Eenvoudig gedefineer strek die Goue Era in hierdie oorsig vanaf die geboorte van Boeddha in 563 VC tot dié van Chrysippus in 279 vC.
Sokrates (469–399 VC) staan uit bo alle ander in Westerse oriëntasie. Daar is bespiegel dat hy nie bestaan het nie aangesien hy niks geskryf het. Maar Sokrates het wel bestaan, was getroud — met Xanthippe (!) — en hulle het drie seuns gehad. Hy het geen formele werk verrig nie en het verklaar dat sy armoede bewys dat hy geen leermeester is nie. Hy het geen betaling aanvaar van sy volgelinge nie. Sy bydrae het behoue gebly deur die geskrifte van sy volgelinge met Plato uitstaande. Hy het 35 dialoë en 13 briewe saamgestel in sy Sokratiese Dialoë.
In die afloop van die Peloponnesise oorlog is Sokrates beskuldig van “aktiewe ondermyning van die staat” terwyl hy inderdaad die kollektiewe aanname, “mag maak reg”, teengestaan het.
Hy is amptelik aangekla deur sy medeburger, Meletus, van “korruptering van die gedagtes van die jeug van Athene”. Hy is verhoor deur ‘n jurie van 500 Atheners en met ‘n skrale meerderheid van ses skuldig bevind aan “oneerbiedigheid (impiety)”. Hy is die skamele boete van 30 minas opgelê maar kon nie betaal aangesien hy geen geld gehad het nie. Hy het aanbiedinge om dit namens hom te betaal verwerp. Sokrates is toe ter dood veroordeel deur vergiftiging.
Hy het die geleentheid om te ontsnap van die hand gewys omdat hy dit as nederlaag beskou het en bo alles het hy die wet respekteer. Hy het geen vrees vir die dood gehad nie. In die teenwoordigheid van sy getrouste volgelinge (met Plato opvallend afwesig) het hy die giftige kerwel ingeneem, rondgeloop totdat hy die gevoel in sy bene verloor het, toe gaan lê en gesterf. Hy was in sy sewentigste jaar.
Sy laaste woorde was: "Crito, ons skuld Asclepius (die god van genesing) ’n hoenderhaan. Moet asseblief nie vergeet om die skuld te betaal nie."
Dit is interpreteer as “dood is die genesing — en die bevryding van die siel van die liggaam”.
In sy dialoë varieer Sokrates tussen twee uiterste invalshoeke. Aan een uiterste beweer hy dat hy niks van "deug" (virtue, arete in Grieks) weet nie en vra die ander karakters vrae waarin hy die fundamentele beginsels van moraliteit handhaaf. Die meeste van die dialoë eindig onbeslissend. Dit staan bekend as die Aporetiese Dialoë.
Aan die ander uiterste verskaf Sokrates positiewe toeligting oor ‘deug’ en rig sy vrae slegs met die doel om eenstemmigheid te bereik. Die dialoeë eindig beslissend. Dit staan bekend as die Euporeties Dialoë. Tussen die ‘Aporetiese’ en ‘Euporetiese’ is die ‘Gemengde Dialoë’.
Twee kenmerke van Sokrates se leringe staan uit — Heroïsme met die steun-element van selfrespek (selfregard) en Intellektualisme.
Sokrates het die verskuiwing van die aandag aan ‘"die wêreld daarbuite" na die toestand van die mensdom aangemoedig. Hy het gemeen dat kennis met betrekking tot die mens se lewe die mees belangrike is met alle ander kennis sekondêr. "Die werklike wyse man sal weet wat reg is, die‘goeie’ doen en gelukkig wees."
Aristocles (428-348VC) is in Athene gebore. Hy het as Plato bekend gestaan (platon is die Grieks vir breed). Hy is waarskynlik so genoem vanweë sy breë skouers (hy het gestoei by die Isthmiese Spele), sy voorkop of sy welsprekenheid. As jongeling het hy Sokrates begin volg en is sy mees roemryke volgeling.
Vanweë sy noukeurige reportage van Atheners word sy Sokratiese Dialoë se outentisiteit algemeen aanvaar en as die nalatenskap van Sokrates beskou.
Plato se publikasies het almal behoue gebly en word vervat in vyf groot moderne volumes wat as die mees waardevolle samevatting van filosofiese denke wat bestaan beskou word. Dit word in drie periodes verdeel: Die Vroeë of Sokratiese Dialoë (reeds bespreek), die Middel Dialoë (met Simposium en Republiek as die “sentrale stukke “en geag as van die "grootste literatuur wat bestaan" — "Republic can be read as a treatise on politics or a pedagogical handbook or a defence of ethical conduct"— en die Laat Dialoë “a dialectic of collection and division” wat samevattend, ontledend, sober en logies Plato se denke in ‘volwassenheid’ verteenwoordig.
Plato het uitgebrei op Sokrates se analogie "Siel en die Stad" wat basies dit stel dat net soos elke persoon se "deug" (arete) ‘n spesifieke rol speel om harmonie te bewerkstellig, net so is dit van toepassing op die komponente van die "Stad". Drie elemente is teenoor mekaar gestel:
- Rede (reason) in ‘Siel’ teenoor filosoof-heersers (philosopher-rulers) in ‘Stad’
- Gees (spirit) in “Siel’ teenoor bewaarders (guardians) in ‘Stad’
- Aptyte ( appetites) in ‘Siel’ teenoor al die ander (everyone else) in’Stad’
In 387 VC het Plato die Akademie in Athene gestig — die eerste instituut vir hoër onderwys in die Westerse wêreld. Dit is in 529 NC deur keiser Justiniaan I gesluit as "‘n bedreiging vir die Chritendom". (Dieselfde lot het die Lyceum van Aristotle te beurt geval.)
Plato is rustig in sy slaap oorlede na ‘n bruilofsfees van ‘n leerling. Hy was 80 jaar oud.
Naas Viljoen

