15 * * *
Een vakansie, op die strand, tel ek my jongste op my skouers om hom water toe te vat. Hy was toe nog baie klein, het skaars begin praat op daardie stadium, skoon, mooi beginnerstaal (hy't nooit eintlik babataal gepraat nie). Evenwel, hy wou van dag een af daar niks van die water weet nie en ek dag ek sal hom op die manier nou stadig inlyf, kan jy maar sê, gewoond maak aan die water.
Hy hou met sy vingertjies in my hare homself regop en toe ek see se kant toe draai sê hy met 'n bewerige stemmetjie: "Pappie, kom ons loop liewers anderkant toe."
"Nee man," sê ek, "dis lekker daar in die water" en ek voel hoe verstyf sy grepie soos ons nader aan die water kom.
"Pappie," sê hy bewerig na nog so twee treë, "kom ons loop."
"Nee man," sê ek, "jy sal sien hoe lekker is dit in die water" en teen hierdie tyd voel dit of hy omtrent my hare uittrek soos hy vasklou en ek gee nog 'n tree nader.
"Fok, pa!" bulder hy toe my voete die water raak, "ek het gesê ons moet loop!!"
16 * * *
Die einste jongste sit in sy babastoeltjie, baie beteuterd, diep ingedagte en vol van een of ander salf gesmeer want hy was deur 'n klomp perdebye bygedam. "Jis," mymer hy, "perdebye is darem maar poephols."
Jan Rap


Kommentaar
Ag jinne, so oulik!!
Laat my terugdink aan my seun wat ook met iets snaaks vorendag gekom het toe hy nog klein was. Iewers het hy deurmekaar geraak met die rekenaar en die tikmasjien. Een middag roep ek na hom om te hoor of hy weet waar pappa is. Hy antwoord toe:
"Ja mamma, hy sit in die kamer voor die tikkenaar!"
Vandag is hy al 'n groot man, maar spot ons hom nog steeds daaroor.
Jan, ons Sênetters wil graag weet waar die kind daardie lelike vloekwoorde geleer het? Tog seker nie by sy pa nie, wat dan altyd so ordentlik voorkom hier op die internet?
Groete,
Varkspek