
Foto: Canva
Slawehuis van ons gewoontes
Die trekklavier se klanke is sag
die note duidelik
die melodie betowerend
terwyl my hart gedigte skryf
in die straatkafee
waar ons ’n koffie geniet
ver oor die see staar
na die grootsheid
van die blou wonder
die massa water
wat alles oorheers
skepe wat kom en gaan
vissersbote wat kom aflaai
vaagweg weet ek
orals is mense besig
met hulle lewens
terwyl ek en jy
gebind aan mekaar
deur jare se saamwees
net hier sit
elkeen met sy eie gedagtes
onder op die hoek
twee ridders van die grootpad
elkeen met ’n bottel wyn
in sy eie geselskap
altwee praat gelyk
luister gelyk
in ’n baie deurmekaar gesprek
ons oë vang mekaar
hier het ons nie woorde nodig nie
hier is die atmosfeer
ons geselskap
ons drink dit in
geniet dit saam
môre is dit weg
terwyl die see altyd hier sal wees
ons weer –
sal weg wees
terug by die slawehuis
van ons gewoontes.
Kommentaar
Ai, Johan. Die gedig is so mooi, ek wil sommer tjank. Só kosbaar, dankie.
Dankie Miche jy is nie alleen nie, ek kry ook los trane wat sommer net val, hierdie oomblik was heilige grond toe ons Desember in Mosselbaai was. Ons is al 45 jaar getroud en deur baie rowwe waters en kalm waters, beproef en vasgegroei, dit was 'n "moment" toe ek die gedig geskryf het, alles het net so mooi geword vir 'n wyle... Baie baie dankie, jou kommentaar laat my goed voel, ek kan trane uitskryf...