Sirene fluister deur die akasia

  • 0

Foto: Canva

Sirene fluister deur die akasia

’n Goue horison verf die lae berge
tot ’n verre roep
waar geslagte waens gelaai het,
deur klowe en oor kranse getrek het,
op soek na gras en water anderkant die kim.

My hart lê Penhill in die groen Kalahari,
waar my voorgeslag se spore nog rooi stof roer
tussen akasia se doringwagters.

Wortels drink diep uit dorre grond,
gee skadu aan grassade en herinneringe
in ’n landskap wat alles toets en breek.

Olifantshoek se berge hou wag
waar eeue se olifante hul laaste rus kom soek het.

’n Klaende melodie sweef deur die sand –
siter-silwer wat deur beendere sny.

Hulle, nes ons, het ver getrek met swaar geheue
en vind in daardie sagte verflae
’n stil begraafplaas vir alles wat was.

Aalwyne se bloedlyne word deur die wind gesaai,
maar die akasia se dorings en die rooi stof
het my hart vasgehaak.

Gras, stof en doring hou my geanker
terwyl die sirene se dodelike lied van die see
my lok met antwoorde op al my laste –
in haar soet, verraderlike omhelsing.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top