Rynie Olivier
Ditsem! Ek dink Rynie is nou sterk op pad om die suggestie waarna ek in my eerste verslag gevra het, te begin ontdek. Dis ’n groot sprong vir ’n jong skrywer en ek het net so ’n gevoel dat sy dalk ’n baie beter greep daarop het as wat sy self besef. Dit verbaas my nie, omdat Rynie se tematiek deurgaans baie persoonlik en diepgeworteld is.
Die verse is reeds baie sterker, en veral die eerste vers daag die leser uit om betekenis te gaan soek, eerder as dat Rynie dit sommer op ’n skinkbord aanbied.
Dit beteken egter nie dat Rynie nie nog ’n paar Rubikons sal moet oorsteek nie! Die eerste vers, "behoefte vir aanvaarding", is reeds stukke beter, maar sy moet dit fyn gaan lees en seker maak dat die beelding konkreet en die sintaksis korrek is.
’n Paar voorbeelde:
1) Die behoefte "vir" iets onbekend (r 1) behoort die behoefte "na" iets onbekend te wees.
2) Dit sou heelwat meer sin maak om die veelvoudige "grasdakhuise" (r 2) ’n enkele "grasdakhuis" te maak - die spreker kan sekerlik nie in dieselfde versreël buite verskillende vensters staan nie!
3) Die beletselteken na “gesels” (r 3) (en elders in die vers) is sinneloos.
Rynie, die eerste strofe, met die veranderinge soos bo, is baie sterk, hoor! Geluk! Kyk hier:
’n behoefte na iets onbekend
brand soos ’n grasdakhuis
waar almal gesels
en ek buite staan en luister.
Die tweede strofe, met soortgelyke veranderinge, is ook sterk.
Die derde en vierde strofes pla nogal. Ek verstaan nie waarom die behoefte sal staak of oorlog voer nie. Verder word die enkele "behoefte" van strofe 1 skielik in strofe 4 ’n aantal behoeftes wat sommer nou teen mekaar baklei. Ek verstaan dit glad nie.
Soos ek die vers lees (en ek kan natuurlik heeltemal verkeerd wees), handel dit oor die spreker wat as buitestander in sosiale kringe ’n woede opbou omdat hy/sy nie deel van daardie groep is nie, en dat hierdie woede manifesteer in vernietigende, aggressiewe gedagtes.
En dit is wat sy moet probeer uitlig, want dis ’n baie sterk en slim tema vir ’n gedig!
Ek sou aanbeveel dat sy die eerste twee strofes afrond en hou soos dit is. In die derde en vierde strofes behoort die spreker se nihilistiese gedagtes tot fisiese aksie oor te gaan. ’n Vinnige idee is dat die spreker nou ’n vuurhoutjie in sy/haar kamer trek - dit bind dan die aksie aan die eerste twee strofes. In die slotstrofe kan die spreker dit doodblaas.
Of wat ook al! Rynie, gaan dink ’n bietjie oor hoe om die esoteriese met die fisiese te vermeng.
Die tweede vers, "openbaring van liefde", vra ’n aantal vrae rondom die liefde wat, aldus die spreker, glad nie die maanskyn en rose is wat ons vertel word nie.
Die groot fout wat Rynie maak, is om die vrae wat sy vra, so direk te stel. Soos ek voorheen gesê het, sal ’n goeie gedig eerder ’n stelling maak wat die leser uitdaag om die vrae wat hy of sy self het, te probeer beantwoord. In hierdie vers weet die leser onmiddellik dat ons van liefde praat - dis sommer uit die titel reeds duidelik. Ons weet ook onmiddellik dat die skrywer die aard van liefde bevraagteken. En dit word dan deurgaans die tema in elke strofe.
Die ander fout is dat Rynie gebruik maak van rymstrukture wat (a) haar vermoë om haarself uit te druk inhibeer en (b) nie werklik funksioneel is itv die tematiek nie (deur gebruik te maak van omarmde rym kan ’n mens die drukkies wat jou geliefde gee, verteenwoordig - maar ek sou selfs versigtig wees daarvoor!).
Uiteindelik, net ’n laaste gedagte, moet Rynie probeer om ’n effense ritme en metrum in haar gedigte in te bou. Sy moet net die gedigte hardop lees - dan sal sy verstaan waarom strofe 5 byvoorbeeld baie lomp klink:
Hulle sê dit is perfek,
maar wie is die húlle van wie almal so praat?
En wat weet ons nou eintlik van liefde af
as dit so mode is om net rond te slaap?
My raad met hierdie vers is:
1) Kyk na die titel en kies ’n woord of strofe wat liefde suggereer sonder om die woord te gebruik.
2) Eerder as om vrae te vra, maak stellings!
3) Probeer wegbly van clichés soos Pappa wat gil as hy gatvol raak (strofe 2) en Ouboet se "teruggegede" ring, asook plat stellings soos dat dit mode is om rond te slaap.
Net om haar aan die gang te kry:
Hulle se dit is mooi
en dat dit heel maak.
Luister hoe gil Pa -
volmaakte waarheid.
Ronnie Strydom
Ek is ’n groot Ronnie Strydom-aanhanger, veral omdat Ronnie reeds as jong skrywer probeer om homself uit te daag en beelding te skep wat nie net mooi klink nie, maar ook tref.
Ek kry ongelukkig die gevoel dat Ronnie se tweede pogings baie gejaagd is, asof hy vinnig probeer het om van die veranderinge wat ons voorgestel het, aan te pak, sonder om dit werklik te deurdink. Ronnie is natuurlik hoofseun van sy skool en sekerlik besonder besig, dus sal ek hom dit vergewe.
Hoewel ek bly is dat "Bergwind" nou ’n korter gedig is, voel ek dat baie van die mistiek daarin verdwyn het. Die eerste strofe is baie sterk, soos ek en Danie saamgestem het.
Ek hou niks van "Sien jy hoe my pa huil? Sien jy die trane oor sy hange rol?" (r 6) nie, omdat dit die betekenis van die gedig baie sterk, en sonder behendigheid, dwing tot die afsterwe van ’n pa. Die woorde "Sien jy" wat die reël afsluit, kan eerder "Kyk" wees, omdat "jy" op die oomblik in die voordeelsposisie staan, wat niks beteken nie. Ek sou die sin afsluit.
(Ronnie, dink hieroor: Jy vra in die reël: "Sien jy hoe my pa huil? Sien jy die trane oor sy hange rol?" en die antwoord van die leser is: "Néé - ek sien niks!" Jy, Ronnie, moet die leser wys!)
Die laaste strofe is nie besonder treffend nie, hoewel Ronnie die idee reg het om die slotreëls aan die eerste reëls te bind. Die probleem hier is weer dat die spreker vir ons uitspel wat die "dowe fluister" is, in plaas daarvan om ons te laat wonder.
"Padlangs" is nog steeds ’n gedig met baie potensiaal (en besondere ambisie!). Die trefkrag van die gedig lê in die fyn waarnemingsvermoë wat Ronnie se skryfwerk kenmerk. Wat egter daarteen tel, is dat Ronnie geneig is om mooiskrywery sonder poëtiese waarde toe te pas.
Soos ek die gedig lees, probeer Ronnie om ’n tog deur ons land te beskryf waartydens alles wat hy sien en beleef, selfs die paaie self, hom aan ’n geliefde herinner. Uiteindelik is die wending dat die pad hom juis wegvoer van die geliefde af, in plaas daarvan om hom ná die geliefde te neem.
Dis ’n fantastiese idee vir ’n gedig – en besonder moeilik om uit te voer.
Ronnie het reeds verstellings aan die gedig gemaak wat dit nou meer gefokus maak. Die uitdaging is nou om die beelde nuut en vars te maak.
Wanneer hy probeer om die alleentog met die geliefde wat in die gedagtes saamry, te beskryf, doen hy dit deur te skryf: "Wanneer ons, maar nie ek en jy ..." (r 1). Dis ambisieus, maar nie geslaagd nie, want dit lyk en voel na ’n taaltoertjie in plaas van poësie. Ronnie moet bietjie probeer dink oor hoe hy die leser die idee kan gee dat die geliefde saamry, sonder dat dit die geval is.
"Terwyl pragbeelde van jou hoof deur my denke pols" (r 3) is dalk my grootste grief met hierdie gedig. "Pragbeelde" is absoluut niksseggend, "hoof" is ’n bitterlik geykte term en "pols" pas nie in by die stadige, langpadgevoel van die gedig nie. "Die werklikheid [wat my bloed laat] stol (r 3) is egter baie goed.
Die res van die eerste strofe is presies die "verduideliking" van beelde waaraan ek en Danie albei broertjies dood het en waaroor ons breedvoerig in die verslae geskryf het. Die punt is dat die duif, apie en arend op sigself genoeg van die geliefde moet sê, sonder dat dit verduidelik hoef te word ("elke duif jou saffiere", ens). As Ronnie dit nie regkry om die beelde alleen te laat praat nie, en die beeld moet verduidelik, moet hy dit skrap.
Ek wil hê hy moet ook gaan dink oor die laaste strofe in die konteks van die ruimte wat hy in die eerste strofe skep. Wat ek daarmee bedoel, is dat die hele gedig gebou is op ’n tog in die fisiese wêreld sonder ’n sweempie surrealisme. Dis treffend en dis goed gedoen. Om nou die verrassing in te bring dat die tog die heeltyd ’n reis na die maan toe was, laat die leser deurmekaar. ’n Tog Bloem toe en ’n tog maan toe is ligjare van mekaar verwyderd en word glad nie deur die gedig aan mekaar gekoppel nie.
En laastens, ek haat nog steeds die "bloedrooi stoptekens" (r 8)!
Ronnie Strydom is ’n skrywer wat nog fantastiese beeldingsverse gaan skryf. Hy skryf reeds verse wat die meeste matrikulante maar net oor kan droom en wat die meisies op varsity gaan laat lam raak. Maar hy sal moet besef dat beelde nie genoeg is om ’n gedig suksesvol te maak nie en dat beelde aan ’n groter idee gekoppel moet wees.
Carike Odendaal
In my vorige verslag het ek gesê dat Carike se stem nog behoorlik ontgin moet word. Daar is oomblikke van wonderlike helderheid in haar skryfwerk en ek het ’n gevoel dat wanneer Carike haar nis gevind het, niks haar gaan keer nie!
"Jakkals" is nou op pad om ’n baie, baie goeie gedig te word, terwyl, nes ek gedink het, "Optog" se onderrok nou ’n bietjie uithang.
Kom ons begin hierdie keer met "Optog". Vir my is "Optog", soos dit nou geskryf is, ’n vers wat Carike eerder in die laai moet bêre. Die rede is dat ’n gedig ’n mens se onderbewussyn moet uitdaag - ’n mens behoort ’n gedig eintlik met ’n eerste lees glad nie te verstaan nie, maar iets moet binne-in jou beweeg. Met ’n tweede lees behoort ’n liggie te begin aangaan, en soos ’n mens dit weer en weer lees, behoort dit betekenis te verkry (en interpretasie regverdig!).
"Optog" is nou baie letterlik, baie teatraal en dramaties, en ’n mens verstaan oombliklik presies wat aangaan, en interpretasie is onmoontlik. Dis nie poësie nie.
Deur die vers in te kleur met oordadighede soos "uitgehongerde wange" (r 2) "krampagtig teen haar bors vasgedruk" (r 5), "vullis tussen dooie vlees" (r 7) en "oorverdowende gille" (r 12) is ook nie net onnodig nie; dis eintlik steurend.
Die "optog"-tema is egter nog steeds ’n sterk tema wat relevant is vir Suid-Afrikaanse poësie en ook nog nie werklik genoeg ontgin is nie. As Carike weer wil probeer, is daar genoeg stof vir ’n vars begin.
"Jakkals", daarenteen, is nou esoteries en misterieus, en getuig van ’n fyn beskrywingsvermoë wat min jong skrywers het.
Die gedig laat ’n mens uiteindelik met heelparty vrae, wat dit reeds halfpad na ’n goeie gedig toe maak. Die probleem is dat die vrae op die ou end glad nie beantwoord kan word nie.
Die uitdaging is nou om leidrade in die gedig in te bou wat potensieel antwoorde op die vrae behoort te kan gee. Selfs ’n groter uitdaging sal wees om die woorde so te kies dat dit die leser op meer as een pad sal kan lei!
Miskien praat ek nou bietjie verby Carike. Kom ek probeer verduidelik.
Carike moet haar afvra: Wat is die jakkals in die gedig eintlik? As ’n mens die gedig nou lees, lyk dit asof die jakkals waarvan sy praat, ’n doodgewone ou jakkals is wat die spreker op die ou end doodskiet. Die rede waarom ’n mens so dink, is dat alle woordkeuses hierop dui - die meeste is natuurwoorde soos "veld", "gras", "stofpad", "nag", "tarentale", "doringboom".
Doodgewone, vervelige ou jakkals ...
Maar wat gebeur as ons die leser ’n klein bietjie skok:
Die ondier roep vanuit die kloof
En ek roep terug.
Nou skielik word nie net die "jakkalsgeid" van die dier ondermyn nie, maar die spreker kry ook ’n nuwe, dierlike dimensie.
Waarom moet die spreker die "jakkals" met ’n .270 skiet en hom nie eerder net jag en agtervolg nie? Waarom nie die leser laat wonder of die dier nou dood is of nog lewe nie? Dis belangrik om die leser uit te daag en slim te kies aan jou woorde om sodoende die gedig oop te laat vir interpretasie. Laat die leser, eerder as die tarentale (r 19) bespiegel.
Ander klein dingetjies:
Ek sou die "houtdeure" (r 2) en "sandsteengange" (r 3) enkelvoudig maak. "Oogies" (r 13) moet "Ogies" wees. Ek sou die sin ná "nael" (r 15) afsluit en die volgende reël met ’n nuwe sin begin.
Carike openbaar in "Jakkals" reeds baie van die kenmerke van ’n talentvolle skrywer wat met oefening baie bedrewe kan raak. Ek sien uit na die finale weergawe(s)!
Emlyn Allwright
Ek hou nogal van die veranderinge wat Emlyn aangebring het met "iv", haar eerste gedig, hoewel die blatante verwysings na apartheid-gebeurtenisse dalk ’n bietjie te direk is. Wanneer ’n mens oor apartheid probeer dig, plaas ’n mens jouself in die geselskap van Ingrid Jonker en Antjie Krog, wat ’n groot las op ’n jong skrywer se skouers pak. As ’n mens nie dan iets nuut hieroor sê nie, of ’n ondergedokumenteerde aspek daarvan beskryf nie, is ’n gedig nie van veel waarde nie. Die inslag van die vorige weergawe, wat meer ruimte vir interpretasie gelaat het, was sterker.
Met dit nou gesê, is die gedig pragtig afgerond, wat dalk die grootste uitdaging vir jong digters, insluitend ek self, is.
Maar dan is daar "v", haar tweede gedig.
Wat Emlyn hier regkry, is iets ongelooflik besonders, selfs vir ’n gesoute skrywer. Die gedig ondersoek eintlik niks nuuts nie. Op die oppervlak is dit ’n doodgewone anti-establishment-gedig, soos dit al baie gedoen is.
Die spreker is iemand wat die koue, harde realiteite van korporatiewe instellings en kantoorwerk bespreek. Die spreker praat met ’n saaklikheid, ’n kilheid, amper ’n besigheidstem, asof geen van die dinge waaroor hy/sy praat, hom/haar enigsins affekteer nie.
Wat dit ’n nuwe dimensie gee, is dat die spreker deurgaans in die verlede tyd praat ("Ek kon vertel het ..."), wat beteken dat die spreker ’n tyd in sy/haar lewe aanspreek wat verby is, of agtergelaat is. Hoekom?
Die tweede strofe,
Ek kon vertel het
van die koue asem
van ’n verkoelingstelsel in ’n kantoor
of die sug van ’n skootrekenaar
of die klap van waaier-tonge.
is dalk die varsste beskrywing van ’n korporatiewe omgewing wat ek in ’n lang tyd in Afrikaans gelees het. Wat dit selfs meer besonders maak, is hoe Emlyn dit regkry om die traak-my-nie-agtigheid van die spreker, waarmee ons reeds in die eerste strofe kennis maak, so soomloos ’n nuwe dimensie te gee.
Waar die eerste strofe fisiese dinge fisies beskryf, kry die voorwerpe in die tweede strofe byna menslike kenmerke. Daar is ’n progressie aan die gang – eers was die vooruitgang bloot funksioneel, bloot dinge wat bestaan en gebeur, maar nou kry dit skielik menslike kenmerke - asem, sug, tong. In die derde strofe begin dit menslike aksies uitvoer.
Dis subliem.
In die laaste strofe kom ons agter dat die spreker daardie wêreld agtergelaat het, op soek na die natuur en ’n soort menslikheid wat die korporatiewe wêreld nie kan bied nie.
Wat die gedig egter nog nodig het, is ’n sterk, ironiese, klap-in-die-gesig-van-die-baas eindstrofe. Emlyn het reeds gewys dat sy in staat is tot vars en subtiele kommentaar. Ek sou eerder wou sien dat sy daarop voortbou as om die gedig af te sluit met ’n vae beeld soos dit tans staan.
(Terloops, as ek die woord "replika" (r 21) sien, spring my kop dadelik na "replikasie" of "replisering", twee genetikaterme. Dit sluit dalk baie mooi aan by die onderliggende tema van die gedig, wat ’n moderne hunkering na die natuur is.)
Ek wil Emlyn ook vra om die gedigte twee afsonderlike name te gee. Ek verstaan dat dit dalk deel is van ’n groter prentjie, maar omdat ons nie die hele stel gedigte kan sien nie, doen die huidige benaming bietjie afbreuk daaraan.
Baie geluk, Emlyn – hierdie vers is regtig indrukwekkend!
Megan Janse van Rensburg
Ek hou van die veranderinge wat Megan aan "Die lewe van" aangebring het. Dit lees nou makliker en is, soos ek gesê het, ’n baie lekker versie vir jong laerskoolkinders. Wie weet, dalk sien ons binnekort hoe onderwysers die gediggie vir hul graad eentjies lees!
Daar is nog een of twee verstellings te maak wat betref die leestekens, en ek gaan Megan so ’n bietjie daarmee help. Ek gaan ook bietjie met die tipografie speel, wat ’n mens gerus kan doen as jy vir kleintjies skryf:
Rond bont
en
spring ek heen en weer
baie tevrede
met my styl van lewe!Ek baljaar met plesier
op die rug van die dier:
die arme hond …
Ag, wat gee ek tog om!Krap bietjie hier,
krap bietjie daar,
En elke keer
gryp ek aan ’n nuwe haar.Ek voel sommer tuis.
Dis mos die lewe van ’n luis!
Met betrekking tot Megan se nuwe vers, "Die penwedloop", wil ek sê: dis nogal nice! Dis ’n lekker tema en dis iets wat kinders sal geniet! ’n Mens sién amper die penne oor die veld hol en dit maak ’n mens nogal opgewonde. Die hartseer inslag daarvan is dalk net nie toepaslik vir die leser nie.
Ek dink ons moet dit korter maak, meer gefokus en meer eenvoudig. Verder wonder ek of laerskoolkinders, veral in die laer grade, nie meer vertroud is met potlode as penne nie. Hoekom nie eerder ’n potloodwedren nie?
Die eerste strofe is oulik! Ek sou egter graag wou sien dat die toneel reeds daar geskets word, sodat elke leser oombliklik verstaan wat gebeur en ’n prentjie in hul koppe vorm. Wat van:
Penorent staan die potlode:
Blou, Groen, Geel, Rooi,
Gereed vir die wedren
Hulle lyk alte mooi!Meneer Uitdraaikryt sê:
“Op julle merke …
Potlode reg …
Weg!”
En nou kan ’n mens begin speel met Rooi wat eerste voorloop, dan Blou wat hom verbysteek, dan Groen wat iemand triep, ens.
Dis ’n baie oulike idee en ’n oulike tema vir ’n versie. Megan moet daaroor gaan dink en dit eerder snaaks en opgewek maak as somber en hartseer, soos dit tans is (die graad eentjies gaan lang trane huil as die potlood moet doodgaan!).
Megan het ’n aanvoeling vir hierdie soort gedig en ek is opgewonde oor wat sy daarmee kan doen as sy haar leser leer ken en verstaan.
Keer terug na die skryfskool-tuisblad.

