Skryfgids: Verkeerde afskeid

  • 0

Die orrelklanke bring jou in die regte stemming. Hartseer en grys. Dood … Dit is seker hoe dit moét wees. Die stofdeurdrenkte sonstraal loer by die venster in, maar dit verlig nie die atmosfeer nie. Ek sien nie juis die punt in dat die mens eintlik moet bly wees as iemand doodgaan nie. Hy is dan in ’n beter plek, redeneer hulle. Wat dan van dié wat agter bly? Die hartseer en verlange bly vir jare aan jou knaag. Koos was almal se pêl. Hy was ’n ondersteuningsnetwerk op sy eie vir almal, elke liewe dag van sy lewe.

“Dag Oom Fasie.” Die kromgeboë ou man staan in ’n dwaal hier langs my. “Wil oom hier langs my in skuif?” Stilte. “Oom kan maar,” sê ek terwyl hy my net aanstaar. Ek dink hy is so oud soos Metusalem.

“Tag boet!” Hy praat hard om homself te kan hoor. Koppe draai na ons. “Dat ek dit maar doen,” terwyl hy klaar met sy lang lomp bene en kierie oor my sukkel en dan langs my neer plof.

“Oom se hoed.” Ek wys daarna. “Oom moet dit afhaal,” fluister ek vir die duidelik windverwaaide oompie.

“Ja boet. Ek kom nóg daarby!” Hy klik sy tong vererg vir my.

Dominee maak hard keelskoon om stilte te kry. Begin dan met die diens. My gedagtes het ’n wil van sy eie. Ek wonder oor die dood. Die bome wat nou om my val is my maats. Dit het die afgelope week ’n benoude hand om my hart geslaan. ‘n Demper. Ek was nie myself nie. Ek dwaal saam met Koos in die verlede. Ons het skaars ons pensioendae begin geniet. Dit laat my keel toetrek. Ek baklei verbete teen die trane en probeer die knop in my keel afsluk.

Ek uiter ’n onaardse geluid. Wip soos ek skrik toe oom Fasie se kop my skouer tref. Die vrou voor my se hoed vlieg deur die lug, soos ek rondklap. Ek gryp hom vas. “Oom Fasie! Is jy ok?” Moet asseblief nie hier op my doodgaan nie, dink ek verward! Deur-die-slaap-oë stel my gerus. Die bogger het wraggies geslaap! “My hart oom,” en druk verwoed met albei hande daarop. “Oom het amper my hart laat staan.” Ek raak bewus daarvan dat die gemeente ons aangluur. Dominee se wenkbroue staan soos vraagtekens en hy wag vir orde. Ek knik vir hom dat alles reg is en hy gaan voort.

Die diens swiep verby. Draers word uitgelees en bedankings word gedoen. Mense staan op en bedroefde gesigte stap by my verby. Ek vat oom Fasie se arm vas en help hom op.

Buite los ek die ou man en stap met die trappe af. Die mense stap na hulle motors. Skuldgevoel laat my vassteek. Ek kyk om. Die ou man staan bewegingloos en staar die mense agterna. Ag tog! Moet my gewete my nóú pla? Ek klim weer die trappe op tot bo. “Kom iemand oom haal?”

“Nee boet. Hoe vra jy dan so ’n onnodige vraag? Ek wil mos ook daar langs die graf gaan staan … gaan koebaai sê, jy weet. Ek umm … ek weet net nie hoe ek daar gaan kom nie,” en krap sy kop soos ’n besluitlose kind.

Ek kyk terug na die mense en sien hoe die laaste motors by die hek uitry. “Kom oom,” en vat hom aan die arm om met die trappe te help. Teen my sin sal ek die oom se gids moét wees vir die dag.

“Stadig boet! Die natuur roep my eers,” draai om en stap terug toilet toe.

By die motor sukkel ek om hom in te kry. Hy’s so lank dat ek nie weet of sy bene of sy kop eerste by die motor moet in nie. Uiteindelik! Ek is warm gesukkel en trek my baadjie uit.

“Sit die veiligheidsgordel aan oom. Ons moet nou spoed optel. Almal is al weg.”

Deur die verkeer vleg ek my weg oop. Tot my frustrasie laat elke rooi oog my stop. Die begrafplaas se naambord flits verby. Dankie tog! ’n Vaal en klipperige begrafplaaspaadjie begroet my. Die motor skommel daaroor. Kyk al die motors. Was daar werklik so baie mense? Ons gaan nou ’n hele ent na die graf toe moet stap.

“Oom Fasie,” sê ek, terwyl ek hom uithelp. “Ons moet nou asseblief vinnig beweeg. Dominee is al besig by die graf. Hoor die mense sing al.”

“Ja boet! Die knieë wil nie meer so vinnig nie.”

Sukkelend sluit ons aan by die mense om die graf. Ek kry my gejaagde asem onder beheer. Kyk hoe die dominee begin om die laaste formaliteite af te handel. My aandag word afgelei deur mooi koorsang. My oë soek daarna en sien ’n groep mense by ’n ander graf. My oë dwaal oor die roubeklaers om my en dan dring die skok tot my deur. Ons staan en huil by die verkeerde graf!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top