afrikaners soos Jan Rap en kie. Die suksesvolle behaling van toppunte in die toets vir ware Afrikanerskap weerspieël dan die ideale beeld van die ware Afrikaner in murg en been (met ’n groot sak sout!)
As die beskrywing van die wragtigware Afrikaner soos vasgestel deur 10 punt skaal dan tot die verlede behoort, hoe lyk die wragtigware Afrikaner vandag? ’n Steekproef behoort geloods te word onder die jonger geslag (onder 30 jaar) wat hulle beskou as ware Afrikaner-wees. Wat ons geslag dink word dag by dag van minder belang.
Wat die Nasionaliste destyds reggekry het was om almal so bewus te maak van ras en te indoktrineer oor ras dat dit geslagte gaan neem om die situasie in die land te herstel, indien ooit. In Brasilië het hulle na die emansipasie van die ingevoerde swart slawe nooit ’n issue van ras gemaak nie, met die gevolg dat die spil waarom vandag alles draai min met ras te doen het, hoewel persone van Europese oorsprong vandag al die rykdom van die land besit.
Dit is tragies dat die sosiale ontwikkeling in Suid-Afrika so geknog was aan taal en ras. Ons sou vandag beter daarvan afgewees het as ons in die eerste plek almal ’n Suid-Afrikaanse identiteit ontwikkel het, onafgesien van taal en ras, en dan kon mens praat van Engelssprekende Suid-Afrikaner, Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner, Zoeloesprekende Suid-Afrikaner ... en dies meer. Adam Small sal dan ’n Afrikaanssprekende Suid-Afrikaner wees. Hierdie definisie het ook geen verwysing na ras nie. Op hierdie wyse kan die hele konsep van "Afrikaner" in sy geval vermy word, ’n konsep wat in die gedagtes van sekere "Afrikaners" hulle ekslusiewe eiendom is.
Ek sien uit na jou kommentaar.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Thomas, dis duidelik jy het my repliek op jou vorige artikel nie goed verstaan nie. Wat ek eintlik daarin betoog is dat dit nie vir JOU en al diegene wat jy nou noem wat jy graag as Afrikaners wil beskou, is om te bepaal wie ’n Afrikaner is nie. Jy en al diegene wat jy genoem het, weier of is uiters huiwerig om hulself as Afrikaners te bestempel. Hulle wil nie vereenselwig word met ons wat volhou dat ons lede is van die Afrikanervolk en dat slegs mense wat Afrikaners (soos die term nou oor baie dekades gebruik is om ’n aparte volksidentiteit aan te dui) wil wees, dit kan wees.
Julle kan nie die term nou "opeis" nie – veral nie as julle dan diegene wat julle daarvan ontneem eintlik nie in julle nuwe groepering ingesluit wil hê nie. Hoekom dan die term begeer? Baie beter dan, om soos jy wel dalk kan oorweeg, ’n nuwe, eie term te skep wat daardie nuwe groepering beskryf. Daar was een tyd die poging om "afrikaanses" te gebruik, maar dit het geen inslag gevind nie.
Kry dus iets heel nuuts wat nie eens "Afrikaans" daarin het nie. Daarom my voorstel van iets soos Kaaps – nogal goed as dit duidelik is dat die taal wat baie van julle praat meer Kaaps as Afrikaans is en al hoe meer so word en al hoe meer mense in daai groep verengels.
En julle kan probeer om Afrikaners oor te haal om by julle groepering aan te sluit – en ek vermoed ’n goeie klompie gaan dit wel doen – soos hulle dit eintlik reeds gedoen het as ’n mens na reaksies in die Afrikaanse media kyk. Naspers se ganse redaksies is baie duidelik glad nie begerig om Afrikaners te wees nie.
Maar as ons klaar verdeel het en uitgesorteer is, dan los julle ons uit om ons ding te doen – dan probeer julle nie vir die Afrikaners wat oorbly (hoe min ook al in getalle) vertel hoe en wat hulle moet doen om ’n vorm van vryheid vir hulself uit te werk nie. Maar julle moet weet dat julle nooit ooit op vryheid en ’n eintlike eie identiteit kan aanspraak maak nie, want julle bly duidelik in die eerste plek "Suid-Afrikaners" en aanvaar daarmee onderdanigheid en gehoorsaamheid aan die regering van die dag – wat tot in oneindigheid ANC gaan bly.