Geheuekiekie 20

  • 0

Ou Leon, ons het in baie buitekompetisies saam gespeel, kom eendag na rolbal, weer laat, by die huis aan, hy en sy vrou. Sy is vies (meeste vrouens is vies as mens van die rolbal af kom), wou seker al lankal gery het, en sê sy gaan slaap. Ou Leon sê hy wil die laataand nuus kyk en gooi vir hom 'n laaste dop, steek 'n sigaretjie aan en maak hom gemaklik in sy gemakstoel voor die televisie.

Hy sê hy word toe later wakker van rook wat die hele voorhuis vol is en hy kom naend agter dis die stoel wat so rook. Hy sê hoe meer hy probeer doodklap hoe meer gloei die stoel en al wat hy toe kon doen was om die ding by die skuifdeur uit te sleep en in die swembad te gooi, netnou steek die ding die huis aan die brand.

Nou wawyd wakker skink hy toe maar nog 'n dop, steek 'n sigaret aan en maak hom tuis op die rusbank om nou nog 'n bietjie televisie te kyk laat net bietjie kan kalmeer. Hy sê toe hy hom kon kry is hy seker hy's besig met een van daardie déjà vu ondervindings wat die mense van praat want die plek is weer vol rook en die bank gloei.

Hy sê hy probeer die bank ook toe swembad toe sleep maar die is te swaar, bly haak aan die drumpel van die skuifdeur en gelukkig kry hy toe 'n pot water op die stoof wat hy toe oor die bank uitgiet en dit het gewerk; die ding het ophou gloei. Hy sê skink toe maar weer 'n dop en soek 'n droë kolletjie op die bank waar hy toe gaan lê om te herstel.

Sy vrou sê sy word so vieruur die oggend wakker van Leon se gebulk – mans se stemme is nie hoog genoeg om te gil nie. "Ek vrot!" skree hy. Sy sê sy kom in die sitkamer en sien deur die glasdeur 'n stoel in die swembad dryf, die rusbank staan halfpad by die voordeur uit en Leon, in 'n toestand, sit op einste, sy hele lyf vol rys.

Die pot water wat hy op die stoof gekry het was toe vol rys en soos hy aan die slaap geraak het op die bank, seker rondgerol so nou en dan, het toe veroorsaak dat die rys oral aan hom vasklou en hy dog dis maaiers.

Ou Leon is nou die dag oorlede, sy vrou nog steeds aan sy sy tot die einde. Sy het hom nie geskei nie. Sy is 'n baie goeie vrou.

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top