Ons stede

  • 0

Suid-Afrikaanse stede het verval – dit weet ons almal. Kaapstad dalk in ‘n mindere mate terwyl Durban en Johannesburg erg verval het. Toe ek vanoggend die artikel lees: http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Praghotel-is-nou-soos-seer-vinger-20130314 het ek vlugtig teruggedink aan my eerste besoek aan Johannesburg se sentrale sakegebied in bykans nege jaar. Dit was seker so drie weke gelede.

Dit is dalk net soos Limpopo en die Oos-Kaap voorbeelde waar die wil om te regeer misluk het. Die tragedie van Johannesburg is dat sy jonger neef Sandton as die Goudstad – veral aan buitelanders – voorgestel word.

Ek het met die Gautrein gery wetende dat ek ‘n bus sou kry om my by my bestemming te bring. My probleem het hier begin – die vuilste Gautrein-busstasie in die stelsel. Met boonop arrogante en onbehulpsame drywers.

Toe sommer gestap en weer eens gesien hoe Johannesburg-stasie verder verval. Buite is daar strome smouse met geen aanduiding of hulle gereguleer word nie.

En die verval van die stasie is dalk een rede waarom ons nie langer trein ry Kaap of Durban toe nie. In die opsig is Pretoria-stasie ‘n veel beter roep, maar treindienste van PRASA is hier in ‘n groot mate opgeskort.

Eloffstraat het beter dae gesien. Op die hoek van Breë- en Hoekstraat was eens op ‘n tyd ‘n klerewinkel – deel van ‘n Indiër genaamd Fats – se klein empire. Hy het S & K bedryf en Saterdag vir leerlinge, veral uit Eldoradopark, werk verskaf.

Die goeie verhoudinge wat destyds geheers het, is iets van die verlede. Mense sukkel om te oorleef in vuil strate waar jy plek-plek riool ruik en oor lekkende waterpype moet spring.

Plekke waar ‘n mens gaan uithang of wat landmerke was, is nie meer daar nie. Die OK Bazaars waarvan ‘n mens nog wonderlike herinneringe het uit kindsdae is nou ‘n Shoprite wat tronkagtig met diefwering beskerm word. En min mense wat vandag daar verby loop besef dat dit ‘n reus in Suid-Afrika se onlangse verlede was.

Daar is wel aksie in terme van die vernuwing in Braamfontein en die geweste, maar Johannesburg benodig ‘n drastiese hupstoot om nog in die volgende 30 jaar te oorleef.

Die vraag is of dit net soos Doornfontein gaan verval. En of die siekte oor gaan waai na die noordelike voorstede. Onthou, gedurende die dae van die Randlords was Doornfontein ‘n spog woonbuurt.

Ten opsigte van die Carlton Hotel onthou ek die Koffiehuis en die Three Ships.

Om Johannesburg is daar goeie ontwikkelinge. Byvoorbeeld in die Suide is daar Gold Reef City. Die ooste en weste is ook besig om te gedy. Maar in ‘n radius van tussen vyf en vyftien kilometer van die stadsaal gebeur daar weinig iets.

Dit is om oor te treur.

Yuri

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top