Ek stem saam met Varkspek en ander. SêNet het nou 'n vreemde, leë plek geword met min verskeidenheid briewe en erg vervelig, soos 'n kuierplek wat 'n besliste toemaak in die gesig staar.
Die forum het sy hart verloor.
Wat my betref kan dit gerus maar sluit. 'n Mens gaan loer nog daar om dalk iets interessants te lees, maar daar is bloedweinig wat 'n nie-akademies ingestelde, gewone leser interesseer. Jan Rap en Johannes Comestor skryf steeds boeiende en moeite-werd briewe, maar verder is daar niks. Die mense wat altyd gewild was (soos Oester) het ook stil geword. Dit is asof niemand meer die vrymoedigheid het om sommer net lekker te gesels of net iets wat jou na aan die hart lê met ander te deel nie, want die plek is nie vriendelik nie, amper verwyder van en verhewe bo die alledaagse.
Maar miskien was dit juis die idee agter die vernuwing, om deelname te beperk tot enkele vaal briewe per dag. In dié geval het LitNet dan uitstekend in sy doel geslaag en ontslae geraak van die oorgrote meerderheid van sy skrywers en lesers.
So dan is dit tyd vir groet.
Gerrida


Kommentaar
Hallo, Gerrida. Dankie vir jou brief. Dis nooit lekker om te hoor dis koud op 'n plek nie en die enigste oplossing is dan maar om nader aan mekaar te staan. Of hoe? As mens so half in 'n bondel is, bly almal mos warmer. Dit beteken ook mense kan mooier hoor as iemand ongelukkig voel oor 'n saak. Of saam opgewonde raak oor 'n ding. Mense wat naby aan mekaar staan en mekaar in die oë kyk, hoor dalk die ander se harte ook klop. My punt is: ons werf lyk nuut en dalk begin die verf nou droog genoeg raak dat ons vir al die nuwe intrekkers kan begin sê welkom hierso. En vir almal wat nog al die jare hier is, kan sê hulle kan maar inkom, die plek lyk dalk bietjie verskillend, maar sy fondamente is nie weg nie. Enigiemand is welkom om in te spring en 'n paar nuwe portrette te hang (asseblief wil julle dit nie doen nie?). Dis julle plek, maak daarmee nes julle wil. Baljaar of baklei, wees intellektueel of steek 'n braaivleisvuur aan. Want die mense wat hierdie plek se hart laat klop, is julle.
En as jy iets prakties wil doen om SêNet te verbeter:
1. Skryf self 'n brief - oor iets wat jou interesseer.
2. Teken in (of stuur vir my 'n e-pos dat ek jou registreer - naomimeyer@litnet.co.za) en dan lewer jy kommentaar onder enige materiaal op LitNet wat jou aangryp of kwaad maak.
Ek hoor graag van julle.
Groete,
Naomi Meyer, LitNet inhoudsbestuurder
Ek stem saam met Gerrida en dit lyk my Naomi en kie snap nie dat die veranderings aan die werf nie goed afgaan nie - Naomi, jou kommentaar impliseer dat ons moet gewoond raak of stilbly. Die verval van die werf het begin met die sensuur wat toegepas is - en die nuwe uitleg is gewoon onvriendelik en maak mens glad nie lus om te gaan kyk na die enkele briewe nie.
Hallo Naomi,
Als wat jy hierbo tik is natuurlik waar.
Ek kan ook verstaan hoekom belangstellendes soos Gerrida en Varkspek voel.
Ek onthou hoe ek gevoel het toe julle van die OerLitNet oorgang gemaak het na die OuLitNet. Ek was ook net mooi op dreef om te weet waar sit al die knoppies. My blikbrein het gevlot toe verander julle van OerLitNet na OuLitnet. Net daar het my blikbrein gevries en Kobus het weer kans gekry om te groei.
Maande later het ek my ou brein opgegradeer. OuLitnet was die eerste wat ek toe daarop probeer. Nodeloos om te seg maar als vlot toe weer. Ek kon selfs van diep uit die boendoes met my BlackBerry werf toe tik.
Daar was egter altyd tekortkominge. Die grootste was die feit dat bydraes soos warm wind onder uit iewers in 'n vol trein verby gegaan het. Dis soos iemand op 'n keer opgemerk het; almal ruik dit maar niemand weet waar dit vandaan kom nie.
My amigo in Adam die ou grote Kobus is menigmaal raak getik oor sy (moedswillige) aleksie maar die enigste om dit op hoogte te hou, was om die saak oor en oor tot almal se frustrasie holrug te ry. Nie dat dit hoegenaamd gewerk het nie, maar dis minstens wat dit toe kos om Kobus en sy ge-aliede bende in toom te hou.
Nodeloos om te seg, ek het lank uitgesien na die formaat wat julle vandag hier het. Vir die eerste keer kan 'n mens minstens eerlike bydraers se "profiel" volg. As dit stil raak is dit maklik om iemand se naam te tik en nog 'n slag deur hul moeite te lees.
Kommentaar land ook waar dit hoort - direk in Kobus se befaamde woernale!
Ek merk dat ou bydraers soos Varkspek, Jan Rap en Angus hul kommentaar steeds as "volledige bydraes" plaas. Daar mag dalk 'n rede vir hul manier wees, maar dit het eintlik veel meer betekenis in die kommentaar onderaan die oorspronklike bydrae. Kommentaar onder bydraes dien ook as bemoediging. Daar is baie deelnemers se bydraes wat ek geniet en leersaam vind waarop ek dan ook my kommentaar as sulks.
MAAR, die beste van als vandag is julle "meeste kommentaar" funksie. Daarin staan die monumente nou pragtig vir almal om die frustrasie voorheen te aanskou. Nou kan enigeen sien hoe die "gesprek" gedurig op die Oer en OuLitNet verloop het.
Stel jouself voor hoe lank dit sou neem om al daardie kommentaar in uitgawes van ouds te plaas en hoeveel keer Kobus dit sou ontduik bloot jeens die feit dat daar nie onafgebroke samehang gevoer kan word sonder om tot vervelens toe dieselfde argument aan te haal nie.
Maar, daar's dit nou!
My BlackBerry werk nie meer so goed nie en waar ek wel 'n kans daarmee vat, delete of skakel dit net waar dit wil.
Ek raak ook deesdae totaal gedisoriënteer tussen die opskrif en inhoud van my tiksels.
Maar dis okei, ek's seker ek sal dit ook eendag weer inhaal.
Naomi soos altyd, BAIE dankie vir jul toewyding daar aan die voete van die pragtige blou berge.
Namaste!
Futuristiese Abrahamitiese Hindoe en Boeddhistiese katolieke liefde,
Cornelius
Die interessante is dat ek nog op geen stadium hier, 'n brief of vermaning van die redaksie gelees het wat daarop neerkom dat ou bydraers en nuwes, nie ook hulle briewe kan skrywe nie - die enigste wat so 'n indruk kon laat, is die tyd toe daar gesê is daar net 10 briewe toegelaat word. So het vele natuurlik gemeen dat, as hulle dan sommer-so uitgeskakel gaan word, weens die werking van 'n tipe kwota sisteem wat g'n mens weet wat die riglyne is nie, hou hul liewer maar op skrywe. Of dit verander het, is ek nie oor seker nie, maar ek dink dit het.
Verder sien ek hoe die redaksie tog maar mense nooi om hul sê te kom sê.
Dus, wat is die sin in die klaagliedere oor die briewe kwansuis vervelig is? Vir diegene wat wel die moeite doen om briewe te plaas, is dit nie vervelig nie. Wat staan die ander in die pad om ook bydraes te lewer? Om oor iemand anders se bydrae te kla in die skreiende afwesigheid van sy eie, is 'n aanklag teen die integriteit van die klaer, nie die wat tog maar bydra nie.
Wag julle vir iemand om julle met die lepel te voer? Hou op slapjis wees, en skryf eerder as om te kerm en self niks te doen, nie.
Kobus de Klerk
Hoor, hoor ... Kobus, ek's met jou!
Ek stem saam, Gerrida, die Sê-net huis staan leeg. Die inwoners wat eens die huis leefbaar gemaak het, het verkas. Nog net 'n paar ou vervelige spoke dwaal hier rond.
Weet iemand dalk waarheen die oud-inwoners is? Ek sou eerder graag saam met hulle 'n vleisie op 'n braaivleisvuur gaan gooi.
Adios Amigos
Anise
Ek weet nie van ander nie, maar ek is versigtig om te skrywe op die nuwe LitNet want dit lyk asof jy deur te registeer 'gelink' kan/gaan word met jou Facebook. En ek wil nie graag my geskrywe aan LitNet met al my Facebook-vriende deel nie. Daarom bly mens maar stil.
Hierdie is nou 'n toets, as dit my meer gerus maak sal ek weer af en toe 'n ietsie skrywe.