Vir George oor skuilname (en sommer Wouter ook)

  • 7

Hallo George (en hello Wouter)

Op laerskool het ek die Swart Luiperd-boeke verslind. Sou ek die boeke minder geniet het as ek op daardie stadium agtergekom het dat Braam le Roux 'n skuilnaam was, dat die skrywer eintlik FA Venter was? Was Piet Cillié minder geloofwaardig as Dawie? Weier jy om Blou Willem te lees oor dit ooglopend 'n skuilnaam is?

Daar is verskeie redes hoekom 'n skuilnaam gebruik word en een van die hoofredes is dat dit 'n poging is om objektiwiteit by die leser te bewerkstellig. Jy wat George is het byvoorbeeld onder 'n skuilnaam matriekeksamen geskryf, naamlik eksamennommer-X, kan jy onthou?

Ek kan met redelike sekerheid sê dat, na jy my naam gekry het, jy my naam gaan google het. As jy dit NIE gedoen het nie, wat is die sin dan daarin om oor my skuilnaam te kla? Ek kon dan netsowel vir jou vertel het ek is Max von Kleist und Behring, of Jock Middleton Campbell of Colgrain, Dunbartonshire and Underriver House, of Josef Dauthendey, of Hardus Vogel van Benoni, of hoe?

Die aandring op identiteit dui op 'n geneigdheid tot vooroordeel; as ek 'n doktor in astrofisika is sal jy anders optree as wanneer ek 'n straatveër sou wees. Hoekom anders sal jy wil weet wat my regte naam is? Het 'n vraag van Professor Mynman meer gewig as wanneer Jan Alleman, of Jan Rap en enige van sy maats, daardie selfde vraag vra? Dat 'n joernalis wat neerhalend na 'apartheidskoling' verwys, wat met ander woorde doer bo hoog op die morele berg sit, nou so klasbewus kan wees. Ek hoop dit ís klasbewustheid aan jou kant want die alternatief is amper te gruwelik om te bepeins soos JBV sou gesê het, naamlik dat jy besef jy 'n borrel gehap het en nou probeer systap.

Ek vermoed sterk dat, helaas, laasgenoemde wel die geval is want jy hét nou my naam maar nou skielik moet ek die hele LitNet vertel wat my regte naam is anders is jy nie bereid om tot my 'gewaande debat' toe te tree nie. Watter debat? Ek sê vir jou die NSA is die rede vir swak leerlingprestasie, nie godsdiensonderrig nie. My redes is die feit dat onderwys agteruitgegaan het sedert 94 en nou totaal in duie gestort het, selfs die regering erken dit. Die redes vir jou standpunt is die feit dat Islam agtergeraak het en die uitlatings van ene Watson (wie se boek jy wil hê ek moet koop).

Ek hoop nie jy vind my trant te kras nie maar ek twyfel, iemand wat goedsmoeds ander se opvattings snert of bog noem sal kan vat wat hy uitdeel.

Groetnis

Jan Rap

  • 7

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Beste Jan Rap, 

    Ek het geheel ooreenstemming met jou oor beide aangeleenthede - enersyds; dat die hele onderwys-dilemma in ons land aan swak regering toe te skryf is en nie Godsdiens nie, en andersyds dat skuilname wel 'n plek het.  

    Die enigste waar skuilname nie 'n plek na my mening het nie, is waar mense oor die belewenis van God in hul hart getuig.  

    Dis sekerlik anders as daar bloot oor Godsdiens gefilosofeer word, maar dis 'n totaal ander saak as iemand oor die belewenis van God in hul eie hart getuig.  

    Wanneer 'n mens oor die belewenis van God in hul hart getuig, dan is God die kwalifikasie en die inspirasie daarvan, en nie die draer se geloofwaardigheid nie.

    God kies enigeen; van eenvoudige vissermanne tot vername burokrate as getuies. Daarom is dit verseker 'n dwaal as iemand hul selfgemaakte identiteit probeer beskerm, of voorhou deur te lieg daaroor, of om dit "privaat" te hou (sekerlik om hulself verleentheid te spaar en/of om hul eie ego te beskerm),

    Dis in nederige dankbaarheid wat ek my doopnaam, en die gesig waarmee God my geseën het waar ookal die moontlikheid bestaan, in my getuienis met God se Lig in my hart uit te straal.  

    Die gesigloses soos Kobus de Klerk en die ander verskuildes soos "Dolf", Christenmoeder en die Alies in hul sogenaamde Godsdiens-debat, waaraan jy saliger nie deel nie, is duidelik beset met hul eie agenda in die uitdra van hul valse getuienis en in hul bespotting van die Evangelie. Let gerus self hoe verwaand en gereeld hierdie verskuilde en infernale bende so ewe stert in die lug, hulself prys as hulle ander kamstig gewen of "uitgewys" het in hul absolute eiewaan. 

    Boeregroete,  

    Cornelius Henn

  • Hello Jan,

     
    Natuurlik is daar 'n verskil tussen die mening van 'n leek soos ek en die van Doktor Monica Grady professor in fisika en sal dit 'n aanvoeling bied as oor hoe ingelig die persoon beskou kan word. Dit is onwaarskynlik dat 'n mening komende van my gewig sal dra want voorkeur word onwillekeurig gebied aan die persoon wat as die meer waarskynlike ingeligte persoon beskou word. 
     
    Dit is nie die kwessie nie, maar wel die gebruik van skuilname, wat tog sekere persone toelaat om vrye teuls te gee aan die mees onplesierige instinkte van hul persoonlikheid. 
     
    Indien die skrywer weet, hy kan tot in 'n sekere mate geplaas word deur dit wat Google moontlik maak, sal daar tog mate van selfregulering plaasvind. 
     
    Neem die debat wat 'n lang ruk hier gewoed het oor Ds Smith se afsterwe waar Comestor erg negatiewe kommentaar gelewer het oor Smith as persoon en dit nie getoets kon word om te bepaal of die verhouding werklik van so 'n aard was dat nuus wat nie algemeen beskikbaar was nie nou aanvaar moet word. 
     
    Daarom die nodigheid om tog meer openlik te wees al is dit net om deelnemers in die perke van ordentlikheid te hou. Dawie, Blou Willem is apart van hierdie kwessie, want die tipe van satire wat 'n Dawie of Pollux en so bied is nou al 'n tradisie en nie 'n verskoning om dit te laat gaan nie, maar is redelik tong in die kies en word as 'harde nuus' beskou nie. 

    Blou Willem ek dink dit is redelik bekend wie agter dit sit - alhoewel ek hom nie lees nie. 

    Braam Le Roux se werk sou ook in 'n ander konteks gelees gewees het, indien dit bekend dit is FA Venter, want dan kan vrae gevra word waarmee is FA Venter besig hoe pas dit in sy werk in die geheel. 

    Vir krititiek sou dit heel nuttig gewees het. 

    Ek glo Julian Barnes skyf speurverhale onder 'n skuilnaam - maar is dit ook nou al 'n oop geheim ...

    Skilder dan maar nou vir ons 'n foto van jou selwers en laat jou verbeelding gaan aangesien die foto nie gaan kom nie. 

    Dan is natuurlik die kwessie van privaatheid en dit laat vir 'n deur oop dat skuilname gebruik mag word, maar 'n gesprek is meer werklik indien daar 'n gevoel is dat jy is ingesprek met 'n werklike persoon ...

    Maar Jan sal maar seker Jan bly. 

    Baie dankie

    Wouter
  • Jan  

    Jy's te sensitief oor die "issue".  As SêNet dit toelaat, is dit jou volste reg om 'n skuilnaam te gebruik.  Dan weer, indien jy Dan Roodt self is soos ek baiemaal dink dit die geval is, of enige ander gesiene figuur, sou ek ook 'n skuilnaam gebruik om enige onvermoëns en verleenthede te wil verberg.

    Jaco Fourie

  • Wouter

    Selfs al gebruik jy 'n skuilnaam is jy tog verplig om jou volle naam en adres te verskaf aan die instansie wat die betrokke forum (koerant, tydskrif, LitNet wat ookal) bestuur of hanteer.  So mens kan nie goedsmoeds gaan staan en laster en skel nie want jy kan maklik voor stok gekry word as jy oortree.  En alhoewel ek 'n skuilnaam gebruik doen ek moeite om nie ad hominem te raak nie (behalwe in die geval van Francois Williams maar dan is dit retaliasiegewys).  Ek het spesifiek die naam 'Jan Rap' gekies omdat, op 'n stadium, iemand voorgestel het dat net intelektueles toegelaat moet word om op SêNet te skryf.  Die idee was om te wys dat die man in die straat ook tel, ook 'n stem het met ander woorde.

    Jaco

    Die feit dat jy baiemaal dink ek is Dan Roodt is die tweede grootste kompliment wat ek nog gekry het!  Die grootste kompliment was toe die wiskunde- en wetenskaponnies saam nie fout kon vind met my oplossing van een van die drie klassieke meetkundeprobleme nie.  Ek het self later die fout agtergekom maar intussen was ek op wolkie nr 11.  Die wiskunde-onnie het nog gesê hy weet dis onmoontlik maar hy gee my toestemming om dit in meetkunde te gebruik as ek wil.

    Groetnis

  • Hello Jan, 

     
    Jou argument dat die instelling jou besonderhede op rekord het word aanvaar en ek aanvaar ook dat die reg tot privaatheid en die moderering wat die instelling uitoefen genoegsame ruimte laat vir die gebruik van skuilname. 
     
    In verband met jou straatveër vang my oog die volgende in die New York Times van vandag: 
     
    A January report from the Center for College Affordability and Productivity found that “about 48 percent of employed U.S. college graduates are in jobs that the Bureau of Labor Statistics suggests requires less than a four-year college education.” 
     
    That number included 37 percent in occupations requiring no more than a high school diploma. For example, the report pointed out that “in 1970, fewer than 1 percent of taxi drivers and 2 percent of firefighters had college degrees, while now more than 15 percent do in both jobs.”

     
    Daarom moet Jan Rap en sy maat eers klaar praat en dan oordeel of die stellings water hou.
     
    Maar tog, laat jou gedagtes gaan oor 'n Rembrandt-tipe selfportret ...
     
    Baie Dankie
     
    Wouter
     
    Ns, 
     
    Ek glo ook nie dat godsdiensonderrig in skole soos dit dalk nog hier bedryf word die rede vir swak prestasie is nie en is ek teleurgestel dat Claassen so maklik vir dit as 'n oorsaak geval het.
     
    Dit word wel aanvaar dat 'n madrassa wat net op godsdiensonderrig fokus kinders in  'n rigting kan stuur wat enige ander studie uitsluit en dan denke afstomp. 
     
     
  • HeHe Jan!

    Is dit nou 'n wanhopige poging om myself en die lesers te probreer beïindruk?!

    Jaco Fourie

  • Beste Jan Rap,

    Ek stem saam met jou oor die gebruik van 'n skuilnaam. Godsdiensonderrig is ook nie die rede vir swak skoolprestasie nie, maar waarom die leerders opsaal met nuttelose twak? Miskien sal jy nie dink dat die ribbebeenstorie, of Noag se storie, of die soutpilaarstorie is nutteloos  nie, maar waarom vir die kinders leer dat jy nie 'n bokkie in sy ma se melk mag kook nie? Of dat stout kinders met klippe doodgegooi moet word?  Ander gelowe leer bv. dat daar gedans moet word, anders sal dit nie reën nie. Gebruik liewer hierdie tyd sodat die leerders jou meetkundeteorie kan baasraak.
     
    As jy my nie wil glo nie, ons Bybelonnie het ons die volledige 10 gebooie laat leer, en die bokkie wat nie in sy ma se melk mag kook nie, is die laaste gebod. 
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top