Skynbare vriende

  • 1

Foto: Canva

Skynbare vriende

As klein seuntjie het my vader graag
vir my fabels gelees, van rotte en muise
in stads- en plaashuise; en hoe hulle leef, en hoe hulle ly.
Tog, van baie fabels spook snags dié een my by:

Twee potte, een koper, een klei,
het in teenoorstaande vensterbanke gebly.
Vir baie jare vriende gewees,
alles gedeel, oor alles gesels –

toe eendag kom breek daar ’n swartgryse wolk,
wat beide die potte straks stroomaf laat kolk.

Sê Koper vir Klei: “Bly agter my,
ek sal jou skerm, my oor jou ontferm.
Ek sal keer dat jy breek,
as daar rotse uitsteek”

Sê Klei toe vir Koper: “Ou vriend, hou verby.
jou sterk koper kurwes is ’n doodstraf vir my.
Uit ons aard is ons genoop
om nooit langs mekaar te loop.”

En al was dit ’n fabel,
die verbeelding se kind,
is sy les om my hart
met ’n galgtou gebind:

Van verdrae tussen potte
van koper en klei
kan niks anders as skerwe
en duike oorbly.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top