Skerpioen
Wynand Coetzer
LAPA Uitgewers
2009
ISBN: 9780799344981
Klik hier en koop Skerpioen nou by kalahari.net!
“Hoe kan ek in net vyf korte dae die geheimenisse van ’n ander mens se siel ontbloot?”
So begin Skerpioen deur Wynand Coetzer. Die vyf dae word die sewe dae van die week, opgedeel in hierdie sewe afdelings van ’n meesleurende debuutroman waarin die hoofkarakter, Anahita, met die ongewone naam, die geheim van die moordenaar, ook met die ongewone naam, Nimrod, moet probeer ontrafel. Sy, die sielkundige, word egter in hierdie proses van terapie met Nimrod ewe veel gekonfronteer met haar eie verlede as hy met syne. Deur die openbaarmaking van haar eie verlede, drome, simbole en stories, worstel sy met die vind van ’n eie identiteit tussen al die verskillende mitologieë wat sy ken en ervaar het. Dat haar man die naam Siegfried het, dra verder by tot die verruiming van die ryk mitologiese verwysingswêreld in hierdie roman.
Anahita se Boesman-agtergrond as “Kindza” (die teks verwys konsekwent na “Boesman”) en haar vraag hoekom haar atta en tatta haar vergeet het, vorm deel van ’n reeks terugflitse wat haar kennis van die Boesmanstories, -kosmologie en –gebruike verklaar. Hieruit groei ook haar intuïtiewe optrede as sjamaan en die verwysings na mites uit die Noorse, Egiptiese, Griekse en Persiese mitologie. In die gesprekke met Nimrod word dié verwysingsveld verder verbreed met die Christen- en Moslemwêrelde, tot selfs dié van die pelgrims in The Canterbury Tales.
So word ’n verbluffende intertekstuele netwerk van mitologiese, kulturele en letterkundige verwysings geskep wat die leser (en karakters) voortdurend tot nuwe insigte bring oor die parallelle tussen hierdie verwysingswêrelde, van die antieke tyd tot die moderne samelewing. Dit is dan ook geen wonder nie dat die groot “andersmaak” van Dan Sleigh se Eilande en die magiese realisme en religie van André P Brink se Bidsprinkaan in hierdie roman saampraat.
Die oorvloed mitologiese simbole en -verwysings, en die verklarings daarvan, word dikwels verbloem in die vorm van stories. Wat is mites dan ook anders as die argetipiese stories van ons menswees? Dit is ’n roman vol stories: die storie van ’n moord, van Anahita en Siegfried, van Anahita en Nimrod, van Nimrod en al sy verhoudings, van Loki en ‘Kaggen - die trieksters, van die sterrehemel, van Anahita, Artemis en Kukúku (die skerpioen) en Lesath wat uiteindelik dieselfde is. Sodoende word uiteindelik nie soseer die geheimenisse van die “ander man” nie, maar van Anahita self ontsluit. Sy moet net haar eie stories begin glo!
Op hierdie wyse word parallelle tussen die hoofkarakters en die mitologiese raamwerk beklemtoon, asook die meerduidigheid van talle deurlopende motiewe soos onder andere die immerteenwoordige uil, die wolf, die skerpioen, vuur en sterrebeelde. Die karakter van veral die uiters komplekse Anahita word volledig ontwikkel en dit is veral die insiggewende en oortuigende voorstelling van die Boesmanwêreld wat hierdie roman kenmerk. Die dialoog tussen Anahita en Nimrod is aanvanklik effens te verklarend en formeel, maar soos die roman vorder, vloei dit al hoe natuurliker. Die variasie in styl en register sluit baie goed en funksioneel aan by die verskillende ervaringswêrelde en belewenisse van hede en verlede. Ook die gereelde oorgang tussen terugflitse en hede word gemaklik hanteer.
Ten spyte van die magdom verwysings en parallelle verloop die intrige vlot en spannend. Die skerpioen is, soos dit in die sterre geskrywe staan, meedoënloos op die spoor van Orion, die jagter. Die slot word goed voorberei deur heelwat implisiete verwysings en die leser ervaar die druk van die tyd saam met die sielkundige om ’n oplossing te vind vir die verdediging van die moordenaar, maar terselfdertyd die drang na selfontdekking en -verwesenliking.
Die temas van die ewigdurende magstryd tussen man en vrou, die voortdurende soeke na identiteit in ’n uiters hibriede en steeds toenemend globaliserende samelewing, asook die tragedie van rassediskriminasie, word deur ’n verskeidenheid verhale verwoord. Hierdie vrou, Anahita, is bestem om een van die bekende karakters in die Afrikaanse letterkunde te word. Sy wat “haar vel voel kriewel van al die toorkrag" praat nie verniet met wolwe nie. Sy is die uitbeelding van Clarissa Pinkola Estes se “wild woman”, die cantadora, die storieverteller in Women who run with the wolves. Want dit is deur die vertel van stories, in die wydste sin van die woord, dat sy haar innerlike herontdek, waarin sy die deur na die onbekende oopmaak om deur drome, liefde en ervaring haarself te vind as die voortsetting van die eeue oue Aardmoeder, soos Hutú, haar Boesmangrootmoeder, vir haar aan die einde van die roman sê: “Jy moet aangaan waar ek opgehou het” (311). So word ook dít wat Jung genoem het die individuasieproses, aangedui: die proses om verskillende dele van ’n mens se lewe te verenig (370), en die besef van die “nimmereindigende selfhernuwingskringloop van die lewe” (376). Die Feniks/Samander sal weer herrys uit die as – soos in die Duisend en Een Nagte het dié storie van die mens geen einde nie.
“Party stories maak makliker sin as ander. Jy het ’n moeilike een gekies,” staan daar op bladsy 318. Dit is ook waar van Wynand Coetzer se roman. Party lesers sal die baie en uitgebreide mitologiese verwysings dalk moeisaam vind, maar met sy kombinasie van sielkundige speurverhaal, innerlike ontdekkingstog en integrasie van ’n veelheid van kulture stel hierdie roman ’n vaardige verteller aan ons voor na wie se volgende roman baie lesers sal uitsien.

