Sabbat Sjalom.
Vir maande lank kyk ek hoe die een sikloon na die ander oor ons Mosambiekkanaal dans.
Die eerste dame wat so amper aan ons kus hierdie seisoen kom kuier het se naam was Funso. Funso beteken "uniek". Dis eintlik ’n mans naam en seker maar uniek omdat dit aan ’n tropiese sikloon gegee is. Maar wie ookal name aan siklone gee ken miskien Afrika se kultuur nie so goed nie. Nietemin, sy het groot skade aan Mosambiek se kus gebring en minstens twaalf mense se lewens met haar saam geneem. Sy was nommer agt aan ons kant van die aarde hierdie seisoen.
Daarna het Giovanna ook amper vir ons kom kuier. Sy het baie dood en verwoesting onder haar rok oor Madagaskar gesaai ...
Die rede vir my belangstelling in siklone in ons halfrond het eintlik destyds op 31 Januarie 1984 met Demonia begin. Sy het ons paradys aan St Lucia totaal herskep. Die dredger is die see in gespoel, die teerpad op die noordbank na die strand en die hele wal sandsakke met dolosse en al wat die monding vir jare in toom gehou het, het in die vloed wat meters hoog bo seevlak gespoel het verdwyn. Ons het op ’n stadium gedink die "nuwe" brug gaan meegee onder die geweld van Demonia. Visgate is oral opgeslik en nuwe kanale is gevorm. Dit het ’n hele klompie jare daarna geneem om weer lyn op die regte plekke nat te maak.
Net toe ons geliefde St Lucia weer skole vis op die regte plekke bymekaar bring, word 4x4 voertuie (eintlik ten goede) op die strand verban en die grootste droogte in die geskiedenis van hierdie wonderlike wêreld erfenis natuurpark eis sy tol. Die meer se vlakke bereik rekord laagtes ten spyte van al die plantasies wat op die oewers uitgekap word. Die Jolly Roger land iewers op sand en om besoedeling te keer word die monding "tydelik" toe geskraap. Die monding waai finaal toe en dis jare wat die dorp net deur "groen" toeriste besoek word. Menige bloedige debat word op die dorp geveg om die monding weer kunsmatig oop te maak omdat die owerheid dit kunsmatig toe geskraap het.
Vergeefs ...
Na jare, Maart 2007 breek die sikloon Gamede se hoë golwe die monding oop. Mkuze kamp word oopgestel en vir ’n oomblik lyk dit of daar weer lewe in St Lucia kom. ’n Paar maande later waai die monding weer toe ...
As die monding kunsmatig oopgehou is in die droogte toestande tussen 2002-2011, sou dieselfde (en erger) rampspoedige versouting van die meer nes tydens die relatiewe kort droogte tussen 1969-1971 plaasgevind het. Omtrent al die vis in die meer het toe gevrek wat op tragiese noot krokodille ’n honger dood laat sterf het. Groot getalle seekoeie is na ander reservate oorgeplaas omdat die meerstelsel niks vars drinkwater vir hulle oorgehad het nie.
Vir meer as vyftig jaar reeds word daar aan allerlei oplossings gewerk. As kind het die dolosse in die monding wat soos ’n hawemuur die see ingebou was die mooiste herinneringe. Ek en my broer het saam met my pa oral tot in die branders op die dolosse langs geklouter agter skole grunters en "klein" kabeljoue (gem. 10kg) aan. Demonia het als verander. Die droogte het als verander. Irina gaan als verander ...
My dank vandag aan die iSimangaliso Wetland Park Authority. ’n Uiters bekwame span wetenskaplikes is aangestel om die hele St Lucia meerstelsel te ondersoek en langtermyn oplossings te vind. Dit lyk belowend. Na baie harde werk het die regte sikloon opgedaag. Irina beteken vrede. Sy’t relatief min dood en verwoesting in haar dans gesaai ... en sy kom dalk weer terug!
Irina is nommer 14 hierdie seisoen in ons halfrond. Haar se aard is die mees besonderse van alle siklone ooit gemonitor. Haar lewe is besonder lank en om so ver suidoos oor ’n koue see (25C) genoeg krag te he om noordwes terug land toe te kom, is iets aanskoulik. Haar hoogste val was by Charters Creek (300mm+). Sou sy betyds land haal kom sy direk oor St Lucia terug ...
Namaste!
Hindoe-, Moslem-, Joodse, katolieke en Boeddhistiese liefde,
Cornelius Henn
Jammer ek het nie jou foto's kon plaas nie, Cornelius. Ek sal my bes doen om dit volgende keer te doen. Groete, Naomi M


Kommentaar
Naomi, weereens baie dankie vir jou netjiese versorging van my bydraes - met of sonder prentjies ...
Cornelius, dankie vir 'n pragtige stukkie leesgenot! Vanoggend reen dit ook heerlik hier by ons! Mens kan net opgewonde raak oor hierdie wonderlike geskenk wat ons ontvang het, en ek is voorwaar dankbaar dat ons nie rampspoedoedige gevolge gekry het nie, maar eerder 'n lafenis wat tog so nodig was!
Dankie vir al jou harde werk met al daardie inligting, Cornelius. Ons Durbaniete lê altyd net so aan die rand van hierdie siklone. Gelukkig hou hulle tot dusver net my grasperk welig aan die groei.
Dankie Johan en Angus, as ek so lees tref dit my ons kon dalk al 'n lyn iewers in die branders gekruis het!