Skrywersreaksie op die resensie van Soom

  • 0

In die Afrikaanse literêre wêreld is dit nie gebruiklik dat skrywers op resensies reageer nie. Die skrywer moet maar vir lief neem met die resensent se oordele, al is dit negatief, en met die styl en toon, al is dit hovaardig, beledigend of skerp. ’n Uitsondering is seer seker wanneer die resensent hom/haar skuldig maak aan foute en/of foutiewe afleidings. Daarom hierdie eenmalige reaksie op die resensie van Gunther Pakendorf op LitNet.

’n Mens sou kon begin met die nogal persoonlike sin: “Soom is sy eerste digbundel en dit dra swaar aan die verwagtings en ambisies van die digtende akademikus.” Wat hy waar kry in die bundel? Die hele resensie word basies gebruik om aan te toon dat Van Coller die akademikus weinig begryp van (die eise van) die sonnet. Die teendeel moet dan waar wees: hý wel. En as bewys dien sy weergawe van ’n oppervlakkige samevatting in ’n literêre ensiklopedie.

Verder: Waarom moet “regsgesinde” eerder “reggesinde” wees volgens Pakendorf se stelling as die eersgenoemde ’n erkende en passende woord is wat ook in die WAT voorkom? Waarom moet die gedigte “Graveyard Shift” (56) of “Na aanleiding van ’n lesing […]” (62) uit 14 reëls bestaan? Mag daar geen gedigte in Afrikaans verskyn wat uit 13 reëls bestaan nie? Of uit 3 of 8 reëls nie? Of is daar dalk êrens ’n aanduiding in die bundel dat dit hier om sonnette gaan en dat die digter sowaar ’n reël vergeet het?

Dit is ook inderdaad “embarrasserend” as ’n resensent dit nie oorweeg dat ’n vertaler doelbewus ’n “fout” begaan in ’n vertaling om daardeur iets te sê vir die kritikus wat dit anders nooit self sou kon agterkom nie (soos ook die sogenaamde taalfout met die eerste reël van die vertaling van Nijhoff se “Impasse”, waarop ’n ander ewe selfingenome kritikus gewys het).

Om dit uit te spel: die sonnet veronderstel ’n stel “kategoriese verwagtings” of “wetmatighede”. Sommige digters (soos Revius in sy gedig “Gods besluyt” wat hier in vertaling voorkom) gehoorsaam dit doelbewus nie; daarom Van Coller se vertaling: “ware vryheid gehoorsaam nie die wette nie”. Veral die Franse sonnet, wat geliefd was in die 17de eeu, dra swaar aan hierdie “wette” - eise waarvan Pakendorf (en sy bron, Grové volgens dié se oorsig) nog nooit gehoor het nie, want Grové vermeld nie eers die Franse sonnet of die opvallende verskille tussen dié vorm en die Italiaanse sonnet nie.

Afwyking van die wette hou verskeie implikasies in: dat in bepaalde gevalle selfs ’n 14-reëlige gedig nie as ’n sonnet beskou word nie (kyk Kannemeyer se oordeel oor Revius se “Gods besluyt”), of dat 13-reëlige - soms selfs 15-reëlige - gedigte weer dikwels nader aan die sonnet is as dié wat wel 14 reëls bevat. Lees gerus Hoofd se gedig (met 15 reëls) “Noodlot”, wat deur Van Wyk Louw beskou is as in alle opsigte ’n sonnet, behalwe dat dit nie oor die verwagte 14 reëls beskik nie.

Pakendorf gee verder ’n hele lysie van woorde of beskrywings wat in meer as een gedig voorkom in Soom; uiteraard as voorbeeld van ’n literêre fout sonder dat hy ander verklarings oorweeg. Die bekende Smuts-egpaar het onder andere verhelderend geskrywe oor literêre “foute” en aangetoon dat baie vermeende foute in tekste betekenisdraend is; die meeste skrywers (en veral literatore met “groot literêre ambisie”) het immers lankal hul skoolgeld betaal. Swewende reëls, met ander woorde reëls wat in meer as een gedig voorkom (“die kelkie sonder voet”) en vaste uitdrukkinge (soos die eienskapsepiteton) is baie bekend in die poësie en kan aangetref word in Middelnederlandse en 17de-eeuse poësie, die verse wat Pieter W Grobbelaar in verskeie bundels versamel het oor die volksverse in Afrikaans, én in Van Wyk Louw se “Klipwerk”.

Voorbeelde van die laasgenoemde is “groene linde”, “stoute ridder”, en “ledige literatore”. Hierdie verskynsel staan bekend as ’n epitheton ornans. Uiteraard is dit in vandag se terme ’n voorbeeld van intertekstualiteit (soms ook intratekstualiteit) én staan dit direk in verband met ’n bepaalde poëtikale opvatting.

Ten slotte: daar is verskeie sonnette in hierdie bundel (ook onder die vertalings) wat kreatief probeer omgaan met die “kategoriese verwagtings” of wetmatighede van die sonnet en die wette nié gehoorsaam nie. Dit is die resensent se goeie reg om die pogings negatief te beoordeel. Ongelukkig gaan begrip evaluering egter vooraf.

’n Skrywer is dankbaar vir die moeite wat die meeste resensente doen met sy werk. Kennis van die onderwerp waaroor die werk veral gaan, is egter nie net ’n etiese voorvereiste nie, maar ook ’n vorm van hoflikheid, wat óók sy plek het in ’n boekbespreking.

HP van Coller

Lees Gunther Pakendorf se resensie van Soom hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top