Julle vrae op my aanmaning vir George het betrekking. Trienie, Irb en Dolf het net kommentaar gelewer, dankie daarvoor.
Angus, soos ek al in my eerste brief aan George gesê het, ek is nie besig met sendingwerk nie; ek vra die vrae wat enige vreemdeling sou vra wat meer inligting wil hê. As jy mooi gelees het, ek het gepraat van die christelike geloof waarvan jy weet dat een van die hoofbeginsels naasteliefde is. Ek het ook na die Islamgeloof verwys waarvan, soos ek Donderdagaande na hulle luister, naastediens 'n baie belangrike aspek is.
Waarvoor hierdie goed probeer wegvat by mense? Veral, as in elk geval in die plek daarvan, formele etiekkursusse aangebied word om die mense weer norme, beginsels en waardes te leer?
Hiermee, Perdebytjie, sê ek nie dat agnostici en ateïste geen etiese beginsels het nie, allermins. Jy sê dat elkeen " ... moet iewers etiese reëls leer en dit hoef darem sekerlik nie net in 'n godsdiensmilieu te wees nie!" Heeltemal reg, ek vra net die vraag of etiekkursusse nie dalk toeneem soos godsdiens kwyn nie. Maar ek reken ons begin afdwaal; netnou word die ding 'n godsdiensdebat en dis iets waaraan ek nie deelneem nie. My punt met George was dat dit onsin is om te sê dat godsdiens skoolvakke (veral wetenskap en wiskunde) benadeel VERAL IN DIE LIG VAN DIE FEIT dat die skoolsisteem in duie gestort het met die aankoms van die Nuwe Suid-Afrika EN gegewe die feit dat leerlinge ordegroottes beter presteer het in die ou bedeling toe godsdiensonderrig nog in volle swang was. Hy is dalk reg, dit ís godsdiens en nie die huidige onderwysstelsel wat verantwoordelik vir die swak prestasies is maar sonder bewyse bly dit 'n persoonlike opinie (en myns insiens 'n wolhaarstorie).
George, jy het geantwoord op my oorspronklike brief maar nadat ek jou gevra het om jou antwoorde beter toe te lig praat jy skielik nie meer met mense wat skuilname gebruik nie. Iets ruik sleg in Denemarke. Iemand anders hier, ek dink dit was Francois Williams, het ook gekla oor die feit dat ek 'n skuilnaam gebruik en ek het Webvoet gevra om my naam en e-posadres aan hom te stuur. In jou geval sal ek nog 'n foto laat saamstuur ook, siende dat jou foto by jou kommentare verskyn; dan is ons kiets.
Naomi, stuur tog vir George my naam en e-posadres en aangehegte foto.
Groetnis
Jan Rap


Kommentaar
Ek het die inligting aangestuur soos versoek.
Groetnis
NaomiB
Jan Rap, geld jou weiering om deursigtig jou naam aan alle lesers van LitNet bekend te maak - en nie net aan my via Naomi nie - as 'n erkenning dat jy skaam is om enigiets te skryf onder jou eie naam? As ombudsman wat daagliks met klagtes oor die media werk, werk ek nie met anonieme klagtes nie. As jy enigiets te vertel het, waarom nie dit onder jou eie naam nie?
Oor jou vrae aan my oor my sogenaamde gebrek aan bewyse dat die oormatige indoktrinering met godsdiens op skool iets te doen het met die agteruitgang van standaarde op wetenskapsvlak: ek het die bewyse reeds elders hier op LitNet oorvloedig gegee uit portuurwetenskaplike studies. Ek verwys jou net na Peter Watson se boek, Ideas - A History from Fire to Freud, en spesifiek die relevante hoofstukke waarin hy aantoon, na aanleiding van omvattende studies deur onder andere 'n Oxford-historikus van formaat, waarom Islam, wat die Weste ver vooruit was wat wetenskaplike ontdekkings en kennis betref in die 8ste tot 11de eeu, dan vandag so ver agter geraak het in wetenskaplike denke. Ek suig nie my sienings hieroor uit my duim uit nie, ek baseer dit op gevestigde en behoorlike navorsing wat reeds die redes bewys het waarom Islam so agteruit geboer het. En in die Weste geskied dieselfde: navorsing wys skole waar kinders met godsdiens geindoktrineer word, se prestasies in wetenskap en wiskunde staan ver terug by gesekulariseerde skole waar wiskunde en wetenskap nie deur gebedjies en ander vorme van godsdiensindoktrinasie aangebied word nie. Koop vir jou Watson - een van die knapste skrywers vandag op die planeet - se boek en lees dit. Laat weet my daarna of jy nog kans sien vir jou gewaande debat.
En kruip uit agter jou masker van Jan Rap. Waarvoor is jy skaam?
Dankie Jan,
Ek aanvaar jou antwoord. Daar is basiese reëls waaraan 'n samelewing moet voldoen om goed te funksioneer en dis my opinie dat dit juis in vroeëre samelewings dmv godsdienste aan mense daargestel is. In die moderne tyd, raak godsdiens irrelevant vir 'n groot gedeelte van die wêreld en daarom dink ek dis uiters noodsaaklik dat etiekkursusse wel aangebied word om sodoende buite godsdiensvlak, ook mense te bereik.
Groetnis
Perdebytjie
Beste Jan,
Angus, nogal ja. Ek eet spek, braai varktjoppies, die soort van ding. Ek speel ook rolbal en kyk rugby op 'n Sondag. Ek sal ook nie saamgaan met die idee dat einigiemand gestenig moet word nie, wat ookal die persoon se oortreding (buitendien, wie sal in elk geval die eerste klip mag gooi?). Op Geloftedag braai ek 'n vleisie en drink 'n paar biere op welke manier ek baie dieper aan my voorvaders se stryd en opoffering dink. Op Sint Padraig-dag dra ek groen, braai 'n vleisie en drink 'n paar Kilkenny's om dieselfde rede as hierbo. Selfde storie met Sint Andreasdag; braai 'n vleisie en drink 'n paar whiskies. Netso met Koninginnedag alhoewel, wanneer ek aan my Hollandse voorvaders dink raak ek baie keer ontstig en drink 'n paar ekstra biere om te kalmeer; hulle het ons darem lelik gedrop. En baie keer, net sommer op 'n willekeurige dag, braai ek 'n vleisie en drink 'n paar biere en dink aan al die stukkende pompe, die gate in die paaie, die vuil parke en sakekerns, die lot van veral die mense op afgeleë (en partykeer nie so afgeleë nie) plase en dies meer. Maar ek dwaal af; die kort antwoord is ja, die Nuwe Testament het 'n paar veranderinge tov die Ou Testament tot gevolg gehad.
Terloops, ek maak nie uitlatings oor die godsdiensdebat nie. As George gesê het X is die oorsaak van swak leerlingprestasie, waar X staan vir enigiets behalwe die Nuwe Suid-Afrika, sou ek ook vir hom gesê het dis twak; dis die Nuwe Suid-Afrika wat die oorsaak van swak leerlingprestasies is.
Jan, tot watter nut is die Bybel dan as jy hom nie gehoorsaam nie?