Siel van ’n vlinder

  • 0

Die smaraggroen flappervlerkie het intussen heen gesweef saam met die warm stroom bokant die skaduryke kloofskeur, wat afduik tot daar waar jy die R71 sien slinger deur Magoebaskloof se bergpieke. Ek glimlag – as jy hier ‘n stapstok plant, kom daar sweerlik ‘n staproete op.

Die bergkom onder Duiwelspiek is stil. Onheilspellend stil. Selfs die dreigende donderstorm wat bokant Heanertsburg se kant rammel, hou asem in. My sintuie ervaar hoe Eben se fluisteringe saam met die wind agter die hemelhoë krans ontsnap.

Die lowergroen mos van die reënwoud is veral interessant en perfek gekam. Soensag streel dit die kaalte van my warm lyf. So bied dit die beste kans ooit om die vlakste inhamme van die waterval te ondersoek, want jy kan uitgestrek op die duimdikte mos lê, soms net een of drie duim vanaf ‘n windswewer.

Hierdie stukkie paradys – waarvan die kaartboek nog nie weet – is die geheime piekniekplek van vlinders. Deur die lens verwonder ek my aan die tenger slurpies (proboskis) wat seepglad afrol tot binne-in die modderpoel om so deur strootjies die koel bergwater op te suig.

Dieplaagte lê in die skoot van Magoebaskloof wat rondom die asemrowende krans-kom ‘n uitsig met botaniese tuine vorm: ‘n ontmoetplek van kabbelende watervalletjies, windstilte en skaalvlerkiges. Die ideale broeiplek vir Eben se Skoenlapper-sanctuary. Navorsers het alreeds kom rondkrap en gevind dat die insekorde Lepidoptera meer as 230 verskillende soorte hier op die windstroom indryf. ‘n Plek van sielerus en bekoring wat baie stapstokke, fotograwe en avonturiers hierheen lok.

Daar is baie riffels in die vlakmodder waar een of ander skepseltjie verbygewaggel en op sy spore teruggekeer het; en die dopvlerke, dit lê oral gestrooi saam met weggewerpte onaktiewe papies waaruit die volwasse skoenlapper te voorskyn kom. Aanvanklik is die vlerke sag, klam en taamlik klein. Vloeistof word uit die vlinder se lyf in die vlerke ingepomp en maak hulle geleidelik groter; hulle word apart gehou totdat hul droog is.

Skaalvlerkiges kan tot 12 cm bereik en is getooi in fraai reënboogkleure. Soos ‘n string krale aan die soom van die helder poel vergader hul gereeld. Om die sterkte van hulle blaarvlerke te toets bestook ek hul met die wind van my mond. Die wat dan deurbreek in ‘n lugfladder, sal skielik opstyg met ‘n vaste reëlmaat verlore; so toelaat dat die soel windstroom hul opsuig na bo en gewigloos hang, net om stadig weg te sweef na onbekende plekke.

Ek giggel. Sou Eben dit merk? Uit gewoonte steek ek my hand uit op soek na sy warmte. Maar dis net die kilheid van die sweefkragmeter se vingers wat onder myne skok. Toe-oog wag ek dan tot Eben se fluistering wéér saam met die walsers-van-die-woud geruisloos om die krans ingewaai kom. My siel borrel terwyl ek die popklank van die waterdruppels, beurend deur die nat aardkors om my hoor oopbars. Oë skiet weer oop – verras om te sien hoe die watervalletjies die druppels aandryf om hul afloop tussen tenger varings en spierwit trompetlelies te vind.
Deur die makro-lens bestudeer ek die vlerkare van die voorvlerksels. Sien hoe hulle die heuningwater en binne-piesangskil opsuig wat ek oral opgedien het. Dit lok hul grasieuse broosheid nader. Nes die traan vasgevang in my siel. Hulle vlerke is met klein, poeieragtige skubbe bedek wat die skouspelagtige vlerkpatrone en kleure dra. Hoeveel keer het Eben nie die skubbe versigtig afgevryf, wat eintlik maklik afkom nie?

Stemme beweeg in. Wat maak dat ‘n mens jou lewe daaraan toewy om wapperende vlerke dop te hou? Hier waar naguiltjies en mis saans om bergpieke stoei vir ‘n staanplek? Kan malheid en briljantheid in dieselfde liggaam woon? Natuurlik hang dit af deur watter sintuig jy influisteringe toelaat. Watter gedagtekleur uiteindelik deurfilter.

“Hoe is hy dood?” wil Annie weet.

“Bobbejaanskrans het hom nader gelok.”

“Hy het nie ‘n stapstok gehad om hom te red nie.”

“Miskien het ‘n vlinder oor die rand gestort... “

Ek bars uit van die lag. Tevrede om te weet dat mens daaruit iets orkestreer vanuit natuurwette, saamgestelde oë en Labiale palpe, om later te gebruik.

Vlermuise en voëls is die windswewer se grootste vyand. Om oorlewing te verseker sal die skoenlapper of mot rond-en-bont vlieg, hulself kamoefleer of gifstowwe in hul liggame berg. Verras kyk ek op toe ‘n dubbelstert (Nymphalidae) met ‘n vlerkspan van tussen 7 – 8 cm grasieus op die klipbank neerstryk. ‘n Ritueel wat die ritme van my adrenalien aanwakker.

“Ahhh ... !” kreun ek terwyl die perlemoenskoenlapper se oogkol met die swart-en-pers kern aan die buitenste hoek van die agtervlerk oor en oor gekiek word. My hart sing: Eben se uitverkorenes.

“Jammer,” mompel Eben en stap weg.

Ek gaap agterna en hoor Annie saggies vra: “Watter lied wil jy laat sing, sus?”

Skielik skreeu my lyf sopnat van ure op die mos en ek kruldraai op my rug. Die lamte neem van my arms besit en die kamera sak op my seer bors. Hemelhoog, bokant my in die hart van ‘n imposante Lalapalm waai geelryp saadklokkies heen en weer en ek hoor weer die klank van die koortjie:

Die hemelse klokke hulle lui.
Hulle lui, hulle lui, hulle lui...

Op daardie oomblik besef ek dat Bobbejaanskrans nog steeds in Dieplaagte lê, en dat die herinnering aan Eben in die poel water dryf, so diep soos die modder, tog helder. Hier in droomland se diepseerland.

Skielik sien ek hom oral beweeg in die kom alhoewel ek besef dat hy nooit weer hier sal rondvroetel nie. Vir ‘n vlietende oomblik trek die misslierte teen Bobbejaanspiek oop terwyl perspektief deurbreek.

Ek wip toe ‘n spooklyf deur my trane oor watervore opgewonde aangehop kom. Die bloukombers wapper weer om Annie se arm terwyl sy my klere padlangs oppik. Dan woel die kombers saggies om my lyf en ek gewaar die hitte van haar hand wat my rug probeer warm vryf.

“Jy’s nat.”

“Ons het geswem.”

“Ek glo nie... “ sug sy ingedagte. “Kom, die skoenlapperman is hier, hy soek ‘n naam vir die sanctuary.”

“Werklik?” ek spring orent. “Dis wonderlike nuus!”

Uiteindelik kan ek die naam ewig vasgriffel: Eben se Skoenlapperheiligdom.

 Lees hier meer oor die reisskryfkompetisie: 1 001 reiswoorde

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top