uit die grys skittery gelaat op my graf groei blomme
wit en geel en van plastiek vir die kinders om te pluk
soms lig ‘n hond sy been daarteen
of sit ‘n grafgrawer daarop en rook sy lucky strike
ek wag vir die dag van die groot grafroof
wanneer die opsigter van ons blok en sy gespuis
soos seerowers sal skrop in die ingesakte grond
om my lyk soos ‘n skat toegerol in ou lap
uit te haal en in te laai in hul trok
terwyl jy huil voor die ikone en die kerse
gaan hulle met my lyk loop
van deur tot deur in die woonstelgange
vir almal wie ons nooit wou groet nie
wys waar my nek gebreek het na die val

