
Foto: Canva
Sigaret
Jy is die euwel van alle opvoeders
die eerste taboe van ’n seunskind
die begin van plannetjies maak om jou ongemerk in die hande te kry
en dan in privaatheid met ’n maatjie te deel
Altyd met ’n maatjie
Die hoesende betreding van volwassenheid se drumpel
Rook is die vroeë simbool van adolessensie
Die gemaklike ongehoeste intrek daarvan is ’n groot tree op daardie pad
Die eerste uitvang deur my ouers en later op hoërskool
Die onvermydelike pakslae en ernstige berisping
Vir jare geniet ek jou elke dag
Jy ontspan my
My teue aan jou is behaaglik en terapeuties
Dink nie aan wat jy aan my liggaam doen,
maar aan my gemoed
Jy is tweede natuur as ek dop steek
Na genot met ’n vrou
Na al die jare is jy ’n noodsaaklike euwel vir my
geslagte en geslagte onthou jou
Sommige met wrewel, ander met verlangende nostalgie
Ek is grootgemaak dat sigarette jou dom maak
en dat Liewe Jesus jou sal straf as jy stout is
Beide is baie doeltreffende afskrikmiddels
Sigarette het eerste gesneuwel,
Liewe Jesus later

