Skuil daar nog iets agter “een titel per vak, per graad, per taal”?

  • 0

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan [email protected].

Die knuppel is in die hoenderhok – uiteindelik, wil ’n mens sê.

Maar, om die dieremotief voort te sit: die padda – soos die kreef – raak glo daaraan gewoond.

Só skryf Peter Senge in The fifth discipline: sit ’n padda in ’n pot kookwater en dit sal dadelik probeer uitspring. Verhoog egter die temperatuur geleidelik vanaf kamertemperatuur en die padda sal die weldadigheid oënskynlik geniet. Totdat dit bedwelm is deur die gemaklikheid en nie meer kan ontsnap nie.

Nicol Faasen
Peter Senge

Dit is onbillik om te sê dat die meerderheid mense in Afrikaanse letterkundekringe in 2014 dermate ontmagtig geraak het dat hulle te laat op die “een-boek-beleid” reageer. Die lang aanloop tot die intense ongelukkigheid wat die “een-boek-beleid” nou veroorsaak, is egter interessant en die moeite werd om in oënskou te neem.

Die onmiddellike prikkel is onderstaande gewraakte sinne. Die eerste kom uit die konsepuitnodiging wat die Departement van Basiese Onderwys (DBO) op 9 Oktober 2014 uitgereik het vir onderrig- en leermateriaal vir graad R, die (nog) nieverpligte toetreejaar tot onderwys:

4.1.7 Only ONE title per category per language will be approved to be listed in the National Catalogue.

Die tweede sin kom uit ’n soortgelyke uitnodiging om verskeie letterkundegenres vir grade 10 tot 12 voor te lê:

1.3. The National Catalogue for Grades 10 – 12 Novels, Short stories, Drama, Poetry and Grades 10 – 11 Folklore will provide a listing of all texts approved for use in South African public schools, available for procurement by all provincial education departments and schools (with a function to procure LTSM in terms of Section 21 of the South African Schools Act, 84 of 1996). It will provide one title per genre in a particular language per grade.

Die DBO het geleentheid tot 14 Oktober 2014 vir kommentaar gegee.

Gee ’n kort treetjie terug in die verlede en ons kom by 4 September 2014, toe die DBO ’n nuwe konsep nasionale beleid vir die voorlegging, keuring en verskaffing van leer- en onderrigmateriaal in die Staatskoerant gepubliseer het. Dit het die volgende “voorstel” ingesluit: Each catalogue will list one book per subject, per grade per language and will be valid for a minimum period of five years, or earlier should there be a revision of the national curriculum.

Die dokument heet die “Draft national policy for the provision and management of learning and teaching support material (LTSM)” (http://www.education.gov.za/LinkClick.aspx?fileticket=eon4lf9YatA=&tabid=36). Die publiek en ander belanghebbendes kon tot 8 Oktober 2014 kommentaar lewer (hierdie datum is verleng vanaf die oorspronklike 25 September 2014).

Geen motivering word in die konsepdokument vir hierdie drastiese voorstel aangevoer nie. Die oënskynlike rede wat die DBO kon aanvoer, is finansieel: sentralisering en standaardisering sou dan tot besparings lei.

Die huidige amptelike beleid is agt titels per vak per graad, hoewel daar reeds begryplike afwykings daarvan is. So bevat die bestaande letterkundekatalogus vir graad 12 drie titels per genre per taal – dit maak onder andere nasionale eksaminering makliker. In 2013 het die DBO egter net een titel per Afrika-taal vir folklore in graad 12 goedgekeur.

Die Publishers’ Association of South Africa (PASA), die grootste uitgewersvereniging in Suid-Afrika, het uitvoerig en professioneel kommentaar op die konsepbeleid gelewer. Van die argumente wat PASA aanvoer, is dat veral kleiner uitgewerye en histories agtergestelde persone benadeel sal word, dat daar beter wyses van kostebesnoeiing is en dat die konsepbeleid net na gedrukte uitgawes, en nie ook na e-titels nie, verwys. Ons moet egter nog verder in die verlede teruggaan om die meer volledige konteks te verstaan. PASA het reeds voor sy algemene jaarvergadering in Augustus 2014 ’n voorlopige weergawe van die konsepbeleid gekry. PASA kon op kort kennisgewing vir Alan Subban, die DBO-direkteur vir leer- en onderrigmateriaal, oorreed om ’n paar minute lank met PASA-lede te praat. Sy uitspraak oor die konsepbeleid (wat toe nog nie vir bespreking vrygestel was nie) het koue rillings veroorsaak: sekere kritieke sake staan vas in die beleid (“are firm in the policy”), waaronder norme en standaarde vir handboekverkryging en dat die een-titel-beleid toegepas sal word.

Ook hierdie uitspraak van Subban moet in die lig van vroeëre gebeure gesien word: die Minister van Onderwys se toespraak tydens die bespreking van haar begrotingspos in die Nasionale Vergadering op 15 Julie 2014:

Following a national screening process a single core textbook will be listed for each subject on the national catalogue to ensure universal coverage. There will no longer be eight titles per subject simply because the high costs involved demand a more rational and cost-effective approach.

Hierdie toespraak was dus reeds die afkondiging van die “een-titel-beleid”, sonder nasionale raadpleging.

Hoewel dit na ’n blatant eensydige afkondiging lyk, moet ons weer eens ’n stappie terug neem en ag slaan op die regerende party se agenda. Tydens die ANC se 53ste nasionale kongres in Desember 2012 in Mangaung is oor handboekverkryging besluit:

  • Government adopts a centralized approach in the procurement of Learner Teacher Support Material (LTSM).
  • Government expands the capacity to print text books and workbooks and own their intellectual property.
  • Uniform and standardized textbooks must be provided to all learners across the system.

Hierdie besluit is op sy beurt voorafgegaan deur die volgende voorstel wat reeds in Maart 2012 vir die konferensie voorberei en in die “Education and health policy discussion document” nasionaal versprei is:

3. The establishment of a state-owned publishing enterprise

The country experiences challenges in the production, distribution and availability of textbooks and other instruments or vehicles of knowledge production. Our methods and practice of acquisition from the private sector plus distribution in government are, in some cases, neither cost?effective nor efficient.

Die “een-titel-beleid” wat nou die stoornis in die hoenderhok is, skyn ’n verdere stap te wees in ’n proses wat al etlike jare lank aan die ontvou is. Ander voorbeelde in hierdie proses is die gratis werkboeke wat die DBO jaarliks aan skole versprei, asook moontlik die “gratis” Siyavula-werkboeke vir wetenskap, wiskunde en tegnologie.

’n Mens moet erkenning gee vir die waarde wat die DBO aan behoorlike onderwysmateriaal heg, soos dit in “Schooling 2015”, die DBO se langtermynplan, gestel is: elke skool moet in 2015 “[l]earning and teaching materials in abundance and of a high quality” hê.

Die patroon wat egter na vore kom, is ’n onderwysdepartement wat leer- en onderrigmateriaal van hoë gehalte wil hê, wat soek na maniere om dit so koste-effektief as moontlik te verskaf, en wat steeds toegewy is aan die nastreef van die moontlikheid om soveel as moontlik materiaal, indien nie al die materiaal nie, self te verskaf. Binne hierdie raamwerk figureer ’n staatsuitgewery steeds as ’n moontlikheid.

Benewens die knuppel is daar moontlik ook ’n olifant in die hoenderhok: die verlange om die ideologiese inhoud van die kurrikulum deur leer- en onderrigmateriaal te beheer.

Dit is insiggewend dat die voorstel oor ’n staatsuitgewery in die bogenoemde “Education and health policy discussion document” verwys na “textbooks and other instruments or vehicles of knowledge production”. Hieruit blyk ’n interessante onopgeloste teenstrydigheid in die gemoed van die skrywer(s): Is ’n handboek ’n bemagtigende instrument om aktief nuwe kennis in te skep; of is dit ’n “voertuig” waarmee kennis aan ’n meer passiewe ontvanger oorgedra word?

Michael Apple
Nick Taylor
Basil Bernstein

Reeds meer as 40 jaar gelede het Michael Apple (Official Knowledge. 2000. Londen: Routledge) sy bekende prikkelende vraag gestel: [B]ehind Spencer’s famous question about “What knowledge is of most worth?” there lies another even more contentious question, “Whose knowledge is of most worth?”

… little attention has actually been paid to that one artifact that plays such a major role in defining whose culture is taught: the textbook

Oor hierdie standpunt skryf Nick Taylor in 1993 in die min-geroemde, belangrike versameling tekste Inventing knowledge: Contests in curriculum construction:

This [Apple se mening] is premissed on the epistemological shift from an absolutist conception of the curriculum as an objective selection of the best knowledge available to the notion of a contestation among social actors for the canonisation of that knowledge which best serves their respective interests; from philosophy of science to sociology of knowledge.

(Nick Taylor. 1993. Issues in the production of curriculum knowledge. In Nick Taylor (red). 1993. Inventing knowledge: Contests in curriculum construction. Kaapstad: Maskew Miller Longman, bl 8)

Taylor haal vir Basil Bernstein in hierdie verband aan:

[H]ow a society selects, classifies, distributes, transmits and evaluates the educational knowledge it considers to be public, reflects both the distribution of power and the principles of social control.
(B Bernstein. 1971. On the classification and framing of educational knowledge. In MFD Young (red). 1971. Knowledge and Control: New directions for the sociology of education. Londen: Collier MacMillan, bl 47)

Ons is natuurlik in Suid-Afrika nie onbekend met die manipulering van handboeke nie – ’n bekende studie is dié van JM du Preez, Africana Afrikaner: meestersimbole in Suid-Afrikaanse skoolhandboeke (1983. Alberton: Librarius).

Laat ons in die dieretuin (sirkus?) bly: die een-titel-beleid kan moontlik die oortjies van die seekoei wees. Dit maak nie soseer saak of die regerende party die bedoeling het om deur hierdie beleid die ideologie van die onderwys te stuur nie – wat saak maak, is of dit die geleentheid in die toekoms daarvoor skep.

Die wesenlike saak is: Is ’n een-titel-beleid gepas vir Suid-Afrika as grondwetlike demokrasie?

Verdere vrae wat na vore kom, is:

* Kan een titel werklik ons leerders se diversiteit van agtergronde, omstandighede, behoeftes en belangstellings beliggaam?
* Boet gemeenskappe ’n reg tot inspraak in onderwys in?
* Watter konsep van demokrasie, kreatiwiteit en vryheid word aan kinders voorgehou?
* Is veilige, selfs middelmatige, keuses van titels ons voorland met uitgewers wat noodgedwonge konserwatief in hulle seleksie van voorleggings is en keurders wat die veiligheid van die groot massa moet opsoek?   
* Is hierdie beleid ’n oorywerige bydrae deur partygenote tot die “advancement of the National Democratic Revolution” (president Zuma op 2 Oktober 2014 by die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie)? Of is daar ruimte vir keuse en kontestasie binne die ANC-alliansie se toewyding aan die “objectives of the National Democratic Revolution, and the need to unite the largest possible cross-section of South Africans behind these objectives”, soos op die ANC se webwerf gestel? (http://www.anc.org.za/show.php?id=11113)

Daar is natuurlik heelwat ander stekels in die “een-titel-beleid”, byvoorbeeld:

* die drastiese afskaling van die aantal skrywers wat ’n rol in die uitgewerswese as belangrike kultuurbedryf kan speel
* die onvermydelike beperking op nuwe stemme en avontuurlike tekste omdat uitgewers waarskynlik veilig sal wil bly
* die gevaar van korrupsie met hierdie soort “winner-takes-all”-beleid uit die ou Westminster-dampkring (die vergelding in eie munt van die gekoloniseerdes?).

Negatiewe ontwikkelings in die onderwysmark kan ’n bykans vernietigende impak hê op die Suid-Afrikaanse uitgewerswese as ’n min of meer tipiese uitgewersbedryf in ’n ontwikkelende land. Volgens 2012-statistiek vir die uitgewerswese is 64% van die inkomste vir alle uitgewerye in Suid-Afrika deur onderwysuitgewerye geskep. Talle gerekende en kultureel belangrike skrywers maak staat op hulle inkomste uit skoolverkope. ’n Beduidende aantal van hierdie skrywers is voorheen benadeelde persone.

Die dokumentasie wat die DBO vir die voorlegging uitgereik het, het talle onduidelikhede en, sag gestel, vreemde voorskrifte (byvoorbeeld dat digbundels sonder die titels van gedigte en name van digters voorgelê moet word).

Om die padda en kreef in herinnering te roep: hopelik wys hierdie artikel op die gevolge wanneer ons te laat bewus word van veranderings wat agterna blyk ongemaklik te wees. Die tyd vir openbare kommentaar op die “een-titel-beleid” het reeds op 8 Oktober verstryk. Daar kan nou weer ’n verdelende openbare stryd volg om die beleid ongedaan te maak. Nietemin moet iets gedoen word – agter die skerms deur invloedrykes en verbondenes, maar ook in die openbaar.

Ten slotte, uit ’n uitgewersoogpunt: Is dit moontlik dat ons skrywers hulself sterker kan organiseer, moontlik beter ingelig kan wees en flinker kan reageer as wat die afgelope maande – of dalk, jare – gebeur het? Die knuppel was trouens al lank op pad. Hier is ook ruimte vir beter skakeling tussen uitgewers en skrywers as rolspelers met gedeelde interesse wanneer intellektuele eiendom en nasionale kulturele belange bedreig word.

<< Gaan terug na Poolshoogte

 

Uit die LitNet-argief
Onderhoude
Interview: Arthur Attwell explains the impact of the South African Department of Basic Education’s proposed new policy
– Arthur Attwell
2014-10-07
Pen Afrikaans
Verklaring oor voorgestelde een-teksboek-beleid
– Kerneels Breytenbach
2014-10-17

LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Leerbestuurstelsels teenoor sosialenetwerk-omgewings: die ontwikkeling van ’n geïntegreerde tegnologiese onderrig-leer-model
– Imelda Smit, Linda du Plessis
2013-02-20

Poolshoogte
Hoe gesond is die Afrikaanse akademiese uitgewersbedryf?
– Francis Galloway
2014-07-23
Seminaar
Die laaste (Afrikaanse) boek?
– Nicol Stassen
2004
Skole
Suid-Afrikaanse onderwys in krisis
– Danie van Wyk
2012-08-02
Seminaar
Die s... in my jeans, Madeleine
– Izak de Vries
2004
Briewe deur die lug
Die boek in Afrikaans
– Hannes van Zyl
2000

Young Voices Conference 2004
Fix those new shoes, I'll have a guava for lunch
– Michelle Matthews
2004-11-11

LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die oorlewing van die nie-dominante tale van Suid-Afrika 2001
– Hans Pienaar
2007-06-13

Lees ook:

DBO se een boek per vak per graad: Waarom is die skrywers so stil?

The South African Society for History Teaching's representative on the proposed one textbook policy

Interview: Arthur Attwell explains the impact of the South African Department of Basic Education’s proposed new policy

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top