Onder ’n appelkooskleurige sonsambreel kom plak Smaatiboy hom langs my op die seesand neer. “Ek het vir jou ’n roomys gekoop, bokkie,” sê hy. “Maar dit het gesmelt en op die teer geval.”
Ek kan nie sy oë agter die swart glas van sy donkerbril lees om te sien of hy ’n grap maak nie. Dis inderdaad besonder warm op Jeffreysbaai se strand vandag, en sekerlik die eerste keer dat ek ’n onderhoud met iemand voer terwyl ek op my maag in ’n bikini lê. Maar die jong kletsrymer Smaatiboy is nie die tipe kunstenaar wat jy in ’n donker hoekie van ’n rokerige backstage sal kry nie. Nee, dis die sonnige strate en die strand van hierdie Oos-Kaapse branderry-paradys waar hy floreer en wat in sy effe satiriese liedjies en video’s inslag vind terwyl hy nonchalant yo-yo gooi en meisies tjaaf. Dis hierdie ongewone benadering tot kletsrym wat my aandag getrek het.
Wel, dít, en die feit dat hy in een van sy liedjies nogal snotty beweer: “Annie Klopper kan nie ophou oor my skryf nie / Sorry bokkie, maar ek het ’n meisie.”
“So, Smaati,” vra ek, “wat het ek kwansuis oor jou geskryf?”
Hy draai sy blik oor die see waar ’n lewensredder in ’n geel T-hemp en rooi kortbroek senuagtig op haar fluitjie blaas om ’n groep swemmende vakansiegangers oor ’n sterk seestroom te waarsku. Swem in die gebied tussen die twee vlae, beduie sy naarstiglik en fluit nog ’n keer kwaai.
“Nee, ag, ek het jou maar net ’n bietjie probeer terg,” kom dit van Smaati; “dit het obviously gewerk.”
“Ja, hier is ek nou,” bieg ek. Selfs al is dit net uit nuuskierigheid. Die Jeffreysbaai wat in Smaatiboy se video’s uitgebeeld word, het my gefassineer.
“So wie is Smaatiboy?” vra ek
“Ek is ’n dude wat hier in Jeffreysbaai rondhang en video’s maak.”

Foto: Annie Klopper
“Was dit nog altyd jou droom om ’n rapper te wees?”
“Nee, nie regtig nie.” Hy weifel. “Ek het net gehou van rym en ek het later gehou van rap en toe dog ek kom ons give it a go. En toe het ek ’n relatiewe hoeveelheid sukses daarmee behaal.”
“Wat maak J-bay so spesiaal?”
“Ek het hier grootgeword, en nou is ek … nog steeds hier. Ek het al op ander plekke gewoon vir een of twee jaar, en dan op ’n manier kom ek altyd terug na hierdie plek toe. En ek is van plan om hier te bly vir ewig.”
“En terwyl jy nou hier is vir ewig, waarmee hou jy jou besig?”
“Ek patrolleer die strand, tel rommel op, hou die moeilikheidmakers uit die strate uit, sulke tipe goed.”
“So vertel vir my van die bokkies van Jeffreysbaai …”
“Wel, daar is bokkies in Jeffreysbaai. Daar is local bokkies – hulle is ’n skaarse spesie. En dan is daar Desemberbokkies. En hulle is meer in getalle oor Desembervakansies.”
“Is hulle meer gewillig?”
’n Breë, ondeunde glimlag sprei oor sy gesig. “Yes, definitief,” lag hy.
“Hoe beïndruk jy ’n meisie?”
“Ek weet nie of ek dit moet sê nie, maar ek het al ’n tegniek gebruik waar ek met ’n meisie gesels terwyl ek rym. Dit was hoogs effektief, want ek het die res van die vakansie saam met daai girl gevry.”
“Wat doen jy in die aande in Jeffreysbaai?”
“Ek hang meestal uit by The Lounge – dis ook waar ek my eerste drie gigs gehou het. Ons speel tafeltennis daar. Langs The Lounge is At Work, waar ek myself gereeld bevind, want daar verkoop hulle los sigarette oor die bar. Dan, aan die ander kant van die dorp is die hoof attraction oor vakansies, die Jolly Dolphin. Dan natuurlik die Mexican, wat nie baie mense nodig het vir ’n goeie party, Black Labels drink en tequila kap nie.”
“Is jy ’n redelik professionele tafeltennisspeler?”
“Ek word nie betaal om te speel nie, maar ek het my eie bat. Ek het al een of twee kleinerige toernooitjies gewen hier in die dorp.”
Hy kyk hartseer uit oor die see. “Die grootste ene het ek egter nie in die pryse gekom nie. Ek was die MC van die aand en het ook gespeel en ek het nie baie goed gespeel daai aand nie, want ek was redelik gedrink. Omdat ek MC was, kon ek op ’n tab drink. Dit was die deal. Toe was daar ’n ou van Nigerië met die naam van Shola. Die final het gelyk soos Olympic Games shit.”
“Is rap die kuns van jou keuse?”
“Nee, visuele kuns is die kuns van my keuse. Dis waarom my video’s meer oor die visuals gaan as oor die rhymes.”
“Wat is jou beskouing van kuns?”
“Dis wanneer jy iets maak wat jy vir ander wil laat experience.”
“So wat is die boodskap wat jy met jou liedjies oor J-Bay wil oordra?”
“Maar net dat dit die coolste plek in die hele wêreld is. En dat as jy ooit hiernatoe sal kom, sal jy nooit weer wil weggaan nie.”
“Wat maak dit so cool?”
“Ek is hier. So dit maak dit pretty cool.” Hy bly ’n lang ruk stil. “Verder is dit ’n redelike groot NG Gemeente. En daar’s vreeslik baie oumense. En die entertainment value is eintlik zero.”

Foto: Annie Klopper
“Jy laat dit dan nou teenstrydig klink.”
“Ja, ek’s nou half confused. Ek weet nie hoe ek tot die conclusion gekom het dat dit so ’n cool plek is nie. Ek sal my hele teorie moet gaan herdink. En besluit of ek wil aangaan met hierdie storie. Ek het al vantevore so gevoel.”
Hy lyk of hy diep dink. Ek voel byna genoop om te vra: “Waaroor dink jy gaan die lewe?”
“Ek weet nie, maar ek weet wat lekker is.”
“En dit is?”
“Pizza, bier drink saam met maats, ’n goeie tyd hê, om te braai en op die strand te hang. Om music videos te maak. Als lekker. I guess dit moet nogal naby wees aan die sin van die lewe.”
“En as jy ’n toeris soos ek moet raad gee oor hoe om J-Bay te geniet, waarheen sal jy my stuur of neem?”
“Om vir jou Jeffreysbaai te wys? Hoe lyk die weer daai dag?”
“Awesome. Sonnig, windstil, soos vandag.”
“Ek sal seker hier op die strand wees saam met jou. Dis seker die rede waarom ons nou hier is. Maar daar is ’n paar ander plekke. Ons kan bietjie uit die dorp uitry. Dan kan ek jou wys hoe dit lyk by Nico Malan Hoërskool waar ek op skool was – ek sal jou kan gaan wys hoe cool ek was daar. En dan sal ek jou wys hoe lyk dit by die Marina Martinique.”
“Sal jy my daar anderkant na die skulpiewinkel toe vat?” Ek wys na ’n geboutjie waarop in blou letters geverf is: “Skulpie tannies”.
“Ja, ek sal jou vat na die Skulpietannies toe. Ons support die locals hier in Jeffreysbaai. As dit nie te duur is nie en ek dink daar is ’n redelike hoeveelheid tegniek en dis die moeite werd om geld te spandeer op daardie stukkie kuns, dan sal ek vir jou ’n skulpiepadda of iets koop.”
“Hoe lank is die Skulpietannies al hier?”
“Vir ewig!” lag hy.
“Wat maak hulle?”
“Hulle maak fokken paddatjies uit plat skulpe. Met worteltjies vir neuse, en babatoontjies vir actual toontjies ...”
“Is worteltjies en babatoontjies soorte skulpe?”
“Yes.”
“Ken jy die see?”
“Ja, maar hy kan jou altyd verbaas. Jy moet nooit jou rug op die see draai nie.” Hy bly ’n oomblik stil en staar na die branders voordat hy vra: “Wil jy weet wat my rap influences is?”
“Dis ’n baie boring vraag,” sê ek, steeds gefassineer deur die sogenaamde Skulpietannies. Dit voel vreemd om ’n gesprek oor skulpiepaddas en skulpe genaamd babatoontjies skielik na rappers te draai. “Maar oukei, wat’s jou rap influences?”
Hy lag voordat hy antwoord: “Die ouens wat my meestal lus maak om video’s te maak is ander rappers soos Dirt Nasty en Riff Raff en plaaslike ouens soos ’n ou hier van Jeffreysbaai genaamd Adder.”
Hy vertel my van die legendes van Jeffreysbaai terwyl die son sak.
Met die aand wat nader kom, vra ek hom of hy enige waarskuwings het vir ’n jong vroulike vakansieganger wat nie hierdie dorp so goed ken nie.
“Moenie te veel drink ná twee-uur in die Mexican nie, en as jy Jolly Dolphin toe gaan, sê my net. Moet nooit alleen Jolly’s toe gaan nie.”
Ná ’n vinnige dip in die water (in die gebied tussen die twee vlae) gaan eet ek en my onkonvensionele toergids by Walskipper. Varsgebakte plaasbrood en vet, sappige mossels. Smaati drink ’n yskoue Black Label uit ’n blikbeker en met ons voete in die wit seesand kyk ons uit oor ’n turkoois see se egalige branders – “dik Oos-Kaap met ’n J-Bay twiss”.


Kommentaar
twitter ----> @smaatiboy <----
Dit klink lekker. Smaatiboy, ek wil ook weer bietjie saam met jou hang tjom. Hierdie storie maak my nostalgies.
die rot, ek mis jou pel. ek dink inteendeel jy moet bietjie uitkom daar uit die jay-bay. dit raak nou bietjie heavy! wanneer kap ons weer 'n ALCATRAZZZ
Hierdie die coolste vibe wat ek gelees het sedert Kleinboer! En daar skrýf Annie Klopper toe oor hom, dis soos magiese realisme. Smaatiboy verewig.
One love...!
Goeie een Johannes
Kunstefeeste is een van die beter dinge wat in die post-94 era ontwikkel het; wat sal ons kunstenaars daarsonder doen, veral aangesien hulle dikwels ook in die geestelik ryker, maar ekonomies armer groep ressorteer. En onder al die feeste is die Woordfees een van die beste, inderdaad my gunsteling.
Oor die Broeders en Onkel Sampie gaan ek my liefs nie uitlaat nie. Dit sal my tot drank dryf en laasgenoemde verder ontstel, en ek probeer steeds hard om oueres te respekteer - nieteenstaande ons verskille, wat juis so belangrik is in hierdie brose Zumakrasie. Ek seg brose, nie bose ... en let wel; ook maar NET.
Aan Prof Dorothea en haar hardwerkende kreatiewes: baie baie dankie. Ek het reeds my kaartjies gekoop.
f