Soek 'n ander planeet

  • 3

Die aarde is nie geskik vir menslike bewoning nie. In die winter wil jy amper vrek van die koue, in die somer bars jy van die hitte. Dit gaan van uiterste tot uiterste.

Boonop is ons planeet onderhewig aan droogtes en vloede, aardbewings en verwoestende winde en 'n klomp ander gevare.

Gepraat van droogtes: ons het gedurig watertekorte, soms oor groot gebiede, maar daar word gepraat van nog miljoene spoeltoilette bou. Het iemand al ooit gedink waar die ekstra water gaan vandaan kom? Op die klein dorpie Elliot in die Oos-Kaap, waar ons 'n tyd lank gewoon het, was daar nog baie toilette met die emmerstelsel toe ons begin 1960 daar weg is. Ons s'n was 'n stewige geboutjie van gepleisterde baksteen en wit geverf, so tien meter agter die huis. Binne-in was 'n sterk houtbank van kant tot kant, toe voor en met 'n gat bo reg in die middel. Agter die gebou was 'n opening waardeur die vol emmer uitgehaal en 'n skone ingesit kon word.

Die munisipale werkers het snags gekom met die nagwa en die vol emmers weggery met 'n wa en span osse! Daar was nooit 'n probleem vir enigiemand nie, alles was netjies en skoon gehou. Daar was wel 'n effense reuk in die geboutjie, maar dit kon tot groot mate verbloem word met ontsmettingmiddel en reukverdrywers. Die wa het rubberwiele gehad en was dus nie juis steurend in die nag nie.

Die geheim blyk dus te wees 'n stewige konstruksie en gereelde vervanging van die emmers. Dit sal baie goedkoper wees om sulke stelsels op te rig en in stand te hou as om spoelstelsels te bou wat baie water gebruik en herstel moet word as dit lek of verstop raak weens onkundige mense wat allerlei dinge (bv babadoeke) daarin probeer afspoel.

Gepraat van die kostes kan mens ook wonder hoe gaan gratis universiteitsopleiding gefinansier word. Iemand moet inisiatief neem met voorstelle, voor daar weer vernietigende betogings plaasvind. Daar kan 'n stelsel voorgelê word waarvolgens die welgestelde studente die armes subsidieer. Iets soos die volgende:

Inkomste bo R500 000 per jaar betaal klasgelde plus 40%

R300 000 tot 500 000 inkomste betaal klasgelde plus 30%

R200 000 tot 300 000 inkomste betaal klasgelde plus 20%

R90 000 tot 200 000 inkomste betaal klasgelde plus 10%

R60 000 tot R90 000 inkomste betaal net gewone klasgelde.

Onder R60 000 inkomste betaal niks.

Die syfers hierbo het ek uit my duim gesuig, maar kundiges kan dit verfyn tot 'n werkbare oplossing.

Dit kan dan aan die studente-organisasies voorgelê word om hul reaksie te toets.

Groete

 

  • 3

Kommentaar

  • Hugo Steenkamp

    Ek stem, die aarde is nie my woning nie! Die toiletsisteem wat jy voorstel kan werk, ek het geen pyne daarmee nie. Maar dink jy regtig dat mense ander moet subsidieer? Die rykes kan net soveel belasting betaal totdat dit nie meer die moeite werd is om ryk te wees nie, dan loer 'n mens die gevaar in die oë - wat as die rykes net ophou gee? Dan sit almal met niks. EK stuur eerder my kind dan oorsee as wat ek vir ander moet betaal? 'n Beter plan volgens my [nie noodwendig die beste nie] laat die wat wil swot swot en die wat dit maak aan die einde van die dag en graad vang se studies word deur die staat gesubsidieer - diegene wat dit nie maak nie en wat opskop staan baas vir die rekening. Of dalk kan minder mense die soustrein ry ...

  • Tiens Eintlik wil jy ons reaksies toets. Ek het vir 5 jaar gewerk alvorens ek 'n beurs gekry het om te gaan swot, aandklasse draf vir 4 jaar terwyl ek werk en daarna moes ek die beurs terugwerk. Daar is baie wat destyds nie kon gaan swot het omrede hul ouers dit nie kon bekostig het nie, nes daar tans baie is wat nie kwalifiseer vir NSFAS-lenings nie. Van wanneer af het dit 'n reg geword om te mag studeer en dan nog boonop gratis?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top