Sloping
Alleen in die ou huis as die aarde
bewe deur leë kamers dwalend
om die struktuur vas te hou is jy
’n gesig by vensters verlate vrou
druppels teen die glas verwring
alles buite hoe dinge was en ook
vir jou dat jy dink tyd gaan stop
in ’n staat waar wat toe bekend
was nog bestaan maar niks wat
begin nie niks hou ooit weer op
asof jy die fondamente binnedring
waarop jou eie beginsel rus ken jy
jouself nou net as ’n labirint van eie
lus om afgebreekte mure te antisipeer
sinnekonstruksie vooruit te sien verweer
konsepsie in die bouplan al geskiedenis