Die week in woorde
Vroeër vanjaar het die Kanadese cover band Walk Off The Earth wêreldberoemd geraak.
“Wie is Walk Off The Earth?” hoor ek jou vra. Maar jy weet van hulle. Dis daai vyf mense wat Gotye se treffer “Somebody that I used to know” op een kitaar gespeel het. Jy weet, daai video wat al 138 632 225 keer gekyk is op YouTube. Ja, dié een.
Toe ek daardie een-kitaar-video sien, was ek onmiddellik verlief op die hele lot van hulle. Nie net op die pragtige Sarah met haar permanente fronsie en pruilmond nie, maar ook op Gianni se outydse hippie-hare en Beard Guy se biceps. Ek het na ’n klomp van hul ander video’s ook gaan kyk en ek was aangenaam verras. Hulle is al van 2006 af besig om ander kunstenaars se musiek te cover, maar altyd met ’n baie identifiseerbare (en boonop aangename!) Walk Off The Earth-geurtjie.
Ek was veral mal oor Gianni en Sarah se weergawe van Ben Harper se “Burn one Down” en Gianni se een-man-weergawe van Bruno Mars se “Grenade”. En hulle Adele-cover is fantasties:
Dit het my weer vir myself laat sê: “Self, daar is baie waarde daarin om iemand se anders se skepping na te boots / oor te maak en met jou eie persoonlikheid te probeer inspuit.” Ek wil my verbeel Walk Off The Earth leer iets uit elke liedjie wat hulle cover, en al hierdie “ietse” wat geleer word, kan dan weer teruggeploeg word in hulle eie, oorspronklike musiek.
Maar van hulle eie oorspronklike musiek gepraat: vroeër vandeesweek is die eerste video van hulle nuwe, oorspronklike album af op die internet vrygestel.
Ek hou natuurlik daarvan, maar ek het nie veel oortuiging nodig nie. (Ek het Saterdag rofweg 600 keer daarna geluister – heeldag net die een liedjie oor en oor op repeat.)
Maar iets wat my opgeval het in die video, is hoe gestres hulle lyk.
Waar hulle ander grappige en speelse cover-video’s super-gemaklik en moeiteloos voorkom, lyk dit hier vir my of hulle erg hard konsentreer om elke dingetjie reg te doen. En dit pla my.
Maar dit maak ook heeltemal sin, as mens bietjie daaroor nadink.
Hulle het reusaardige sukses gehad met daai Gotye-cover en was onder baie groot druk om hulle eie eerste video só cool te maak dat dit met vyf-mense-op-een-kitaar kan kompeteer. “Red Hands” is baie catchy, maar die konsep vir die video, of eerder die uitvoering daarvan, is so kompleks dat dit van hulle gewone spontaniteit en glinster steel.
En dit het my weer vir myself laat sê: “Self, pasop dat jy nie so cool probeer wees as jy skryf, en so ywerig is om jou kreatiwiteit en oorspronklikheid te demonstreer, dat alles wat jy van nature het wat in jou guns tel, in die proses verlore raak nie.” Daai hele lang sin het ek vir myself gesê, en toe het ek gaan slaap (met “Red Hands” op repeat, sonder die video), tevrede dat ek selfs skryflesse uit die musiekvideo’s van Kanadese cover bands kan leer.
Gedigte op LitNet
Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.


Kommentaar
Ek sien het ons albei in deiselfde kurses by Uni YouTube ingekryf! In hierdie geval is ek nie net beïndruk met die herskepping self nie, maar ook met die groep se vermoë om kreatief te dink en hulself te verskei van die duisende nuwe groepe, liedjies en videos wat elke dag op YouTube vrygestel word. Noudat hulle hulself bewys het en 'n volging gegroei het is hulle baie beter geposisioneer om gehoor te word met hulle nuwe album.