Geheuekiekies

  • 5

Ek het nie sulke mooi of snaakse geheuekiekies soos bv Jan Rap nie maar het ook my deel van vet pret gehad wat my lewenslank sal bybly.

In die sewentigs het die Assemly Hotel in Pretoria gekook. Daar het 'n orkes met die naam van Gate gespeel. So nu en dan was die Vlermuise (Bats) ook daar.

Die betrokke aand is ek en my vrind, drinkebroer en weermagkollega in die plek in. Die vrind van my was 'n aantreklike man. Lank, lenig, blond van haar en blou van oog. Die vroutjiesmense het half laf geraak oor die man. Ek het op my eie stoom daar aangekom maar hy het met sy eie motor wat hy reg by die ingang parkeer het aangekom. Dit gaan toe op 'n stadium geil. Dit is 'n gelag en gefuif asof dit uit die mode gaan. Die meisietjinners raak al hoe lawwer oor my vrind en van die manne in die "lounge" begin in hul biere brom. Van die dames het sommer by ons aangesluit en geselsies aan geknoop.

Op 'n stadium moes ek net gou iewers gaan waar niemand namens my kan gaan nie. Met my terugkom sien ek die "lounge" half leeg en op die sypaadjie is daar 'n samedromming. Ek skuif toe verby die mense en loer grondlangs wat aangaan.

Onder die Toyota is my vriend. Hy klou aan die kar se dryfas vas. Twee manne met lang hare en verwoede uitdrukkings in hul oge probeer hom onder die kar uit trek met die belofte dat hulle hom vanaand gaan "dood bliksem". Wat in my geheue vassteek is my vrind se gebeentes wat onder die kar uitsteek en die manne wat hom probeer uittrek.

Al wat ek kon doen was om maar daar weg te sluip soos 'n skaapdief want anders het ek as meeloper ook sommer pak gekry.

Reusedwerg

  • 5

Kommentaar

  • Ek onthou die assembly baie goed.  Ek en my vrou het Vrydae na werk op pad huistoe 'n kroegete daar gaan eet, spotgoedkoop en die stuk steak was net so groot soos dié van die Caffé (of is dit Café?) Italia daar onder in Proesstraat.  Op daardie stadium was die musiek gemaak deur twee Spanjaarde, 'n tromspeler en 'n klavierspeler.  So nou en dan was daar 'n ou op 'n hoë stoel met 'n kitaar wat gesing het saam met die twee Spanjaarde (hulle het nooit gesing sover ek kan onthou nie). 
    'n Baie oulike ding wat die twee Spanjaarde eendag gedoen het was dat die ou wat klavier speel op 'n stadium net met een hand speel en in die ander hand vat hy 'n tromstokkie en begin op een van die tromme tokkel.  Naderhand word die klavier al hoe flouer en speel hy met altwee hande saam met die ander ou op die tromme.  Dit bou toe op na een ma van 'n crescendo en stadigaan begin hy weer met die een hand klavier speel en naderhand met altwee hande en die stuk eindig.
    Eendag, terwyl ons eet, sien ek die twee Spanjaarde bestudeer 'n kaart  en ons het hulle nooit weer gesien nie.  In hulle plek het 'n raserige orkes gekom wat 'n klomp teenyboppers gelok het en dit was laaste wat ek by die Assembly gekuier het.  Dit moes so 1972 - 73 gewees het.

  • Wow Jan!

    Nooit besef jy is so oud nie!  Nou verstaan ek hoekom jou politiek so verregs heul!

    Jaco Fourie

  • Jaco, wat wil jy nou eintlik sê? Is die ouens ouer as jy almal regs en wat is daarmee verkeerd en in dieselfde asem wat is regs in jou oge? Versigtig nou, nou moet jy jou woorde reg kies.

  • Jaco

    Hoe kan jy nou iemand se ouderdom koppel aan politieke sienings?  My oorlede pa, natuurlik ouer as ek, het min of meer julle liberales se sienings gedeel.  Max du Preez en Van Zyl Slabbert en Helen Zille is ook ouer as ek en ek's seker jy sien hulle nie as ver regs nie.  My een suster, weliswaar jonger as ek maar darem nog dieselfde geslag, stem vir die ANC  (alhoewel ek twyfel of sy dit steeds doen).

    Ek is nie ver regs nie maar vir ver linkses soos jy moet dit seker so lyk. 

    Jy's nie objektief nie Jaco; jy word maklik gebreinspoel omdat jy ingeprente onwrikbare idees het wat die koerante in jou kop geplant het.

    Jan Rap

    Naskrif:  Bietjie huiswerk vir jou - gaan soek die woord 'heul' op in die woordeboek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top