Sien die verandering

  • 2

Ek wonder soms of daar êrens iemand is wat weet hoeveel buitelanders in hierdie landjie van ons nesgeskop het. Dan verwys ek nie na ons blekes, of ons taalgenote van die vlakte duskant Kaapstad of die mense wat kerrie uit Durban verkwansel nie - nee; ek verwys na die buitelanders uit die Ooste en die Afrikane uit die diepe verre Afrika noord van die Limpopo.

Mense, glo my as ek sê: hier is baie!

Glo my ook as ek sê: hulle het ons stedelike (en reeds sommige dorpe) se samestelling dramaties op sy kop gedraai.

In die baie klein deel van die wêreld waar ek die voorreg het om my brood te verdien, het ek al menige insigte raakgestrompel, maar hierdie een is ’n nare werklikheid wat mens aan die bors gryp en homself op jou afdwing. Die buitelanders waarna ek hierbo verwys en wat in die Kaapse metropool sake doen, raak by die week beduidend meer. Hulle teiken die ouer sakekerngebiede en doen aansoek om al wat ’n beskikbare ruimte is te huur.

’n Redelike aantal van die oosterlinge, meestal uit Sjina, word deur Sjinese vervaardigers in spesifieke provinsies en stede in ontwikkelende lande geplaas. Hulle word aanvangskapitaal en bedryfsvoorraad vir tot twee jaar voorgeskiet. Die beginsel is dan dat teen ’n spesifieke tyd of maand in hul kalender, die skuld terugbetaal moet wees. Die vervaardiger in Sjina stuur soveel vraghouers as wat moontlik is en in wese, is die produkte basies alles dieselfde.

Die meubels in 60cm by 120cm plat kartonne kan ’n klein leefkamer volstaan; gegewe natuurlik dat die mens wat dit aanmekaar moet sit reeds Mandaryn magtig is en die kalme geduld van drie boedhistiese monnike het! Die klere kom meestal uit die suide van Sjina en die “beep”-logo en “nipe”-logo is amper so naby aan die meer bekende handelsname dat (met permissie) mens half disleksies voel wanneer jy daarna kyk. Die daglank-waarborg-speelgoed, -horlosies, -rugsakke en kosprodukte soos gedroogde vleis, soja, mayo, ensovoort ens is algemeen in bykans al die sogenaamde “China towns” wat nou die nuutste gier is. In die Skiereiland weet ek van ten minste 4. Gewoonlik ’n ouerige winkelsentrum wat ’n lap rooi verf kry, onderverdeel word in kleinerige winkels en opgepas word deur personeel wat bykans geen verstaanbare woord kan uiter nie en ook: geen tjeks of kaarte word aanvaar nie – net kontant.

In die geval van die winkels en pakhuise wat ons aan die ouens verhuur, is daar sonder uitsondering personeel wat op die perseel woon. Byvoorbeeld, in een winkel in Worcester het meneer Whang ’n lapafskorting geskep om vir hom en mevrou Whang ’n slaapruimte te maak. Die kombuisie is die kook- en was-area en buite in die diensgang, is plantbakke met die heerlikste kruie, kole en ander groen blaargoeters. Hierdie is nou hul lewe.

Wanneer die telefoon of draagbaar op 'n stil dag klingel en jy met die antwoordslag die volgende woorde hoor: “Hello man, how are you?” – druk dan dadelik die rooi knoppie. Dit is beslis die moeite werd om te doen.

Die Somaliërs, Nigeriërs en sekere ander “-iërs” en Kongolese en Ghanese en ander “-ese”, is erger as die oosternese wat geboue se diensgange met eetbare groenigheid beplant.

Hierdie lot is in my opinie soms aan die hoof van georganiseerde misdaad. Hul sindikate stuur hulle ook met voorraad, maar hul voorraad gaan nie na ’n dag se gebruik breek nie; nee, dit is gemaak om verbruikers te vergader en menselewens in te sluk en op te teer. Om daar waar hulle nesskop die area te verswelg tot dit net agterstraat krot is, met deksellose rioolgate, vervalle straatstalletjies, vuil sypaadjies, hoere, honde en uittandstraatwerkers.

Gelukkig, het ons vriendelike stadsvaders nou ingespring en nog ’n belasting op die eiendomswaardes gehef om die sogenaamde “city improvement districts” te befonds en te voorsien van skoonmakers en ekstra ongewapende polisiëring. Bedags ruim hulle meestal op en snags bemors die res die plek.

Hierdie “iërs” en “ese” gebruik die plekke wat gewillige geldhonger gebou-eienaars aan hulle verhuur, amptelik vir internet-kafee’s, haarsalonne, afrikakruideniers, -eet en -drinkplekke en natuurlik my persoonlike gunsteling, die lofprysing en geloofsgenesingskerke. Toegerus met ’n pastor, ’n “iër”-kerkraad en met hul hoofkantoor in een of ander verre heidense hoofstad.

In Voortrekkerweg vanaf Bellville tot Maitland (ou voorstede van Stad Kaapstad) is daar gemiddeld een van elkeen van hierdie hole elke 500m van die 12.4km handelsweg. Voeg daarby die uitspattige oorvloed van vervalle ou kantoorgeboue in die hart van Bellville, welke nou Somaliese gastehuise is en selfs ons benullose Sentrale Statistieke Diens sal ’n somlose afleiding kan maak wat die onrustige gekriewel in my stadsgemoed regverdig.

Laat ek eerder nou die kommerkwas uitwas en neersit.

Moontlik moet ons elkeen mooi oplet wat in ons strate en geboue aan die gebeur is. En, moontlik moet ons eienaarskap daarvan terugvat deur te skrywe, te raas en te praat en te doen, sodat ons kan opeindig met die strate wat ons verdien en die bure wat ons verkies.

Vader behoede die kinders.

Hennie Fritz

  • 2

Kommentaar

  • Beste Hennie, 

    Jy eindig af met: “moontlik moet ons eienaarskap daarvan terugvat (van die onwettig immigrante) deur te skrywe, te raas en te praat en te doen, sodat ons kan opeindig met die strate wat ons verdien en die bure wat ons verkies”. Die immigrasie na hierdie land het handuit geruk. Selfs die ANC kan dit nie meer beheer nie. Ons as Afrikaners kan niks aan die situasie doen nie, en gevolglik glo ek ons as Afrikaners nie ons koppe daarop moet breek nie. Ons het ander hoër prioriteite. Hoog op die lys gaan dit oor die voortbestaan van ons taal en kultuur; Volksidentiteit te handhaaf; Werkskaffing vir ons mense te voorsien; Beveiliging in ons woonbuurtes; Eie taal onderrig; ens.

    Solank die massas in hierdie land toi-toi vir hoër lone met afnemende produktiwiteit, so lank sal die Sjinese en Somaliers, ens. ’n gaping vir hulself sien om hier ’n winsgewende heenkome te vind. Hulle het ’n werks-ethos wat hier in S.A. kwaai ontbreek. Hulle is bereid om lang ure vir min besoldiging of wins te werk, en selfs onder haglike toestande te leef, om oorhoofse kostes so min moontlik te maak; met die gevolg dat hulle kan bekostig om hulle produkte onder heersende markpryse te kan verkoop. Daardeur trek hulle ook klandisie af van gevestigde besighede wat volgens ons striemende ekonomiese wetgewing hulle onder dwang geforseerd is om na te kom. Aan die een kant haat die swartes (seker blankes ook) hierdie onwettige immigrante, en is heel bewus dat hierdie immigrante hulle werksgeleenthede en ekonomiese bedrywighede kelder. Aan die anderkant, is hulle bly hulle is daar, want indien jy iets wil koop wat jou sak nie te seer ruk nie, is hulle verblydend daar vir ons. In werklikheid kan ons arm Afrikaners ’n blaadjie vanuit hulle boek neem om ’n ekonomiese heenkome vir hulself te kan bekom.

    Hier in Vanderbijlpark het ek wel ’n Afrikaner gesien wat juis soos hierdie mense te werk gegaan het. Tien jaar gelede in sy twintigs, het hy self met ’n trollie deur die strate gestoot en kartondose, plat gevou, ingevorder vir hersirkulering en karige geld daarvoor gekry. Naderhand het hy bekendheid gewerf, weens die feit hy so ’n uitsonderlike geval was, en so te sê dit reggekry om die mark te kaap. Die klein trollie is vervang met ’n baie groot trollie, soortgelyk wat op stasies vir bagasie gebruik word met relings. Hy kon nie byhou nie, en het later ander in diens geneem om meer trollies die strate rond te stoot vir invordering. Vandag besit hy ’n skuur waar sy voorraad geberg word met trokke wat dit van hom kom afhaal. Op straat sien jy hom nie meer nie, maar die trollies deur sy werkers rondgestoot sien jy nog.

    Wat my pynig om te sien is Afrikaners wat by verkeersligte met ’n bedelbordjie staan om geld van verbygaande motoriste in te vorder, en langs hulle is swartes bedrywig om goedere by dieselfde robot te verkoop. Die swarte is produktief, en die blanke ’n las vir die samelewing. Ek koop eerder van die swarte, voor ek vir hierdie mense enigiets sal gee, inteendeel ek gee hulle niks. Hulle kan presies dieselfde doen wat die swartes doen. Vir hulle is dit meer eerbaar as blanke om te bedel as om, soos hulle dit sien, ’n swart man se tipe werk te doen.

    Jaco Fourie

  • Johannes Comestor

    Hennie, Jy is baie goed ingelig en het baie moeite gedoen om waarskynlik die grootste probleem van die nuwe Suid-Afrika duidelik te formuleer. In ’n tyd waarin alle lande inkommers probeer uithou en selfs die wat die beste regeer word nie goed genoeg daarin slaag nie, sit die nuwe Suid-Afrika met ’n regering wat nie in staat is om die land met ’n redelike mate van welslae te bestuur en administreer nie. Daar is al op gewys dat Suid-Afrika op ’n deurlopende en stygende grondslag meer inkommers absorbeer as die VSA. Die tragedie word vererger deur die houding van die amptelike opposisie, die DA, wat met menseregte behep is en by monde van me Lovemore die ANC-regering kritiseer omdat die inkommers glo nie goed genoeg behandel word nie. Helen Zille het apartheid onlangs die skuld gegee vir die glad te min swartes wat hulle, volgens haar, in die Wes-Kaap gevestig het.

    Dit is bekend dat die inkommers onwettig staatshuise en -subsidies bekom. Hulle gebruik sekerlik die openbare gesondheidsdienste. Hulle sal vorentoe ’n al hoe groter las op die onderwysgeriewe plaas. Hulle is dikwels by misdaad betrokke, maar dit val op dat politiek-korrektes sorg dat inkommerstatus in hierdie konteks selde in die pers genoem word, bv die SABC noem dat ’n inkommer die misdaad gepleeg het, maar die koerant verswyg dit.

     Ek het voorheen meermale op SêNet op hierdie ontvouende tragedie gewys maar bitter min ondersteuning ontvang. Ek het al in hoofletters gewaarsku: HKGK. Die kern van die probleem is dat besluit is die toekoms van Suid-Afrika moet nie toevertrou word aan diegene wat die beste kan regeer nie, maar aan die meerderheid, wat deur ’n ondoeltreffende, selfaangestelde elite aan die neus gelei word. In die huidige tempo sal Suid-Afrika binne dekades met ’n meerderheid inkommers sit. Die land sal vorentoe nog meer onherkenbaar agteruit verander as die afgelope twee dekades. Dit is wat enersyds geweldadige politici en andersyds naiewe politici die land aangedoen het. Die skade is permanent.

    Johannes Comestor

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top