"Simbiose" deur Michelle Marais

  • 0

Simbiose

aanloop
vingers op ivoor en my hande is bewerig
ek voel-verken die klawers opsoek na ’n ewewig…

kyk, ek weet hierdie is ’n voorreg, ’n seën om uiting te kan gee
aan getoonsette gedagtes – die blote idee sleur my mee
ek wonder soms oor die bestaan, die dae vóór musiek
was lewe net leë beloftes opgedis aan die publiek?
is daar mense wat nog die dag van verligting kan onthou
toe vergifnis begin het summier toe die getwis ophou
en dis nie ’n gegewe nie, die here weet, dis ’n eer
talent versteek onder ’n maatemmer laat middelmatigheid regeer
daai spinnekop-seun getuig with great power comes great responsibility
en ek kniel daagliks en vra dat my wysie nie teleur sal stel nie
na afloop van die erkenning is daar nog ’n spul om te bely
een vers, twee vers, drie en ’n koor voor ek myself kon kry
my gevoelens vermenigvuldig soos boontjies aan ’n rank
en in retrospek moet ek jou vir jou teenwoordigheid bedank
want die realiteit is: musiek is net hol klanke sonder ’n gehoor
en sonder jou hier, word die bedoeling daarvan in ’n hartklop verloor

koor

dis die woorde en die note
klank en melodie
dis ek en dis jy
dis ons liefde hierdie

goed, dis tyd vir rondte twee en ek hoop jy kon begryp
hoe diep hierdie rondomtalie-rym onder my vel in kruip
dis asof ek van geboorte af gekoppel was aan ’n vry vloeimasjien
en ek tot aan die voleinde as slaaf, my verslawing sal dien
ek’s doodseker as jou ore vir jou siel iets kon sê
sou hulle getuig van presies die dinge wat my hart vir jou wil hê
maar die tyd jaag die toekoms en die sandjies loop uit
die lirieke is die lont, my onblusbare passie: die buskruit
hierdie verse, in alle eerlikheid, is ’n lofsang-gebed
wat die stilles en stommes uit die dood kan opwek
ontvanklike, hoor my, dis van belang dat jy moet weet
in jou afwesigheid kan ek van ritmes en soet rympies vergeet
ek kan vir seisoene lank woorde ryg soos pêrels aan ’n string
maar as dit val op dowe ore is dit nutteloos om te sing
want die realiteit is: musiek is net hol klanke sonder ’n gehoor
en sonder jou hier, word die bedoeling daarvan in ’n hartklop verloor

koor

dis die woorde en die note
klank en melodie
dis ek en dis jy
dis ons liefde hierdie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top