Sirkusboere: ’n Boeiende en vermaaklike historiese roman

  • 1

Sirkusboere
Sonja Loots
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624053354
Prys: R166.95
 

Klik hier en koop Sirkusboere nou van Kalahari.net!

Sonja Loots het in 1995, op baie jeugdige leeftyd, die aandag getrek met die verskyning van haar debuutroman Spoor. Nou, sestien jaar later, het haar tweede roman, Sirkusboere, verskyn – ’n publikasie waarna baie lesers uitgesien het. Sirkusboere is ’n historiese roman, gebaseer op uiters boeiende historiese gegewens wat die outeur grondig nagegaan het.

Generaal Piet Cronjé, berug vir die Boere-neerlaag by Paardeberg tydens die Anglo-Boereoorlog, word ’n paar jaar ná die einde van die oorlog gevra om deel te neem aan ’n voorstelling van die Slag van Paardeberg in St Louis, VSA. Die eienaar van hierdie “sirkus” is Frank Fillis, en saam met hom in die projek is nog ’n Boere-generaal, Ben Viljoen. Daar is min wat Cronjé by die huis hou – sy plaas is verwoes, sy vrou is oorlede. Hy word aangetrek deur die moontlikheid om geld te maak en deur die hoop om waardering te kry wat ná die Slag van Paardeberg vir hom maar skaars was; dus willig hy in. Dit word egter ’n patetiese skouspel waarin hy dag na dag die drama van sy grootste vernedering moet óórspeel. Boonop loop die projek op ’n finansiële mislukking uit, en Cronjé keer uiteindelik terug na sy plaas sonder die emosionele en finansiële vergoeding waarop hy gehoop het.

Saam met Cronjé, Frank Fillis en Ben Viljoen gaan ’n hele klomp Boere-oudstryders oorsee om as akteurs in die vertoning op te tree. Prominent in hierdie groep is Maans Lemmer, wat nog swaar dra aan die dood van sy vrou en seuntjie in die konsentrasiekamp. Ook swart mense is deel van hierdie projek om geld uit die oorlogsherinneringe te maak. Onder hulle is die swart man Fenyang, Cronjé se agterryer tydens die oorlog.

Die opkoms en ondergang van Frank Fillis se sirkusvertonings is die narratiewe raamwerk waarbinne ’n aantal boeiende temas vergestalt word. ’n Hooftema is die verwerking van die traumatiese oorlogsgeskiedenis. Elkeen van die sentrale karakters bied ’n eie variasie op hierdie tema. Cronjé bly vasgevang in die trauma van die verliese wat hy gely het: sy vrou is dood, sy plaas is verwoes, die oorlog is verloor, en boonop het hy die respek van die meeste van sy medestryders en hul naasbestaandes verloor deur sy oorgawe by Paardeberg. Die voorstellings waarin hy daagliks optree, is simbolies van die feit dat hy, soos in ’n maalkolk, in die geskiedenis van Paardeberg vasgevang is; dat hy moeilik ’n nuwe begin kan maak. Ben Viljoen is korrek in sy oordeel oor Cronjé: “Die ou sukkelaar is seker nóú nog behep met die oorlog teen die Engelse ... Hy rol dit al groter, soos ’n miskruier sy stink bal, en hy sal aanhou rol totdat dit hom heeltemal verdwerg” (346).

’n Groot deel van Cronjé se probleem is dat hy nie sy skuld wil konfronteer nie; hy plaas steeds die blaam op ander, onder andere op die Boereheld generaal De Wet. Hy beskou homself as ’n martelaar, as ’n Bybelse profeet of psalmdigter wat met God worstel, maar die waarheid is dat sy godsdiens bloot ’n dekmantel is wat eerlike selfkonfrontasie verhoed. Sy plaaswerkers het hom die bynaam KaMongoele gegee, wat “op die knieë” beteken – omdat hy so baie bid. Maar die ervaring het hulle geleer dat “hy mos altyd begin bid het as hy verskoning soek vir kwaaddoen” (83).

In sy worsteling fokus Cronjé op Paardeberg en die Anglo-Boereoorlog, en kyk daarmee ’n belangrike faset van sy skuld van die verlede mis: sy rassistiese houding en optrede teenoor swart mense. Vir hom is swart mense se “harte ... so swart soos dassiepis” (133). Besonder ironies is sy siening dat swart mense lief is daarvoor “om eiendom op te eis wat ander toekom” (210). ’n Donker vlek op sy verlede is sy deelname aan uitroei-ekspedisies teen swart mense, waarin soms ook kinders doodgemaak is (146). Selfs teenoor Fenyang, sy agterryer tydens die oorlog, faal hy: wanneer Fenyang byna doodgeslaan word deur ’n gruwelik rassistiese wit man, het Cronjé nie die medemenslikheid of die durf om sy werker te beskerm en te red nie.

In hul houding teenoor die verlede vorm Frank, die sirkusbaas, sowel as Ben Viljoen ’n skerp kontras met Cronjé. Ben is, soos Cronjé, opgesaal met die las van die verlede. Nie net het sy mense die oorlog teen Brittanje verloor nie, maar sy vrou het hom bedrieg. Ben beweeg egter aan, anders as Cronjé, deur die verlede gladweg van hom af te werp; hy dink: “moer toe met al die vrome ooms en tantes, met ónse mense, ónse taal, ónse kerk en ónse erfgrond” (22). Na die oorlog woon hy eers in Londen, dan in St Louis, uiteindelik in Nieu-Meksiko; hy is ’n opportunis wat hom telkens in ’n nuwe omgewing bevind en sy wieke na die wind draai om te oorleef. Hy is iemand wat eerder gly as om te bly.

En tog is Ben nie heeltemal ongevoelig nie. Hy ly kennelik aan posttraumatiese stres na die slag van Elandslaagte: “Hulle het op hul perde gesit en ons manne met lanse stukkend gesteek. God, die goed wat mens daar gesien het” (24). “Daar was dinge wat ek nie kon aanskou nie, ek het myself gedwing om weg te kyk” (25). Sy manier om trauma te verwerk is om stil te bly en sy gevoelens en gedagtes te onderdruk: “Wat sê ’n mens as jy so iets hoor? Niks. Jy sê absoluut niks. Jy suip. Mettertyd bedaar jy weer. Dit mos die nuwe manier van doen. Hou jou bek en bedaar. Sit in die hoek en shut up” (25). Ben is ook geraak deur Maans Lemmer se verdriet oor die sterwe van sy vrou en kind in die oorlog – duidelik meer geraak as Piet Cronjé, wat niks daarvan wil weet nie.

Ben vind nie waarlik bevryding nie; hy vind nie ’n plek waar hy tot rus kan kom nie, want in Nieu-Meksiko word hy, as gewese Boere-generaal, gemanipuleer om deel te word van die versetstryd van die rebelle teen die outokratiese regeerder. Wat hy uiteindelik verkry, is nie ’n ruspunt nie, maar “’n hele inventaris verhale” (349) – getuinenis van ’n avontuurryke lewe.

Daar is baie ooreenkomste tussen Ben en Frank, die sirkusbaas. Albei was vroeër gerekende mense, maar dit is nou verby – die een was ’n Boere-generaal, die ander baas van ’n beroemde sirkus. Hulle wil albei die huidige verleentheid so gou moontlik agter die rug kry en ’n nuwe begin maak. Albei vind dit relatief maklik om met die verlede te breek, grootliks omdat etiese prinsipes nie by hulle groot gewig dra nie - albei raak byvoorbeeld betrokke in warm seksuele verhoudings sonder veel emosionele betrokkenheid. Hulle vergeet gou en beweeg aan. Frank het in sy sirkus ’n klomp mense versamel wat ’n swaar las van die verlede dra, maar hy stel nie in “treurmares” belang nie – “hy kan die gesanik oor hul droewe lot nie meer uitstaan nie” (201). Wat vir hom saak maak, is om baie kaartjies vir sy sirkus te verkoop, om geld te maak, en veral om onthou te word. Uiteindelik is hy ’n ongeluksvoël, ’n mislukking, “gister se nuus” (361) – deel van ’n vergete verlede.

Die vervalsing van die geskiedenis is ’n belangrike onderdeel van die tema van die verlede. Frank gee nie om of hy die oorlogsverlede waarheidsgetrou voorstel nie; vermaak is vir hom die kriterium. Sodoende transformeer hy die geskiedenis tot sirkus. Die patetiese Cronjé word as ’n heldhaftige kryger voorgestel; Maans Lemmer, verswelg deur verdriet, word gereduseer tot ’n waaghalsige bomplanter in die oorlog; en in Frank se Afrika-tentoonstellings is dit weer die sonderlinge en die eksotiese wat die deurslag gee.

Buffalo Bill se voorstellings van die Amerikaanse geskiedenis (169 ev) betrek Amerika by die tema van die vervalsing van die geskiedenis. Buffalo Bill se “sirkus” word aangebied as “die verhaal van Amerika, die drama van oorlewing” (171). Die “egtheid en die akkuraatheid van alle stellings” word gewaarborg (170), maar in die vertoning word van moordenaars helde gemaak, en van slagoffers barbare: die held is “die man wat Yellow Hand se kopvel afgeskil het, die wreker van generaal Custer se eer” (169).

Ook Ben, wanneer hy van Elandslaagte vertel, vervals die gebeure, omdat die traumatiese herinnering vir hom te pynlik is: “[H]y het begin besef dat ’n soldaat se verhale onvertelbaar is. Te stukkend, te deurmekaar. Onmoontlik om dit agterna te orden ... Hy het dit só vertel, want dit was die soort verhaal waarmee ’n mens kan saamleef” (113-4). Ook wanneer Ben as skrywer ontpop, laat hy hom lei deur wat die lesers graag wil hoor (109); hy verander wat gebeur het om homself in ’n gunstige lig te plaas (109). Dieselfde geld vir Cronjé: wanneer hy sy memoires skryf, is dit deurtrek met vervalsings en verontskuldigings (350-5). Johanna, sy tweede vrou, is die een wat sy leuenagtigheid genadeloos ontbloot.

Die vervalsing van die verlede word tot ’n hoogtepunt gevoer in die aanskoulike voorstelling in Kaapstad, by Uniewording, van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Wat vir dié tyd nie polities korrek is nie, word gewoon uitgelaat – so byvoorbeeld, in ’n tyd waarin die stryd tussen Boer en Brit polities sensitief is, val die seminale geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog weg. In dié voorstelling word vooroordele geopenbaar en bevestig – die koms van die wit man na die land word eenvoudig voorgestel as “Het verdwijnen van de barbaarsheid in Zuid-Afrika” (369).

En so, agter die fasade van die sirkusvertonings, verdwyn die waarheid en gaan die egte pyn van die verlede verlore. Hierdie pyn word in die roman veral deur twee karakters beliggaam: Maans Lemmer en Fenyang. Hulle is blykbaar nie historiese karakters nie, maar figure “saamgestel” uit die historiese werklikheid. Anders as die selfgesentreerde Cronjé, die opportunistiese Ben en die “showman” Frank, ly Maans diep as gevolg van die liefde - sy liefde vir sy vrou en kind wat in die kamp gesterf het. Maans voel verplig om hulle te onthou, want as hy vergeet, dan bly daar niks van hulle oor nie. Sy vaderlike briewe aan sy seuntjie in die konsentrasiekamp is van die roerendste dele in die roman en suggereer hoe swaar die latere dood van die kind hom moes getref het. Hy probeer om sy verdriet te verwerk, hy rig sy gedagtes op matematiese formules en geordende skouspele om sy emosies te orden. Maar die verdriet breek steeds deur; op ’n dag sien Cronjé hom huil soos hy nog geen man sien huil het nie; en uiteindelik skiet Maans homself met ’n haelgeweer.

Fenyang se lydensgeskiedenis strek verder terug as die Anglo-Boereoorlog. Van jongs af moes hy twee geskiedenisse leer: die Boere-geskiedenis wat sy baas hom vertel en die geskiedenis van sy mense wat hy by die inisiasieskool leer. Hy moet dus twee identiteite handhaaf, twee teenoorgestelde narratiewe gelyktydig uitleef – hy is Fenyang vir sy mense, maar vir Cronjé is hy Jan Windvoël. Hy word gedwing om die blankes se oorloë te help veg en raak só aandadig aan die dood van sy eie mense, sodat die skuld van die blankes aan hom oorgedra word. Wanneer die Anglo-Boereoorlog uitbreek, gaan hy saam as Cronjé se agterryer; ná die oorlog gaan hy teensinnig saam na Amerika as Cronjé se handlanger; hy is wesentlik sy baas se besit.

Nadat hy, soos reeds genoem, in Amerika lelik deur ’n rassis toegetakel is, keer hy terug na die plaas waar hy grootgeword het. Vir ’n kort tydjie beleef hy die geluk wat hy gedink het onbereikbaar is: in Cronjé se afwesigheid is hy vry om hom as boer uit te leef. Daar heers ’n kortstondige voorspoed – maar dan keer Cronjé terug en die ou orde word herstel. Fenyang se hele lewe word deur frustrasie gekenmerk, maar hy moet sy woede sluk om te kan oorleef. Hy het geleer “dis beter om die verlede toe te gooi” (145).

Die ervarings van Fenyang bring ’n belangrike faset van die tema van die vervalsing van die geskiedenis na vore. Fenyang se ondervindings herinner daaraan dat die Anglo-Boereoorlog nie net aan Boere smart gebring het nie (dit ook natuurlik, soos Maans Lemmer aandui), maar ook groot lyding onder swart mense veroorsaak het. Sy lot ironiseer die voorstelling van die geskiedenis by Uniewording: dat die blankes die beskawing gebring het wat die duisternis van barbarisme verdryf het. Fenyang se lotgevalle suggereer egter eerder die omgekeerde. Dit word duidelik dat die titel van die roman nie net slaan op die “sirkusboere” in Frank Fillis se sirkus nie, maar ook op die universele menslike neiging om die feite van die verlede te manipuleer en tot sirkus te transformeer. Die pynlike kante van die verlede word verswyg, want die doel van die “sirkus” is om die kyker/leser te vermaak en die belange van die “sirkusbaas” te dien. Die “boere” van die titel verwys na Boere en Afrikaners, maar ook in die algemeen na die baie individue en groepe wat steeds weer ’n sirkus van die geskiedenis maak.

In Sirkusboere word ’n boeiende stuk geskiedenis op meevoerende wyse verwerk. Die leser wat ná die eerste twee bladsye van die boek nie lus voel om verder te lees nie, moet selfondersoek doen. Die meevoerendheid word onder andere verkry deurdat die verhaal in die vorm van kort tonele opgebou is, en telkens wissel van een tyd en plek na ’n ander, sodat die leser nie ’n kans kry om verveeld te raak nie. Dit sou ’n heerlike teks wees om te verfilm! Die gedurige wisseling tussen die verskillende tye het, naas die meevoering van die leser, ook ’n ander funksie: dit sluit aan by die sentrale tema van die verbondenheid van hede en verlede.

Daar is wel enkele kleiner punte van kritiek. Piet Cronjé raak vir my soms oordrewe karikatuuragtig; hy is té eendimensioneel. Verder: die plekke en tye van die verlede word deurgaans op ’n besonder oortuigende wyse voor die gees van die leser geroep, en die historiese plekke en gebeurtenisse word oor die algemeen goed met die roman as geheel geïntegreer - maar ek is nie seker of die perdry-kompetisie tussen Ben en Buffalo Bill (257 ev), boeiend soos wat dit op sigself is, ’n funksie het in die ontwikkeling van die tematiek nie. Derdens: die taalgebruik is oor die algemeen gepas, die dialoog sprankelend, maar soms wil-wil dit beweeg in die rigting van mooiskrywery. Ek dink aan ’n sin soos die volgende: “Die baklei het soos ’n jakkals weggesluip, en in sy plek het swartgalligheid en selfverwyt aan Piet se hande kom snuffel” (69).

Dis egter ondergeskikte punte. Die hoofpunt is dit: hierdie sirkus gaan nog aan baie mense baie plesier verskaf!

  • 1

Kommentaar

  • Jopie de Beer

    Dankie vir die mooi positiewe kommentaar. Om 'n historiese roman te skryf is altyd moeilik. Nie omdat daar te min inligting is nie. Daar is gewoonlik te veel en dit is moeiliker om te besluit wat weggelaat moet word, as om te besluit wat ingesluit moet word. Een klein puntjie van kritiek; waarom mag daar nie mooigeskryf word nie. Per slot van rekening is kreatiewe skryfwerk tog dit wat ons taal ontwikkel en laat gedy!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top