Ek wou graag ‘n verhaal skryf oor die liefdespad wat ek en jy stap. Iets met die evokatiewe atmosfeer van ‘n Hozier-liedjie. Iets met die insig van die absurde gedagtes van Camus. Iets wat maak dat dit voel asof jy deur ‘n viskose fluïed swem. Iets visseraal soos die hitte van jou hand deur my hare in die winter terwyl ons op die strand stap; die strand met sy korreltjies sand soveel soos die sterre in die hemelruim wat so lieflik tussen my klam tone kielie.
So voel my liefde vir jou. ’n Ondernemingsreis deur die hemelruim. Terselfdertyd ‘n ter helle neerdaling. Ek moes myself in die swart vloeistof naamlik die hemelruim van onsekerheid laat dompel en my laat begaan in hierdie tuig wat gelukkig deur jou siel so soepel om die hemelliggame voortgestuur word. My siel laat begaan en ek voel hoe dit geskroei word deur die elektrisiteit van jou kyk. My hele liggaam brand met die intensiteit van die vlamme van verlange wanneer jy buite my bereik dwaal. Iets is goddank afgelê. Ek het gedwaal deur die bos met sy herfsgemoed.
Die goue blare voorspellend van die skakerings van Jupiter en Venus wat ek en jy sou saam betrag deur ons kosmiese verbinding. Ek het geloop en die geknars van takkies so droog onder my voete gehoor. Die briesie laat die klein Jupiters en Venusse welgeluksalig swaai aan die takke, so welgeluksalig soos ek in jou arms. Ek was aan die soek. Die koue was baie vinnig op pad. Ek het in Pluto-isolasie gestaan. Weggekeer van die wêreld, met net ‘n naamlose verlange in my hart. Maar ek het geweet dat ek vir jou gesig gesoek het tussen die effense weerkaatsings van vallende lig afkomstig van óns ster. Die een wat ons almal verbind. Hoe toevallig, hoe vlugtig was ons ontmoeting net nie daar in daardie woud nie. Hoe absurd, sou mens kon sê. Dat twee hemelliggame mekaar skielik met soveel krag sou kon aantrek. Maar dit is presies wat gebeur het. Later, toe ons albei lafenis gesoek het by die kraan hoor ek die stem wat my op hierdie liefdespad sou geplaas het.
Dit het vinnig gebeur dat ek myself in die pikswart viskose-teer bevind het. En besef het dat ek myself moes neerlê. Myself in die oseaan verloor. Tussen golwe en branders wat so hoog en gevaarlik bo my geraas het, het ek die kissie van ék gaan neerlê. Al die selfhaat, die twyfel, die onmenslikheid. Die lieflike verligting het my so vinnig laat boontoe skiet, ek het bykans borrelsiekte gekry. Bo my het die maan die eb en vloed soomloos laat plaasvind. En ons, óns het haar vanuit ons ruimtetuig bespied. Sy het lieflik daar lê en kyk na die wêreld. Sy moes ons gesien het toe ons mekaar in daardie spelonkwoud gevind het. So vreemd soos ‘n Marsman het ek gevoel nadat my kop bokant die water uitgeskiet het. Nou kon ek jóú sien. Net vir jou. Die leemte wat ek in my hart gemaak het was alles vir jou. Sodat jy veilig daar sou kon lê en ons veilig deur die ruimte begelei. Daar nes maak in die winter en hiberneer in die aanwesigheid van my liefde vir jou.
Jy stuur ons verder en verder weg van die middelster se lig. Maar ek het geen vrees nie. Jy neem ons verder en verder weg van die geroesemoes. Ek voel veilig en gevang in onewigheid in Saturnus se bane. Neptunus se blou verswelg my vermoeë om reguit te dink terwyl ek ons saam daar sien swem te midde van die heerlike vryheid wat hy bied met sy ongevange kleur.
Die ganse melkweg word ons pad. Ek en jy loop saam op hierdie pad geskakeer deur die sterre. Telkemale moet ek weer terugkeer om myself te verdiep in die oseaan. Om myself weer te reinig. Om weer vir jou plek te maak. Maar praat met my! Jy het in kontras met die hernuwing wat buite plaasvind jou onttrek. Jy staar net na my. Die tuig begin te skud. Ek voel angsbevange. Jou blik so priemend. So skokkend en yskoud en absurd en verward tegelykertyd. Jy verloor beheer oor ons tuig. Jy word wakker uit jou hibernasie. Ek maak beskuldigings. Ek kry dadelik spyt. Telkemale soos wat ‘n kat terug na sy huis keer, keer ek terug na die oseaan se golwe. Om myself weereens af te lê. Maar ek kan nie meer nie. Die jy raak te swaar om af te neem. Die viskositeit neem toe.
Die kosmiesheid raak bedreigend. Ek swerf weereens rond in ons woud. Ek vind nou net groenigheid. Geen ligte bries nie. Geen betowering nie. Geen Jupiters of Venusse nie. Net oordadigheid. Dit maak my naar. Dit staan in soveel sterk kontras met wat jou gemoed geword het. Dié het die viskose-teer se gevoelte aangeneem. Ek kan jou nie meer dra nie. Jy raak te gewigtig. Die planete kom in ‘n lyn. Ons is verby.
’n Jaar later loop ek weer in die woud. Die herinnering aan my en jou liefdespad het my weereens hierheen laat swerf. Die loop tussen die droë basse. Ons keer net terug. Ons verbeel ons vooruitgang. Maar ons is swerwers van die ellips. Ek haat dit om dit aan myself te erken, maar ek het ‘n slagoffer geword van my broosheid. Die sagte vlees wat my ewige lopende, ewige swerwende, ewige reisende siel verskans is nou moeg. Dit roep uit om rus. Ek gaan sit onder ‘n boom. Die strale val warm en laat my te veel aan jou hand dink.
Soos wat ek opstaan sien ek iets tussen die bome beweeg. Dit boei my oombliklik. Dit is absurd. Dat twee hemelliggame skielik mekaar so sterk kan aantrek. Ek staan nader om die deinsende figuur van nader te betrag. ’n Vae gerusstelling spoel oor my. Dit is jy. Jy staan daar in die donker. Jou hande uitgestrek na my. Ek keer terug na die oseaan.
Lees hier meer oor die reisskryfkompetisie: 1 001 reiswoorde


Kommentaar
Ek lees vanmiddag al jou skryfwerk wat Litnet geplaas het, en kom net agter hoe jy gegroei het met jou kuns. Lieflik!