Sion, berg van God en 7 Oktober

  • 9

Foto deur jorono van Pixabay

2026 is drie jaar ná 7 Oktober. Die skok is verby. Die kante is gekies. Vir baie lesers beteken die datum al “dus Israel” of “dus Gaza” of “dus ons is ook Israel”.

Ek soek nie iemand om aan te kla nie. Die derde herdenking, en steeds staan die vraag: Staan Sion nog as toevlug vir die weerlose, of is Sionisme die politieke dogma wat God se plek wil inneem?

God het self Sion as Sy woonplek uitgekies.

Sion is God se heilige berg en stad wat as beeld dien van die hemelse Jerusalem. Die Skrif hou Jerusalem harder as Tirus. Dit is Jesaja en Amos – die Naam self maak die maatstaf swaarder.

Omstreeks 1 000 vC het die Jebusiete ’n vesting op ’n heuwel in Jerusalem gehad. Koning Dawid het dit later verower en tot “die Stad van Dawid” herdoop. Mettertyd het die naam Sion uitgebrei om ook die Tempelberg in te sluit waar Salomo die tempel gebou het.

God het uitdruklik Sy begeerte vir hierdie plek uitgespreek. Volgens Psalm 132 het die Here Sion as Sy ewigdurende rusplek uitgekies, terwyl Psalm 2 dit Sy heilige berg noem en Psalm 48 dit besing as die vreugde van die hele aarde en die stad van die groot Koning. God kies Sion bo selfs die hoogste berge soos Hermon of Sinai.

Alhoewel die oorspronklike Sion van Dawid op die oostelike rif gestaan het, staan die westelike heuwel suid van die Ou Stad vandag as Sion bekend. In die geskiedenistekste het die twee heuwels uiteindelik een geword. Die naam Sion het gegroei van verwysing na ’n enkele vesting tot ’n aanduiding van Jerusalem, Juda en die ganse volk. Dit het in die Nuwe Testament tot sy volle geestelike betekenis ontplooi.

Hebreërs 12 herinner gelowiges daaraan dat hulle reeds by die Berg Sion aangekom het. Sion is die hemelse Jerusalem waar God vandag by Sy volk woon. Sion vergestalt God se teenwoordigheid: Dit het begin as ’n fisiese vesting, gegroei tot ’n stad, en ontplooi uiteindelik in Christus tot ’n ewige, geestelike werklikheid.

Openbaring 14 toon Sion op sy triomfantelikste: Die Lam staan op die Berg Sion saam met Sy 144 000 vrygekooptes. Midde die storms van oordeel staan Sion onwrikbaar as die koninklike vesting van Christus. Dit is die finale ontmoetingspunt tussen hemelse heerlikheid en God se vervulde beloftes.

Uiteindelik bring die hemelse visioen ons weer terug na die aarde toe. Dit is hier waar eeue se geestelike verlange grondvat in die mens se stryd, politiek en bloed.

Toe die Babiloniërs (586 vC), en later die Romeine (70 nC), die Tempel platvee, het Sion vir Jode ’n onbereikbare droom geword. Eeue lank het hulle drie keer per dag in die rigting van Jerusalem gebid, en by elke Paasfees dieselfde hartsverlange herhaal: “Volgende jaar in Jerusalem”.

Vandag staan staatshoofde en wêreldleiers steeds voor die Klaagmuur om hul eerbied te betuig. Hierdie simboliese gebaar is dubbelsinnig. Aan die een kant weerspieël dit respek vir die geloof van ’n volk. Aan die ander kant is dit ’n berekende persfoto en ’n manier om die guns van geopolitieke drukgroepe en kieserskorpse te wen.

Waar die oorblyfsel van ’n muur eens die trane van verstrooide en weerlose vlugtelinge opgevang het, dien dit vandag te midde van die Midde-Oosterse konflik ook as ’n verhoog vir moderne magspolitiek. Dit laat die profetiese vraag ontstaan of leiers werklik die God van geregtigheid soek, of bloot ’n antieke heilige plek inspan om die besluite van ’n wêreldse staat te seën en finansiële borg te ontvang.

Hierdie eeue oue hoop het bloot ’n gebed gebly totdat nasionale bewegings in Europa en gewelddadige aanvalle in Rusland alles verander het. Die groeiende haat teen Jode het denkers soos Theodor Herzl oortuig dat ’n veilige bestaan in Europa onmoontlik geword het.

Toe die eerste pioniers van die Bilu-beweging in 1882 by Jaffa aan wal gestap het, was dit nie net vlugtelinge wat die grond wou bewerk nie; dit was die geboorte van ’n georganiseerde nasionale beweging. Hulle het die antieke geestelike verlange na Sion omskep in ’n politieke werklikheid wat die geskiedenis van die Midde-Ooste vir altyd sou verander.

Toe die verlange na Sion van ’n droom in ’n eie staat verander het, het die simbole daarvan saam met die geskiedenis gevorm. Die Dawidster was oorspronklik net ’n antieke sespuntige figuur wat op Mesopotamiese seëls, Keltiese gietvorme en Kanaänitiese patrone voorgekom het. Dit het eeue lank bloot as versiering gedien. In 1354 het keiser Karel IV die Jode van Praag toegelaat om hul eie vlag te hê, en hulle het toe hierdie selfde sespuntster gekies.

In 1897 het David Wolffsohn ’n blou-en-wit vlag vir die Eerste Sionistiese Kongres in Basel ontwerp. Hy het dit op die tradisionele Joodse gebedsmantel gebaseer en sodoende hierdie antieke ster die amptelike gesig van ’n moderne nasionale beweging gemaak.

Vandag ontlok moderne Israel en sy politieke lobbie fel debat. Toe Theodor Herzl in 1897 in sy dagboek skryf dat hy die Joodse staat gestig het, kon hy skaars die ingewikkelde pad ná 1948 voorsien het. Daardie pad is gevorm deur oorloë, die vervreemding van Arabiese inwoners wat hul landerye verloor het, en die grootskaalse oor-en-weer-vlug van honderde duisende Palestyne en Jode uit Arabiese lande.

Kritici wys hoe geld en stemme in Washington die beleid vorm, onder meer deur invloedryke groepe soos AIPAC, en hoe hard die streeksbeleid onder leiers soos Benjamin Netanyahu loop. Ondersteuners sien dieselfde hardheid as die enigste manier om ’n volk se oorlewing in ’n vyandige streek te verseker.

Die gebeure van 7 Oktober was onder meer die gevolg van ’n fout in Israel se intelligensie en verdediging. Die leierskap het die duidelike waarskuwings uit Egipte en die Emirate geïgnoreer.

Hierdie blinde kol het egter vinnig plek gemaak vir politieke uitbuiting. Pleks daarvan om verantwoordelikheid vir die mislukking te aanvaar, het magtige figure in die Knesset en die kabinet die nasionale skok tot hul eie voordeel misbruik.

Onder die dekmantel van oorlog is die uitbreiding van nedersettings en die greep op grond versnel. Dieselfde skok het politieke leiers gehelp om hul eie howe en die regbank op ’n afstand te hou. Die bloed van daardie oggend heilig nie die beleid wat daarna gevolg het nie.

Hierdie hele spanning tussen Bybelse belofte en die harde werklikheid het op 7 Oktober 2023 tot ’n verskriklike breekpunt gekom. Hamas het die heining stukkend geruk en die slagting soos ’n fees deur die kameras laat lyk. Ouers het in hul veilige kamers verbrand. Kinders is uit hul beddens weggeruk. Liggame het by ’n musiekfees in die stof gelê.

Daardie oggend het Israel se eie vuur ook sy eie mense getref. Tenks het ’n huis in Be'eri oopgeskiet waar gyselaars aangehou is. Uit daardie huis is niemand lewend Gaza toe weggevoer nie. Die Hannibal-logika kon daardie middag in die bevelvoerders se koppe gedons het – of dit die geskrewe bevel was, wie weet?

Die oorlog wat daarop gevolg het, het ongekende verwoesting gesaai. Dit het reeds derduisende lewens geëis en die hele wêreld in ’n gevaarlike spiraal van geweld ingetrek.

Op 8 Oktober het vuurpyle uit Libanon gekom. Later het daardie noordekant ’n tweede slagveld geword: dorpe tot stof, gesinne op die vlug, kinders vermoor en ’n nuwe streep in ’n ou land getrek.

Agter die syfers lê regte mense se lyke. Gyselaars wat nooit teruggekeer het nie. Die liggame van kinders en verminkte lewens in Gaza. Mense wat oral onder die puin begrawe lê.

Wie net die agenda agter die naam Israel sien, trap oor die as van die kibboetse. Wie net die staat se reg ná 7 Oktober wil sien, maak elke kind se bloed onder die puin statistiek.

Die oordeel is oor die skild wat die Naam leen. Dit is nie ’n vonnis oor die harte wat drie keer per dag na Jerusalem draai nie, en ook nie oor die harte onder die puin van Gaza nie. Die Gees werk waar Hy wil. Of daardie werk tot redding lei, bly by God. Christus bly die enigste Middelaar. Ons besit nie die poorte van die hart nie.

Sion was veronderstel om ’n toevlug te wees. ’n Gebed vir diegene wat onder die mag van ander gely het. As daardie naam nou gebruik word om die lyding van kinders aan die ander kant te regverdig, verskil hierdie toevlug nie meer van enige ander magsdronke regering nie. Wie die Naam leen, word hieraan gemeet. Hamas het Sion nooit opgeëis nie. Hy staan nogtans voor dieselfde Lam.

En so sluit die sirkel van die geskiedenis. Die ster op Wolffsohn se blou-en-wit vlag was eens ’n antieke Mesopotamiese versiering, later die vaandel van Praag se Jode, en uiteindelik vandag die simbool van ’n moderne staat, Israel.

Op dieselfde heuwels van Sion waar die antieke afgodsbeelde van Asjtoret eens gestaan het, waai daardie einste ster vandag oor Israel. Dit staan as ’n stille getuie van ’n landstreek waar verskillende volke steeds die bloedprys in ’n onopgeloste stryd betaal.

Bo al hierdie aardse verwoesting en menslike politiek bly die visie van Openbaring staan: die Berg Sion as die uiteindelike rusplek van God. Die Lam op die berg bly die enigste maatstaf van vrede en liefde wat nie bloed as betaalmiddel aanvaar nie — nóg Hamas s’n op 7 Oktober, nóg Israel s’n daarna.

Sion is nie Frankryk nie. Sion is nie Amerika of Suid-Afrika nie. Dié name word gemeet aan wette, belange en oorlewing. Sion word gemeet aan die Naam wat dit opeis.

Die profete het Jerusalem harder geoordeel as die nasies, want die nasies het nooit beweer God rus by hulle nie. Waar Hy woon, geld Sy maatstaf: Die swakke word beskerm, die vreemdeling nie verpletter nie, die kind se bloed nie tot statistiek gemaak nie. Bloed uit oorlewing word nie as offer voor die ark neergesit en dan “noodsaak” genoem nie.

Daarom kan twyfel nie meer agter die ou sin wegkruip dat “Sonder hierdie lelike staat lê ons kinders weer in die stof” nie. Die bloed van 7 Oktober was werklik, en dit bly moord. Maar die naam Sion was nooit ’n skild vir slagoffers wat nou self die swaard dra nie. Oorlewing verklaar ’n staat. Dit heilig nie die berg nie.

Wie “Sion” sê, sê “God is hier.” Dan mag jy die bloed van die ander kant nie invorder as die prys van jou eie redding nie. Die Lam op daardie berg aanvaar nie Hamas se 7 Oktober as offer nie, en Hy aanvaar ook nie jou oorlewingsoorlog as priesterdiens nie. Jy moet net ophou om die heilige Naam te leen as dekmantel vir wat elke ander magsdronke regering ook doen. Dit is die eerste eerlike ding wat Sion self van jou vra.

Selfondersoek is nie verraad nie. Deurgrond my, o God, en ken my hart.

Mag Jesus Christus, die Lam van Sion, ons almal genadig wees.

Cornelius Henn

  • 9

Kommentaar

  • Hanno Visagie

    Dr Andy Woods, teoloog, Texas, se KI "Ask Andy" reageer soos volg:- Ek vind die skrywe sterk in sy oproep tot selfondersoek, geregtigheid en medelye met Joodse én Palestynse lyding. Geen staat, regering of militêre beleid mag die heilige Naam as dekmantel vir sonde gebruik nie. Hamas se moord en ontvoering kan egter nie moreel gelykgestel word aan elke Israeliese optrede sonder onderskeiding nie; elke daad moet afsonderlik aan God se geregtigheid gemeet word.
    Ek sou wel die teologie oor Sion korrigeer. Sion is nie bloot ’n huidige, geestelike of hemelse werklikheid wat die toekomstige aardse betekenis vervang nie. Jerusalem en Sion het ’n werklike plek in God se plan vir Israel, en die Bybelse profesieë sien uit na ’n toekomstige tyd wanneer die Here self in Jerusalem sal woon, vrede sal bring en van daar af oor die nasies sal regeer. Die huidige staat Israel is dus nie die Messiaanse Koninkryk nie, maar Israel se herstel in die land is betekenisvol binne die profetiese raamwerk.
    Uiteindelik is Christus alleen die maatstaf én die enigste Middelaar. Redding is deur geloof alleen in Hom alleen; politieke lojaliteit, etnisiteit of morele prestasie kan niemand voor God regverdig nie. Gelowiges behoort daarom tegelyk Israel se profetiese betekenis te erken, alle onreg te veroordeel en vir die redding van Jode en Palestyne te bid.

  • Hanno Visagie

    Ek sou die skrywe só kortliks korrigeer:
    1. **Die skrywe vermeng die huidige geestelike posisie van gelowiges met die toekomstige aardse koninkryk.** Sion/Jerusalem het wel ’n hemelse dimensie in Hebreërs 12, maar dit beteken nie dat die toekomstige aardse Jerusalem daarmee vervang of reeds gerealiseer is nie. Die Bybelse profetiese verwagting is dat Christus met Sy wederkoms vanuit Jerusalem oor die nasies sal regeer. Jerusalem sal dan die wêreldhoofstad van Christus se regering wees, en die Woord van die Here sal van daar uitgaan.
    2. **Dit skiet tekort deur die toekomstige letterlike herstel van Israel weg te laat.** Israel is nie bloot ’n politieke staat soos enige ander nie. God het aan Israel ’n besondere profetiese bestemming gegee. Die nasie sal in die toekoms tot geloof in Jesus Christus kom en herstel word. Hierdie toekomstige nasionale bekering is nie dieselfde as om elke huidige beleid van Israel goed te keur nie, maar dit beteken wel dat Israel nie eenvoudig deur “Sionisme” of moderne politiek te definieer is nie.
    3. **Die skrywe gebruik die sondes van mense en regerings om die Bybelse betekenis van Sion te verdag te maak.** Dat Jerusalem tans nie die “stad van waarheid” is nie, bewys juis dat die profesie nog nie vervul is nie. Die toekomstige Jerusalem waarvan die profete praat, sal eers onder die Messiaanse regering van Christus die plek wees waar God se waarheid, geregtigheid en vrede heers.
    4. **Die uitspraak dat Sion uiteindelik net ’n ewige, geestelike werklikheid in Christus is, is daarom te eng.** Sion dui in die profesieë ook op ’n werklike plek—Jerusalem—waar Christus fisies oor die aarde sal regeer. Die koninkryk is nie tans reeds geestelik of simbolies gevestig nie; dit sal by Christus se sigbare wederkoms ingestel word.
    5. **Die skrywe se morele besorgdheid oor burgerlike lyding is op sigself belangrik, maar dit word nie voldoende verbind aan die groter profetiese raamwerk nie.** ’n Mens kan enige onreg, wreedheid en misbruik van God se Naam veroordeel sonder om Israel se onherroeplike profetiese rol te ontken. Die Bybel leer tegelyk dat God Israel oordeel én dat Hy Israel uiteindelik herstel.
    6. **Verskeie historiese en politieke bewerings in die skrywe—byvoorbeeld oor die Dawidster, moderne Israeliese beleid, die gebeure by Be’eri en die sogenaamde Hannibal-leerstuk—kan ek nie op grond van die beskikbare materiaal verifieer nie.** Ek sou dus nie daardie besonderhede as bewese gevolgtrekkings aanvaar sonder verdere betroubare dokumentasie nie.
    My kernbeswaar is dus: die skrywe is sterk in sy oproep tot selfondersoek en geregtigheid, maar dit skiet profeties tekort deur Sion hoofsaaklik te vergeestelik en Israel se toekomstige nasionale herstel en Jerusalem se letterlike Messiaanse heerskappy nie voldoende in berekening te bring nie. https://www.askandy.andywoodsministries.org/chat

  • Cornelius Henn

    Hanno, dankie vir die kommentare.

    Ons stem minstens hier en daar saam. Geen staat mag God as dekmantel vir moord misbruik nie. 7 Oktober was slagting. Christus alleen is Middelaar. Politiek red niemand voor God nie.

    Daarna plaas jy die evangelie op die agterstoel.

    Jou eerste antwoord is Ask Andy: ’n Amerikaanse kletsbot wat dr. Andy Woods se preke slim laat lyk. Woods preek ’n stelsel waarin die moderne staat Israel ’n vaste plek in die eindtyd het. Jy plak daardie uitset as korreksie. Jy skryf nie self nie. Op LitNet, onder ’n brief oor Sion, is dit lui. Van wanneer af behoort die kansel aan ’n vreemde prediker se bot?

    My punt is eenvoudig. Sion is nie ’n wit-en-blou vlag met ’n sespuntster nie. Sion is die plek waar God woon. In die Nuwe Testament staan die Lam daar. Hebreërs sê gelowiges hét al gekom by die berg Sion, die hemelse Jerusalem. Openbaring sit die Lam op die berg. Hy is die maatstaf. Nie ’n moderne staat nie. Nie Likud nie. Nie ’n Sioniste-vaandel langs die kansel nie.

    Sionisme is iets anders. Dit is ’n moderne politieke projek. Die vlag is daardie projek se teken. Wolffsohn het dit in 1897 vir die Sionistiese Kongres laat maak. Dit is geskiedenis. ’n Volk is nie ’n projek nie. Jode is nie Sionisme nie. Jesus was ’n Jood. Die evangelie is vir Jood en Palestyn. Daarom hoort daardie vlag nie langs die preekstoel nie. Wie dit daar sit, preek twee dinge tegelyk. Niemand dien twee Here nie.

    Jy sê die brief vergeestelik Sion. Nee. Die brief weier om die Lam te verruil vir ’n aardse program — Sionisme. Jy sê self: die huidige staat is nie die Messiaanse koninkryk nie. Dan kan daardie vlag ook nie die prediking se seël wees nie. Profesie oor môre gee geen heiligheid aan die gruwel van vandag nie.

    Jou punt 5 maak die ruil oop. Burgerlike lyding is “belangrik”, sê jy, maar nie genoeg verbind aan die groter profetiese raamwerk nie. Daardie “maar” skuif die dooies agter jou tydlyn. Die kibboets. Die fees. Die kinders onder puin. Die Lam meet jou doen en late vandag. Die kaart van die eindtyd staan laaste.

    7 Oktober was nie die eerste bloed nie. Wie die verhaal dáár oopmaak, gee Hamas ’n nuwe Genesis.

    In 1948, met die stigting van die staat, is honderde duisende Palestyne verdryf of op die vlug. Dorpe is van die kaart af. Dit staan in bloed bekend as die Nakba: die ramp.

    Op 16 Maart 2003, in Rafah, het Rachel Corrie — 23, Amerikaner, oranje baadjie — voor ’n pantser-stootskraper gekniel om ’n Palestynse huis te keer. Getuies sê die drywer het haar gesien. Niks het die sig versper nie. Die lem het grond oor haar geskuif. Sy is verbrysel. Israel het dit ’n ongeluk genoem. Die stootskrapers het nie in 2003 begin nie, en hulle het nie daar gestop nie. Corrie is een liggaam onder die lem.

    Dan die pagers. Plofstof word in die toestelle gesit voordat hulle Libanon bereik. Op 17 September 2024, omstreeks halfvier die middag, ontplof hulle gelyk — in sakke, winkels, huise, motors, oor Libanon tot in Sirië. ’n Kind sterf. Duisende word gewond. Oë. Hande. Die volgende dag ontplof walkie-talkies, party naby die begrafnisse van die eerste slagoffers. Tientalle dood oor twee dae, onder wie kinders. Meer as drieduisend gewond. Israel het die operasie later erken.

    Donderdag 24 September, op die VN-verhoog in New York, hou Benjamin Netanyahu ’n pager op. Delegasies stap uit. Hy spog: “Onthou julle die beepers?” Geen medelye nie. Spog. ’n Kind se wond as trofee voor die nasies.

    In November 2024 het die hof in Den Haag lasbriewe uitgereik teen Netanyahu en Yoav Gallant oor beweerde oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom in Gaza, onder meer uithongering as metode van oorlog. Israel misken die hof. Die lasbrief staan egter. Dit is die rekord van die opvolg op 7 Oktober.

    Jy sê jy kan die Dawidster, Be’eri en die Hannibal-leerstuk nie verifieer nie.

    Hanno, die vlag se moderne geboorte staan in gewone geskiedenis. Be’eri se huis is deur Israeliese oorlewendes en Israeliese koerante berig: ’n tenk het op ’n huis met gyselaars gevuur. Hannibal is in Israeliese media self oor 7 Oktober oopgeskryf. Betwis die besonderhede. Jou bot is gewas om één agenda te dien. Dis ’n filter. Nie ’n weerlegging nie.

    Ek preek nie vir ’n volk se vlag nie. Nie ’n Joodse nie. Nie ’n Arabiese nie. Ek deel die Lam.

    Nes Greta Thunberg en Roger Waters beskou ek ook die beleg as onwettig en onmenslik. Greta het op ’n boot met hulpvaart Gaza toe gegaan. Israel het die vloot onwettig onderskep. Hul punt is nie teologie nie. Dit is dat die wêreld buite Ask Andy, jou bot, die sluiting ook sien: die hartseer begin nie op 7 Oktober nie.

    Hoe staan ’n mens wanneer die kwaad só lyk — Satanies, sou party sê — sonder om self die kansel te laster?

    Die Bybel gee eerste rigting. Paulus sê die stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die magte van die duisternis. Die mens bly beeld van God, ook as die beeld stukkend is. Jy haat die euwel. Jy maak van die sondaar nie ’n ding wat verpletter mag word nie. Jesus was nie sag teen skynheiligheid en uitbuiting nie. Hy het die tempel skoongemaak. Hy het die leiers in Matteus 23 by die naam gevat. Noem die daad. Versag dit nie. Staan tussen die dader en die weerlose. Soek geregtigheid. Hou mense aanspreeklik. Laat die wraak aan God. Die Psalms gee die harde gebede: breek die plan, stop die skade, bring die oordeel. En dan die bevel: bid vir die vyand se bekering. Nie omdat jy hom moet vertrou nie. Omdat bekering die euwel self breek. Moenie deur die kwaad oorwin word nie. Oorwin die kwaad deur die goeie.

    Die Stoïsyne gee die dag. Wat joune is, en wat nie. Hul wreedheid is nie joune om te bestuur nie. Jou oordeel en jou antwoord is. Marcus Aurelius, wat verraad en oorlog van naby gesien het, kyk na die kwaaddoener soos na ’n blinde: sy kompas is stukkend; hy het die lelike vir mooi aangesien. Die binnevesting bly joune. As hul daad jou vrede steel, jou haat laat vreet, of jou maatstaf laat sak, het hulle jou gekry. Die beste wraak is om nie soos die dader te word nie. Geregtigheid is ’n deug, nie ’n bui nie. Seneca noem woede tydelike waansin. Woede maak jou nutteloos. Elke oggend het Marcus homself gewapen: ek sal die ondankbare, die arrogante, die bedrieër, die jaloerse teëkom. Hulle doen dit uit onkunde. Niemand sit die lelike op my vas nie. Ek hoef nie my naaste te haat nie.

    Christus red die siel. Die Stoïsyn hou die dag. Albei weier dieselfde strik: om in die modder saam te skree totdat jy die vlag ook heilig maak.

    As Sion toevlug vir die weerlose moes wees, en die Naam word gebruik om Netanyahu se mag te seën — die Nakba, die stootskraper oor Corrie, die pager in die sak, die pager op die VN-verhoog — hoe verskil hierdie toevlug nog van enige ander mag?

    Hanno, gaan vra vir Jesus. Nie vir ’n bot nie.

  • Cornelius Henn

    Verder in my reaksie op Hanno Visagie hierbo, wil ek graag o0k uitgewys hoe gevaarlik dit is om ’n teologiese en morele debat oor die lewens van duisende Palestyne en Jode aan ’n Amerikaanse kletsbot, Ask Andy, uit te kontrakteer.

    Hanno het aan my die versekering gegee dat hy sekere feite – soos die Hannibal-leerstuk en die Israeliese tenkvuur by kibboets Be’eri op 7 Oktober – verwerp, bloot omdat sy beskikbare materiaal dit nie kan verifieer nie. Daardie materiaal is in werklikheid sy bot en sy inligtingsborrel.

    Die feite wat sy bot glo nie ken nie, staan egter reeds lankal opgeteken. Die misbruik van stelsels soos die Lavender-stelsel om teikens in Gasa te kies, is ook deur publikasies soos +972 Magazine, The Guardian en El País onthul.

    Die Hannibal-leerstuk se toepassing is deeglik in Haaretz berig. Hanno hoef dus geen obskure bronne te gelees het om dit te vind nie. Om hierdie feite te ontken bloot omdat sy preekargief swyg, ontbloot ’n veel dieper krisis.

    Ons glo dikwels dat Kunsmatige Intelligensie ’n neutrale biblioteek van inligting is. Dit is nie. Dit is ’n slagveld, en die waarheid wat dit uitspoeg, is goedkoop.

    Onlangse onthullings wat deur die Amerikaanse FARA-wetgewing aan die lig gekom het, wys presies hoe die breër internet gemanipuleer word. FARA-dokumente onthul dat die PR-firma Clock Tower X, besit deur Brad Parscale, amptelik geregistreer is as ’n buitelandse agent vir die staat Israel via Havas Media Germany.

    Die syfers in die ooreenkoms, wat gestrek het van ’n aanvanklike anderhalfmiljoen dollar per maand tot ’n latere kontrak van nege miljoen dollar, vertel ’n storie van meganiese manipulasie.

    Die kontrak behels onder meer honderd oorspronklike stukke inhoud per maand, met die teiken van vyftig miljoen digitale indrukke wat veral op Generasie Z gemik is.

    Die mees ontstellende detail van daardie FARA-kontrak is die uitdruklike opdrag om webwerwe en inhoud te skep wat ontwerp is om GPT framing results in AI conversations te produseer.

    Hanno se Ask Andy-bot soek weliswaar spesifiek deur dr. Andy Woods se preke, gewortel in ’n negentiende-eeuse dispensasionalisme. Ask Andy word nie direk deur Parscale gevoer nie, maar Clock Tower X is die oseaan waarin gewone kletsbotte swem. Die een masjien stoot staatspropaganda in die breë stelsel in om kletsbotte te raam, en die ander masjien trek ’n geslote teologie bymekaar wat lyding ignoreer.

    'n Ontmoeting van ou teologie met nuwe kunsmatige raamwerke en ’n lui metode skep ’n omgewing waar masjiene uiteindelik die waarheid uitdeel.

    Die diepste ooreenkoms tussen hierdie stelsels lê in die verwydering van die gewete. In ’n oorlog gebruik Israel KI-algoritmes soos Lavender en Gospel om teikens aan te wys, wat die hart, die gewete en menslike oordeel uit die vertrek haal.

    Wanneer Hanno ’n bot gebruik om teologiese antwoorde te genereer en dit as ’n korreksie aan die kerk voor te hou, tree hy op uit dieselfde gees. Hy gooi die inligting in die masjien, en die masjien spoeg ’n koue regverdiging uit wat menswaardigheid uitskakel. Om Christus se liggaam op hierdie manier te vertel hoe om oor lewe en dood te dink, is geestelike manipulasie.

    Die tegnologie plaas bowenal ’n genadelose muur tussen die waarnemer en die pyn. Die weermag is lief vir hommeltuie want dit hou die soldaat veilig weg van die slagoffer se geskreeu.

    Hanno se kletsbot doen presies dieselfde met sy teologie. Dit hou die realiteit van Rachel Corrie se verbryselde liggaam onder ’n stootskraper, of die kinders wat deur ontploffende pagers vermink is, op ’n virtuele afstand. Enige bot wat geprogrammeer is om lyding binne ’n spesifieke raamwerk te hou, ontleed nie bloed of trane nie, dit ontleed net teks. Hanno hoef nie die pyn van die mense op die grond te voel as die algoritme namens hom praat en alles netjies toedraai nie.

    In die Bybel word die profeet geroep om te sien, te ween soos Jeremia en onverskrokke deur die Gees te praat.

    Wat Hanno hier inbring, is ’n outomatiese profeet. Om die leiding van die Heilige Gees vir ’n algoritme te verruil wanneer daar oor Sion en Gasa gepraat word, is die absolute toppunt van geestelike bankrotskap. Hanno vra ons om burgerlike lyding slegs binne ’n groter profetiese raamwerk te verstaan. Wat hy egter werklik doen, is om daardie lyding in ’n kunsmatige GPT-raamwerk in te dwing. Hy speel die koue berekening van ons tyd mee sonder om dit noodwendig self raak te sien.

    Jesus het die geldwisselaars met ’n sweep uit die tempel gedryf omdat hulle die huis van gebed in ’n rowerspelonk verander het. Vandag word die waarheid op ’n nuwe manier verhandel waar die kansel deur die algoritme gekaap word.

    Diegene wat weier om onreg by die naam te noem en die dooies agter ’n eindtydskedule versteek, is pionne in ’n inligtingsoorlog.

    Die evangelie bly egter vlees en bloed. Sion is waar God in geregtigheid en vrede woon, nie ’n teologiese abstraksie nie. Gooi die algoritme eenkant. Skakel die bot af. En kom staan met jou eie gewete voor die Lam.

  • Cornelius. Oom Daan hier — uit die ou Melt/SêNet-dae. Hoop dit gaan goed. Ek kan Waiheke amper sien vanaf my huis en was verbaas om te sien jy swerf hier rond.

  • Hanno Visagie

    Beste Cornelius, dankie vir jou antwoorde. Teoloog dr Andy Woods van Texas se KI-assistent AskAndy antwoord kortliks soos volg:- Dankie vir jou besorgdheid oor menslike lyding en die invloed van KI. Ek stem saam dat geen bot die Skrif, gewete of persoonlike verantwoordelikheid kan vervang nie. Maar om Israel se toekomstige plek in God se plan te erken, beteken nie dat ek enige regering se beleid heilig verklaar of onreg verskoon nie. Ek kan die beweerde dade afsonderlik beoordeel; dit verander nie God se beloftes aan Israel nie. Sion is nie ’n vlag nie, maar Jerusalem se toekomstige rol onder Christus moet ook nie tot ’n blote geestelike beeld verskraal word nie. Christus sal met sy wederkoms sy aardse koninkryk vestig en vanuit Jerusalem regeer.
    Relevant Scriptures include:
    • Isaiah 2:3-4 (NASB-1995): "And many peoples will come and say, "Come, let us go up to the mountain of the LORD, To the house of the God of Jacob; That He may teach us concerning His ways And that we may walk in His paths." For the law will go forth from Zion And the word of the LORD from Jerusalem. And He will judge between the nations, And will render decisions for many peoples; And they will hammer their swords into plowshares and their spears into pruning hooks. Nation will not lift up sword against nation, And never again will they learn war."
    • Zechariah 8:3 (NASB-1995): ""Thus says the LORD, 'I will return to Zion and will dwell in the midst of Jerusalem. Then Jerusalem will be called the City of Truth, and the mountain of the LORD of hosts [will be called] the Holy Mountain.'"
    • Revelation 20:4-6 (NASB-1995): "Then I saw thrones, and they sat on them, and judgment was given to them. And I [saw] the souls of those who had been beheaded because of their testimony of Jesus and because of the word of God, and those who had not worshiped the beast or his image, and had not received the mark on their forehead and on their hand; and they came to life and reigned with Christ for a thousand years. The rest of the dead did not come to life until the thousand years were completed. This is the first resurrection. Blessed and holy is the one who has a part in the first resurrection; over these the second death has no power, but they will be priests of God and of Christ and will reign with Him for a thousand years." - https://www.askandy.andywoodsministries.org/chat

  • Cornelius Henn

    Hallo Oom Daan, gaaf om jou weer raak te lees.

    Dit gaan goed. Twee Afrikaners oor dieselfde water. Dit help om te weet ons staan nie alleen nie, so ver van Afrika.

    As jy by Waiheke verbykyk tot by die verste punt van die Great Barrier op die horison vandag, is dit ek wat daar op anker lê. Die storm woed die afgelope paar dae hier deur.

    Die anker hou.

    Groete onder die Suiderkruis aan jou ook ou vriend.

  • Cornelius Henn

    Hallo Hanno,

    Jy haal Ask Andy so aan: “Sion is nie ’n vlag nie, maar Jerusalem se toekomstige rol onder Christus moet ook nie tot ’n blote geestelike beeld verskraal word nie. Christus sal met sy wederkoms sy aardse koninkryk vestig en vanuit Jerusalem regeer.”

    Ek lees die sin letterlik, en ek stem daarmee saam.

    Sion is nie ’n vlag nie. Jerusalem se toekomstige rol mag nie tot ’n blote geestelike beeld verskraal word nie. Christus sal by sy wederkoms sy aardse koninkryk vestig en vanuit Jerusalem regeer. Die berg bly in die verhaal. Die stad bly in die verhaal. Sagaria word nie deur Hebreërs 12 weggevee nie. Hebreërs sê ons het al gekom by die hemelse berg. Die profete sê Hy kom nog na die aardse stad. Albei staan. Ek kort nie die een om die ander te wen nie.

    Juis daarom is die huidige staat nie daardie koninkryk nie.

    As die koninkryk eers by die wederkoms gevestig word, is dit nog nie gevestig nie. Wat nog nie gevestig is nie, word nie vandag deur ’n kabinet, ’n diens of ’n beweging voorberei asof die voorbereiding self die koms is nie. Die agent van daardie dag is Hy. Sagaria 14: Hy gaan uit, sy voete staan op die Olyfberg, Hy word koning oor die hele aarde. Jesaja 2: die woord gaan van Jerusalem uit, en nasies leer nie meer oorlog nie. Handelinge 1: die dissipels vra of Hy nou die koninkryk vir Israel herstel, en Hy sê die tyd is nie hulle s’n om te ken nie. Die daad sit by sy koms. Nie by ’n kongres, nie by ’n koalisie, nie by ’n intelligensiediens nie.

    Ek sê nie die stad word eers by die basuin geskep nie. Die letterlike lesing sê Hy kom na ’n stad wat daar is, en maak dit die setel.

    Gevestig. Herstel. Geregeer vanuit. Dit is Jesus ons Here se almag. Dit is nie ’n beleid wat al vooruit loop en die Naam vat vir wat nog moet kom nie.

    In jou vroeëre aanhaling uit dieselfde bron staan ook: “Die huidige staat Israel is dus nie die Messiaanse Koninkryk nie, maar Israel se herstel in die land is betekenisvol binne die profetiese raamwerk.”

    Ek hoef daardie herstel nie hier te beslis om die volgende te sê nie. Selfs as die herstel in die verhaal hoort, heilig die verhaal nie die bloedige kabinet nie.

    ’n Beweging wat ’n volk in ’n vyandige streek probeer laat oorleef, doen staatswerk. Dit doen nie wederkomswerk nie.

    Politieke Sionisme staan nie vandag in Christus se plek om Jerusalem vir Hom voor te berei nie. Om die huidige beleid aan daardie belofte te heg, is om die koms te vervroeg en die Naam aan ’n regering te leen. Die belofte bly. Die lening bly verbode.

    Ek skryf dit nie om ’n politieke argument te wen nie.

    Psalm 139 vra dat God my hart ondersoek. As “deurgrond my” hier “deurgrond hom” word, is die res Matteus 23: die Skrif ken, die vinger wys, self niks dra nie. Ek ken die versoeking in my eie sinne. Die weg waarop ek ’n kind optel om myself te beskerm. Die weg waarop ek ’n man se siel vonnis en dit profeties noem. Die weg waarop ek die Naam as skild oor ’n regering trek. Die weg waarop ek ’n toekomstige troon gebruik om vandag se kant te seën.

    Deurgrond dít -

    Die Jerusalem waarvan die profete praat, kry sy koning wanneer die Koning kom. Tot dan is ’n vlag ’n vlag, ’n diens ’n diens, en ’n belofte ’n belofte. Om die drie een te maak, is om die wederkoms te vervang met ’n beleid. Jode is nie Sionisme nie. ’n Volk is nie ’n projek nie. Wie die volk tot kabaal maak, dien ’n ander god. Wie die staat tot verbond maak, dien twee here.

    Bid vir die stad, nie vir die kabinet nie. Hou die staat aanspreeklik soos die profete Jerusalem gehou het. Laat die wraak by God.

    Nie hulle eindtydkaart nie. Nie hulle manifes nie.

    My.

    Mag Jesus Christus, die Lam van Sion, ons almal genadig wees.

  • Cornelius Henn

    Dis 7 Oktober.

    Nie ’n Genesis vir wat daarna kom nie.

    Nie ’n voetnota oor wat vroeër gebeur het nie.

    Net hierdie oggend.

    Deurgrond my, o God, en ken my hart. Toets my en ken my gedagtes. Kyk of daar by my ’n weg is van smart, en lei my op die ewige weg.

    Anders word elke sin hieronder weer ’n vlag.

    Balk in die oog. Ek ken die versoeking in my eie sinne.

    Deurgrond dít.

    Wie “Sion” sê, sê God is hier.

    Psalm 132: hier wil Ek woon, want Ek het dit begeer. Psalm 2: My heilige berg. Psalm 48: vreugde van die hele aarde, stad van die groot Koning.

    Die Here kies Sion nie omdat die rots beter is as Hermon nie. Hy sit Sy Naam daar.

    Daarom meet die profete Jerusalem harder as Tirus. Amos staan in die heiligdom en sê die fees is geraas as die geregtigheid opdroog. Jesaja sê die hande is vol bloed terwyl die lippe nog offer. Jeremia staan by die tempelpoort en sê: moenie dink “die tempel van die Here” sal julle red terwyl julle die wees, die weduwee en die vreemdeling verpletter nie. Miga vra wat die Here eis — nie meer ramme nie: reg doen, goedheid liefhê, nederig wandel.

    Sion was toevlug vir die weerlose. As die Naam die lyding van kinders aan enige kant regverdig, is hierdie toevlug net nog ’n hel.

    ’n Volk is nie ’n projek nie. Jode is nie Sionisme nie. Jesus was ’n Jood. Die apostels was Jode. Die beloftes is eers aan hulle toevertrou.

    Wie die Joodse volk tot kabaal maak, dien ’n ander god.

    Wie die staat tot verbond maak en die Dawidster op die kansel plant, dien twee here.

    7 Oktober 2023 was moord. Die bloed van daardie oggend heilig niks daarna nie.

    Nie ’n kind wat versmoor onder die puin van Jabalia of bloei in die strate van Rafah nie.

    Nie die afsny van brood en water as ’n strategie van hongersnood nie.

    Die bloed van die een kant is nie ’n blanko tjek vir die ander nie.

    Wat dan van die profesie?

    Hebreërs 12 praat nie in die toekomende tyd nie. “Julle hét gekom by die berg Sion, en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem.”

    Die gemeente staan al reeds by die berg. In Openbaring 14 sit die Lam reeds dáár, met die vrygekooptes, midde-in die oordeel.

    Sagaria is nie daarmee weggevee nie.

    Die Here kan nog doen wat Hy belowe het. Jerusalem bly in die verhaal. Die huidige staat is nie die Messiaanse koninkryk nie. ’n Vlag is nie die verbond nie. Die Knesset is nie Dawid nie. Profesie oor môre heilig nie vandag se gruwel nie. Die Lam meet nou. Die eindtyd staan laaste.

    Wat staan dan?

    Die swakke word beskerm.

    Die vreemdeling word nie verpletter nie.

    Die kind se bloed word nie ingevorder as prys van jou redding, jou veiligheid, jou bevryding of jou verbond nie.

    Dit geld vir die kibboets.

    Dit geld vir Rafah.

    Bid vir Jerusalem. Bedoel die stad: die ou klip, die bus, die weduwee, die kind — nie ’n kabinet, nie ’n lobby, nie ’n koalisie nie.

    Bid vir Gaza. Die mense: die ma, die pa, die verminkte kind — nie ’n faksie, nie ’n handves nie.

    Hou die staat aanspreeklik soos die profete Jerusalem gehou het.

    Hou Hamas aanspreeklik soos dieselfde profete die nasies gehou het.

    Staan tussen die aanvaller en die weerlose.

    Noem die daad.

    Tel al die dooies.

    Laat die wraak by God.

    Die middeweg is nie ’n rusplek nie. Wie “geen kant” kies, het nie tussen hulle gaan staan nie. Hy het opsy gestaan. Weggekyk.

    Geen ster of vlag langs die preekstoel.

    Geen kind as slagspreuk nie.

    Geen rekenaarbot wat die bedelingsleer en dispensasionalisme vir jou uitspoeg en dit dan “Woord” noem nie.

    Geen hofuitspraak as gewete.

    Geen manifes as profetiese amp.

    Geen toer as heiligmaking.

    Hierdie luie sinne is die sonde wat Psalm 139 moet ontbloot:

    “dus Israel.”

    “dus Gaza.”

    “dus ons is ook Israel.”

    “dus apartheid.”

    “dus Amalek.”

    Elkeen van daardie sinne slaan die hart toe en plant ’n vlag waar ’n gebed moes wees.

    Ons glo dat die Koning sal kom.

    Die Skrif leer ons van ’n koninkryk wat reeds aangekondig is en nou soos ’n saad groei, en wat eers met Sy wederkoms in volheid gevestig word. Daardie volheid is nog nie hier nie. Geen moderne kabinet — nie Israel se Knesset nie, en geen ander parlement nie — dra daarom die mandaat van die komende Koning nie.

    Sionisme is ’n hedendaagse politieke beweging vir Joodse selfbeskikking in ’n historiese tuisland. Dit is nie ’n teken dat die Messiaanse ryk nou aangebreek het nie.

    Die gelykenis van die tien maagde sê hoe ons wag. Die Bruidegom talm. Al tien raak aan die slaap.

    Middernag kom die roep, en net dié met olie in die lamp is gereed. Die deur gaan toe vir wie te laat olie gaan soek het.

    Waaksaamheid is nie ’n vlag opsteek of ’n kabinet se mandaat uitroep nie. Dit is nie die skree van leuses op plein of podium terwyl jy weier om die ander se lyding te sien nie.

    Olie in die lamp is die stil weiering om jou menslikheid op ’n ideologiese altaar te offer. Dit is die traan vir die kibboets én die traan vir die skool in Rafah.

    Terwyl ons vir die Bruidegom wag, is die mandaat Syne. Geen vlag, geen kabinet en geen ideologie kan dit voor die tyd opeis nie.

    En die Gees en die bruid sê: Kom. Laat hy wat dorstig is, kom; en laat elkeen wat wil, die water van die lewe neem, verniet.

    Dit geld vir die Joodse ma in haar skuilkelder. Dit geld ook vir elke hart in Gaza.

    ’n Uitnodiging na Sion, die stad van die Bruidegom, waar die deur nog oop is vir wie vashou aan liefde en geregtigheid as die lig in die donker.

    Die Een wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen. Kom, Here Jesus.

    Mag Jesus Christus, die Bruidegom, die Lam van Sion, ons almal genadig wees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top