Skepping, ewolusie, intelligente ontwerp, en soos gewoonlik, taal en waarheid

  • 26

Hier’s my opinie, kortliks, en soos enige redelike opinie is dit oop vir gesprek en goeie teen-argumente:

Ek glo nie die ontwikkeling van lewensvorme was ’n “random event” nie. Ek glo daar was intelligensie – “iets” agter die vroegste vorm van lewe.

Ek glo verder dat die skeppingsmitologie wat gepredik word deur geïnstitusionaliseerde religie dieselfde doel dien as wat dit twee en drie en vier duisend jaar gelede gedoen het. Iets moet die ontstaan van lewe verduidelik, iets wat deel kan vorm van mense se geïntegreerde wêreldbeeld: die skeppingsverhaal gee aan volgelinge van hierdie religieë presies dit.

Ek glo dis hoogs onwaarskynlik dat lewensvorme ontstaan het sonder … een of ander vorm van intelligensie.

Ek glo verder dis hoogs onwaarskynlik dat die wêreld – en alle lewensvorme – ontstaan het in sewe dae, of sewe jaar, of sewe duisend jaar, of enige ander nommer of jaartal wat strook met religieuse simboliek.

Laastens, glo ek ons – gewone mense, geleerde mense, wetenskaplikes, digters, skrywers, lekeprekers en selfs teoloë se pogings om die ontstaan van lewensvorme te probeer verduidelik, is vergelykbaar met die tipe gesprek wat Org die Grotbewoner met sy neef kon gehad met oor kwantumfisika kort na die laaste groot ystydperk tot ’n einde gekom het. Nie Org of sy neef het oor genoeg woordeskat beskik nie. En die data tot hulle beskikking was onvolledig. Om dit suiwer akademies te hou.

Soos dit is met meer dinge as wat vele mense bereid is om te erken, is dit ook hier ’n geval van taal. Wat presies bedoel mens met “intelligensie”? Wat bedoel mens met “ontwerp”? Wat presies word bedoel met “random event”?

Een ding is seker: solank ons koppe oop bly en die gesprek aan die gang, is die waarskynlikheid goed dat ons binne die volgende duisend jaar ’n beter begrip sal ontwikkel.

BrandSmit

  • 26

Kommentaar

  • BrandSmit

     
    Dit staan elke ou vry om te glo wat hy/sy wil. Ek glo bv die Bulle gaan die Super 15 wen.
    Tot tyd en wyl jy iets kan formuleer wat volgens die wetenskaplike metode ondersoek en bevestig kan word, gaan dit bloot jou persoonlike troetelgelofies bly. Daar bestaan genoegsame bewyse vir evolusie - hoeveel bewyse bestaan daar vir jou intelligente skepper?
     
    Thomas
     
     
  • BrandSmit,

    Hallo, dis aangenaam om jou te ontmoet - vat vyf.

    In jou laaste paragraaf definieer jy jouself as 'n uiterste pessimis. Laat ons liewer na die res van jou brief kyk.

    Ek is entoesiasties daaroor. Na al die KdeK's aan die regterkant en die ateïstiese wetenskaplikes aan die linkerkant neem dit jou net 'n paar paragrawe om meer sin oor hierdie saak te skryf as wat ons in jare ervaar het. Gaan asb so voort en gee vir ons meer lig uit die Ooste!

    Groetnis.

    George

  • Beste BrandSmit,

    Jy kan mos glo wat jy wil, dit sal niemand hinder nie. Jy kan selfs in Jesus Christus glo, of dat die maan van kaas gemaak is, of dat die vrou van 'n man se ribbebeen gemaak is.  Solank jy nie dit wat jy glo aan my kinders as die waarheid voorhou, en hulle boonop dreig met ewige kners van tande in die hel as hulle nie glo soos jy glo nie. 
     
    As die skeppingsmitologie van vierduisend jaar gelede vir jou genoegsaam is, dan is dit ook jou saak. Daar is geen noodsaaklikheid vir jou om verdere kennis op te doen nie. 
     
    As jy glo in 'n "intelligensie" agter die vroegste vorm van lewe, waarom wil jy dan weet wat intelligensie is?
  • Chris Dippenaar

    Hello Hephaestus

    Om 'n intelligente ontwerper voor te stel is minder van 'n oplossing as wat jy dalk mag dink. Wie is agter die intelligente ontwerper en wie was voor die ontwerper van die intelligente ontwerper? Op watter stadium was daar 'n skepper en op watter stadium was daar niks? Kan niks 'n skepper skep, en dalk nog belangriker: kan niks intelligent genoeg wees om 'n skepper te skep wat intelligent kan skep?

    Chris

  • BrandSmit

    Soos die reaksies wat jy ontvang het, blyk dit die algemene opinie te wees dat jy kan glo wat jy wil. Of dit nou die waarheid is wat geglo word of nie, blyk nie van belang te wees nie. Volgens my is die Waarheid al reeds aan ons geopenbaar etlike duidende jare gelede.

    Soos dit vir my klink het jy vir jouself ‘n geloofsraamwerk uitgedink wat jou pas en heel moontlik vir jou ‘n tipe van gemoedsrus gee dat jy dalk wel in staat sal wees om vrae rondom herkoms en oorsprong van mense en die skepping te kan verduidelik (al is dit dan nou net vir jouself) en dat, wanneer jy dan wel vashaak, die term “intelligente ontwerper” die saak behoort af te handel? Die rede vir my vraagteken is dat jy nie só seker van jou “geloof” is nie en daarom dat jy dan ook aan die begin van jou skrywe ‘n uitnodiging rig vir “oop gesprek en goeie teen argumente” so asof jy oop is vir ander oortuiging – en daarom is dit wat jy kwytgeraak het dus nie werklik wat jy glo nie maar dat dit eintlik slegs jou opinie is en nie eintlik geloofswaardig blyk te wees nie.

    Ware geloof - dit is nou vrysprekende geloof – is iets baie spesifiek en kan glad nie verstaan of ingesien word deur die mens self nie, omdat dit ‘n Godgegewe gawe is en nie deur mense of hul wetenskap verduidelik en/of ooit sal kan bewys word nie. Bloot omdat menslike wysheid eenvoudig dwaasheid voor God is én Hy dit (Ware geloof) aan dié gee en openbaar wat Hom in opregtheid soek. Daarom dat, solank dít nie besef word nie, sal goddelose (God-lose) mense alewigdurend na antwoorde soek en opinies vorm en hipotese en teorieë uitdink en probeer bewys, en so voorts, en so meer, al in die ronte, al in die ronte, tot vervelens toe.

    Wat is ware geloof? Kyk na Jesus en word gered. Het die Israeliete in die woestyn toe die giftige slange hul gebyt het, vir wetenskaplike bewyse gevra voordat hulle na die koperslang op die paal gekyk het om gesond te word? Nee-nee, slegs uit geloof het hul gekyk en is gered. Nie verbande, pypolie, salf, of wát ookal, het gehelp nie - slegs geloof. Daarom is die boodskap van die Waarheid en vrymakend geloof, baie eenvoudig: “Look to Jesus and be saved”. Jy sien, vir my is dit nie soseer waar jy vandaan kom nie, eerder waarheen jy oppad is.

    Sterkte

    Dolf

  • Hmm,

    smaak my half ons mense is intellektueel so plek-plek uit ons liga uit. So al asof daar dinge aant gang is was ons nie verstaan gaan kry nie. So half soos 'n witmuis nie gaan verstaan hoe 'n selfoon werk nie.

    Sê maar net.

    Duitswester

  • Beste Dolf,

    As 'n mamba jou pik belowe ek jou sal bid nie help nie, ook nie 'n koper slang op 'n paal nie. Slegs 'n dokter kan jou red en dit ook as hy feitlik onmiddellik behandeling toepas. Moet maar nie te veel op bid staatmaak nie, dit sal jou suur bekom.
  • Thomas: 1. Een van my "troetelgelofies"  is dat bewerings eers deur middel van wetenskaplike metode ondersoek en bevestig word. 2. Ek sê "iets" of "een of ander vorm van intelligensie", en ek bedoel dit in die breedste manier moontlik. Ek gebruik juis nie 'n gelaaide woord soos "skepper" nie, omdat die betekenis veels te beperk is.

     
    George: Vat vyf, inderdaad.
     
    Angus: Hoe kan ek jou kinders dreig met die kners van tande in die hel as ek self duidelik nie weet wat die waarheid is nie? Omdat ek glo die skeppingsmitologie van vier duisend jaar gelede se doel is tot 'n groot mate uitgedien, het ek duidelik groot behoefte daaraan om meer kennis op te doen.
     
    Chris: Jy verwys na 'n "intelligente ontwerper" - en moontlik bedoel jy iets soos 'n skeppergod soos verstaan word in die Joods-Christelike tradisie. Ek praat van intelligensie in die breedste moontlike sin. Wat presies hierdie begrip van intelligensie is? Ek weet nie. Ek is doelbewus vaag daaroor. Ek glo 'n gesprek oor hierdie "intelligensie" moet die net breed gooi.
     
    Dolf: Ek glo die waarheid is presies dit wat nagestreef moet word. En jy's reg: Ek is nie seker van my oortuigings nie. Is dit nie die implikasie daarvan dat mense oopkop is nie? Plus, as jy van die begin af "seker" is, gaan jy mos nie die leidrade en bewyse volg waar dit jou heen lei nie. Jy't mos dan klaar besluit waaroor jy seker is, so die bewyse en die leidrade moet daarby aangepas word. Ook, as iemand nie seker is nie, maak dit sy uitnodiging vir oop gesprek en goeie argumente soveel meer opreg, dan nie?
     
    Duitswester: Ek dink inderdaad ons is nie naastenby so slim soos ons nodig het om te wees om die (werklike) waarheid te ontdek nie. Ons taal is te beperk; ons koppe raak soms seer as ons dink aan die enormheid van die kosmos; en kom ons wees eerlik, soveel data soos wat ons het, het ons nog nie naastenby genoeg nie.
  • BrandSmit,

    Ja-ja dit is so. Maar ek dink nie jy gaan die waarheid by mense en hul elkeen se eie wêreldsgerigte idees kry nie. Die ware waarheid (as ek dit so kan stel) kom van God alleen en Hy plaas dit in elk se hart. Ek het geen probleem met oop gesprek nie en ook dwing ek niemand (soos Angus graag wil glo) om ware geloof te ontdek nie. Nie omdat ek twyfel (niks en niemand kan my uit Christus se hand neem nie), maar omdat ek mense onder beter insig sal wil bring. Onthou net dat ek nie probeer oortuig nie, nee-nee, ek vertel die waarheid, die Heilige Gees bewerkstellig ware geloof. Elkeen het dus 'n keuse. Jy is ook reg dat ek klaar besluit het oor wat die waarheid is. Daardie waarheid is egter nie deur my as mens besluit en/of bepaal nie. Nee-nee, dit is deur die Heilige Gees in my hart geplaas. Verder stem ek natuurlik nie met jou saam oor God se skepping verhaal wat uitgedien geraak het nie. Sy woord en Sy waarheid is nog net so van toepassing vandag soos wat dit vierduisend jaar gelede was. Die verandering vind by die mens plaas wat uit ongeloof en dwaasheid homself wyser en slimmer ag as sy Skepper God. Dit is deur die mens se eie toedoen dat, deur sy gedurige wil vir selfregverdig vir sy eie wandade en dwase besluite, dat hy sy eie ondergang bewerkstellig.

    Angus

     

    En so bevestig jy net jou onkunde en dat jy geen "clue" het van wat ware geloof is nie. Ek wonder of die boere by Bloedrivier op hul eie krag staatgemaak het toe daar 'n oormag zoeloes teen hulle was? O ja nou onthou ek Geloftedag. Jy sien die boere het gebid tot God, hulle het geglo in Sy krag en hul het in geloof oorwin!

     

    Terloops jy moet nie met slange speel nie, dit sal jou suur bekom.

     

    Sterkte

     

    Dolf

     

  • BrandSmit

    Omdat geloof nie afhanklik is van bewyse nie, kan niemand natuurlik dit wat jy glo as verkeerd of ongegrond bewys nie. Dit is terloops, geloof se enigste houvas, maar juis daarom kan niemand ook sy spesifieke  geloof as die waarheid verkondig nie.

    Wanneer daar nie onweerlegbare bewyse vir ’n saak is nie maar by sommige nogtans sonder enige verklaarbare gronde die vaste oortuiging is dat dit waar is, dan val hulle eenvoudig terug op geloof. Talle glo bv. dat die aarde nie die enigste planeet in die heelal is wat lewe onderhou nie.  Dit sal egter waarskynlik nooit as ’n feit bevestig of weerlê kan word nie. Dit is bloot ’n hipotese soos die tokkelossie in die Zulu-kultuur en die bestaan van die talle bonatuurlike gode van die verskillende kulture van die wêreld.

    Wim Heese (Die Burger van 28 April 2007) het dit so opgesom:

    •  “Elke mens kom te staan voor vrae wat nie antwoorde het nie en waar geloof die enigste uitweg is.
    • “Selfs die ongelowige wetenskaplike staan voor dieselfde probleem. As hy worstel met die vraag hoe lewe ontstaan het, moet hy ook maar op geloof terugval, want hy het geen bewyse dat lewe spontaan en uit niks ontstaan het nie.”

     Twak man! Die ‘enigste uitweg nogal?’. Die wetenskap het nog nooit aanspraak daarop gemaak dat hy oor al die antwoorde beskik nie. Dit beteken egter nie dat geloof die enigste alternatief is soos Heese beweer nie. Verdere navorsing is mos ’n sinvolle alternatief! Die geloof dat weerlig  bv ’n bonatuurlike verskynsel is waarmee kwaaddoeners en sondaars gestraf is, is eeue lank geglo (dus as die waarheid aanvaar deur dié wat dit geglo het) tot dit as ongegrond deur Benjamin Franklin in 1752 bewys is as gewoonweg elektrisiteit wat op natuurlike en verklaarbare wyse in wolke opgewek word.

    Ek hou van jou laaste sin maar dan moet dit ’n rasionele gesprek wees wat natuurlik nie moontlik is met ‘geloof’ as die een pool nie. Om bloot te verklaar: “ek weet nie en daarom glo ek dit” is ’n geval van handdoek  ingooi. Ons kan sommer die gesprek begin met Chris se paar vragies aangaande  die skepping van ’n  intelligente skepper.

    Groete
    Panda

  • Chris Dippenaar

    Hello BrandSmit

    “Intelligensie” is 'n redelik gelaaide term en word nou al vir ten minste twee dekades geassosieer met “ontwerper” as daar gespekuleer word oor die enormheid en oorsprong van die kosmos. Vir die gelowige is dit natuurlik nie spekulasie nie, maar 'n feit. Ek vra verskoning dat ek nie hierdie punt, die onderskeid wat jy tref tussen hierdie twee terme, van jou ingesien het nie. Ek wonder egter of dit moontlik is om hierdie twee terme te skei.

    George verwys na Oosterse “wysheid”, dalk iets soos Nirvana, maar dit verwys, net soos geloof in 'n god, na iets waarvan jy niks kan weet nie. Dit verdoesel onsekerheid agter 'n woord wat klink asof dit verwys na iets. Plato het dieselfde probleem gehad met sy gevangene in die grot. Die son waarin hy moes kyk vir die finale antwoord was te skerp vir sy oë. Net soos die gelowige of Oosterse wyse man het Plato teruggeval op die wollerige idee van een of ander emosionele waarheid, iets wat onmoontlik is om in woorde te beskryf en ervaar moet word, en hierdie onkunde van hom opgetooi as wysheid.

    Ons, as mense, het die vraag gevra oor die oorsprong van alles, dis te laat om terug te draai, en ek dink nie ons wil nie. Ek stem een honderd persent saam met jou dat hierdie vraag met 'n oopkop benader word, maar dink dat woorde soos “intelligensie”, selfs met die net breed gegooi, alreeds 'n antwoord impliseer. Intelligensie in enige sisteem veronderstel 'n teleologiese konsep, 'n skepper of ontwerper. Iemand of iets wat weet waarvoor of waarom alles bestaan. In logiese terme is dit 'n drogredenasie, dit bevestig die gevolg ('affirm the consequent').

    Teoloë het, in die dae toe hulle nog min of meer eerlik was, of ten minste nog nie die volle impak van die wetenskap kon waardeer het nie, met 'sukses' die konsep en eienskappe van God omskryf in negatiewe terme, maw dit wat God nie is nie. Dalk kan mens 'n blaadjie neem uit hulle boek en die kosmos begin beskryf in soortgelyke terme. Die kosmos is nie ontwerp nie, die kosmos is nie intelligent nie, ens. Dis verseker nie 'n antwoord nie, maar dit verwyder dalk 'n paar vooropgestelde idees wat die gesprek manipuleer.

    Chris

  • Chris, jy het my nota verkeerd geïnterpreteer. Ek sê vir Brand: "Gaan asb so voort en gee vir ons meer lig uit die Ooste!" Dit het slegs te doen met die feit dat BrandSmit hom nie in SA bevind nie maar op 'n eiland in Noordoos-Asië. George

  • Panda: Ek stem saam met jou kritiek van Heese. Persoonlik glo ek daar is 'n antwoord op ieder en elke vraag waarmee die mens ooit in sy helderste oomblik vorendag kan kom. Sal ons in ons leeftyd al die antwoorde vind, kry of formuleer? Heel waarskynlik nie. In die volgende 1000 jaar? Wie weet? Ek glo ook dat om te dink aan geloof as 'n kussing waarop teruggeval moet word as 'n mens nie (onmiddellik) 'n antwoord op 'n spesifieke vraag kry nie, is soos om 'n bloeiende wond met 'n stukkie papier en sellotape toe te plak en te hoop dit hou.

     
    Jy's ook reg oor die oop gesprek. Elke party moet bereid wees om na die ander te luister, maar vir die gesprek om sinvol en konstruktief te wees, moet daar reëls wees. Ongelukkig sal 'n paar van hierdie reëls vir tradisioneel religieuse partye onaanvaarbaar wees (verifieerbaarheid van aansprake, logiese gevolgtrekkings, ens.)
     
    -------------------------------
     
    Chris: Jy's reg: "Intelligensie" is 'n gelaaide term, en dis oop vir misbruik. En ek stel myself beslis oop vir kritiek omdat ek die woord gebruik en dan min of meer my skouers optrek en verwag dat mense dit moet verstaan soos hulle wil. Jy skryf dat "inteligensie" soos ek dit gebruik, moontlik reeds 'n antwoord impliseer, en, hoewel ek beslis nie 'n antwoord impliseer nie, is dit geldige kritiek.
     
    Uiteindelik sal ek moet erken dat ek glo die tradisionele idee van "God" as 'n supermens is te beperkend. Die idee van intelligensie en ontwerp en plan en doel pas goed by hierdie konsep van "God", maar wat sou die alternatief wees ('n eerlike vraag)? Mens moet ook wonder waar trek jy die grens: Het hierdie "intelligensie" die hele kosmos laat ontstaan, of net lewe op aarde? Daar moet sekerlik doel wees as daar intelligensie is, maar wat? Sou dit iets wees waaraan die slimste onder ons nog nooit kon dink nie?
     
    Dit kan sekerlik waardevol wees om te dink aan die kosmos as *nie* ontwerp nie, as *nie* intelligent nie. Dis wat mense soos Stephen Hawking en Sam Harris en so aan reeds doen, en mens kry nie die idee dat hulle 'n kwaai emosionele of sielkundige prys betaal daarvoor nie.
     
    Dis nie asof ek 'n emosionele behoefte het daaraan dat daar intelligensie agter alles moet wees nie. Ek aanvaar mense soos Hawking se verduideliking van die ontstaan van die kosmos. Ek probeer net my uiters beperkte intellek inspan om myself te verbeel hoe op aarde iets so intelligent soos 'n mens kan ontwikkel uit 'n stofspikkel, of iets so ingewikkeld soos 'n spinnekop uit 'n vibrasie van 'n reuse ontploffing.
  • Hello,

     
    Hierdie is nie 'n direkte kommentaar op enige argumente hierbo nie. Grootliks omrede die argumente vir 'n intelligente ontwerper (Intelligent Design) dalk al holrug gery is hier en die meeste daarvan aan die meeste deelnemers hier bekend sal wees. 
     
    Wat ek wil aanspreek is die argumente wat na vore gekom het om tog skepties en ondersoekend te wees, alhoewel Dolf tog BrandSmit se 'oop gemoed' bevraagteken het, maar ook so met 'n antwoord gekom het wat van Dolf verwag kan word. 
     
    Dit was wel aangenaam om die versoek om skepties en ondersoekend te wees hier te vind. 
     
    Ook was Chris se antwoord dat daar 'n 'niks' is wat teen die 'iets' gestel kan word ook welkom en heeltemal korrek in die versoek, verklaar jou terme. 

     
    Hoekom is daar die veronderstelling dat daar 'iets' moet wees en die 'meer logies' is, soos Dr Leopold Scholtz onlangs gedoen en toe heel gelowig met sy antwoord uitgedraai het. 
     
    Hierdie het ek raakgelees in Intelligent Life ('n tydskrif) en verwys glad nie 'n 'Intelligent Designer'  of enige van die se skeppings nie. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
     
    THE BEST PHILOSOPHY IS HUME'S SCEPTICISM
    By Anthony Gottlieb 
     
    If there is a best philosophy, it is surely the one which maintains that every philosophy is doubtful. This is known as scepticism, and it draws its inspiration from some ancient writers who took it much too far. 

    It was David Hume, in the 18th century, who showed how to bring scepticism back to life. 

    The first step is to keep in mind what Hume called the "strange infirmities" of human understanding, and the "universal perplexity and confusion, which is inherent in human nature". 

    Armed with this knowledge—for our ignorance is the one thing of which we can be certain—we should be sure to exercise the "degree of doubt, and caution, and modesty, which, in all kinds of scrutiny and decision, ought for ever to accompany a just reasoner". 

    Apart from anything else, this would help to cure people of their "haughtiness and obstinacy".   

    In theory, we have all learned Hume’s lesson, because a modest scepticism is the official philosophy of the modern sciences, which avow the maxim that every result is to be probed, repeatedly, and no truth may be admitted until it has stood the test of time. 

    But, in fact, we have not learned his lesson. Nobody has time to wait and see whether yesterday’s experiment will still stand several decades from now. 

    Life is short and writers have deadlines. 

    So scepticism is a philosophy that is not easy to live up to. 

    But who would want a philosophy that was?  

    Anthony Gottlieb is a visiting scholar at NYU, former executive editor of The Economist and author of "The Dream of Reason" 
  • Chris Dippenaar

    Hello George

    Ek het myself al klaar in die een voet geskiet hierbo en nou moet ek myself in die ander voet ook skiet. Jammer dat ek jou verkeerd geïnterpreteer het. Dis dalk een van daai dae dat dit beter is as ek my bek hou vir die res van die dag.

    Chris

  • Chris Dippenaar

    Ek probeer gou weer. Daar was 'n fout in hierdie reaksie van my en ek het dit toe uitgevee en weer probeer plaas. LitNet dink seker nou al dat ek vergeet het om my pilletjie te vat.

    Hello BrandSmit

    Miskien moet ek gou my gat probeer 'cover' voordat iemand agterkom. Ek beskuldig jou van 'n logiese drogredenasie (bevestiging van die gevolg), maar toe ek dit uitskryf was ek 'n bietjie geskok. Alhoewel dit wel 'n drogredenasie is, is die drog by my. Uitgeskryf sal dit lees:

    1) As daar 'n intelligente ontwerper is sal die kosmos “intelligensie” vertoon

    2) Die kosmos vertoon “intelligensie”

    3) Dus, daar is 'n intelligente ontwerper

    Dit is duidelik die bevestiging van die gevolg en 'n lyn van redenasie wat jou posisie ondersteun. Wys wat gebeur as ek te slim probeer wees. Ek dink natuurlik nie dat die kosmos vreeslik slim is nie, maar dit is nie nou die punt nie.

    Jammer vir my fout.

    Chris

  • Kobus de Klerk

    Moet verskriklik wees om so onseker te lewe... om so onseker te wees oor absoluut alles wat werklik van belang is. Goddank, almal val dit nie ten prooi nie.

    Maar mens is dit ten minste aan jouself verskuldig om ten minste dit wat geweet kan word, te weet of daaromtrent uit te vind.

    Soos Chris wat so onseker is dat hy omtrent die Skepper (in hierdie gesprek genoem die Intelligente Ontwerper) sê-vra wie agter die intelligente ontwerper is en wie was voor die ontwerper van die intelligente ontwerper en op watter stadium was daar 'n skepper en op watter stadium was daar niks en of  niks 'n skepper kan skep en of niks intelligent genoeg wees om 'n skepper te kan skep wat intelligent kan skep...

    Soos hierdie gelaaide vraag ontwikkel en ontvou, soos hierbo aangehaal, kom mens agter in watter onlogiese warboel die spreker daarvan is. Instede om na die logiese konklusie te beweeg met sy analise, dwaal hy al verder en verder weg daarvan en ontbloot in sy poging net sy eie ingrypende verwardheid. Die skrywer van die aanvanklike artikel, Brand Smit,  is so onseker van homself dat hy onmiddellik by aanskoue van Chris se uitdagende verwardheid sommer net so die bietjie waarin hy wel glo, dat daar intelligensie agter die ontstaan van lewe is, vir alle praktiese doeleindes verloën en prysgee.

    Met die enkele uitsondering van Dolf se sinvolle bydraes, is die reaksies algar deel van die warboel - al die deelnemers, behalwe Dolf, speek hulle onkunde en verwarring uit terwyl hulle Dolf se raad summier probeer wegvee... wat 'n sirkus. Waar Brand Smit aanvanklik met ''n paar gerigte "ek glo" stellings  begin het, is hy na sy interaksie met die forum se grootste twyfelaars en onseker-wesers by die punt dat hy skynbaar al sy "ek glo" stellings prysgegee het... of hy is dalk net so desperaat om hulle te paai en aan die praat te hou sodat hy die bietjie wat hy nog sou glo, prysgee ter wille van niks, want sulke ingrypende vertwyfeling is gelykstaande aan niks...

    Die antwoord is egter voor die hand liggend. God gee die antwoord wanneer Hy sê dat Hy die begin en einde van alle dinge is, maar dit is ook logies. God, die Skepper, is die begin van alle dinge. God is die Begin, Hy het geen begin nie. Dit is ook logies en reeds bewese. Alles wat bestaan het tog iewers begin. Niemand kan betwis dat dit wat ons om ons sien, bestaan nie - ook nie die kosmos nie. Die bestaan van alle dinge is dus die onbetwisbare bewys daarvan dat dit iewers begin het. God is daardie begin. Wie kan dit weerlê? God sê dit so en ons sien dit immers so, net soos God sê.

    Net so ook die betrokkenheid van intelligensie. Enigiets, letterlik enigiets, wat die mens wil dupliseer of namaak van dit wat in die natuur voorkom, hoe 'eenvoudig' ookal, kan slegs met aanwending van massiewe hoeveelhede kollektiewe menslike intelligensie en toerusting gedoen word na verloop van baie tyd en intelligensie gerigte eksperimente - soos byvoorbeeld die menslike genoom wat deur die wetenskaplikes van die Craig J Venter institute gedoen is. Die feit is dat niks werklik so eenvoudig is nie, maar uiters kompleks al is dit mikroskopies klein. Vandaar die massiewe hoeveelheid intelligensie en energie wat dit verg om dit te ontleed en agter te kom hoe dit werk. Dit alles dui onbetwisbaar op die aanwending van superieure Intelligensie in die aanvanklike ontwerp daarvan.

    Dan is dit ook so dat die mens geen enkele voorbeeld kan gee van enigiets wat in die mens se bestaan sommer so ontstaan het sonder die aanwending van enige intelligensie by die ontstaan daarvan nie. Selfs die bestaan van intelligensie per se, weerspreek intelligensielose ontstaan van enige lewe. Selfs die geringste en mees eenvoudige bekende organisme, die spons, besit intelligensie - dit krimp ineen by aanraking. Dit is dus gewoon net logies dat, gegewe die feit dat alles wat lewe oor een of ander vlak van intelligensie beskik, dit ook deur intelligente ontwerp ontstaan het. Dit is ook logies dat die Ontwerper daarvan, dit so sal ontwerp dat dit sal reageer op Sy intelligensie tot die mate waarvoor dit ontwerp is in die intelligente omgewing waarin dit moet oorleef en floreer.

    God is daardie Intelligensie.

    Die feit dat die klomp gewoonte-twyfelaars nie genoeg insig het om dit te begryp nie, en waarskynlik in daardie toestand van hulle, daardie insig nooit sal verkry nie, doen daar geen afbreuk aan nie.

    As God en Sy werke sommer so deur elke jan rap en sy maat geken en geëvalueer kon word, was Hy immers nie waarlik God nie maar minder as die mens. Selfs dit is logies - watter tipe intelligensie word geverg om die komplekse aardse biosfeer en die heelal in al die wonderlikheid  daarvan, te ontwerp en in stand te hou? Ware Goddelike Intelligensie wat die menslike vermoë om dit alleste begryp so vêr te bowe gaan, dat die twyfel-brigade so ontsenu is daardeur dat hulle eerder die maklike uitweg kies - om sommer net te sê daar is geen intelligensie by betrokke nie - hoe onintelligent dit nou ookal is.

    Ironies, daar is niks so onintelligent in die natuur soos die onintelligente proposisie dat die skepping, die ontstaan van lewe, intelligensieloos is, nie. Daarom sal hulle ook nie kan begryp dat geloof juis lei tot kennis en sekerheid van dit waarin geglo is, nie. Net so ook met God.

    Kobus de Klerk.

  • Hello Kobus, 

     
    Bogenoemde argument het jy al gebruik, soos maar gebeur met almal se argumente, dit word maar sirkuleer. In daardie rondte is dit uitgewys dat jy die idee van 'the great chain of being' gebruik het en omvorm het om alle tipes van intelligensie te herlei na die oorsprong van die 'oer' intelligensie. 
     
    Daardie 'oer' intelligensie dan ook bekend as God en net soos met die liefde, jou argumente elders, is God die bron van daardie liefde, daardie intelligensie, jy is stiller oor energie, tensy ek dit misgelees het. 
     
    Maar die konsep is daar, bepaal eienskappe, verskynsels, en herlei die oorsprong na 'n enkele punt en daardie enkele punt van oorsprong is dan 'n 'goddelikheid'. 
     
    Hierdie alles is onbewysbaar en het hoogtens spekulasies binne 'n aanvaarde raamwerk as oorsprong. 
     
    Daar word niks deur my, Chris en ander daar geplaas waarvoor daar geen bewyse is nie. 
     
    Daarom dan die meer redelike standpunt word deur die sogenaamde 'ongelowige'  gehuldig.
     
    Baie dankie
     
    Wouter 
     
  • Kobus de Klerk

    Dankie vir jou opregte poging om lig te werp op 'n hoogs fassinerende onderwerp.

    'n Paar opmerkings:

    1. Stel jouself voor twee speurders. Die een daag op by 'n misdaadtoneel, lig hier en daar 'n flits, en haal dan 'n boekie uit sy baadjie se binnesak. Hy lees vir 'n paar minute, en verklaar dan dat dit logies is dat "die man" dit gedoen het - volgens die boekie wat hy styf in sy een hand vasklem. "Die man?" vra 'n paar omstanders. Ja, antwoord die speurder, moenie julleself onnosel hou nie. "Julle weet presies waarvan ek praat," sal die speurder afsluit, en die toneel verlaat.

    Dan kom 'n tweede speurder op die toneel. Hy lig ook sy flits op 'n paar plekke, neem vingerafdrukke, neem dosyne foto's, sit dosyne items in plastieksakkies, doen uiteindelik onderhoude met 'n klomp mense. Na 'n paar dae vra iemand vir hom wie hy dink die skuldige is. "Ek weet nog nie," sal die man antwoord. "Ek kyk nog waarheen die leidrade my vat."

    2. 'n Man gaan dokter toe. Hy verduidelik dat sy hart nie meer so lekker werk nie, dat dit soms wild aan die klop gaan, en so aan. Wat is fout? vra hy die dokter. Die dokter leun oor, kyk so bietjie hier en daar in die rigting van die man se borskas, en trek dan 'n boek uit sy laai uit. Die siek ou merk op dis 'n baie ou boek. "Dis logies. Jy hou nie tyd met die seisoene nie," laat die dokter dan hoor. Dan laat weet hy sy ontvangspersoon dat hy gereed is vir die volgende pasiënt.

    Die volgende dag gaan die siek man na 'n ander dokter toe. Die dokter vra hom 'n klomp vrae - wat hy eet, of hy rook en drink, of hy enige oefening inkry, of hy stres het by die werk. Dan vra hy hom om sy hemp uit te trek. Hy klop 'n biejie hier, luister 'n bietjie daar. Uiteindelik trek hy ook bloed, en lig die siek ou in dat hy oor 'n paar dae moet terugkom; hy sal dan vir hom kan sê  wat die resultaat is van die toetse.

    Watter speurder gaan jy vertrou - die een wat die leidrade volg met 'n oop gemoed om te sien waarheen dit hom lei, of die ander een? Watter dokter gaan jy vertrou?

    Dit verbaas my altyd dat meeste volgelinge van religieuse tradisie sal aandring op die speurder wat kyk waarheen die leidrade hom vat, en sal aandring op die dokter wat toetse doen en vrae vra en wonder en onseker is voordat hulle tot die gevolgtrekking kom dat dit heel waarskynlik X, Y of Z is, eerder as die ander ou, maar wanneer dit kom by vrae oor die ontstaan van die heelal, word daar onmiddelik gegryp na religieuse mitologie, en daar word verwag dat alle twyfelary en bespiegelings dadelik moet stop.

    Laaste paar opmerkings:

    - Dis regtig eintlik glad nie so verskriklik om onseker te wees oor dinge nie. Dis eintlik nogals heel bevrydend, veral as jy op 'n punt gekom het in jou lewe waar dit onuitstaanbaar geword het om onkrities te bly glo aan dinge wat nie meer sin gemaak het nie.

    - Jy't duidelik ook my aanvanklike skrywe verkeerd verstaan. Ek het nooit gepraat van geloof in 'n skeppergod soos die Joods-Christelike tradisie dit verduidelik nie; ek het juis gepoog om 'n ander, wyer begrip te gee aan die term "intelligensie". (Hoekom spring mense so vinnig tot die konklusie dat jy bedoel "God" as jy praat van intelligensie?)

    - Ek kan maar net glimlag by die dele oor "Brand Smit [wat] na sy interaksie met die forum se grootste twyfelaars en onseker-wesers by die punt [kom] dat hy skynbaar al sy 'ek glo' stellings prysgegee het" en "Brand Smit [wat] so onseker van homself [is] dat hy onmiddellik by aanskoue van Chris se uitdagende verwardheid sommer net so die bietjie waarin hy wel glo, dat daar intelligensie agter die ontstaan van lewe is, vir alle praktiese doeleindes verloën en prysgee." Dis snaaks. Ek het dit vir my vrou gelees, en ons het lekker gelag daaroor.

    Groete
    Brand Smit

  • Kobus de Klerk

    Brand,

    Dankie, ook vir jou kommentaar.

    Jy vra watter een van die speurder of die dokter ek sal kies – ek sal dié van hulle kies wat die meeste kennis en ervaring het. In jou voorbeelde lyk dit baie beslis na die eerste speurder en die eerste dokter. Die tweede speurder en tweede dokter kom maar onseker, onkundig en onervare voor en moet baie rondval en soek omdat hulle kennis van die toneel voor hulle net eenvoudig te karig is om welbekende tendense en patrone te eien en dan die nodige akkurate gevolgtrekking te maak. Veral die dokter met die ou boek - meeste siektes kom al van vêr af en is al so oud soos die boek self...

    Maar sommige ander onseker ouens sal die tweede speurder en tweede dokter kies – nie omdat dit die beste is nie, maar omdat dit hulle beter laat voel om ander onsekere mense soos hulself teë te kom – deur en deur ’n ego-ding, ’n sielkundige ding. Hulle voel bedreig en bedrieg en minderwaardig in die teenwoordigheid van sekerheid en kennis. Want hulle weet nie hoe om dit te verkry nie, wyl dit geredelik verkrygbaar is, as hulle maar net bereid sou wees om hulle eerder te omring met kundiges en die onkundige ploeteraars eerder te vermy, want kennis beïnvloed (rubs off) ten goede en bring, het… en kennis maak vry.

    Onthou, alle kundige mense was in ’n stadium onkundig. Dit is dus nie sleg of agterlik om onkundig te wees nie, maar eerder wat jy met jou onkunde doen, sal bepaal of dit vir jou ’n bron van slegtheid en agterlikheid sal word. Sommige verkies om die kennis en kundigheid, wat sekerheid meebring, te verwerp ter wille van daardie gemaksone. Maar om in onkunde te bly rondploeter sal nóóit kundigheid en sekerheid bring nie. Die twee is gewoon net nie op dieselfde plek te vinde nie en daarom sal jy die een moet verlaat om die ander te gaan vind.

    Daar is geen verskoning meer om omtrent God in onkunde en onsekerheid te verkeer nie. God is beskikbaar, watter wonderlike Genade - maar nié waar jy soek – by die onkundiges en onsekeres - nie.

    Die keuse is joue.

    Dit is goed dat jy en jou vrou nog kan lag... al is dit een van daardie senuagtige laggies wat sommige mense oorkom weens hulle ongemak met 'n situasie.

    Kobus de Klerk

  • Kobus de Klerk

    Wouter,

    Jy sê hierbo dat die konsep daar is, bepaal eienskappe, verskynsels, en herlei die oorsprong na 'n enkele punt en daardie enkele punt van oorsprong is dan 'n 'goddelikheid en jy sê ook dat dit alles is 'onbewysbaar' is en hoogstens spekulasies binne 'n aanvaarde raamwerk as oorsprong en ook dat daar word niks deur jou, Chris en ander daar geplaas waarvoor daar geen bewyse is nie.    Daarom meen jy, word die meer 'redelike' standpunt deur die ongelowiges gehuldig.

    Maar jy is nie reg nie.

    Elders gesels ek en jy lekker oor musiek uit my era - en meeste van jou ouderdomsgroep en jonger sal van meeste daarvan geen kennis dra nie. Kom ons neem sommer vir die argument die liedjie 'My Sweet Lord' van George Harrison, 'n liedjie wat aan my persoonlik baie bekend is en ook hoe en waar dit ontstaan het en ook in watter omstandighede.

    Tog is daar weinig jongmense wat hoegenaamd kennis dra van die bestaan van die lied.

    Stel jou voor ek en 'n klomp ander uit my era wie ook die lied goed ken, vertel vir 'n paar jongelinge van die lied en hulle is astrant en arrogant genoeg om ons tot leuenaars te maak en te sê dat hulle niks daarvan weet nie en derhalwe bestaan dit nie en die bewys wat ons lewer, en die getuienis daarvan op die internet is sommer spekulasies en ons eie versinsels binne 'n aanvaarde raamwerk vir ons...

    Belaglik en verwaand en simpel van hulle, of hoe...

    Net so ook met God. Ons as ware gelowiges ken God want ons het 'n Persoonlike verhouding met Hom en meeste van ons het daagliks kontak met Hom... en so weet ons dat dit wat oor God in die Bybel geskrywe is, die Waarheid is.

    Wie van julle kan uit eie kennis met ons stry daaroor? Dit is nou waar die spekulasie en rondtrappery  gesien word - in julle pogings om hierdie voldonge feite te probeer wegstry...

    Maar julle wil Hom nie ken nie en maak dan die bewerings soos jy en ander hier bo maak, terwyl julle ontkenning geen afbreuk hoegenaamd maak aan die werklikheid Sy bestaan, nie...

    Belaglik en verwaand en simpel van julle, of hoe...

    Kobus de Klerk

  • Kobus

    Jy's reg. Natuurlik sal daar altyd mense wees wat die speurder verkies wat nie die leidrade volg nie, wat net sy vinger in die lug steek en raai wie die skuldige is. Solank die speurder grys is en dit lyk of hy baie ervaring het, bygesê. Selfde met die dokter wat deur skrefiesoë na die pasiënt kyk en raai wat fout is. Solank die boek wat hy uit die laai trek, oud is, soos jy tereg opgemerk het.

    Terloops, moenie skugter wees om nog 'n paar komiese reëls in te sluit indien jy weer kommentaar lewer nie. In hierdie deurmekaar warboel van 'n wêreld het 'n mens elke geleentheid om te lag nodig - ongeag of dit nou 'n senuagtige laggie is of nie.

    Brand

  • Kobus de Klerk

    Brand,

    Hoekom dan so inkonsekwent? Nou skielik is die ouens skielik sommer raaiers na jy gelees het wat ek sê... jy het mos niks daarvan vermeld toe jy aanvanklik die voorbeelde gedefinieer het nie... want daardie voorbeelde het ouens met ervaring en kennis voorgestel en ander wat sukkel en soek weens onervarenheid.

    Maar ons sien mos nou ook dan deur jou optrede die gebruiklike modus operandi van die werklike raaiers en onsekeres en onkundiges en immer-soekendes  - julle verdraai 'n ding gou-gou om hom vir julle verwysingsraamwerk te maak pas ongeag dat dit heeltemal geloofwaardigheid verloor.

    So sien ons dit ook in wat julle oor-en-weer skrywe

    Dit is dan ook mos daarom dat julle immer-soekend en immer-onseker en fondasie-loos is.

    Nou - as jy vir jouself wil lag saam met jou vroutjie, val dan gerus weg, want jy kan dan oor alles wat ek vir jou geskrywe het, so senuweeagtig lag met die oopgesperde oge...

    Kobus de Klerk

  • Laat dit gaan, Kobus, jou grappies raak flou.

    En hoekom persoonlik raak met die "vroutjie" opmerking? Is dit hoe jy na jóú vrou verwys? Of is venynigheid die volgende stap van 'n man wat regtig nie eintlik meer veel het om te sê nie?

    Dra óf konstruktief by tot die gesprek, of beweeg aan na die volgende brief of artikel.

  • Chris Dippenaar

    Brand, jy mors jou goedgesindheid op hierdie karakter. Mors so 'n bietjie met hom en laat hom dan vlieg jy weet waarheen. Logiese en goedberedeneerde argumente kan nooit deur sy dik vel en kop kom nie. Ek het in my lewe nog nooit so 'n onsmaaklike verskynsel ontmoet soos KdK nie.

  • Kobus de Klerk

    Ag, kom nou, Brand, moenie nou die gesprek in 'n ander rigting wil trek omdat jy verleë is nie. Daar is absoluut niks verkeerd met die verwysing "vroutjie" nie en ek bedoel daar ook dan niks negatiefs mee, nie. Dit is 'n algemene verwysing na 'n vreemde persoon se eggenote wanneer mens met hom in gesprek na haar verwys (ek ken mos darem nie haar naam nie) en het geen negatiewe konnotasies nie.

    En dit is na alles jy wat jou vroutjie betrek het, met jou simpel verwysing na die gegiggel van julle twee en boonop ook gevra het vir meer, nie waar nie? Weet sy hoegenaamd daarvan dat jy haar betrek? Toemaar, jy hoef nie te antwoord daarop nie.

    My kommentaar op jou blertse is blykbaar so konstruktief dat jy dit nie in jou gekose verwysingsraamwerk van twyfel, wonder en onsekerheid hoegenaamd kan hanteer nie.

    Dus, miskien wil jy aanbeweeg? Daar is voorwaar vir jou baie ruimte om dit te doen.

    Maar siende dat jy inderdaad duidelik nie meer weet wat om te sê behalwe om kleinlik te wees nie, kan die gesprek gerus end kry. Dit gaan, eie aan julle reddelose geskarrel in sirkels van onkunde, insigloosheid en onsekerheid, ook êrens heen nie en enigeen wat koers inslaan en daarby hou, al ken hy die pad, word eenvoudig deur jou toegetakel.

    Moet ook dan nie 'n ding begin wat jy nie kan deursien nie.

    Kobus de Klerk

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top