
Foto: Canva
Simbaal van die suburbs
ek like die simbaal van die suburbs
met Ma se voetspore nog in die
oggendmis verweef,
en ek destyds in my wiegende wa,
veilig, knus waar sy my
vinnig deur die lies van die park stoot,
sy wat altyd in oortreffende trap was
groen bome oral verspreid
kopknikkende ou eikevaders,
in die somer se vroeë suidoos,
swaeltjiebekke wat klei laai en skep
onder ’n balkon se broekie lace-kêps
en Ma se voetspore in die wind verweef,
waar sy gereeld met haar ACVV-lysie van
deur tot deur vir die armes betuig
ek lê op my rug in die gras,
’n stukkie osmose waar
die vars blou my belek,
die bergskanse wat knie vou
voor die nuwe dag se hartlike strek
en Ma se voetspore soos stuifmeel,
’n mandjie oor haar arm
tot by Mrs Hilterman se deur,
om te sorg vir die siekes keer op keer.
’n blinkoogspreier wat huiwer en spuit,
die posman wat “Jan Pierewiet” fluit,
iewers speel ’n kadetorkes vir volk en afrika,
deur ’n venster rys ’n klavier se weemoedige
pa de da
en Ma se voetspore steeds verweef
tussen die ou vaders wat buk en knik,
haar spore wat in die aandstonde rinkink,
daar waar die black-eyed susans
langs die mooi rivier se wal
vir altyd bly waak en wink


Kommentaar
Ek sien daardie hele prentjie Therese. Jy kry dit so mooi reg om met woorde te skilder. Pragtig!
Thérèse, jou kosbare, ontroerende Simbaal van die suburbs is nou 'n verrykende en onvergeetlike deel van my lewe. Uit my hart dankie daarvoor.
Jy lewer werk waarna digters kan strewe.
My hande kan nouliks wag om eendag 'n bundel van jou styf vas te hou.
Baie dankie, Herman. Ek waardeer jou woorde opreg.
Dankie, vriendin.
Ontroerend. Jy skilder met woorde, Thérèse. Doe so voort.