Chris Jones in die nuus

  • 4

In 'n vorige brief van 29 Januarie het ek beswaar gemaak teen dr Chris Jones se manier van dinge doen, nl dat hy assosiasies tussen gewone kerkmense en Naziisme skep, skynbaar in 'n poging om te verseker dat enige konserwatiewe siening van homoseksualiteit negatief geïnterpreteer sal word.

Intussen haal hy steeds die nuus. Onlangs was sy betoog dat die wet verander moet word sodat oumense wettiglik doodgemaak kan word. Hy verwys nêrens na eerbied vir die lewe nie. Is ons hospitale nie daar om mense gesond te maak en as dit nie meer moontlik is nie om hulle liefdevol te versorg nie? Dis nie dat ek Jones sy opinie misgun nie, maar sy benadering is heeltemal humanisties, terwyl hy amptelik onder die vaandel van die N G Kerk vaar.

Vandag (Maandag) is hy al weer in die nuus: “Teoloog onttrek aan godsdiens-gesprek op Woordfees”. (Dis dan ook geen wonder nie dat hy in die koerant as “'n bekende teoloog” beskryf word.) Hy is een van die verligte teoloë wat beswaar het teen die onttrekking van die Kerkbode uit die Woordfees en die skorsing van Jean Oosthuizen en nou doen hy sowaar presies dieselfde – die Kerkbode het minstens nie tot op die tippie gewag met hulle onttrekking nie. Die bedanking is “om persoonlike redes” (baie geheimsinnig), maar daar is ook bedekte dreigemente. Ons sal maar moet asem ophou en aanhou om die koerant te koop.

Groetnis.

George

  • 4

Kommentaar

  • George

    Ek het nie Chris Jones gelees nie, dus kan  geen kommentaar daarop lewer nie.  Net een sin in jou brief het wel my aandag getrek vir kommentaar, nl: "Onlangs was sy betoog dat die wet verander moet word sodat oumense wettiglik doodgemaak kan word. Hy verwys nêrens na eerbied vir die lewe nie. Is ons hospitale nie daar om mense gesond te maak en as dit nie meer moontlik is nie om hulle liefdevol te versorg nie?"

    Ek bevraagteken dit wel dat die man dit so kras gestel het soos jy dit hierbo uiteengesit het., mbt "ou mense".

    Jy is geregtig op jou godsdienstige beskouing oor die onderwerp, maar het geen morele of enige ander vorm van reg om jou siening op ander af te dwing nie.  Huidig is sodanige siening deur verouderde landswette afdwingbaar, wette wat definitief hersien moet word.

    Euthenasia, waarvolgens (nie net ou mense nie) wat geen waarde vir hulself in die lewe meer reken nie, die reg behoort te hê om pynloos aangehelp te word om hul lewens te beëindig. Mense in onuithoudbare pyn, erg verlam of vermink as voorbeelde.   Ek persoonlik,  indien nog nie gewettig nie, en bevind my in sodanige situasie, sal nie huiwer om my pistool teen my kop te laat afgaan nie.  Ongelukkig het die meerderheid nie die moed om die daad te wil pleeg nie.

    Jaco Fourie

  • Jaco, ek dink jy is 'n bietjie van 'n grootbek om nou reeds te sê jy sal die moed hê om selfmoord te pleeg as jou omstandighede hopeloos is.  

    Enjee
  • jaco fourie j

    Enjee

    Jy''s moontlik reg.  Al hoe meer rede dat wetgewing ingestel moet word om dit vir ander, op my versoek, dit moontlik te kan maak om die daad  namens my  uit te voer, sonder vervolging, soos in Nederland, België, Luxemburg en Switzerlannd tans.

    Ge Korsten het die moed gehad om dit self te doen, waarvoor ek hom admireer.  Indien ek myself in 'n hopelose toestand vind, hoop ek my moed sal my nie begewe nie.

    Jaco Fourie

  • Ek neem aan George is 'n nie-verligte Christen en daarom is hy onder meer  teen genadedood. 'n Christen behoort geen vrees vir die dood te hê nie. Die dood is nie die vyand nie; onmenslikheid en wanhoop is! Om in 'n lewende hel te lê met geen hoop van herstel nie met geen idee van wanneer die hel gaan klaarkry nie, is 'n stadium waar die mens eerder wil doodgaan as lewe. Jaco se voorbeeld van 'n pistool teen die kop is kru gestel. Daar is egter heelwat ander maniere om stiller en minder grusaam die pyn te stil.

    Chris Jones se benadering kom vir my voor as een van liefde en om die lydende mens van sy hel te verlos. Dit gebeur egter slegs op versoek van die pasiënt en is nie 'n willewragtige doodmaak van oumense nie.

    Die onlangse geval van die seun wat sy moeder, 'n gesiene medikus, gehelp het om te sterf, is juis 'n voorbeeld van liefde en respek vir die lewe; om so in pyn te lewe, is nie lewe nie, dis bloot bestaan.  

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top