Geen rasionele mens sal kan verskil dat Suid-Afrikaanse universiteite tans ’n krisis beleef nie. Daar is hopeloos te veel studente, teenoor veels te min geleenthede om ’n graad te verwerf. Die tragedie by UJ was ’n klinkklare bewys daarvan.
’n Kommentator op Moneyweb het met ’n goeie gedagte opgekom, in die lig van die UJ-stormloop, iets wat veroorsaak is deur intense mededinging om beperkte plekke op universiteit: Waarom verkwis ons ons belastinggeld op irrelevante studierigtings aan universiteite? Watter doel dien dit vir ’n land soos Suid-Afrika om graduandi in, byvoorbeeld, politieke wetenskap voort te bring? Hoeveel werksgeleenthede is daar vir iemand met ’n BA-graad in politieke wetenskap, nadat hy sy graad verwerf het? Bykans sonder uitsondering is sulke grade niks werd in die arbeidsmark nie, en word die graduandi in sulke rigtings gedwing om werk te soek in poste wat hoegenaamd niks met hulle studies te make het nie.
Ek is persoonlik nie seker dat ’n arm land soos Suid-Afrika die luukse van irrelevante studierigtings kan bekostig nie. Ons het nie BA Braaivleis-graduandi, met grade in rigtings wat die land geen ekonomiese voordeel bied, nodig nie. Ons het wel bekwame rekenmeesters, goeie onderwysers (veral hulle), verpleegsusters, loodgieters en ingenieurs nodig. As ek Kameraad Blade was, sou ek die rasionele ding gedoen het, en alle irrelevante en oorbodige kursusse as gedoseerde studierigtings afgeskaf het; dosente in Bybelstudie en Politieke Wetenskap sou helaas hul poste moes prysgee ten gunste van dosente in Pedagogiek en Rekeningkunde. Ons kan eenvoudig nie die luukse van “wishy-washy”-studierigtings en sagte vakke bekostig op hierdie stadium van ons ontwikkeling nie. Daar is in ’n arm land geen regverdiging om ’n lektor in musiek of drama se salaris te betaal, as jy eerder ’n lektor in die pedagogiek of verpleegkunde kan aanstel nie.
Diegene wat wel te veel geld het, ryk erfgename van Noordelike Voorstad-tipes, byvoorbeeld, wat kan bekostig om BA Braaivleis te swot en grade sonder ’n ekonomiese waarde te verwerf, sou hul in terme van hierdie visie per korrespondensie of by privaatuniversiteite of, les bes, oorsee moes voortsit.
Sien die saak so: As jou toilet geblok is, gaan jy nie ’n BA Braavleis gegradueerde wil bel nie.
Anton B.


Kommentaar
Anton, ek stem nogal met jou saam oor die grade wat eintlik niks beteken nie. In ontwikkelde lande soos Brittanje het 'n mens baie sulke rigtings, wat vir 'n derdewêreldland niks beteken nie. Hier praat ek bv van rigtings in museumkunde, geskiedenis, letterkunde, musiek, ens. Dit klink erg om te dink hier is nie plek vir sulke rigtings nie, maar 'n derdewêreldland wat spartel om oorlewing kan nie sulke luukses bekostig nie!