Die Wouter-faktor

  • 6

Aan diegene wat nuut op SêNet is, wil ek 'n bietjie agtergrond oor Wouter gee en daarmee sommer ook SêNetters van weleer se geheue verfris. Wouter was voorheen prominent op die werf met meerdere bydraes per dag, dikwels bestaande uit lang aanhalings. Die aanhalings was nie altyd sonder waarde nie, maar hy was terselfdertyd geneig om persoonlike aanvalle op SêNet-skrywers te loods.

Wanneer ek boeke bespreek het, het hy my bydraes graag verdag gemaak, skynbaar sonder dat hy die boeke gelees het. Sy strategie was blykbaar om haastig en oppervlakkig oor die boeke of onderwerpe op die internet te lees en dan met swak geformuleerde aanvalle vorendag te kom. "Fundamentele besinning en oorwoë insig ontbreek by Wouter, onder andere omdat so iets nie in 'n kits op die internet opgespoor kan word nie" (6.02.12 - al sulke datums verwys na SêNet). Ek het dit aan hom voorgestel dat ons ooreenkom oor watter boeke ons lees en dat ons dan op dieselfde dag en dus onafhanklik ons indrukke oor 'n bepaalde boek op SêNet publiseer (22.11.11). Hy het my uitdaging aanvaar, maar toe dit by die eerste datum kom waarop hy teks moet lewer, naamlik 30.01.12, het daar niks van gekom nie; 'n mens kan maar sê: net so min soos van FW de Klerk se magsdeling.

Wouter het lank van die werf verdwyn en pas sy herverskyning gemaak. Soos van ouds kom hy weer met meerdere bydraes (vier op die 7de, drie op die 8ste) per dag, weer persoonlike aanvalle op my en 'n ander SêNetter, weer swak geformuleerde, slordige bydraes. Byvoorbeeld, hy noem nie eens wie die betrokke Gifford-lesings gelewer het nie (8 deser). Tydens sy afwesigheid het hy klaarblyklik nie verbeter nie, of dalk in een opsig. Anders as voorheen, gee hy nie voor dat hy Dilorenzo se boek oor Lincoln gelees het nie. Hy kan nie eens die outeur se van reg spel nie (8 deser).

Dilorenzo het met sy boektitel daarop aanspraak gemaak dat hy Lincoln ontmasker het. In die opskrif van my skrywe het ek 'n vraagteken daaragter geplaas (21 Feb). Nou kom Wouter in sy opskrif ook met 'n vraagteken na "ontmasker" om te insinueer dat ek valslik Lincoln probeer ontmasker het. Ek het spesifiek genoem dat daar propagandistiese elemente in die boek is. Ook dat Lincoln mettertyd politiek meer verlig geword het. Dit is dus maklik om aanhalings uit Lincoln se latere lewe op te spoor, soos Wouter doen, waarin hy hom ten gunste van die vrystelling van die slawe uitspreek. Maar dit was nie altyd Lincoln se standpunt nie en hy was tot sy einde ten gunste van die deportasie van vrygestelde slawe. Op grond hiervan en ander voorbeelde wat ek genoem het, het ek beweer dat Lincoln konserwatiewe reste behou het. Ek het my tussen Dilorenzo en die huidige populêre mening oor Lincoln geposisioneer. Wat ek probeer aantoon het, is dat Lincoln 'n mens van sy tyd was en dat dit onwys is om hom, soos deesdae graag gedoen word, in die politiek-korrekte keurslyf of borstrok van ons tyd te probeer indwing. In sy haas om my aan te val, het hierdie kern Wouter verbygegaan.

In die reaksies onderaan het Wouter ook my skrywe oor FW de Klerk (1 deser) aangeval met ongegronde uitlatings soos "bog" en "loutere onsin". Hy verwys ook na hierdie brief in sy derde bydrae (8 deser). Hy gaan homself heeltemal te buite. Ek het niemand "vervloek" nie en nêrens word 'n "staatsgreep" te berde gebring nie. Wat Wouter doen, is werklik skandalig. My standpunt word doelbewus foutief voorgestel, bv "dat mag net die oorheersende groep van die tyd toekom," terwyl ek juis pleit vir magsdeling. Ek verwys SêNetters na my skrywe van 1 deser en my reaksies wat daaronder volg vir 'n juiste weergawe van my politieke oortuiging. Daar is moontlik nog nooit 'n skrywe op SêNet gepubliseer wat swakker geformuleer is as Wouter s'n op 8 deser nie, bv "Selfs die skoolkinders van 1976 hoe verkeerd die stand van sake was." Ek gaan nie in besonderhede op so 'n onsinnige warboel reageer nie. In sy eie belang behoort Wouter gehoor te gee aan wat ek voorheen meermale by hom aanbeveel het, naamlik dat hy minder en ook beter moet probeer skryf (bv 2.07.10). Dan sou dit dalk die moeite loon om punt vir punt op sy skrywes te antwoord. Ek het dit voorheen probeer (14.02.12), maar sonder die gewenste resultate.

Op 7 deser het ek oor 'n pes of plaag geskryf: "Always plagues ... take people ... by surprise." Op dieselfde dag het Wouter met vier bydraes op SêNet teruggekeer: (1) Oor Wittgenstein, waarin Wouter daardie filosoof se essensie tot metodologie probeer reduseer, vergetende dat Wittgenstein iets met sy metodologie gedoen het. Vir Wouter was die aanleiding waarskynlik my vorige skrywes oor Wittgenstein (bv 23.05.11). (2) Oor RSG, waarin Wouter net lof vir hierdie radiostasie het. Die aanleiding vir hierdie brief was waarskynlik my kritiek op RSG (6 en 18.06.12), asook dié van Jan Rap, wat by die naam genoem word. (3) Oor Zuma, Marikana, ens, na aanleiding van my skrywe oor bv laasgenoemde (20.08.12), asook sommige van die skrywes van Jan Rap, wat weer by die naam genoem word. (4) Oor Israel, wat deur Wouter gedemoniseer word, waarskynlik geskryf na aanleiding van bv my skrywe oor die Balfour-verklaring (12.02.13).

Wat ek in die vorige paragraaf probeer aantoon, is dat Wouter se skrywes, soos voorheen meermale aan hom uitgewys (bv 17.11.10), neig om persoonsgerig te wees en sekerlik persoonsgemotiveerd is. Selfs my Uno (17.06.11) spook steeds by hom (8 deser). Sedert sy terugkeer op SêNet het hy op my en Jan Rap gefikseer. Sy venyn jeens my en Jan Rap is wesenlik politiek gemotiveerd, soos ek voorheen telkens genoem het (bv 19.11.10), maar sy onverkwiklike kritiek word na potensieel enige onderwerp uitgebrei. Ek sien uit na die dag waarop Wouter eerder oor onderwerpe as sodanig skryf, sonder om uitdruklik of by implikasie 'n SêNetter op 'n onetiese manier aan te val; ook as hy dit sou doen sonder om met lang, onverteerde aanhalings vorendag te kom.

Ek hou nie daarvan om verplig te voel om oor Wouter te skryf nie. Sulke briewe beskou ek nie as bydraes nie, maar as ontboesemings (14.02.12). Volgende keer sal ek probeer om 'n bydrae te lewer deur oor die eerste lady Di te skryf. Kom ons kyk of beterweter Wouter ook daaroor 'n negatiewe windeier te lê het.

Johannes Comestor

  • 6

Kommentaar

  • Hello, 

     
    Heel amusant, die pot skel die ketel uit, met stellings soos, 'lang, onverteerde aanhalings vorendag te kom', terwyl 'n groot persentasie van Comestor se werk net uit aanhalings bestaan, keurig gekies en vereis dat dit met omsigtigheid moet gelees word. 
     
    Nou word die leser vertel dat Comestor 'n oop gemoed gehad het oor Lincoln. 
     
    Kan dit hoegenaamd geglo word met die volgende slotsom uit Comestor se pen: 
     
    'Dit lyk asof 'n mens versigtig moet wees om van Lincoln 'n heilige, 'n messias, 'n vader Abraham of 'n Moses te maak. Dit kan bevraagteken word of Lincoln, soos dikwels sonder meer beweer word, die beste Amerikaanse president was. Die voorafgaande behoort 'n mens ook te noop om meer krities oor ons huidige plaaslike messias te besin'.
     
    Gedurig is daar hierdie poging om met 'n omweg nou 'n 'bewys' daar te stel dat aan die hand van Lincoln moet Mandela ook nou bevraagteken word. 
     
    Hoe kan daardie pad geloop word?
     
    Net soos die vraag bly hoe kan die werk van 'n persoon met 'white supremacist', 'neo-Confederate movement' verwantskappe hoegenaamd as 'n betroubare gids tot Lincoln beskou word. 
     
    Die keuse van die boek openbaar ongelukkig vir Comestor sy ware inslag. 
     
    Hierdie is nog meer amusant: 
     
    'Oor Wittgenstein, waarin Wouter daardie filosoof se essensie tot metodologie probeer reduseer, vergetende dat Wittgenstein iets met sy metodologie gedoen het. Vir Wouter was die aanleiding waarskynlik my vorige skrywes oor Wittgenstein (bv 23.05.11). (2) Oor RSG, waarin Wouter net lof vir hierdie radiostasie het. Die aanleiding vir hierdie brief was waarskynlik my kritiek op RSG (6 en 18.06.12), asook dié van Jan Rap, wat by die naam genoem word. (3) Oor Zuma, Marikana, ens, na aanleiding van my skrywe oor bv laasgenoemde (20.08.12), asook sommige van die skrywes van Jan Rap, wat weer by die naam genoem word. (4) Oor Israel, wat deur Wouter gedemoniseer word, waarskynlik geskryf na aanleiding van bv my skrywe oor die Balfour-verklaring (12.02.13)'. 
     
    Die Wittgenstein is bespreek na 'n gesprek tussen my en 'n vriend van my waar daar 'n verskil was van hoe die 'werklikheid' moet ondersoek word. Met die gesprek vars in my geheue het ek die aanhalings aan hom en later LitNet gestuur. Nie as 'n finale woord nie, maar as nog 'n aspek wat beide hy en ek oor kan dink en nie omdat Comestor oor die onderwerp gepoer  het 'n paar jaar gelede nie.  
     
    My voorkeur is by die beskrywende poging tot 'n verstaan van die werklikheid. 
     
    RSG, kom ook weer van dieselfde vriend. Soos al aangedui is my luister 'beperk' tot die internasionale media en het stasies soos RSG & SAFM van my radar verdwyn. Na 'n gesprek oor 'Kommentaar' het ek dit oor die radio probeer luister, dit frustrerend gevind, die potgooi ontdek en so ingeskryf op die programme waarvan ek hou en vorm dit nou deel van 'n self opgestelde speel lys, wat die manier is hoe ek my media nou al vir jare geniet. Die verwysing na Jan Rap, was tong in die kies, want die woord, mix is deur my gebruik.....
     
    Ongelukkig weens persoonlike omstandighede was ek lank weg van die werf en het geen kennis van Comestor se skrywes van Augustus verlede jaar tot en met hier einde Januarie se koers. 
     
    Gewoonte maak dat ek deur die dag by die werk soos daar geleentheid is en dan in die aand tuis, die publikasies waarop ek ingeskryf is lees en die twee artikels oor Zuma & Israel is geplaas, grootliks omdat dit nie in die plaaslike media sou reflekteer nie. 
     
    Maar so is dit. 
     
    Comestor moet maar ongelukkig wees, soos hy wil, hierdie is 'n openbare forum, waar kritiek, aanvullende kommentaar na hartelus gelewer kan word. Om dit elke keer in hierdie tipe van gesprek te laat ontaard is die pogings van 'n desperate man om homself as onaantasbaar te laat wil staan, Comestor die groot man, is niks anders as 'n verstokte ideoloog en lees ALLES deur daardie bril. 
     
    Daar word weer herhaal, die enigste leser wat deur die meerderheid van Comestor se argumente oortuig gaan word is die ideologiese en oningeligte leser. 
     
    Ek beskou my as ingelig en skepties genoeg om nie te volstaan met die boek van 'n skrywer met 'white supremacist' &  'neo-Confederate movement' bande nie. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
     
    Naskrif, Gaan lees my briewe aan Jan en kyk of daar enige venyn is, en ek en Jan is wyd verwyderd van mekaar polities...
  • O ja hierdie: 

     
    'Ek het dit aan hom voorgestel dat ons ooreenkom oor watter boeke ons lees en dat ons dan op dieselfde dag en dus onafhanklik ons indrukke oor 'n bepaalde boek op SêNet publiseer (22.11.11). Hy het my uitdaging aanvaar, maar toe dit by die eerste datum kom waarop hy teks moet lewer, naamlik 30.01.12, het daar niks van gekom nie'.
     
    Nie waar nie, daar was eers 'n debat wat gewoed het waar 'n deelnemer hier sy kleinlikheid aan hom uitgewys het, die belaglikheid van Comestor as die skoolmeester duidelik gemaak is en hoe absurd dit is dat daar eksamen geskryf moet word. 
     
    Vir die rekord, die onderwerp waarop besluit was het gehandel oor Zimbabwe en die het ek gelewer.  Van die onderwerpe waaroor daar sou gelees word is onderwerpe waarby ek belang het, soos die 'Astor's en ander ryk Britte wat hom klaarblyk mateloos fassineer'. 
     
    Nou bloedskandes en verhoudings en sepie lewenstyl gaan my werklik nie aan nie. 
     
    So hierdie briewe soos nou gepubliseer is maar 'n herhaling van die vorige rondte. 
     
    Die verkskil is, hierdie keer kan Comestor na die maan gaan......en steur ek my nie aan sy tirades nie. 
     
    Ek weet wat die stand van my intellektuele bestaan en verwysingsraamwerk is. 
     
  • Johannes Comestor

    My en Wouter se gebruik van aanhalings verskil inderdaad baie. SêNetters kan gerus self hieroor oordeel.

     

    Ek was bewus daarvan dat Wouter 'n agterdeur het waaruit hy kon ontsnap vir wat ek oor sy vier bydraes van 7 deser geskryf het en hy het dit gebruik.

     

    Ek het gister duidelik my nie-onaantasbaarheid bely, maar Wouter verkies om my nie te glo nie.

     

    Kobus de Klerk is die persoon wat Wouter nie aan die toets wou onderwerp nie. In daardie stadium was Wouter De Klerk se skoothondjie, maar hulle verhouding het spoedig versuur. Ek voorspel dat die mate van geneentheid waarmee Wouter Jan Rap tans hanteer, ook gou tot die verlede sal behoort. Dan sal Wouter seker ook na hom drie keer as "die oom" verwys sonder om hom by die naam te noem (Wouter se reaksie op 10 deser onderaan Wouter se skrywe van 8 deser).

     

    Ek is nie bewus van 'n bespreking van 'n boek oor Zimbabwe, seker deur Peter Godwin, wat Wouter na aanleiding van ons ooreenkoms gelewer het nie. Die ooreenkoms was dat hy oor twee boeke verslag sou doen. Ek hou sekerlik nie uitdrukke van wat Wouter op SêNet publiseer nie. Hy is knap met lang aanhalings. Kan hy asseblief daardie skrywe van hom en die datum waarop dit gepubliseer is vir ons hieronder reproduseer? 

     

    SêNet is sekerlik 'n openbare forum waarop menings gelug kan word, maar 'n mens sou graag wou sien dat alle skrywers aan sekere minimum norme van beleefdheid en waarheidsgetrouheid voldoen.

     

    Johannes Comestor

  • Kobus de Klerk

    Net vir die rekord, Comestor.

    Jy vind dit goed om, nes jy nou vir Wouter tussen die lyne oor wil blameer, te wil voorgee dat ek my mantel ook so na die wind swaai.

    Dit waaroor ek jou gekritiseer het en waarna Wouter verwys, staan steeds vas. Die feit dat dinge mettertyd vonkspatterig tussen my en Wouter geraak het, doen daar geen afbreuk aan nie.

    Beide van julle is agnostici  - dus, ek het nie, wat dit aanbetref,  te kies tussen julle nie. Ek kyk maar na elk se benadering en manier.

    In die latere gesprekke met my, het Wouter weliswaar onder kwaai druk afgewyk van sy gebruiklike welwillende en innemende styl (wat ek glo, inderwaarheid sy persoonlikheid reflekteer) en as jy wil eerlik wees, sal jy ook erken dat ook hy nie die kritiek wat daarmee gepaard gegaan het, vrygespring het, nie.

    Net soos jy - ek het jou al gekritiseer, maar ook gekomplimenteer. Ek het dus niks teen 'n persoon self nie, maar ek bekyk maar wat 'n persoon kwytraak.

    Wat ordentlike persone aangaan wat op hierdie forum deelneem, beskou ek steeds vir Wouter as sekerlik die ordentlikste en welopgevoede (eintlik moet ek sê, iemand wat sy opvoeding nie so maklik vergeet in moeilike gesprekke nie) deelnemer oor verloop van tyd, ten spyte van sy glipse. En ek het jou ook al uitgewys as besadig en ordentlik, al stem ek met nie een van julle saam oor baie dinge wat julle hier skrywe, nie.

    Ek dink julle het beide 'n persoonlike vete teen mekaar, en julle gebruik beide mekaar se papegaaiwerk as wapens teen mekaar.

    Dan wonder mens ook wat gebeur het in die kort tydjie sedert jou kommentaar toe Wouter nou onlangs weer sy terugkeer maak, en jy in 'n kommentaar vertel het hoe sy terugkeer en sy wyd belesenheid  'n aanwins is, of iets in dier voege... en nou jou absoluut teenstrydige kommentaar. Hoekom ruik dit dan na mantelswaaiery? Is dit eerlik? Watter een moet ons glo? Of is daar meer as een standaard - die een wat die ego die beste pas?

    Kobus de Klerk

  • Hello Kobus et al, 

     
    Die persoonlike aspek kom gereeld na vore en is 'n eienskap in debatvoering, hier en elders wat my fassineer. Die uitdaging bly om te verskil maar sonder om te verval in 'n algemene patroon wat hierdie tipe van driftige argumente kan kenmerk.
     
    Nie altyd maklik nie, maar die uitdaging bly staan. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Johannes Comestor

    Kobus, daar is geen papegaaiery en manteldraaiery nie. Soos jy ook ondervind het, kan Wouter 'n bate op die werf wees mits hy hom gedra. Verwys my verdere opmerkings op die hoofwerf.

    Johannes Comestor

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top