Skryfnet 2013: Jasper van Zyl se eerste verslag

  • 0

Beste SkryfNet 2013-deelnemers

’n Paar jaar gelede was ek een van die deelnemers aan hierdie einste skryfskool. Om nou as beoordelaar en raadgewer te kan optree, is ’n enorme voorreg.

Baie geluk! Kritiek is een van die een van die dinge wat enige skrywer wat vir ’n wyer gehoor wil skryf, doodeenvoudig moet leer hanteer. Daar is natuurlik niks daarmee fout om hoogs persoonlike, intieme gedigte te skryf wat jy liefs vir jouself wil hou nie. Maar enigeen wat daarvan droom om te publiseer, moet verstaan dat daar ’n bepaalde standaard is waaraan skryfwerk gemeet word. Om ’n boek te laat druk is ’n duur storie en nie sommer enige Jan Rap en sy maat kan hieraan deel hê nie!

Onthou dat niemand, maar niemand, sommer net uit die staanspoor ’n digter is nie. Om te skryf is eintlik soos enige ander onderneming (of dit nou kosmaak, krieket, sake, wiskunde, tuinmaak of wat ook al is): almal weet min of meer hoe, maar net sommige het ’n aanvoeling daarvoor. Selfs minder mense het opsigtelike talent. En selfs nóg minder is bereid om daadwerklik daaraan te skaaf en te werk. Alle skryfwerk, maar veral digkuns, is ’n ambag waaraan daar lank geskaaf moet word. Dit verg groot toewyding, baie oefening en hare op die tande om jou skryfwerk na die volgende vlak te neem.

Baie mense dink dat gedigte iets is wat sommer in ’n droom na jou toe kom, of dat digters ’n spesiale sintuig het, of elke dag aha!-oomblikke het en dat “inspirasie” die ding is wat digters en hul eweknieë van mekaar onderskei. Niks is verder verwyderd van die werklikheid nie. Ek het nog nooit ’n gedig opgedroom nie en ek het nog nooit ’n engel gesien nie. Daar is gedigte in my debuutbundel wat ek veertig keer oorgeskryf het (en selfs ná publikasie nog aan gekarring het!). Dis harde werk. Maak jouself gereed.

’n Digbundel moet ’n spesiale plekkie in die poësiemilieu van jou bepaalde taal- of lesersgroep uitgrawe. Antjie Krog het vir my gesê dat indien ’n mens geestelike poësie wil skryf, ’n mens moet besef dat jy met Paulus en Lukas meeding – ’n onmoontlike taak? Toe Petra Muller die eerste konsep van pikkewyne onder oë gehad het, het sy ’n streep deur een van die gedigte getrek en bloot geskryf: "Van Wyk Louw het dit beter gesê."

Jou gedigte moet dus vars, uniek en prikkelend wees, en jy moet anders as enigiemand voor jou klink. Dit beteken dat jy kreatief moet wees met óf die styl en inslag van jou gedigte (dink bietjie aan Gert Vlok Nel) óf die inhoud daarvan (soos Danie wat so rou oor egskeiding kan skryf, Loftus oor die leefwêreld van ’n moderne, stedelike, gay Afrikaanssprekende). Ek self skryf oor alledaagse goed soos grootword en die studentelewe, maar probeer om dit aweregs en half surrealisties te bekyk. Dis belangrik dat jou gedigte uitstaan wat betref styl en aanslag, al sou jy besluit om oor universele temas soos liefde, afskeid of die natuurskoon te skryf.

Ten laaste: onthou dat my en Danie se kritiek glad nie daarop gemik is om jou te ontmoedig nie; inteendeel, ons wil jou bloot wys op die slaggate waarin jong digters dikwels trap. Ek trap self nog dikwels in hierdie selfde slaggate en leer nog steeds elke dag. Ek en Danie het albei redakteurs wat ons gedigte krit voor dit gepubliseer kan word – en glo my, ons het hulle nodig! AB de Villiers het nog steeds ’n afrigter; Harvard-studente het nog steeds professore. Om foute te maak is deel van die ding. Staan bietjie terug en probeer objektief wees. As jy dit kan regkry, is jy goed op dreef!

Emlyn Allwright
Die titels van Emlyn se gedigte wys duidelik dat die verse deel is van ’n stel gedigte en dit is dus moeilik om die titels by die verse te laat aansluit. Haar verse is duidelik ook stukkies politieke kommentaar, wat nie ongewoon is van jong digters nie.

Wat die eerste vers, "IV", betref, sukkel ek om die stukkies by mekaar te pas. Dit voel vir my asof Evelyn probeer om iets te sê oor die politieke landskap van Suid-Afrika (deur die gebruik van "swart" en "wit") en later die rol van Afrikaans daarin ("WAT" en "fraai woordjies"). Dis ’n interessante tema vir ’n gedig, maar die stukkies pas nog nie lekker by mekaar nie. Waarom gebruik sy byvoorbeeld die bepaalde plekname (Zambesi, Okovango, Namib, Richtersveld) as sommige van die genoemde plekke nie eens in Suid-Afrika is nie? Verder, waarom staan die woord "die" aan die einde van ’n versreël, in ’n voordeelsposisie? Is dit funksioneel?

Wat ek voorstel Evelyn probeer, is om (a) net Suid-Afrikaanse plekname te gebruik, (b) die volgorde van plekname te verander, en (c) die plekname op ’n funksionele wyse te rangskik. Sy kan ’n geografiese kruisie met die name teken om ’n stembuskruisie te verteenwoordig . ’n Simpel voorbeeld: Weskus, dan Port St Johns, dan Pretoria, dan iewers in die Kaapprovinsie. Anders kan sy bloot ’n reis deur die land probeer beskryf met plekname wat op mekaar volg asof ’n mens deur die land sou reis.
(Dis nou as ek haar reg verstaan, natuurlik!)

Die openingsreëls sou byvoorbeeld so kon lyk:

Kruis die Zambesi,
die Okavango-delta,

die Namib,
die Richtersveld.

(Natuurlik met die Suid-Afrikaanse plekname in stede van die bostaandes.)

Ek sou ook weer gaan kyk na die beelding in die vierde en vyfde strofes - ek weet nie wat "wit brand" of "gouemaansiekte" beteken nie.

Die blatante verwysing na die WAT is overkill. Kan ons nie "Afrikaans" meer subtiel uitlig nie?

Ek hou nie tans van die "strikdas"-einde nie, maar ek het ’n gedagte dat ek heelwat meer daarvan gaan hou as ons die "kruis"-tema bietjie meer kan uitlig. Dan word die kruis-aksie wat ’n mens uitvoer om ’n strikdas te vou dalk net gepaste en snydende kommentaar!

"V" bespreek dan die teenoorgestelde wêreld: die stad. Ek hou baie van die aanslag van die gedig en die moderne woordgebruik daarin. Sy kan baie met hierdie gedig doen.

Sy moet die reël "wanneer die CPU hard gewerk het" summier sny – "die sug van ’n skootrekenaar" is wonderlik, maar om dit dan te verdun deur dit te probeer verduidelik verander die fantastiese, surrealistiese beeld in ’n konkrete beeld, wat poëties sinneloos is.

Ek verstaan nie die progressie na die derde strofe nie, hoewel ek hou van die trant daarvan. Probeer sy sê dat die stadslewe ’n mens met sy stiletto's vermoor? Dis treffend, maar hoe volg dit op die tweede strofe?

Laastens is die eindstrofe baie flou, en Evelyn ondermyn haarself eintlik daarmee. Sy moet dit herbedink of dalk selfs sny. As ’n mens ’n enkele sin as jou slotreël gebruik, moet dit óf ’n wending in die gedig meebring óf dit moet die titel of openingsreël bind. Hierdie einde doen geeneen van daardie dinge nie.

Evelyn se gedigte het albei baie potensiaal en ek sien uit na wat sy nou daarmee gaan doen!

Ronnie Strydom
Dit sit nie in enige skoledigter se broek om te eksperimenteer met vaste rymstrukture en metrum nie. Diegene wat dit wel waag, is dikwels stemme om te ontgin. Ek is mal oor die trant van Ronnie se verse en daar is stukkies van sy werk wat ek wens ek self geskryf het!

Uiteindelik is Ronnie se grootste Achilles-hiel dat die versreëls nie altyd logies gekoppel is nie. Daar's klein verstellinkies te maak, want dis dalk hoofsaaklik ’n leestekens-kwessie. Verder moet hy pasop vir gedwonge rym wat nie werklik funksioneel is nie, hoewel dit dalk baie mooi klink.

"Stormweer in die psige" is beslis die sterkste vers, met enorme potensiaal. Ek wil Ronnie egter aanmoedig om hierdie gedig baie, baie fyn te bekyk en seker te maak dat die sinne daarin logies is. Hy begin die vers byvoorbeeld met ’n vraagwoord, maar daar is nêrens ’n vraagteken in sig nie en sommer ’n punt na die woord "Soeker", hoewel die sin daarna voortgaan.

Verder moet Ronnie kyk na die woordoortolligheid wat nou en dan kop uitsteek. Ek weet Ronnie probeer die metrum behou, maar hy kan wegkom met minder woorde vir dieselfde effek. Miskien vermink ek nou die ding, maar wat sou verkeerd wees met byvoorbeeld:

Wanneer ek snags in my huisie lê op die berg se piek: Verban, ’n Soeker,
Op ’n bed van strooi geskape, bid ek, maar sal dit die wind kan stop,
Die bergwind, wat dringend aan my vensters ruk en klop
Soos ’n klimmer wat kom skuiling vra, of, stel jou voor, ’n bekende besoeker? 

Ek hou nie van die "koerantpapiermarionette" (r 5) nie - dit pas nie in by die natuuromgewing waarop die gedig gebaseer is nie. Waarom sou daar koerantpapier in die berg wees?

Die tweede strofe is baie mooi, maar Ronnie moet weer gaan nadink oor die beelde wat hy probeer oproep. ’n "[d]owwe fluister" (r 10) maak nie regtig sin nie, of hoe? Ek hou ook nie van "ek is geen kind van die wind" (r 14) nie - dis darem baie geforseerd (en ek dink ook dis eintlik presies wat die spreker is!). Laastens, wat is dit wat die spreker in die laaste versreël probeer "vind"?

Ronnie sal nou ’n baie beter idee sal hê van waarna hy moet kyk, daarom gaan ek nie te lank by "Padlangs" stilstaan nie. Dis ook ’n gedig met baie potensiaal, maar ongelukkig ook heelwat mooiskrywery bv "pragbeelde" (r 3), "dieper ure" (r 6), "snelweg van smart" (r 8) en "donkerbruinhare" (r 4, wat baie aan die titel van ’n RSG-treffer herinner!) Al hierdie dinge klink mooi, maar is poëties leeg.

Ronnie moet ook pasop om sy beelde aan die leser te probeer verduidelik, bv: "Dink ek aan ons land se paaie as are, are na jou hart" (r 2).

Dan, weer eens, moet Ronnie sy gedigte noukeurig lees en seker maak dat die versreëls sintakties sin maak. Daar is byvoorbeeld weer ’n punt na "donkerbruinhare" (r 4), hoewel die sin daarna voortgaan.

Hy moet ook net kyk: "stop tekens" (r7) moet een woord wees: "stoptekens". Terloops, haal tog "bloedrooi" (r 7) uit – almal weet watter kleur ’n stopteken is!

Ter opsomming: Baie treffende beelding met ’n interessante inslag. Baie, baie potensiaal! Die groot valstrik is afronding - Ronnie moet sy gedigte noukeurig lees. As hy nog nie Charl-Pierre Naudé se werk onder oë gehad het nie, beveel ek dit sterk vir hom aan.

Megan J van Rensburg
By die eerste lees is Megan se gedigte effens teleurstellend, veral wanneer dit met die gehalte van die ander deelnemers se werk vergelyk word. Die verse is eenvoudig, wat dikwels in poësie ’n goeie ding is. Die eenvoud daarvan laat ’n mens dringend soek in die hoop dat jy iets miskyk. ’n Mens wil baie graag iets raaklees wat jou laat wonder: Is hier nie iets dieper aan die gang nie? Helaas, daar is nie.

Niemand sal hierdie verse kan verkoop as hogere letterkunde nie, maar gelukkig is die poësie ook ’n gedierte met baie koppe. Die verse is duidelik gemik op ’n jonger lesersmark en mag dalk van waarde wees vir laerskoolkinders wat net begin om poësie te waardeer.

Oor haar eerste vers, "Die lewe van", is daar nie regtig veel te sê nie. Die einde is ’n letterlike ontknoping en ’n onsinnige wending: ’n mens wonder tot op die einde wat hierdie springende, baljarende, grypende ding nou eintlik is. Op die ou end is dit ’n luis.
Weer eens, nie hogere kuns nie, maar darem half oulik.

Ek sou probeer om nie die woord "rond" in beide die eerste en tweede versreël te gebruik nie.
 
Verder, omdat ons op ’n jonger leser gemik is, wil ons ook probeer om taalkundige reëls in die gedig vas te lê. Sit ’n aandagstreep of ’n dubbelpunt ná die woord "rond" (r 2) en ’n punt aan die einde van "lewe" (r 4). Doen dieselfde met die tweede strofe. Begin die derde strofe met ’n hoofletter en plaas kommas op toepaslike plekke. Maak ook ’n nuwe sin van die laaste twee versreëls.

Oor "Tant Lenie en tant Lafrye" is ek minder opgewonde. Dit is te lank vir die jonger leser en die inhoud is ook nie regtig toepaslik nie. As ’n mens vir ’n jonger lesersmark skryf, is dit belangrik dat jy nie skryf oor goed soos vryerye of buurvrou-vetes nie.
Die gedig is glad nie rondom ’n sentrale tema gebou nie en is baie moeilik om logies te volg.

Ek kry ook die indruk dat Megan hard probeer om woorde met mekaar te laat rym. ’n Opvallende voorbeeld is dat die enkele posman na wie die tannies albei vry, skielik in reël 20 sommer ’n aantal "poshere" word, bloot, blyk dit, om met "klere" te kan rym.
Megan moet hierdie vers eerder in die laai bêre en fokus op die eerste gedig. Ek sou graag wou sien dat sy eerder ’n nuwe vers aan ons stuur wat meer in die trant van "Die lewe van" is.

Rynie Olivier
Rynie se verse is tipies van baie skoledigters: dit beskryf grootword-ervarings en gevoelens van verliefdheid, verwerping en die ongemaklikheid van die tienerjare.
Rynie trap ongelukkig deurgaans in die groot slaggate van tienerdigters, nl dat die verse a) baie persoonlik en b) baie letterlik is. Sy vra belangrike en ingewikkelde vrae oor vriendskap, aanvaarding en liefde, maar vra dit uitdruklik en direk, wat nie poësie is nie.

Die waarheid is dat ’n werklik goeie gedig ’n mens se onderbewussyn uitdaag. Wat ek daarmee bedoel, is dat ’n mens ’n gedig met die eerste lees glad nie behoort te verstaan nie! Dan, met ’n tweede lees, behoort ’n liggie te begin aangaan en later eers ’n aha!-oomblik voortbring. ’n Uitstekende gedig, daarenteen, word later weer vaag en beteken dan iets anders as tevore.

Dis ’n groot uitdaging vir ’n skrywer, en ongelukkig kom Rynie se werk tans glad nie daardie mas op nie. Rynie se verse is konkreet en letterlik; dit is nie tans poësie nie. Alles is egter nie verlore vir Rynie se skryfwerk nie. Rynie het duidelik iets om te sê en het oomblikke van "vaagheid" wat wil-wil poëties word ("soos ’n groot ysberg wat ’n boot laat sink").

Ek het dus ’n uitdaging vir haar: Gaan kyk weer na die verse en probeer om niks, maar niks, uitdruklik te stel nie. Waarom kan "Die behoefte vir aanvaarding" nie bloot "behoefte" wees nie? Waarom kan "St Francisbaai se huise" nie bloot "huise" wees nie? Waarom kan "skinder en [kan] lag" nie bloot "gesels" wees nie?

Dan sou dit byvoorbeeld so kon lyk:

Behoefte
brand soos ’n huis
waarin mense gesels
terwyl ek buite staan.

Nou skielik wonder ’n mens: Wat is die behoefte van die spreker? Waarom brand dit? Wie is die mense wat gesels? Hoekom staan die spreker buite? Is die behoefte ’n behoefte om deel te wees van die groep of is die behoefte dalk iets meer sinister, soos seksuele begeerte of selfs moordgedagtes? Hoe weet die spreker, wat buite staan, dat daar binne-in die huis gesels word? Is die spreker ’n buitestander wat nie deel is van die "in" groep nie (soos in haar oorspronklike vers) of dalk ’n loervink of misdadiger wat sy slagoffers dophou?

Gaan dink bietjie daaroor na en probeer om eerder bepaalde inligting te suggereer as om dit blatant te stel.

Carike Odendal
Carike het twee baie verskillende verse ingestuur – só verskillend dat ek sukkel om te glo dis deur dieselfde persoon geskryf. Dít sê vir my dat hierdie jong dame nog hard op soek is na ’n eie stem – iets wat ek beslis nie gaan ontmoedig nie. Gaan so voort!

Omdat die verse egter so verskillend is ten opsigte van inslag en inhoud, is dit ontsettend moeilik om konstruktiewe kommentaar daaroor te lewer. Die digter maak verskillende foute in elk van die verse en dit is dus beter om die verse apart te beskou.

"Jakkals" is die sterkste van die twee. Dit sluit vir my amper aan by Van Wyk Louw se "Raka" en "Die strandjutwolf", wat albei groot gedigte in die Afrikaanse letterkunde is.

Die opvallende fout wat Carike egter in "Jakkals" begaan, is dat die beelding in die gedig nie altyd werklik deurdink is nie.

’n Paar voorbeelde hiervan is baie konkreet, byvoorbeeld die donker wolkgordyn wat die lug bedek, maar ’n mens kan nog steeds die sterre en die sekelmaan sien ... Is dit logies?

Die tweede fout is soortgelyk aan ’n ander deelnemer s’n, naamlik dat sy deurgaans haar beelde aan die leser probeer verduidelik: Die titel is een voorbeeld. Ander is: "Die tyd het aangebreek ... Die tyd om te wreek" (rr 7–8) en "’n Geweer vel sy vonnis neer: doodstraf ..." (rr 11–12).

Sy moet haar lesers meer krediet gee en self laat besluit watter tyd aangebreek het of watter vonnis die geweer vel!

Ek dink ook die einde is flouerig. Sy kan die ontknoping op ’n meer oorspronklike manier probeer sê. Net om haar aan die dink te sit:

Die son ontwaak nou
waar tarentale kletter
in die land van middernagte.

"Optog" is nog ’n polities-gefokuste gedig, soos heelparty van die ander deelnemers se verse. Dit voel ongelukkig vir my amper asof dit te haastig geskryf is en nie werklik goed deurgelees is nie.

Die gedig is ’n goeie begin, maar het nodig om nog heelparty keer herlees en herskryf te word.

Soos die gedig tans klink, kan dit goed werk op ’n “poetry jam” of ’n fees waar dit hardop gelees word. Dit werk nie goed op papier nie, want dis baie woordoortollig.

Die grootste uitdaging van hierdie vers gaan wees om hierdie baie komplekse tema meer kompak te maak. Poësie hoef nie noodwendig kompak te wees nie, maar as dit nie is nie, moet die uitgestrektheid van die woorde funksioneel wees (soos by Gert Vlok Nel wat lang sinne skryf om die beweging van ’n trein te verteenwoordig). Dit kan natuurlik ook toepaslik wees in hierdie geval, as ’n mens probeer om die lang rye betogers te verteenwoordig. Dis egter dalk ’n bietjie overkill, want a) ’n mens wil nie vir Gert blatant naboots (soos ek in my eerste verse!) nie, en b) die gedig gaan oor ’n enkele spreker se gevoelens en idees binne die groep.

Probeer dus om die gedig so kompak as moontlik te hou. Probeer om byvoeglike naamwoorde spaarsaam te gebruik: laat die beeld, eerder as die woorde self, die praatwerk doen.

Miskien sou so iets werk:

Die strate kyk vas
in trane wat oor maer wange
rol tot in die bak hande
wat ons land bewerk.

Dit voel steeds vir my te gelaai en oordadig (en natuurlik ook baie eerder my skryfstyl as Carike s’n!), maar dit sal haar dalk ’n idee gee van wat ek bedoel.

Die woordoortolligheid waarvan ek praat, is ook volop in strofes 2, 3 en 4.

Enkele ander dingetjies: 1) "opgevrommel" (r 12) moet "opgefrommel" wees; 2) "leiding" (r 18) moet "lyding" wees.

Ek hou van die laaste twee versreëls – dis ’n goeie, toepaslike einde tot die gedig.

Carike is iemand wat duidelik baie van poësie hou en heelparty invloede het. Sy is duidelik besig om haar eie stem te vind. As sy bereid is om te leer en te oefen, gaan sy ver kom.

Keer terug na die skryfskool-tuisblad.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top