Diana Cooper, die eerste lady Di

  • 2

Ek het voorheen oor die briefwisseling van Nancy Mitford (1904-1973) en Evelyn Waugh (1903-1966) geskryf (SêNet, 18.10.2011). Daarin word daar telkens na Diana Cooper (1892-1986) en Nancy se suster, Diana Mitford, later Mosley (1910-2003), verwys. Hierdie twee Dianas is as die grootste skoonhede van hulle tyd beskou. Waugh het die karakter Julia Stitch, wat in meer as een van sy boeke voorkom, op Diana Cooper gebaseer. Met die uitsondering van die laaste en voorlaaste paragraaf, verwys Diana voortaan na Diana Cooper.

Diana se ma was Violet Manners (gebore Lindsay, 1856-1937). Henry Manners (1852-1925), die 8ste Hertog van Rutland (1906-1925), was amptelik en Henry Crust (1848-1926) biologies haar pa. Soos so dikwels destyds met die dogters van adellikes gebeur het, het Diana min formele skoolonderrig ontvang. Sy het Engelse spelling nooit bemeester nie, maar kon haar later verstaanbaar in Frans uitdruk, hoewel dikwels nie grammatikaal korrek nie. Maar sy was op selfverbetering ingestel.

Philip Ziegler het eerste 'n biografie oor Diana gepubliseer, naamlik Diana Cooper: The Biography of Lady Diana Cooper (London: Faber and Faber, 1981). Hy het die voordeel gehad dat hy inligting direk van sy onderwerp kon kry, want Diana het tot die einde by haar positiewe gebly. Ziegler se taak is vergemaklik deurdat Diana drie outobiografiese boeke gepubliseer het. Van haar eggenoot het daar ook een verskyn. Daarby het hy 'n dagboek nagelaat, terwyl baie briewe van albei bewaar gebly het. 'n Nadeel van hierdie opset was dat Diana die publikasiedatum met vyf jaar oorleef het. Ziegler ontken dat dit sy teks beïnvloed het, maar dit is baie duidelik dat hy geneig was om Diana oorwegend gunstig voor te stel; 'n onwenslike vergoeding vir haar samewerking.

Voor en tydens die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) was Diana sosiaal deel van 'n groep adellike en intellektuele jongmense wat hoofsaaklik in Londen gewoon en as 'n kliek, die Coterie, bekend gestaan het. Verskeie van haar mansvriende is egter deur die oorlog uitgewis. Dit verklaar moontlik waarom haar lewe daarna deur angsneurose, depressie en pessimisme gekenmerk is. Sy was geneig om met die geringste aanleiding die ergste te verwag.

Veral haar ma het gehoop dat Diana met die Prins van Wallis, die latere koning Edward VIII en daarna die Hertog van Windsor (1894-1972), sou trou. Hy het in 1936 geabdikeer en in 1937 met Wallis Simpson (1896-1986) getrou. Na die Eerste Wêreldoorlog was Duff Cooper (1890-1954) die enigste oorlewende lid van die Coterie wat as eggenoot vir Diana aanvaarbaar was. Uit haar adellike ouerhuis was daar egter sterk teenstand, want "that awful Duff" (Kindle 2011) was 'n klerk in die departement van buitelandse sake, nie welgesteld genoeg nie en daarby sonder 'n titel. Duff het moontlik sy lewe aan hierdie klerkskap te danke, want hy is aanvanklik nie toegelaat om soldaat te word nie. In 1917 is die verbod opgehef en eers die jaar daarna kon hy na die gevegsfront gaan.

Duff het wel soos 'n adellike seun sy formele onderrig aan Eton en die Universiteit Oxford ontvang. Maar hy was as 'n losbol bekend wat gedrink, gefuif, gedobbel en rokke gejag het. Daarby het hy onderhewig aan woede-uitbarstings, "veiners" genoem (K 4599). Diana was gewild en het baie mansvriende gehad. Sy het daarvan gehou as hulle haar op die hande dra. Lewenslank wou sy nie vriendskapsbande verbreek nie: "I think one ought to go on being friends hard and not let it drop" (K 419). "She always hated to let any man pass out of her life" (K 652). "To be in love with Diana was to be a member of a club" (K 1357). Oor haar troue in Londen is gesê: "Diana's popularity with the mob is only comparable with that of Kitchener" (K 2130).

Nadat sy en Duff in 1919 getrou het, het Diana voortgegaan om met baie ander mans uit te gaan en selfs met sommige van hulle te reis, plaaslik en in die buiteland. Sy het ook 'n uitgebreide korrespondensie bedryf: "The i's toss their heads to heaven like daffodils in March" (K 1307). Duff het ongesteurd volgehou met sy ontrouheid, wat nou owerspel geword het, en selfs 'n buite-egtelike seun verwek: "I think my heart is made of paper. It catches fire easily" (K 1435). Soms is beweer dat Diana nie net Duff sy owerspel vergewe het nie, maar dit selfs aangemoedig het: "The Duchess of Windsor [voorheen Wallis Simpson] once remarked that she would never have an affair with Duff because it would mean having Diana around the house day and night being nice to her" (K 4638).

Van dié hertogin het Diana op haar beurt gesê: Sy was "slim and svelte as a piece of vermicelli" (K 4710). Die reddende faktor in die Coopers se "sailor's marriage" (K 2727) was blykbaar dat Diana 'n lae seksdrang gehad het en daarom nie eintlik jaloers op haar man se eskapades was nie. Sy het "for her days rather than her nights" getrou (K 1180). Nadat Diana 'n operasie ondergaan het, is hulle enigste kind, John Julius, in 1929 gebore.

Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het Diana vrywillig verpleging gedoen. In die vroeë 1920's het sy enkele jare toneel in Amerika, Europa en Engeland gespeel en ook in twee rolprente opgetree. In geeneen van hierdie rolle was dit vir haar nodig om te praat nie. Dit het om die uitstalling van haar skoonheid gegaan: "She is seraphic" (K 2806), "adored by cast and electricians alike" (K 5665). Solank sy aandag trek en bewonder word, was sy tevrede: "She preferred tarnished fame to public indifference" (K 1747). Andersins het sy glans, opwinding en plesier nagejaag: mooi klere, partytjies, onthale, reise, ens.

Duff was van 1924 tot 1929 en van 1931 tot 1944 'n parlementslid, selfs 'n minister, bv van kommunikasie. Hy het sy loopbaan as die Britse ambassadeur in Frankryk (1944-1948) afgesluit. In Parys het die Coopers se paaie met Charles de Gaulle se adjunk, Gaston Palewski, "our pilot fish" (K 4528), gekruis, asook met een van sy vriendinne, Nancy Mitford. In Mitford se roman, Don't Tell Afred (1960), is daar 'n karakter, lady Leone, 'n oud-ambassadeursvrou, wat op Diana gemodelleer is. Die oorgewig Britse minister van buitelandse sake, Ernest Bevin, onder wie Duff as ambssadeur geressorteer het, se eie vrou het gesê: "Ernie's nothing but a large spot of grease" (K 4844).

Na Duff se aftrede "the Coopers remained an ornament at any party" (K 5224). In 1952 is die graafskap van Norwich aan Duff toegeken. Harold Nicolson het egter geen hoë dunk van Duff as politikus gehad nie: "We all think Diana [wat min van die politiek verstaan het] will be a more serious candidate than Duff himself" (K 2985). Duff het sy politieke opgang daaraan te danke gehad dat hy vroeg saam met Winston Churchill die gevaar van Nazi-Duitsland besef en teen Neville Chamberlain se paaibeleid gewaarsku het. Diana het Jan Smuts "the biggest funk-stick of all" genoem (K 1773).

By geleentheid het Diana gehoor 'n kind vra vir sy ma: "What's that lady for?" (K 5462). Wat was Diana? Diana was nie godsdienstig nie en het nie in 'n hiernamaals geglo nie; hoogstens in 'n soort panteïsme: "When Diana said the Lord's Prayer she always omitted the phrase 'Lead us not into temptation'" (K 4496). "I don't know how to pray. I'm sure my efforts never leave the earth" (K 1796). Tot aan haar einde was daar 'n leegheid in haar: "I have no wealth within me. All stimulus has to come through my eyes and ears and movement" (K 5504). Dit is tragies dat sy altyd bysiende was en die ouderdom het haar doof gemaak. Sy was gevoelig vir kritiek, al het sy 'n ander front voorgehou: "I feel like jelly masquerading as a stone" (K 5680).

Ziegler se boek is nie 'n volwaardige of geslaagde biografie nie. Daarvoor is daar te min vertolking en te baie skinderstories. Wat duidelik is, is dat Diana ten alle koste anders of uniek wou wees, bv wat betref haar klere, gedrag, huwelik, huis, ens. Sy was eksentriek, eksoties, uitdagend, selfversekerd, onselfbewus, oorspronklik (dus geen na-aper nie), maar ook dikwels respekloos, onbeskof, ledig, verveeld, onvergenoegd en rusteloos. Haar gedrag was nie altyd prysenswaardig nie. Sy het bv gelieg en gesteel en graag die emosionele afhanklikheid van haar bewonderaars uitgebuit deur bv geskenke te aanvaar en selfs daarvoor te vra. Hierin is sy deur Duff aangemoedig: "Cast dignity to the winds" (K 2739).

Dwelms en veral drank het 'n groot rol in haar lewe gespeel. Sy het bv saam met Duff by trappe afgetuimel toe hulle dronk was en haar been gebreek. Maar dan is dit sy wat van Picasso se tekeninge gesê het: "A drunk baby's scrawl" (K 2377). Die Coopers het in 'n tyd gelewe toe die Britte hulleself as "superior people" beskou het (K 878). Albei Coopers was patrioties en teen fascisme en kommunisme gekant, maar hulle was tot antisemitisme geneig.

"In The Loved and Envied, Enid Bagnold presented what was intended to be a faithful portrait of Diana in old age. Diana was gratified by the attention, and told the author it [die karakter Ruby Maclean] was a striking likeness" (K 5244). Diana het die ouderdom, doodgaan en die dood gevrees. Vir hulle 29ste huweliksherdenking in 1948 het Duff 'n gedig vir Diana geskryf waarin daar staan: "Fear not, sweet love, what time can do" (K 5279).

Albei die Dianas in die eerste paragraaf hierbo genoem, is in hulle 94ste jaar oorlede. Die "transcendental beauty" (K 2066) van Diana Cooper het danksy chirurgie goed behoue gebly. Sedert Diana Spencer (1961-1997), bekendheid verwerf het, veral na haar huwelik met prins Charles in 1981, is daar soms na Diana Cooper as die eerste lady Di verwys. Winston Churchill het gesê: "She's of great worth in this sad world" (K 1758). Vir Duff en haar baie manlike bewonderaars was sy 'n trofee.

Diana Mosley het albei hierdie Dianas oorleef. Latere foto's van haar is egter ontnugterend. Tydsverloop het haar skoonheid verweer: "Great beauty makes loss too near" (K 5496). Skoonheid is verganklik, soos seker alle dinge. Dus, waardeer skoonheid voordat dit taan.

Johannes Comestor

  • 2

Kommentaar

  • Hierdie is nie deur my gelees nie en is daar geen belangstelling van my kant af in hierdie onderwerp nie en is niks deur my oor die jare raakgeloop nie, wat dalk 'n mening sou kon regverdig. 

     
    Kommentaar kom net wanneer die persoon 'n idee het oor 'n onderwerp en indien dit nie aanvaarbaar is nie, dan word die nut van publisering weer bevraagteken en hoekom daar sulke desperate pogings is om negatiewe reaksie te probeer beperk. 
     
    So met die Astor's ook en ander voorbeelde.
     
    Ek geniet 'Downton Abbey', die 1912's sepielyn en dit is dit. 
     
    Ryk verveelde persone en hul buie gaan my nie aan nie....
     
  • Wouter, jy maak 'n fout deur nie die storie te lees nie; dit lees lekker en is interessant.  Die 'bytende stekies' of 'stekende happies' soos mens maar onder die hoipoloi kry is kostelik.

    Terloops, het jy Johannes se uitdaging aanvaar?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top