...
Ek lees veel eerder ’n resensie soos hierdie as ene waarin die lof oorvloedig is, uitgebulder in voos taal.
...
In hierdie dae van sente omdraai en tandknersend glimlag kom ek op ’n klomp gedenkwaardige resensies af. Die een is deur die Kaapse joernalis Ilza Roggeband geskryf, en die ander deur wyle Martin Amis.
Die betrokke resensies het my aandag getrek omdat hulle so eerlik reguit is. Daar is geen kans dat mens te make gaan kry met daardie gevoel wat jy so dikwels by die lees van resensies kry nie, naamlik dat die resensent besig is om woorde en sinne op te stapel sodat hulle die opdraglengte kan haal.
Ek begin by Martin Amis. Onlangs oorlede, skielik deur dese en gene gedenk as dwarstrekker-romanskrywer wat tussen 1973 en 2020 ’n klompie wonderlike en ’n vraggie skiwwerige romans gepubliseer het. Hy was ook ’n – voel ek nou – skitterende resensent van boeke.
...
Wat my die meeste van Amis se resensies opval, is hoe hy slaags raak met en betrokke raak by sowel boek as skrywer.
...
Die New York Times het in die afgelope week ’n klompie van daardie resensies uit hul argief gaan haal, en ek plaas die skakels na die drie vir my lesers se genot:
- Resensie van Don DeLillo se Underworld (5 Oktober 1997):
- Resensie van Elmore Leonard se Riding the rap (14 Mei 1995):
- Resensie van Richard Rhodes se Making love (30 Augustus 1992):
Wat my die meeste van Amis se resensies opval, is hoe hy slaags raak met en betrokke raak by sowel boek as skrywer. Sy beoordeling van DeLillo en Leonard is net so deeglik as sy evaluering van Rhodes. Daar is respek en bewondering vir die eerste twee, en simpatie minus respek vir Rhodes.
Ek het destyds gedink Amis het Underworld nie hoog genoeg aangeslaan nie. Maar ek was toe versot op The names, White noise en Libra; vandag besef ek hoe skerp in die kol Amis se resensie was. Hy het DeLillo foutloos geplaas in die rang der smettelose outeurs. Hy het die inhoud ontleed op ’n manier wat vandag steeds ontsagwekkend is, beginnende met die sin “The new novel is Don DeLillo’s wake for the cold war.” Daarna was dit onmoontlik om aan dié roman in enige ander sleutel te dink. Amis is vitterig oor taalgebruik, DeLillo ook. Hierdie resensie is ’n intellektuele bromance met ’n nadraai lank nadat die aktualiteit van DeLillo se lykwaak vervaag het.
Die resensie van Elmore Leonard se Riding the rap gloei. Amis die intellektueel en literêre groot gees skryf oor die soort boek wat nie normaalweg in groot literêre boekeblaaie aandag kry nie. Hy’s dol daaroor, lees dit verskeie male, en sy formulerings grens aan stratosferies briljant: “Mr Leonard is as American as jazz, and jazz is in origin a naive form. Yet Mr. Leonard is no Louis Armstrong. He can do melody, but he is also as harshly sophisticated as late Coleman Hawkins … They are not lost souls or dead souls. Terrible and pitiable (and often downright endearing), they are simply junk souls: quarter-pounders, with cheese.”
Terwyl hy oor die inhoud skryf, is hy ook besig met iets anders. Amis is uiteraard gefassineer deur die styl wat Elmore Leonard gebruik om vaart en spanning te skep. Hy sien raak presies wat dit is. Van daar word die resensie ook deels pastiche, kry hy ons “in the mood”. Met ’n skrywer se oog vir besonderhede.
Leonard en Amis was lewenslange kampvegters teen die dwingelandy van die cliché. Ek kan my verbeel dat Amis Riding the rap gelees het, potlood in die hand, en aan die einde saam trots was dat hy nie een keer ’n cliché gevind het om te onderstreep nie.
Die resensie van Richard Rhodes se Making love is ’n classic, as julle my die woord sal verskoon. Ek het Martin Amis nog altyd gesien as ’n manlike chauvinis van die manqué soort. Ek is bevrees ek was verkeerd – geen male chauve kan só oor seks-in-boeke skryf nie.
In wese sien Amis Making love as ’n verleentheid vir alle betrokkenes: die skrywer, sy uitgewer en die viriele mensdom. Wat gou duidelik word, is dat hy al baie gedagtetyd spandeer het aan hierdie onderwerp. Parallel met die ontleding van Rhodes se absurde opvattings gee Amis ’n besonder knap opgaaf van die onbeholpe manier waarop die mens sy seksuele belewenis aan ander oordra.
Die resensent is nie preuts nie. Sy verwysings is dikwels besonder gewaag. En hoe verder jy in die resensie lees, hoe duideliker kom die boodskap oor dat Richard Rhodes geen Fingerspitzengefühl het vir skryf oor seks nie. Ek sal wát gee om te weet hoe Rhodes hiéroor gevoel het: “In real life, sex demotes individuality, leaving us only with the usual sorry quiddity of various personal fetishes and taboos. What Mr Rhodes gives us, in any event, is a cataract of embarrassment. Making love is a hot book, right enough; but the heat is all in the armpits.”
Ek vermoed, eienaardig genoeg, dat Rhodes trots was om só ’n resensie te ontvang. Mense wat graag oor hul seksuele lewe skryf, is tevrede met enige aandag.
...
Die juiste kuns lê in die manier waarop Roggeband haar reaksie verwoord het. Dis nie nodig om taal met spiere in te span nie. Wel taal waarin ’n stil, intieme aanvaarding baie voelbaar is
...
Boeke24 het Ilza Roggeband gevra om Madelein Rust se Van vrees na vrede te bespreek. Dit was ’n begeesterde keuse om ’n resensent te kry wat haar in dieselfde bootjie as die skrywer bevind. Soos Roggeband dit stel: “By al twee van ons is borskanker gediagnoseer en al twee van ons se kanker het besluit hulle gaan nog ’n ander lêplek soek.” En: “Treatable, not curable, soos die dokters sê.”
Roggeband het met ’n uitdaging gesit wat baie ongemaklik is om te hanteer. Hoe bly mens objektief oor iets waarmee jy so sterk identifiseer? Asook: Hoe vermy mens die cliché-reaksies op só ’n gegewe?
Haar oplossing was baie vernuftig. Sy skets die aanloop tot haar aanvaarding van die resensie-opdrag. Daarna volg haar reaksie op Rust se verhaal – onopgesmuk, met die resensent se geskiedenis soms betrek in die reaksie, om die evaluasie te versterk. Rust se boek en die waarde daarvan word deur hierdie aanpak by die leser aanbeveel op ’n manier wat hoogs effektief is. Daar is ’n kritiese afstand, daar is simpatie en meelewing, alles in ’n toonaard ver verwyder van smartlikheid en schmaltz.
Ek lees veel eerder ’n resensie soos hierdie as ene waarin die lof oorvloedig is, uitgebulder in voos taal. Die feit dat dit oor kanker en ’n mens se terminale maande handel, skrik my nie af nie. Roggeband het ná sy die boek gelees het, beslis ingesien dat ’n boek soos dié van Madelein Rust ’n kosbare begeleidingstuk kan word vir mense wat hulle reeds in dieselfde posisie bevind, of saam met iemand leef wat daarin is. Ken van.
Die juiste kuns lê in die manier waarop Roggeband haar reaksie verwoord het. Dis nie nodig om taal met spiere in te span nie. Wel taal waarin ’n stil, intieme aanvaarding baie voelbaar is, en haar afsluiting ’n mens ruk: “Mag die res van jou pad op hierdie aarde sag wees.”

