Sexy medisyne: Asof die mediese wetenskap nie sexy genoeg is nie

  • 0


Titel: Sexy medisyne
Skrywer: Heinz Mödler
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799351637
Prys: R140.00

Klik hier om Sexy medisyne te koop by Kalahari.com.

Ek moet toegee, toe ek hierdie boek uit die koevert haal en ek sien die skrapsgeklede verpleegster met die rooi rompie en die rooier oprygstewels, die rooi lippe en die ewe rooi suigstokkie voorop, het ek dadelik gedink dat ek hier met die opgekikkerde weergawe van die een of ander hospitaalhygroman te doen het. Agterop moes ek vaskyk in die priemende blik van die langhaarouteur in ’n rondenektrui.

’n Voorblad vir die mans en ’n agterblad vir die vrouens dalk?

Agterop is ook drie uitsprake deur onderskeidelik Eben Venter, Pieter Malan en Dana Snyman oor die boek en sy inhoud.

Maar, liewe leser, die intrige neem toe. Die voorwoord noem dat dit ’n “mediese handboek [is] [m]aar nie die een wat op jou dokter se eikehout-lessenaar lê en oopgeslaan word wanneer jy hom vra hoeveel longe mens het nie”.

Uit die voorwoord verneem ons dat hierdie boek, in navolging van die rubriek “Sexy Science” in The Times of London, ’n poging is deur dr Mödler om die mediese wetenskap sexy te maak vir die leser. Nou ja, asof die mediese wetenskap nie sexy genoeg is nie – dokters met oop v-nekke, wit jasse, luisterende ore, verpleegsters in stywe wit uniforms (nou wel nie met toerygstewels nie), kabels en kontrepsies wat die liggaam bind en nie kan laat ontsnap nie, enemas, streling, die uitroep van pyn, die naald in die arm, die inseep van die lieste, die afskeer van die hare vir die oopsnitslag. Noem maar op. Maar in hierdie boek slaag die dokter daarin om op skertsende wyse belangrike mediese sake aan te sny. Dana Snyman beskryf dit nie verniet as “logies, interessant en pittig” nie.

Die boek is ingedeel in dertien afdelings met titels soos “Mooi is nie vir sissies nie”, “Bo in en onder uit”, “Klein irritasies”, “Onder die belt”, “Net vel en been”, “Kopstukke” – om maar net enkeles te noem. Die titels van die onderskeie essays is ewe opvallend: “Sopraan in ’n Speedo”, “Hoe groot is jou kleinhuisie?”, “Rasputin”, “Rusland se langste Rus”, “Die Chinese deurtrekker”, “Sit dit af sit dit af” en “Snuif-snuif my storie is uit”.

Die gevaar met hierdie tipe essays is dat die outeur voortdurend belerend dog snaaks moet voorkom en net enkele frases tot sy beskikking het, veral frases uit die mediese konteks. (Amper soos Leon van Nierop wat tot naarwordens toe die springmielie- en spookasemmetafore in sy filmresensies gebruik.) Soms vind ek tog dat Mödler se styl aangedik word ter wille van effek, byvoorbeeld: “Maar feitlik oornag lyk dit asof iemand jou met ’n liter vla deur ’n sif gegooi het” (23) (dit verwys na puisies), maar in die geheel gesien het hy my aandag as leser getrek en behou.

Dit is ’n hele worp onderwerpe wat hier behandel word – van onwelriekendheid tot steroïdes tot bierpense tot maagdevliese. Mens lag nie net nie, maar leer ook heelwat uit dit wat hy beskryf. So dink ek het min mense geweet dat toe Boney M destyds Rasputin besing het, hulle eintlik gesing het oor ’n welbedeelde man by wie die tsarina kon vertroosting soek. CSI- en NCIS-liefhebbers sal eweneens plesier hê aan die essay oor vingerafdrukke en DNs-toetse.

So tussendeur ontmasker en ontnugter die dokter ons ook. Nee, mans is nie die sterker geslag nie. En om die manlike ego ’n verdere knak te gee, sluit hy op bl 88 ’n geheuetoets in wat in The Times of London verskyn het.

Al gehoor van die VAS? Van die vrou wat met ’n migraine gaan slaap en die volgende oggend ontwaak en met ’n Franse aksent praat?

Die waarde van aspirien word ook besing in een van die essays: “Die pakkie aspirientablette wat jy so ewe nonchalant saam met die kruideniersware in die trollie gooi, is een van die mees indrukwekkende uitvindsels van die mediese wetenskap en moet geensins onderskat word nie” (108). So gaan lees gerus hoe aspirien hartaanvalle drasties kan verminder en sommer nog demensie en tipes kanker ook beveg. Elke mens bo 45 moet elke dag ’n kwart-Disprin neem – aldus sir Richard Peto.

Vreemde begeertes en kwale word ook beskryf – van mense wat in weerwolwe verander tot Issei Sagawa en sy begeerte na Nederlandse meisievleis. Patologies jaloerse mans en kinders wat woedestuipe kry of mense wat aan pika ly.

Mödler sluit sy boek af met die essay “Snuif-smuif, my storie is uit”. Soos die titel suggereer, gaan dit hier oor die snuif van kokaïen en hoe Amerikaners jaarliks 25 miljard dollar in hulle neusgate opsnuif. Tong-in-die-kies sluit hy af met die volgende aanhaling van Keith Morris: “We did national service. Drugs were illegal. Homosexuality was illegal. Abortions were illegal. Sunday trading was illegal. Almost everything has gone, except the law on drugs.”

Ek had veel plesier aan hierdie boek. Ons lewe in ’n tyd waar daar nie ’n week verbygaan waarin ons nie liposuiging of die een of ander hospitaaldrama oor die televisie sien nie. Naas hierdie visuele stimulasie is daar dié boek van Heinz Mödler.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top