Skemeraand oor Jonkershoek

  • 1

o helder, helder water
o groenste, groenste blaar
kyk hoe lê die lelieblom
so skoon onskuldig daar  

*

‘wyl skemer teen die wal kom rus
kwaak daar nog paddas in die dam
tussen lang gras en ‘n rietpol
word stille skadu’s vasgevang

o diepste, diepste klowe
waar dit eggo sonder taal
hier boggom bobbejane
reeds vir eeue hul verhaal

en hoër op teen die hemele
skakeer die wolke goud en grou
poog die hange en die kranse
vergeefs aan sonnestraal te klou

o hoogste, hoogste pieke
die heel laaste lig verdwyn
dis oor Jonkershoek se berge
wat die sekelmaan verskyn

en onder skittersterre
hierdie helder nag ten spyt
vind die lug ‘n wonder oomblik
om na sagte reën te ruik

*

o donker, donker water
o groenste, groenste blaar
kyk hoe slaap die lelieblom
so doodonskuldig ... daar

 

© C Shaw

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top