Sinkhuisie weer eens

  • 0

Sinkhuisie kom hier in en ek vra hom oor die huis en hy beduie wat ek eintlik reeds weet: Die ou sinkhuisie is toe verkoop. Ou Mevrou R is al naby aan die annerkant en haar kinders het ryk genoeg geerf en die kleinkinders stel nie belang in hierdie klein huisie met die lang geskiedenis en die sinkplate wat nou stadig en tydig van onder af oproes nie. Want hier innie Brak kom die koue en klamheid en die kanker wat dit bring mos van onner af.

Ek gesels annerdag met Oom Ryk Kerneels en hy beduie vir my dat "Ou tant Rosie se huisie se sinkplate nog doerie tyd uit Ingeland ingebring is." Want hulle het mos nie daai jare hier plaaslik die masjiene gehad om die sinkplate te buig nie. Ek vra hom wanneer die ou huis dan gebou is en hy weet nie, want hy het hom ook maar hier kom kry. Met Ant Rosie in. Beduie vir my oor hoe Ant Rosie haar kinders donker oggend met die donkiekar skool toe karwei het. Want geleerdheid was mos soort van alles. Hennerie is nou ook al lankal onder die kluite en die ander klogoete is versprei oor die land. Die een is nou blykbaar 'n predikant, NG predikant iewers en die ander slaan groot kitare. Of so hoor hy. Ek beduie vir hom lat die sinkhuisie nou platgeslaan gaan word om plek te maak vir 'n swembad vir verveelde Gautengers met duur karre en hy beduie vir my oor hoe hy sukkel om sinkplate te kry vir die ou Gerickes se plaashuis, want "hulle buig nie die goed selfs vandag nog vir 'n stoep nie."

Ek vra vir Sinkhuisie waar hy dan nou gaan heen en hy beduie vir my dat hy nou klaar is. Sy seun het mos die Lotto geslaan destyds en sit in 'n kasarm iewers doer innie noorde. Dogter is doenig met 'n skatryk oujongkerel wat haar hart se begeertes voldoen en hy is nie regtig lus om terug te karring na oorle vrou se familie nie. Gauteng is nie meer die plek vir 'n mens nie. Hy vra of ek die Stihl wil oorvat want hy is nou ook klaar met die hout en hy gaan maar die sweismasjien en grinders en goeters ook wegmaak want hy het toe plek gekry in 'n soort van ouetehuisie. Selfsorg besigheid waar jy 'n huis huur saam met 'n spul ander en darem 'n ete per dag kry en 'n nurse wat omkom.

"Ja maar jy is mos nog jonk en jy jeuk mos nog daar waar dit saakmaak, oompie?"

"Noudie dag toe ek en S na die plekkie loop kyk het het een van die dametjies wat daar woon my heel vriendelik verwelkom asof ek al klaar daar bly. Sy is wel al diep in haar 70's maar sy glimlag mooi." en ek sien hy is nog vol planne. Hy beduie vir my dat hy nou moet begin plan sien voor hy iemand anders se probleem raak. "Want jy weet mos die ou vrou le hier bo en jy het darem my graf klaargemaak. Mens kom mos maar kaalgat hier in en wat help dit jy sit met 'n spul goed wat tog nie daar onner kan in nie."

"Ons het hom net ses voet diep gemaak oompie, so as jy goeters wil saamvat moet jy my nou se lat ons kan oopmaak en dieper uirbou"

"Hy is diep genoeg"

Ek bekyk hom so met die wegstap en ek weet die dag as hy uit daai sinkhuisie gaan uittrek inderdaad nog 'n era tot 'n einde gaan kom. Want dis al waarvoor die slopers nog staan en wag. Vreemd hoe hierdie sinkhuisie hier annerkant onwetend soveel geheimenisse kan ronddra. Hoe die geslagte se doen en late elke keer met 'n laag dik verf toegemaak en oor begin is en hoe die sink uit verre Ingeland nog steeds 'n dak en nog wat verskaf.

Ek vra vir Nelson hoe hy voel oor Sinkhuisie wat nou moet ouetehuis toe en Nelson beduie dat dit hoog tyd is want die ou pla altyd waar dit nie nodig is nie en lok mos sy vrou weg. Dis net jammer oor die huis.

 oester

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top