Nancy Astor herbesoek

  • 1

Hierdie skrywe is 'n vervolg op my vorige brief (SêNet, 26 deser). Adrian Fort se boek, Nancy: The Story of Lady Astor (London: Jonathan Cape, 2012), vul die literatuur oor Nancy Astor (1879-1964) op 'n lofwaardige manier aan. Die teks is nie 'n eensydige lofrede nie. Die boek is 'n toonbeeld van ewewigtige, onpersoonlike skryfwerk. Nêrens word die leser bewus van die outeur se voor- of afkeure nie.

Nannie Witcher Langhorne is in Danville, Virginia, gebore. Nannie het Nancy geword nadat sy in 1905 finaal Londen toe is. Witcher is haar ma se nooiensvan. In haar kinderdae was die gevolge van die Amerikaanse Burgeroorlog (1861-1865) nog sigbaar. Vir baie inwoners was dit 'n geval van "living on peanuts and past memories" (Kindle 201). Die Langhornes was aanvanklik arm, maar spoorwegkonstruksiewerk en tabakhandel het mettertyd van haar vader 'n welvarende man gemaak. In 1892 het hy die Mirador-landgoed wes van Richmond gekoop. Daar het Nancy 'n uitstekende perderuiter en versot op jagtogte geword.

Van haar vader het Nancy die neiging van "speak without thinking" geërf (K 211). In haar jeug was Nancy die toonbeeld van "carefree self-confidence that was to desert her only during the periods of apparent depression" (K 442). Van vroeg af was daar by haar selfgesentreerdheid, die afwesigheid van inhibisies en die strewe na onafhanklikheid te bespeur. "At no time in her childhood or youth was her intellect successfully trained or disciplined" (K 514). Wat haar skoolbywoning wel bereik het, was "a lifelong attachment to the Bible," wat sy as letterlik waar aanvaar het (K 553). Soms het sy werk ontduik deur eerder met "Mr Jesus" in gebed te tree (K 829).

"From her earliest childhood it had been obvious that she had a tender core, but she also evidenced a very faint streak of resentment, which, as she grew older, was to evolve into, if not an actual desire to bully, then a tendency to self-assertion that sometimes made her seem heedless of the feelings of others" (K 653). As jongmeisie is sy na 'n afrondingskool in New York City gestuur, maar anders as haar ouer suster, Irene, het sy geen baat daarby gevind nie. Sy was klein, vyf voet twee duim lank, mannetjiesagtig en onhervormbaar. Sy was nie mooi nie maar tog aantreklik.

Toe sy 18 jaar oud was, is sy in 1897 met Robert (Bobby) Gould Shaw II, wat sewe jaar ouer as sy was, getroud. Die huwelik was 'n volslae mislukking. Enersyds omdat Shaw 'n alkoholis was en andersyds omdat Nancy seks as sonde beskou het. Desnieteenstaande het hulle 'n enkele kind, Robert Gould Shaw III, bekend as Bobbie (1898-1970), gehad. "She slept on her face most of the honeymoon and nobody knows how Bobby got there" (K 1120). Nancy het haar kind met liefde en besitlikheid oorweldig. Sy het 'n lewenslange afkeer van drank ontwikkel. Aanvanklik het Nancy egskeiding ook as sonde beskou, maar sy het in 1903 daartoe ingestem omdat Shaw toe reeds bigamies hertrou het. "Nancy was awarded a handsome settlement and custody of her son" (K 1182).

Teen hierdie agtergrond het Nancy in 1903 Londen besoek. Later in dieselfde jaar is haar ma oorlede, maar Nancy was nie in staat om die Mirador-huishouding suksesvol te bedryf nie. "Her temperament was not then suited to the close management of practical detail" (K 1214). Haar jonger suster, Phyllis, se huwelik het ook misluk. Elk het 'n seun gehad en hierdie viertal is in 1904 Londen toe. Nancy wou vosse gaan jag. Dit het haar toegang tot die Britse opperklas gegee.

Nancy het na Mirador teruggekeer, maar was saam met Phyllis teen Kersfees 1905 terug in Londen. Nancy was skynbaar seksueel ontoeganklik en het gesê: "Love is a sort of disease" (K 1538). Fort: "Romance ... is a bird that will not sing in every bush" (K 1541). Nancy beweer dat sy in hierdie tyd vyf huweliksaansoeke ontvang het. Onder andere het sy Waldorf Astor (1879-1952), wat in New York City gebore is, in 1905 ontmoet. Sy vader, William Astor (1848-1919), was die rykste Amerikaner en het sy jeug in Duitsland en Italië deurgebring. Sy voorouers was Duits. William het hom in 1891 in Engeland gevestig, koerante en tydskrifte besit en in 1893 die Cliveden-landgoed, naby Maidenhead aan die Teems en 20 myl van Londen, gekoop.

Waldorf en Nancy is in 1906 getroud. William het Cliveden as trougeskenk aan hulle gegee. Waldorf het voorheen vier jaar lank aan die Universiteit Oxford studeer, maar eerder in sport as die akademie uitgeblink. Sy swak hart het hom gekniehalter. Van 1910 tot 1919 het hy Plymouth in die House of Commons verteenwoordig. William het in 1917 'n graafskap ontvang, veral vanweë talle groot skenkings aan liefdadigheid. Toe William in 1919 sterf, het Waldorf die 2de Viscount Astor geword en het hy sitting in die House of Lords gekry. Van 1939 tot 1944 was hy die burgemeester van Plymouth.

Aanvanklik was Nancy se tweede huwelik redelik suksesvol. Albei het van perdry en jagtogte gehou. Van hulle eerste projekte was om veranderings aan Cliveden aan te bring. Die goedhartige Waldorf het Bobbie aanvaar asof dit sy eie kind was. Uit hulle huwelik is vier seuns en 'n dogter gebore. "She was willing to do her conjugal duty but without enthusiasm" (K 2335). Nancy: "If I should die, don't stop Waldorf marrying again as he deserves a far better fate than me" (K 2342). Nancy het dikwels aan uitputting, hoofpyn, neurose en depressie gely.

Nadat hulle Cliveden heringerig het, het hulle gereeld vooraanstaande mense onthaal; ook in hulle huis in Londen. As gebore Amerikaners het hulle dit nodig geag om hulle sosiaal in die Britse samelewing te vestig. "Many English guests sensed a slight impression of foreignness, or even rootlessness" (K 2664). Nancy het egter met haar opmerkings baie keer verleentheid veroorsaak, byvoorbeeld "Nancy unwisely telling friends, when Churchill was engaged to Clementine Hozier, that the girl Winston was to marry was 'lovely but very stupid'" (K 1949).

In 1913 het Nancy in Amerika kennis met Christian Science gemaak. Dit is die vorm wat haar religie daarna aangeneem het. Van toe af het sy geglo "right thinking can heal" (K 3015), wat 'n einde aan haar periodieke senusiektes gebring het. In 1924 het sy daarin geslaag om Waldorf ook tot Christian Science oor te haal. Hoewel Mary Baker Eddy nie onderskeid tussen Protestante en Katolieke getref het nie, was Nancy sterk anti-Katoliek gesind. Sy het Rooms-Katolisisme as 'n "spiritual dictatorship" beskou (K 5156). Haar anti-Katolisisme kan deels toegeskryf word aan haar morele besware teen Latynse volke, veral die Franse. Sy het gedink dat hulle seksueel promisku is. Sy was teen geboortebeperkingsmiddels en nudisme gekant. Sy was so eng dat sy sou verkies dat haar skaduwee klere aantrek. 

Nancy en Philip Kerr (1882-1940), 'n mede-aanhanger van Christian Science, was goed bevriend. Kerr het aan haar geskryf: "I feel like a lost sheep with no shepherd to answer the tinkling of my bell" (K 3059). "The friendship seemed to have aspects of a love affair, but without its core. As Nancy later related to a niece, one day she and Kerr were suddenly overcome with desire for each other, but rather than responding as others might, they fell on their knees in prayer, and so managed to quell the urge" (K 3082).

In 1918 is stemreg aan Britse vroue toegeken. Toe Waldorf in 1919 verplig is om die Plymouth-setel te ontruim, het Nancy sy plek ingeneem en die eerste vrou geword wat sitting in die House of Commons gehad het: "A Pekinese which has innocently upset the calm of a whole kennel of bulldogs" (K 3962). Uiteraard het dié pos van haar 'n voorvegter vir vroueregte gemaak. Sy het haar ook oor die armes en kinders ontferm en gehelp om skole, klinieke en ontspanningsgeriewe te vestig. "She was neither intellectual nor artistic, showing little evidence of having original ideas" (K 2653). Daarby was aan aanbiedingstyl "rather street corner," dus nie-parlementêr (K 3934). Die feminis Ray Strachey het gesê: Nancy "is lamentably ignorant of everything she ought to know" (K 4118).

Waldorf en Nancy het baie filantropiese welsynswerk gedoen. Hulle het hulle welvaart aan kapitalisme te danke gehad en was sterk teen sosialisme en veral kommunisme gekant. Gedurende die twee wêreldoorloë het hulle nie van die Britse assosiasie met Rusland gehou nie. Vanweë die Astors se agtergrond het hulle simpatie met die Duitsers en selfs met antisemitisme gehad, hoewel hulle sionisme gesteun het. Nancy het medelye met Duitsland gehad omdat dit deur Rooms-Katolieke lande omring word. Voor die Tweede Wêreldoorlog was albei Astors pasifisties en het hulle Neville Chamberlain se paaibeleid gesteun.

Toe die oorlog uitbreek, het hulle hulle lojaal aan die Britse kant geskaar en beklemtoon dat hulle demokrasie verkies en diktators soos Adolf Hitler en Joseph Stalin verfoei. Tydens albei oorloë is Cliveden grootmoedig vir gebruik aan die regering beskikbaar gestel. Albei kere is 'n hospitaal vir Kanadese soldate daar gevestig. Diegene wat voorheen deur Waldorf en Nancy onthaal is, is egter die "Cliveden Set" genoem en verkeerdelik met die Nazi's geassosieer. In 1945 het dit die einde van Nancy se politieke loopbaan beteken; ook omdat Waldorf nie meer kans gesien het om langer, grootliks agter die skerms, sy vrou se openbare lewe te stut nie.

Sowel Waldorf as Nancy was teen drank, die rookgewoonte, weddenskappe en dobbel gekant. Nancy het dit na kaartspel uitgebrei. Waldorf het baie geld in sy teelprogram vir renperde belê. Nancy het egter nie van perdewedrenne en die "racing set" gehou nie (K 2156). Sy het min gelees en nie aanklank by kunswerke en musiek gevind nie. Sy het ook nie van tuinmaak gehou nie, maar groot waarde aan blomme in die huis geheg. Vir katte was sy vreesbevange.

Mettertyd het Waldorf en Nancy al hoe meer onversoenbaar geword. Na die Tweede Wêreldoorlog het Waldorf hom geredelik met die egalitariese, klaslose samelewing versoen. Hy was altyd teen vererings en titels gekant. Dit is waarom hy so ontevrede was toe hy weens 'n geërfde titel sy plek in die House of Commons moes ontruim. Daarenteen het Nancy se politiek al hoe meer regs geneig. Albei was egter ten gunste van 'n vorm van wêreldregering (Volkebond, Verenigde Nasies) sodat oorloë voorkom kon word. Deur die jare het hulle ook baie ter bevordering van "Anglo-American solidarity" gedoen (K 4378).

Gedurende hulle laaste jare het Waldorf verkies om op die Cliveden-landgoed te bly en in die somer Skotland en hulle huis op die eiland Jura te besoek. Nancy, daarenteen, het by voorkeur in Londen en in hulle strandhuis naby Sandwich in Kent gewoon. Na Waldorf se dood het Nancy se betrekkinge met haar kinders en skoonkinders nie verbeter nie. Sy was te eienaardig en wispelturig. Bobbie, haar lieflingskind uit haar eerste huwelik, was dranksugtig, het probeer selfmoord pleeg (waarin hy na haar dood geslaag het) en was homoseksueel. Van sy lewensmaat het Nancy gesê: "Frank is the prettiest of all my children's girlfriends" (K 6794). Les bes het haar jongste kind, Jackie (1918-2000), met 'n Rooms-Katoliek getrou.

Johannes Comestor

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top