Komkommer jou oor liefde

  • 2

“Die liefde is soos ‘n ryp komkommer, vergeet hom in sy sakkie dan verlep hy sommer.” So sing Valiant Swart oor die liefde. Hierdie een sinnetjie het my al sedert my skooldae laat tob oor die liefde. As die liefde ‘n komkommer is, wat maak hom dan ‘n ryp een en wat maak hom vrot, en wat as dit een of ander genetiese gemanipuleerde komkommer is wat vir maande aan een ryp kan bly sonder om in sy sakkie te vrot? Party sal sê ‘n gesonde verhouding met die wat jy lief het maak dat die komkommer nie vrot nie, ander sal sê om die vuur aan te hou voer in ‘n verhouding, verhoed dat die komkommer vrot. My beseffing dat die liefde soos ‘n komkommer is het my soos ‘n weerligstraal getref.

Dit was ‘n vroeë wintersoggend gewees en ek’t net begin om die water te toets met die meisies op die rype ouderdom van 15. ‘n Brunette (ek kan tot vandag toe nie haar naam onthou nie) het al vir ‘n rukkie begin ogies maak vir my en op daardie stadium was ek maar nog ‘n rookie lover, ek dink as jy enige van my vorige liefdes gaan uit vra hieroor sal hulle vir jou nogsteeds kan sê ek is ‘n rookie lover. Ons het slegs per sms met mekaar gesels en nooit mekaar gegroet by die snoepie, op die rugbyveld of met saalopening nie, ek was dood eenvoudig te skaam gewees om ‘n move te maak. Hierdie wintersoggend sou my perspektief op meisies en op die liefde dramaties verander het.

Ons het soos wat skoolkinders maar maak besluit om te bank en ‘n dampie agter die pawiljoen te maak. Dit was altyd ‘n baie delikate taak gewees en jy moes soos ‘n ex-Rekkie maar op jou hoede wees vir enige onderwysers wat jou skielik aan die kraag kon kom gryp het as jy daai laaste trekkie wou geniet het. Brunette was ook in die omgewing gewees, ek was onbewus daarvan gewees, ook maar goed so want om net verby haar te loop tydens klaswisseling was maar vir my ‘n bra moeilike taak gewees. Die belangrike taak wat vir ons voorgelê het, het heel goed verloop en daar was nog geen tekens van ‘n onnie op ons radar gewees wat die vervulling van nikotien kon belemmer nie, tot ou Hans die skoolopsigter ons gewaar het en in ‘n skril stemmetjie vir ons gil: “Hey! Wat maak julle maaifoedies daar!”. Net daar en dan het ons die pyle dood getrap en die hasepad gekies. Ek het begin hol asof daar ‘n kommando my spoor was, om die draai het ek haar gewaar maar ek kon nie my brieke aanslaan nie en ek plant ‘n sop natte op haar mond!

Almal beplan hoe hulle eerste soen gaan wees, my teiken was reg maar die manier hoe dit uitgevoer was, was hopeloos verkeerd. Tog in daardie oomblik het dit gevoel asof die wêreld rondom ons smelt en die uurglas vir so paar sekondes gevries het. Brunette was skoon stom geslaan wat so pas gebeur het, sy was gewoond aan ‘n X agter my SMS-boodskappe en hier kry sy ‘n stink rokersoen van my af. Ons het nooit weer gepraat daarna nie, maar dit het my die selfvertroue gegee om meer waaghalsig te wees as dit kom by liefde en ek’t wonderlike vriendskappe en verhoudings met meisies van daai dag af gehad. My eie komkommer was besig om in sy sakkie te vrot en te danke aan ‘n fratssoen het ek tot die besef gekom dat jy maar jou komkommer uit sy sakkie moet haal en jou liefde vir die mense rondom jou moet uitstraal en dit geld vir jou verhouding met jou familie, vriende en jou ander helfte. Valentynsdag met sy rooi rose en goedkoop tjoklits het ook gekom en gegaan, en ek was nog nooit ‘n aanhanger van Valentynsdag nie, vir my is dit die clichéste dag van die jaar, in plaas daarvan om een spesifieke dag uit te sonder om vir jou geliefde te wys hoe lief jy werklik vir hom/haar is, doen dit elke dag, want om die komkommer elke Februarie uit sy sakkie te haal of self glad nie gaan beslis veroorsaak dat jy met ‘n ou vrot outjie sit wat niemand gaan wil eet nie. My redenasie is, hoekom hom in die eerste plek in sy sakkie sit, sny hom op en eet hom saam jou gunsteling-maaltyd. Die lewe se uurglas kan bitter vinnig uitloop en daarom is daar nie tyd om die liefde in die eerste plek in ‘n sakkie te plaas of te hoop dat jy een of ander wonder komkommer het wat nie gaan vrot nie.
Komkommers kan jy elke seisoen van die jaar kry, gaan koop sommer nou jou komkommer by jou naaste supermark. Eks seker daarvan Brunette dwaal nou deur die komkommerrakke in die Kwik Spar opsoek na haar komkommer.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top