
Op elke trappie van die klimleer in ons lewe brand daar ’n soeke na wysheid.
So is daar menige verhaal op ons roete wat ’n oomblik se stilte in aanskoue oor die panorama voor ons bring. Meestal is dit net die hart daarvan wat as oliepit vir ons lampe die innerlike verlig; die outeur daarvan lank vergete.
Een so ’n verhaal wat in my binneste anker gooi is die vertelling iewers van ’n rykman wat eerste wou wees om die Berg te oorwin.
Die karakters se name is lankal in die sneeu op die toppe toegewaai, maar om die kloutjie by die oor te bring noem ons die rykman Kobus en sy mede-avonturier Jaco.
’n Berg is ’n soeke, ’n raaisel, ’n geestelike uitdaging. Elkeen wat voorheen aan die hange daarvan gesterf het weet dit. Jaco is aan die voet omdat dit daar is. Kobus het kom klim om te keer dat ander eerste bo kom. Geen geheimenis bestaan vir hom nie. Enigeen wat iets verborge aanvoel is ’n dwaas in Kobus se oë.
Eintlik is alle mense dwase - of vyande volgens hom.
By sy aankoms het Kobus die eerste keer van Jaco verneem wat toe ook net pas gearriveer het.
"Die dorp is in rep en roer oor een of ander vlooinek Heilige," het Kobus na middagete gebrom. "’n Regte hutspotstoker volkome met allerlei bonatuurlike mag ... kom ons gaan kyk hoe lyk die ou bedrieër ... ons kan dalk ’n bietjie woer-woer met hom speel," het Kobus gelag.
Jaco het saamgestap. Die hele pad van die hotel na die onderdorp moes Jaco na Kobus luister. ’n Onkeerbare weersin het in hom begin opgewel wyl hy gedweë
Kobus se rykdom en groot planne aanhoor. "Almal het hulself misgis," hoon Kobus. "Ek doen dinge anders want ek het in ’n ouerhuis grootgeword waar ek geen gebrek geken het nie, nie aan standvastigheid, leiding, ouerliefde, ordentlikheid, onderskraging, ware Godsdienstigheid óf die materiële nie. Ek is `n baie geseënde persoon en my hele lewe spreek daarvan. Dit ontbreek my nie aan verstand, insig, intelligensie, kennis en wysheid, veelsydigheid, ervaring, en ook nie goeie gesondheid nie, en veral, ook nie aan `n verhouding met God nie. Van dit alles het ek in oorvloed en die materiële kom daarby! Dit ontbreek my aan niks! Boonop is ek getroud met `n hoogs intelligente vrou, Godsdienstig, selfstandig, kunstig, musikaal, skrywer, digter, veelsydig. Ons kinders is ook so - hoogs intelligente "go-getters" en selfstandige denkers, ook veelsydig - ontluikende bome in die pragtuin van God. ’n Vreugde vir hul ouers! Hulle eer nog hul vader en moeder... maar is NIEMAND se vloerlappe nie!... want..." en so het dit die hele pad gegaan...
Dit het Jaco ontstel. Daar was reeds te veel gedoen om nou om te draai. Jaco het maar die gedweep probeer verdra.
Iewers onder in die dorp draai hulle die binnehof van ’n tempel in. ’n Eerbiedige gedemptheid rus oor ’n groot groep mense wat bene gekruis in afwagting sit. ’n Swetterjoel apies klouter oral rond. Kobus steur hom min aan die stemming en wring homself tussen die mense tot heel voor wyl hy ewe luidrugtig oor homself spog. "Veral die teenslae van die lewe, die smarte wat ons, net soos andere, te beurt val, is juis die duisende tekens van ons geseënde lewens. Alle smarte wat ons al getref het, het vir ons ten goede meegewerk! Nee, in my persoonlike lewe is daar voorwaar niks wat my bitter maak nie. Ons léwe elke liewe dag in die beloftes van en in die hoop op, en met God, soos ’n ouer, en daarom kén ons God - God, soos Hy homself in die Bybel, Sy Woord, openbaar. Ons wéét wie Jesus Christus is. Hy is nie die Hemelse Vader nie soos party dit verkondig nie maar die eniggebore Seun, lewende Woord van God - want ons kén Hom. Elke dag van ons lewens vertrou ons op Hom en daarom aanbid ons ware Christengelowiges Hom as Ewige Vader," dweep Kobus voort totdat hulle heel voor is.
Teen ’n klipmuur onder ’n groot sambreel op sy geweefde mat sit die Heilige. Sy lang gryswit hare omgolf die vreemdste gesig wat Jaco nog gesien het; so rond soos die maan, geen duidelike lyne, volmaak simmetries. Sy oë toe. Soos ’n standbeeld met ’n lewende glimlag, helder en ongestoord kalm. Kobus borrel voort. "Hier is die resep: Matteus 6... Julle moet julle dus nie bekommer en vra: Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek nie. Dit is alles dinge waaroor hierdie ateïste begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil, geregtigheid van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge, seëninge, voorspoed gee. Álmal leef in die genade van God, maar nié almal leef in Sy seëninge nie – God se seëninge en voorspoed, noem hul maar die bonusse, kom vir diegene wie Hom op Sy Woord neem! Nie op verdienste nie, maar geloofsvertroue. DUS -" ...
Kobus kyk met minagting na die Heilige voor hom op die grond. Met smaad in sy stem boog hy uit "ek gaan nie sukkel met vuil Sjerpa ’pilorus’ soos hierdie nie... vliegtuie gaan my voorraad by die boonste kampe laat val... ek gaan seker maak ek’s die eerste man bo".
Jaco kan dit nie meer hou nie. "Die Sjerpa is dapper... goeie gidse... meer nog, die Berg behoort veel meer aan hulle as aan ons," protesteer hy. "Bog," kap Kobus terug. "Hulle is lasdiere... daar is niks wat hulle kan doen wat ’n masjien nie beter kan doen nie... ’n agnost is ’n agnost - almal dieselfde." Kobus knik na die Heilige. "Daar is nou vir jou ’n voorbeeld... so tevrede soos ’n rot in ’n rioolpyp... vuil, kaal, absoluut geen vooruitgang sedert Noag nie."
Die Heilige was naak, of byna, maar hy was skoon; sy lendedoek vlekkeloos wit.
"Miskien" antwoord Jaco verleë... "hulle wandel dalk op ’n ander weg".
Stadig maak die Heilige sy oë op en draai na die twee. "Ons is," antwoord die Heilige. Jaco bloos, hy besef die Heilige het als verstaan.
Die Heilige kyk stip na Jaco. In ’n oogwink vergeet hy sy verleentheid. Sy oë word vasgevang in die oë van die Heilige. Skielik lewe die standbeeld. Dit is asof hy eers net die dop kon sien maar nou die bron. Soos ’n pasgeborene sonder ’n sweempie van verwerping spoel dit oor Jaco. "Ja, ons is op ’n ander weg... soms kan ’n mens nie slaag sonder die hart van ’n ander daarin nie," antwoord die Heilige aan Jaco.
Stilte en dan vervolg die Heilige wyl hy na Kobus draai. "En dis hoe ek jou kan help, as jy net vra." Kobus se mond krul in smaad: "Jy sal nie ’n pennie van my kry nie."
Die Heilige se glimlag dans onafsienbaar. "Miskien moet ek verduidelik... jy nie verstaan nie... ’n Berg is veel meer as net rots en ys - veral as dit is die hoogste in die wêreld is... geen mens kan so ’n berg verower sonder om homself te verower nie."
Jaco sidder. Dis wat ander die ewigheid in aan dieselfde hange ook gesê het. Kobus brul van die lag. "Probeer jy my vertel dat jy hier op jou stowwerige jis kan sit en my help om die piek te bereik?"
"Ek dink ek sou dit anders stel," antwoord die Heilige. "Om presies te wees, jy sal nooit vrede in jou hart bereik sonder ’n ander se liefde daarin nie. Jou manier van dinge doen is nie goed genoeg nie." Kobus se nek bult bloedrooi. Met sy vuiste gebal bedwing hy homself. "O, dit is nie?" snou hy die Heilige toe. "Tja, kom saam kyk hoe ek dit doen!" Die Heilige lig sy brose hande en wuif in ’n groet: "Dankie, maar nee dankie."
In sagte ironie met ’n skerp rand antwoord die Heilige: "Ek sal eerder vir jou wag."
Kobus spoeg in die stof, draai om en druk ongeskik weg deur die skare.
Net daar besef Jaco diep in sy hart dat Kobus nooit die eerste mens bo sal wees nie.
Buite regverdig Kobus homself onsamehangend sonder dat Jaco veel daarvan hoor. "Die bitterheid wat ander by my sien is nié van myself nie, want ek praat eintlik nie oor myself nie. Dié bitterheid is die spieël, mense, wat ek voor hulle hou - hulle vir wie die skoen pas... en dit is hulle eie bitterlike lewens wat hulle sien, nie myne nie. Ek en my huis leef in die vryheid van God. Punt. As hulle maar die geseënde lewe had wat ek het... maar julle kan, volg gewoon die resep. Daarom, die eer vir al ons goeie hoedanighede, eienskappe en seëninge – glad nie uit onsself - maar aan God kom dit toe! Nederigheid. Om te misken wat jy het, is ondankbaarheid, om te oordryf wat jy het, is ydelheid – God haat beide. Om in erkentlikheid te ontvang en in dankbaarheid te getuig vir wat jy kry, en aan God die eer daarvoor toe te bring, dit is nederigheid..." Jaco hoor niks.
Dis ’n groot Berg. Die reis van die dorpie aan die voet tot op die laaste toeganklike helling met busse en trokke neem ’n paar dae. Intussen het daar nog ’n paar avonturiers aangesluit. Almal het egter baie gou besef dat hierdie geen gewone ekspedisie is nie. Spoedig sonder Kobus se meerwaardigheid elkeen af. Die ander het Kobus se minagting vermy waar hul kon. Jaco kon nie. Die Heilige se voorspelling was ’n aanmaning.
Telkens waar Kobus homself binne hoorafstand bevind vertel Jaco die mistiek van die Berg - van die groot Sneeumanne, die donker polsende tuie wat daar swewe, die ander wat op hul reik na die bo verdwyn het en dalk self bewys gelaat het dat hulle reeds daar was, die kanse dat die einste Sjerpas dit reeds langgelede as iets alledaags beskou om die piek te gaan opruim... maar heel belangrik; die Heilige se profesie...
Sy aanstoot in Kobus het Jaco aangevuur.
Die enigste manier om Kobus se slag aarde toe te kon aanskou was om self daar te wees.
Hulle het die bekende roete teen die Berg gevolg. Toe hulle uiteindelik die eerste basiskamp bereik was Jaco en Kobus vyande.
Die Sneeugodin het vir hulle gelag. Sy het haar berede ruiters op die wind met hulle skerp ysspiese gestuur om die aanslaers se bloed te vries; die mis; die aanhoudende sneeu...
Soos te wagte het die gidse hulle eindelose probleme gegee. Kobus had geen genade vir die sogenaamde spirituele onintelligentes. By kamp vier het hy die Sjerpas die Berg afgejaag.
Tog, asof dit so bespreek was is die lug blou toe Kobus se vliegtuig voorraad by die volgende kamp laat val. Kamp vyf, hoër as wat enige mens nog geklim het. Almal het gestaan en kyk hoe die vlieënier sirkel en sy las laat val. Nege keer sonder sukses. Als verdwyn net oor die smal lyste tot diep in die skeure. "Ek’t twee dosyn identiese pakke laat maak," spog Kobus onderlangs.
Genadig val die tiende op die regte plek. "Ek het dit vir julle gesê, daar is niks wat hierdie vervloekte gidse doen wat ons ware gelowiges nie beter kan doen nie," pronk Kobus. Almal draai stil en in weersin weg. Môre gaan ’n moeilike dag wees.
Voor sonop die volgende oggend is almal gereed. Dis pragtig weer - geen teken van die berugte bergmoeson nie. Na ontbyt begin hulle aanstap. Kobus huiwer ’n oomblik op ’n smal lysie. Hy staar na die massiewe donker Berg, na die goue streep sonskyn van die sonsopkoms onder die piek, die rotsdieptes en die gletserys onder. Hy kyk uitdagend na Jaco. "Ek sal nie my begeerte laat waar word nie?" spot hy. "Jou ou dwaas," snou Kobus vir oulaas aan Jaco. Toe draai Kobus en hulle tog na bo begin.
Selfs met ekstra suurstof is dit ’n marteling. Die lug is dun, dun, papierdun. Dit klief deur vlees, bloed en brein. Hulle kele is rou gehyg. ’n Tree, ’n bietjie rus, en dan weer probeer. Elke druppel konsentrasie is op daardie volgende tree gerig. Kobus se suurstofsilinder suis ’n paar tree agter Jaco. Teen so ’n berg is daar geen kwessie oor wie fisies voor is nie. Moreel wel. Die ure sleep verby, vyf, agt, tien... dis asof hul horlosies lieg. Oneindig.
Toe sonder enige waarskuwing... die hoogste piek op aarde verrys ’n skamele vyftig tree voor hulle...
Jaco besef hy is eerste. Hy het Kobus presies gehad waar hy wou. En net daar steek Jaco ewe onverklaarbaar vir homself in sy spore vas. Hy lag hardop, wuiwend vir Kobus om verby te kom.
Met haat in sy oë strompel Kobus verby.
Jaco volg hom.
Hy is bo.
Hy draai na Jaco vol oorwinning en met minagting om sy lippe.
En dan asof iets hom roep draai Kobus verbaas terug...
In die middel is die rotse bloot asof die sneeu gesmelt het.
Daar op sy geweefde matjie sit hy. Naak. Sy oë toe. Soos ’n standbeeld met ’n lewende glimlag, helder en ongestoord kalm.
Stadig maak die Heilige sy oë op en draai na die twee. In ’n toon van aangename verrassing verwelkom hy hulle met ’n sagte stem wat sweef op die ysige dun lug:
"En hoe het julle hier gekom?"
Kobus steier. ’n Aardige klank hyg agter sy leermasker uit. Met sy laaste krag lig hy sy arm en wys af na die ruwe en ongenaakbare pad wat hy gestrompel het.
Die Heilige lig sy arms in ’n gasvrye en vriendelike gebaar. Sonder enige ironie in sy stem antwoord hy "O, julle het al die pad gestap."
Cornelius Jacobus Henn (met apologie aan al die oorspronklike gidse wat al hierdie verskillende gedagtes in my hart op my weg teen die Berg op so ’n besonder wyse bymekaar gebring het).


Kommentaar
Wensdenkery, Kerneels, wensdenkery ... en nog meer bestanddele vir jou hutspot.. Ai, ek kry jou so jammer. Wat is dan aan die gang met jou?
Net 'n groentjie roer met 'n raar... ekke is lowergroen...
Maar indien enigeen ooit gewonder het waaroor Kobus de Klerk so naar is met my; die ou grote minag my reeds jare omdat ek in dankbaarheid oor alle geloof en ongeloof heen deel dat Jesus Christus onse Hemelse Vader is.
Hierop het Kobus de Klerk my reeds menigmaal by my aangedring dat "Jesus Christus nie ons Hemelse Vader is nie maar die Woord - daarom aanbid ware gelowiges Jesus Christus as ons Ewige Vader".
Van my kant beskou lees sy redenasie ongewoon.
Daarom het ek reeds verskeie maal vir Kobus in sy vele gesigte op die werf gevra om self sy drogma te verklaar - dis egter doppies.
Vergeefs.
In plaas van 'n voegsame verduideliking haal Kobus my neer met enigiets van massamoord skuldig te wees in sy redenasies tot geveinsde simpatie soos hierbo - net solank als wat ek bydra met sy haatlikheid beklad kan word.
Vir tweeduisend jaar reeds word draers van die Evangelie deur vyandiges soos Kobus de Klerk vervolg. Niks of niemand word hul egotistiese en infernale spirituele intelligensie gespaar nie - behalwe diegene wat hulle eer.
Mag Jesus Christus onse HERE ons self van die bose verlos.
Namaste!
Cornelius
Jou melodramatiese mite hierbo weerspreek jou, Kerneels!
Weet jy nie meer wat jy self skrywe, nie?
Soos daar geskrywe staan - daar is niks verborge, wat nie geopenbaar sal word, nie...
Wat jy vir ons daar onomwonde aantoon, is jou jaloesie en jou afguns teenoor my en my ware mede-gelowiges en die feit dat dit jou woedend en hatig teenoor my, en hulle, maak. Dit is die kruks van jou storie.
Jy haat enigiemand wie waarlik getuig oor die ware God - soos jy dit self aangehaal, het. Jy kan dit nie uitstaan nie, want die Gees van God en SY werke oor Wie ek getuig, op jou eie weergawe, noop jou tot woede en haat en afguns - dit is die gees wat jy dra, wat bots met die Gees Wie in my woon (Johannes 14:23-24).
Jy sal onthou - ek het jou nou die dag elders weereens uitgenooi en jy het dit smalend afgewys -dra dan die gevolge van jou keuses.
Daarom sal jou vloek teenoor my vir jou nie opstaan nie (Spreuke 26:2), maar na jou self terugkom en jou veelvuldig inhaal en vir my tot ryke seëning wees.
Haat en afguns vernietig jou van binne soos kanker. Geen guru met 'n lendedoek op sy toormat, hersenskim, hutspot-got, sjamaan, sjerpa en noorse afgod wat jy probeer oprakel sal jou daarteen ken beskerm nie...
Maar die Seun aan die Kruis, alleen... Wie se Naam ek beroem maar jy so besoedel, sal dit kan doen!
En dit bid ek jou toe - SY reddende Genade.
Kobus de Klerk
Ag ja, en steeds geen verduideliking vir Kobus se aandrang "Jesus Christus nie ons Hemelse Vader is nie maar die Woord - daarom aanbid ware gelowiges Jesus Christus as ons Ewige Vader"... net 'n nimmereindigende boog neerhalende veronderstellinge en gruwelike verdraaiinge van die waarheid... Kobus, ek vergewe jou nogmaals... jou amigo in Adam, Cornelius
Kerneels,
Ai, maar jy is so sonder begrip en dan neul jy boonop sonder om te besef wat jy jouself aandoen. Jy haal my aan, soos in die verlede, en laat dan die kruks van die verduideliking, die deel wat jy nie verstaan nie (eintlik maar die beste part daarvan), uit jou aanhaling oor my, weg.
Dus, jy haal aan "Jesus Christus nie ons Hemelse Vader is nie maar die Woord - daarom aanbid ware gelowiges Jesus Christus as ons Ewige Vader" Neem nou daardie '-' wat die weglatings verteenwoordig, en vul die res van my verduideliking en getuienis (wat jy uitlaat) daar in. Dit sal mos maklik vir jou wees om weer te gaan kry - dit is juis saam met die twee sinsnedes wat jy elke keer aanhaal asof dit al is wat ek verduidelik en getuig, het.
As jy dan steeds nie verstaan nie - jy sal waarskynlik nie - is dit maar omdat jy so bitterlik verdwaald is en wil wees. Gaan kyk weer, ek het selfs die onderskragende Woordgedeeltes by wyse van verwysings in besonderhede vir jou met die lepel gevoer - maar soos jy maar is, spoeg jy soos 'n balhorige, stout kind selfs die lepelvoer met Spirituele insig en spyse uit en bly jy niks weet, nie - 'n vermorsing van tyd, dus.
Kyk. jy kom dit skynbaar nie agter nie, maar ander mense wat lees, kom dit wel agter. Om dus jou ou refreintjie so oor en oor te herhaal, oral waar ek kommentaar lewer of artikels plaas, is eintlik maar net elke keer 'n klap wat jy jouself in die gesig toedien. Eintlik tragies om te aanskou - en jy is al so gewoond daaraan om dit te doen, dat dit lyk of jy dit geniet!
Arme, arme jy..
So, waar jy nou ookal die refreintjie van jou weer plaas, sal ek maar hierdie kommentaar van my daar bysit, sodat jy telkens daaraan herinner kan word wat met jou skort - mettertyd sal dit wel insink, glo ek.
Kobus de Klerk
Kobus, ek laat al jou eentonige neerhaling tersyde en bedank jou vir jou weerwoord.
Jy tik: Dus, jy [Cornelius] haal aan "Jesus Christus is nie ons Hemelse Vader nie maar die Woord - daarom aanbid ware gelowiges Jesus Christus as ons Ewige Vader" Neem nou daardie '-' wat die weglatings verteenwoordig, en vul die res van my verduideliking en getuienis (wat jy uitlaat) daar in.
Kobus, terwille van balans nooi ek jou nou om onder hierdie bydrae die verskil tussen die stellinge weerskante van die "-" te verduidelik sodat 'n kind enige plek ter aarde dit kan verstaan.
Dis jou geleentheid om die Evangelie te eerbiedig.
Jou amigo in Adam,
Cornelius
Kerneels,
Enige kind kan verstaan wat ek gesê het, en hulle doen, ook omdat hulle nie bevooroordeel en besoedel is nie, maar suiwer van hart. Maar nadat jy klaar is daarmee, soos jy hierbo vertoon, verstaan jy self ook dit nie eens nie.
Ek het jou klaar en duidelik geantwoord. Die "verskil", soos jy dit noem, blyk uit die Woord soos ek tevore aangewys het, en ook darem uit die semantiese betekenisse van die woorde. Kortom – die Hemelse Vader word so genoem weens die feit dat die HERE Jesus na HOM as Vader verwys, soos ek met die nodige Skrifverwysings aangedui het, en die HERE Jesus, die enigste Middelaar tussen ons en die Vader en deur die wedergeboorte, is ons dan nou weer ons ewige Vader. Met "ons", bedoel ek natuurlik die ware gelowiges wie wedergebore is.
So werk die Goddelike hiërargie vir ons, Kerneels. Moenie van die Woord ’n twispunt probeer maak, nie.
Juis deur die verlossingswerk van die HERE Jesus ons Christus, mag ons nou ook die Hemelse Vader, ons Hemelse Vader, direk aanspreek in gebed (Mattheus 6:9-13), maar alleenlik deur en in die Naam van ons HERE Jesus (Johannes 14:13-14 g.m. 14:6-7), ons Middelaar (1 Timoteus 2:5).
Beide die HERE en die Vader is onderskeibare maar onafskeibare (onskeibare) Persone in die Goddelike Drie-eenheid. Die Woord (die Seun, ons HERE Jesus Christus) is immers uit die Vader (Johannes 1:18) en keer telkens weer na die Vader terug (Jesaja 55:10-11 g.m. Johannes 16:9-10, 28). Dit is nie die Vader Self Wie vir ons gekruisig is, nie, maar SY Ewige Woord, die HERE Jesus ons Christus – Let op : ewige Woord, – ons ewige Vader.
Daar is werklik niks moeilik aan te begrype, nie. As jy die dinge ontken, probeer jy van die HERE ’n leuenaar maak, wat HY in der ewigheid nie is, nie. HY is die Waarheid, die Weg en die Lewe en die allerenigste toegang tot die Vader – Godheid van die Drie-eenheid. HY, die HERE Jesus, het Homself en die Vader deur die Heilige Gees aan ons kom openbaar as Drie-enige God vanweë die grootskaalse dwalinge wat geheers het
Kobus de Klerk
Kobus,
Ek laat weereens al jou belediging in ontwyking ter syde en deel die volgende met jou.
Jy tik: Ek [Kobus de Klerk] het jou klaar en duidelik geantwoord. Die "verskil", soos jy dit noem, blyk uit die Woord soos ek tevore aangewys het, en ook darem uit die semantiese betekenisse (sic) van die woorde. Kortom – die Hemelse Vader word so genoem weens die feit dat die HERE Jesus na HOM as Vader verwys, soos ek met die nodige Skrifverwysings aangedui het, en die HERE Jesus, die enigste Middelaar tussen ons en die Vader en deur die wedergeboorte, is ons dan nou weer ons ewige Vader. Met "ons", bedoel ek natuurlik die ware gelowiges wie wedergebore is.
Kobus, hoe jy dit ookal op my probeer dwing; daar is geen "verskil" tussen ons Hemelse Vader en Ewige Vader vir my nie.
In my hart is ons Vader (Ewig en in die Hemel) ons almal se Almagtige Lewende Skepper.
In die Ou Testament is ons Almagtige Lewende Skepper meestal as ons Vader geopenbaar.
In die Nuwe Testament is ons Almagtige Lewende Skepper as die Seun geopenbaar.
Vandag leef ons Almagtige Lewende Skepper as die Heilige Gees in ons harte.
Na Jesus Christus ons Vader se opstanding uit die dood het Hy onder meer hierdie gesprek met Sy dissipels gevoer: "Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My... Ek gaan om vir julle plek te berei... Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken? Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien. Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie? Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke. Glo My dat Ek in die Vader is, en die Vader in My; of anders, glo My ter wille van die werke self... En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen (uit Johannes 14).
En hoe het Jesus Christus onse Vader ons leer bid?
Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die Hemele is, laat u Naam geheilig word;... (Matteus 6)
Kobus, jy tik ook; Die "verskil", soos jy dit noem, blyk uit die Woord soos ek tevore aangewys het, en ook darem uit die semantiese betekenisse (sic) van die woorde.
Soos ek reeds vir jou gedui het Kobus; daar is geen "verskil" vir my tussen Ewige Vader en Hemelse Vader nie.
Maar dis ook belangrik om te besef dat jou kompositumstruktuur "semantiese betekenis" eintlik bewys dat jy nie heeltemal verstaan wat jy voorgee nie.
Die woord "semantiese" betref die semantiek. Die woord "semantiek" betref op sigself betekenis.
(Dis net die verwarde begrip "Moslem gelowige").
Maar ek neem die begrip wat jy veronderstel verder...
Semantiek is die studie van die menslike reaksie op linguistiese simbole - en dit, het ek nou al jare reeds aan jou probeer oordra.
Baie belangrik om te respekteer is die feit dat die menslike reaksie op linguistiese simbole baie erg onderhewig aan die bepaalde taal of kultuur van 'n persoon is. Verwoerd en Mandela het totaal uiteenlopende reaksies in verskillende groepe.
Linguistiese simbole het selfs hul eie unieke betekenis in 'n gesin. Neem maar die woorde kdk en poef...
Meer nog, elke individu het selfs ook hul bepaalde assosiasie met linguistiese simbole. Neem maar daaraan jou betekenis aan "Spirituele Intelligensie". Steven Covey, die vader van die kompositum spirituele intelligensie het die gees van Mammon daaraan verklaar - wyl jy dit as 'n Bybelse werklikheid aan die Heilige Gees hang.
Kobus, ek kon die semantiese aan jou "Spirituele Intelligensie" respekteer sou jy die betekenis in ander tale en kulture oor millennia heen se uitdrukking vir ons almal se Algebieder respekteer het.
Behalwe onse Berg, Hemelse en Ewige Vader, is Jesus Christus is ook onse Malakh Meltiz, Kol Bakol, Aleph v'Tav, Rosh vaSof, Yadid,... en vele meer.
Ja, daardie plekhouer kan nooit afgebreek word nie. Die Goeie Nuus dat God - die Woord wat reeds voor die skepping daar was - ‘n regte mens geword het vul daardie plekhouer in my hart met oneindigheid.
Kan 'n kind al jou drogma verstaan Kobus?
Ek glo nie.
Nie eens erg bejaardes wat hul lewe Protestante is het eenstemmigheid oor die Nie-Bybelse kompositum "Drie-eenheid" nie.
Ja, om te dink die woord "Drie-eenheid" (of selfs die meer Bybels en taal korrekte samestelling "Drie-enige") kom nergens in die Bybel voor nie - tog sal dieselfde aanbidders van onse Drie-enige God ander verag wat hul eie poësie in aanbidding tot ons almal se Almagtige Lewende Skepper uit hul harte aanroep.
Kobus, ek is egter dankbaar om elders te lees dat die plekhouer in jou hart ook semasiologies met die woord Berg kan gevul kan word - al word God nêrens in die Bybel 'n Berg genoem nie.
Mag Jesus Christus onse Berg, self die Tuinier in 'n ieder se hart wees wat hier lees.
Jou amigo in Adam,
Cornelius
(O ja Kobus, indien jy sou voel die gesprek hier te ignoreer, ek met graagte verder daarop sal wy in 'n 'volledige bydrae')
Kerneels, jou probleem is maar dat jy nie die Woord verstaan, nie, soos Dolf ook tereg elders aan jou uitgewys, het.
Die saak is eintlik eenvoudig - jy begryp die geopenbaarde aard en wese van God, nie - sy Drie-eenheid nie. Die HERE Jesus het baie uitdruklik daarmee gehandel. Jy het net eenvoudig nie begrip daarvoor nie. Ek bedoel dit glad nie as 'n belediging nie, maar ek stel dit as feit. Dit is vir daardie rede dat jy selektief aanhaal en nie begryp wat die seleksies beteken in die lig van die Woord waarna ek jou verwys, nie.
Jou interpretasie van die seleksies wat jy aanhaal, is nie te versoen met die Woord wat ek aanhaal, nie, terwyl alles wat ek aanhaal, te versoen is met alles wat in die Woord opgeteken is oor ons HERE.
Jy verstaan ook nie wat jy aanhaal, nie. Byvoorbeeld - jy praat van die HERE se Gebed - die HERE se Gebed verwys juis na die aanspreekvorm en die Persoon van die Hemelse Vader - die HERE se Vader (en natuurlik ook ons Hemelse Vader deur die HERE), en nie na die HERE Self, nie. Die HERE maak dit baie duidelik. Ek het ook al telkens die moeite gedoen om vir jou die ander Woord aan te haal, waar die HERE duidelik te kenne gee dat ons tot die Hemelse Vader moet bid in die HERE se Naam, omdat HY ons Middelaar is as Spirituele Hoëpriester volgens die Orde van Melgisedek (Hebreërs 7:15-17).
Jou interpretasies weerspreek dus die HERE se Eie Woorde omdat jy nie insig het in die Woord in SY geheel, nie. - en wanneer dit gebeur, moet jy tog besef dat jy nie op die regte pad is, nie. Jy kan nie een deel neem, omdat dit jou siening pas, en die ander deel verwerp, omdat die nie jou siening pas, nie. Jy moet die Woord neem soos jy die Woord aantref en dan moet jy jou siening daarvolgens inrig. Dit weier jy!
Dus, om jou ellelange relaas te ondervang, kan ons maar net die verduideliking soos hier uiteengesit, neem, en mutatis mutandis toepas op die res van jou lang relaas.
En, jy wil tog so slim wees met jou taalkwessies. Laat staan dit liewer, dit is komieklik, niks meer nie. Semantiek is die betekenisstudies van taalfigure. Jy kry die enger woordbetekenis, en dan kry jy daardie selfde woord se semantiese betekenis soos dit inpas in die semantiese geheel waarin dit gebruik word. Probeer dit verstaan.
En so is dit maar ook met die semantiek rondom die begrip Drie-enig. Die woordjie self, kom nie net so in die Bybel voor nie, maar die semantiese betekenis daarvan blyk ryklik uit al die Woordverwysings wat ek vir jou daaroor voorsien het - ast'ware met die lepel ingevoer, het. Maar begrip vir wat jy lees in die Bybel, en veral die geheelkonteks daarvan, het jy gewoon, nie. Jy besef dan nie eens dat die Drie-eenheid van God al in die Ou Testament gesuggereer word, en in die Nuwe Testament ten volle geopenbaar word, nie.
Jy is so ver agter.
Jy behoort nou te begryp waarom ek gesê het jy mors my (en nou ook Dolf, s'n ) met jou aanhoudende gekibbel. Jy is dus maar gewoon twisgierig en nie leergierig, nie. Daar is dus geen punt in om verder met jou hieroor te sukkel nie. Jy is al so deurmekaar as gevolg van jou religieuse hutspot brousels dat jy nie meer rede en Waarheid wil insien nie.
Kobus de Klerk
Kobus,
Laat ek jou neerhaling weg dan is daar letterlik niks oor van dit wat jy hierbo boog nie.
Ek het egter met 'n vergrootglas begin soek en dalk maak jy die volgende stelling sonder te veel belediging.
Jy tik: Die woordjie self [Drie-enig], kom nie net so in die Bybel voor nie, maar die semantiese betekenis daarvan blyk ryklik uit al die Woordverwysings wat ek vir jou daaroor voorsien het.
Kobus, soos ek al menigmaal verklaar het bely ek die lering van onse Drie-enige God presies soos in die Nederlandse Geloofs Belydenis geleer word.
Met respek tot onse taal: "Drie-eenheid" is politeïsties wyl "Drie enig" monoteïsties impliseer.
Die Nederlandse Geloofs Belydenis leer baie pertinent van onse Drie-enige God, en nie "Drie-eenheid" soos jy in jou opstand gereeld hier handhaaf nie.
In terme van die belydenis van onse Drie-enige God het jy dus hopelik minder om my te hoon.
Ek glo egter dat die HERE ons harte ken en al is daar mense wat die taal ietwat onbevoeg is en met "Drie-eenheid" onse enige Almagtige Lewende Skepper bedoel, dan sal GOD weet. Wie is ek dan om my daaroor te verhef?
En dis my punt Kobus; GOD ken die semantiese in ons harte.
As mens luister ek na die gebed van my medemens en soos menigmaal aan jou gedui is dit maklik om dit aan die verstand te begryp dat Hindoes, Moslems, Katolieke en Jode saam met al die ander Godsdienstiges op aarde, elkeen in hul onderskeie taal en kultuur na onse enige Almagtige Lewende Skepper verwys.
Dis nie vir my of vir jou om 'n ander se hart in hul aanbidding van onse Almagtige Lewende God te bevraag nie. Ek bevraag ook nie jou aanbidding nie Kobus.
Uit al jou hatige belediging hierbo ontstaan egter nou die vraag; moet ek hel toe gaan net omdat ek die wete en kennis deel dat ons almal se Almagtige Lewende Skepper 'n regte mens geword het en dit so in ander se eie taal en kultuur deel?
Moet ek hel toe gaan net omdat ek nie Kobus de Klerk en sy Dolf se drogma verwerp dat onse Hemelse en Ewige Vader na twee verskillende personae van ons Almagtige Lewende Skepper verwys?
Is ek twisgierig omdat ek my belydenis spontaan en entoesiasties deel en dit met jou drogma verskil?
Of is ek twisgierig net omdat ek die reëls van my taal ag (ondanks al my spel en grammatika errs)?
Ja Kobus, en so kan ek en menige ander belangstellende getuig van jou algemene drang om ander wat waag om met jou te verskil, jy en jou nalopers tot jou eie eer en verheffing van spirituele intelligensie probeer onderdruk. Dis ook opmerklik hoe suksesvol jy met jou vervloekinge op die werf is. Min harte is bereid om dit deur te loop.
Kobus, ek het ook al menigmaal gewonder oor die tyd wat ek op die werf afstaan (Genadiglik meng my persoonlike lewe darem so hier en daar).
Ek ag egter die tyd wat ek hier wy, aan GOD te behoort en sal daarom nooit soos jy en jou Dolf hoef te kla dat iemand my tyd mors nie.
Mag Jesus Christus onse Vader self die tyd wat 'n ieder tot Sy eer wy, seën.
Jou amigo in Adam,
Cornelius
Cornelius,
'n Baie bondige antwoord sal doen vir jou lang,maar niksseggende, relaas hierbo.
Daar is eintlik net aan aspek wat aandag verg - jou stelvraag "Moet ek hel toe gaan net omdat ek nie Kobus de Klerk en sy Dolf se drogma verwerp dat onse Hemelse en Ewige Vader na twee verskillende personae van ons Almagtige Lewende Skepper verwys?
Ek, Dolf en ander ware gelowiges verkondig hier en elders die Waarheid van God se Woord, die HERE se Woord, soos die HERE Self dit aan ons deurgee.
Maar, instede daarvan dat jy sinvol die Woord neem en dit jou eie maak, verwerp jy dit omdat dit van ons kom, en omdat jy nie self 'n verbintenis met die HERE en die Heilige Gees het sodat jy ook, net soos ons, weet dat ons reg is, nie. Ons ken mekaar nie, ons het nie saam gestudeer in die Woord, nie, ons het nie afgespreek om dieselfde te getuig, nie - maar ons het Een Heilige Gees Wie ons die Woord lei en onderrig (Johannes 14:26). Soveel so, dat julle meen ek en Dolf is een persoon - dit is baie kragtige getuienis van juis hoe eensgesind en effektief die Heilige Gees met ware gelowiges (hulle ken mekaar nie, maar HY ken algar) omgaan.
Dus, wat die hel toe gaan aanbetref - die HERE waarsku duidelik - HY, die SEUN, die Woord van die Hemelse Vader, is die enigste Poort na die Vader (Johannes 14:6-7) in die Hemel - Ook waarsku die HERE dat diegene wat SY ware gelowiges en dienaars ontvang en na luister, ontvang ook vir Hom en luister na Hom en ook dei Hemelse Vader - maar diegene wat ons, die dienaars en wat ons getuig, verwerp, verwerp, verwerp ook Hom van Wie ons getuig en daarmee saam die Hemelse Vader.- lees baie sorgvuldig Mattheus 10:40 en Lukas 10:16. Let ook veral baie deeglik op Johannes 12:44-50.
Meet nou jou eie twisgierige, beterweterige optrede en uitlatings aan die waarskuwings in die Woord. Dan behoort jy te weet dat jy ernstig op risiko, is.
Ek laat dit nou daar. Ek wil nie jou twisgierigheid akkomodeer, nie.
Kobus de Klerk
Kobus,
Net omdat jy so seg beteken allermins dat dit waar is – juis die teendeel gemeet aan jou neerhaling van ander se harte en die algemene reaksie daarop.
Jy is die een wat gedurig onthuts raak (uit jou gemaksone geskud word) met die vry gedagtes van ander. Dis jy wat fundamenteel en paniekerig jou begrip as absolute waarheid in die ewigheid vasgevries dweep – net omdat jy bang raak as jy nie beheer oor ander se gedagte het nie. Dis jy wat wil hê almal moet soos jy wees – net een ware geloof en godsdiens – net een so veelsydig (vele gesig) soos jy op aarde. Dis jy wat gedurig tjank as die skoot klap ...
Menige onderdrukker het al met jou soort veronderstellinge as "ware profeet" ander probeer intimideer.
Nee wat ou Kobus, ons Almagtige Lewende Skepper kloon nie ons harte nie.
Jou en die ander se ooreenstemming is duidelik gefabriseer. Dis voor die hand liggend dat Dolf jou nydigheid spoeg en plak met ’n bietjie van sy verwerking daarby. Jou egotisme verblind jou sodat jy dit DALK rêrig nie besef nie.
MAAR Kobus, ek merk ’n opregte aandrang in jou woernaal hierbo.
Daarom, vind vir jou vrede hierin: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ’n ander kant af inklim, hy is ’n dief en ’n rower. Maar hy wat by die deur ingaan, is ’n herder van die skape. Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. Hulle sal ’n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie (uit Johannes 10).
Ja, niemand het Kobus de Klerk dweper of Dolf sy dissipel se breinspoel, of hul sogenaamde braakland breek nodig nie!
Soos daar geskrywe staan: Kyk, Ek [Jesus Christus onse Hemelse Vader] staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My (Openbaringe 3:20).
Mag Jesus Christus onse Goeie Herder se sagte en lieflike stem in elkeen se hart gehoor word.
Kobus, ek vergewe jou nogmaals in die liefde en genade van onse Goeie Herder.
Jou amigo in Adam,
Cornelius