Beste François,
Na aanleiding van jou liefde vir die Filippyne, deel ek hierdie besondere verhaal spesiaal met jou.
Net buite die stad Zamboanga in die Filippyne staan daar glo 'n ou gebou wat baie soos 'n Romeinse fort lyk. Dis in die tyd toe die Spanjaarde oor die Filippyne geheers het gebou (ja, dis nie net die Ingelse en Kaaskoppe nie, die Spanjaarde, Porras en Franse het ook hul kant gebring).
Die fort het 'n lang geskiedenis. Toe hulle baas was, het die Spanjaarde dit gebruik as tronk vir mense wat teen hulle regering gewerk het. Toe die Amerikaners later die baas van die eiland word, het hulle die fort vir dieselfde doel gebruik. Na die Amerikaners het selfs die Japanese dit as tronk gebruik.
Uiteindelik het die fort 'n tempel vir die Christene van Zamboanga geword. Vandag is dit 'n museum, 'n tempel en 'n skool. Dis waar die kindertjies van Zamboanga die verhaal van die Vrou op die Pilaar hoor.
Op 'n pilaar in een van die mure kan 'n mens vandag nog glo duidelik die beeld van 'n vrou se gesig sien. Die mense vertel dis die beeld van die maagd Maria, die Moeder van God. Van hierdie beeld kry die gebou ook sy naam en die mense wat na die gebou gaan kyk, gaan daarheen omdat hulle die vreemde verhaal gehoor het van hoe die beeld daar gekom het.
Tydens die Spanjaarde se bewind was die hele Filippyne vol wrede en veglustige rowers wat mense vermoor, hul goed gevat en hul huise aan die brand gesteek het. Die rowers is die Moro's genoem. Die Spanjaarde het toe die fort gebou om 'n nou seestraat teen die Moro's te beskerm. Die ou lantakas (kanonne) wat teen die Moro's gebruik was, is steeds daar.
Omdat die rowers nooit verby die fort kon kom om die mense te beroof nie, het hulle besluit om die fort self aan te val. Die Moro's was baie meer as die Spanjaarde in die fort. Die Moro's het een aanslag op die ander teen die fort geloods en geleidelik die oorhand begin kry. Die Moro's' was gereed vir 'n finale inval. Maar, toe gebeur daar iets ...
Die Spanjaarde het gesit en wag op hul lot, maar die Moro's kom nie. Hulle het gewag en wag, maar daar gebeur niks. Die Spanjaarde het begin dink is 'n slim plan van die Moro's wat maak of hulle gevlug het, net om die Spanjaarde in 'n hinderlaag te lok. Die Moro's het egter nie weer aangeval nie. Hulle het na hul skepe gegaan en vinnig weggevaar.
Toe 'n Spaanse soldaat later deur die fort geloop het, het hy die beeld van moeder Maria op die muur gesien. Hy roep toe die ander manne om te kom kyk. Ja, daar is dit voor hul oë! "Daar moes 'n wonderwerk gebeur het!", sê die een. "Dis hoe ons gered is! Die Moro's het gevlug omdat die Heilige Maagd Maria met die Kind hier verskyn het. Ons Moeder het die beeld van haar gesig hier op die muur gemaak." Al die soldate het op hul knieë geval en die HERE gedank vir die redding.
Hulle het ook later uitgevind dat 'n vrou in wit klere met 'n kind op haar arm by een van die wagte in die fort gekom het. Die wag het halt geroep en vir haar gevra waar sy gaan. "Wag", het sy gesê; "weet jy dan nie wie ek is nie, waarom keer jy my?" Die wag het geskrik en nie geweet wat om te doen nie. Toe sê hy: "Vergewe my, liewe moeder. Ek is maar net 'n eenvoudige wag wat my plig doen". Die Vrou en die Kind het toe voor sy oë verdwyn.
Op 21 September 1897 om 13h14, het 'n sterk aardbewing die weste van Mindanao getref. Die Maagd Maria het weer verskyn en volgens getuies, het hulle haar in die lug hoog bokant die Basilan Seestraat sien sweef met haar regterhand uitgestrek om die aanstormende tsunami te stop. Die hele stad om die fort is toe gered.
Die fort staan bekend as "Fort Pilar: Real Fuerza de Nuestra Señora del Pilar de Zaragoza".

Namaste!
Hindoe-, Moslem-, Joodse-, katolieke-, Boeddhistiese-, Boeregroete en Afrikaliefde,
Cornelius Henn


Kommentaar
Oe! Cornelius, vertel nog. Ek is mal oor spookstories. As kinders het ons so om my oupa saamgedrom as hy van spoke vertel. My gunsteling was daar waar hy vertel het hoe hy elke nag wakker word, en dan lê sy komberse op die vloer. Die betrokke nag maak hy of hy slaap, maar bly wakker. Dit was nie lank nie, of 'n deurskynende vrou kom sy kamer binne. Sy gaan sit langs hom op die bed en begin sy komberse van hom afrek. Skielik skakel my oupa die lig aan en daar was niks.
Hallo Angus,
Soos altyd; baie dankie vir jou belangstelling.
Ja, ek ken nogals BAIE spookstories.
Ek sal 'n bietjie deur my gunstelinge blaai en eersdaags spesiaal een daarvan met jou deel.
Met alle respek; is/was jy darem lief vir jou oupa ook?
Namaste!
Cornelius
Amusant!