Angus, hierdie een spook ...

  • 2

Namaste!

Angus, Thomas, Panda en Chris Dippenaar; na aanleiding van jul wyd belesenheid en deurwinterde logika, het ek gewonder of julle my dalk met hierdie een kan help.

Die video hierby is 'n voorskou van die film 2001: A Space Odyssey.

Dis  uitnemende futuristiese wetenskapsfiksie-film op sy beste, en vrygestel toe die uwe net agt jaar groot was.

Ek verstom my aan die akkuraatheid daarvan in menige aspek, veral gegewe dat die film kort na die mens se eerste tree op die maan gemaak is.

Die tema handel hoofsaaklik oor die mens se evolusie, die ontwikkeling van tegnologie en kunsmatige intelligensie soos byvoorbeeld rekenaars, en die mens se toekoms in die buitenste ruimte.

In hierdie opsig kan 'n mens ook in gedagte hou dat 'n goedkoop sakrekenaar wat jy in 2001 in klein skryfbehoefte-winkeltjies kon aanskaf vir 'n paar rand, veel meer berekeningsvermoë het as wat die Apollo-sending tot hul beskikking had met die eerste tree van die mens op die maan - wat nog die kunsmatige intelligensie en tegnologie van my slimfoon vandag met sy gevorderde raakskerm  en ander kommunikasie-toepassings. 

2001: A Space Odyssey, is oorvol sinnebeeld.

Hierdie tweede insetsel wys byvoorbeeld hoe die been, die mens se eerste stuk gereedskap, in die lug gegooi word en weer begin terugval aarde toe: is dit dalk 'n  aansluiting by die hardegat rekenaar wat die ruimtestasie later gekaap het?

Veral aan die einde van die hele 2001: A Space Odyssey, ervaar ek hoedat die naelstring tussen ons siel en ons liggaam, soos 'n draad van goud onlosmaaklik in ons toekoms geweef word - hierdie band is ook in die swart en reghoekige monoliet, die sleutel op ons evolusionêre weg vasgevang.

Die klankbaan van 2001: A Space Odyssey, is iets asemrowend.

Roger Waters het jare later met sy bekende meesterstuk "Amused to Death", ook netjies daarby aangesluit.

Ek deel voorts  'n kort gedeelte uit Zarathustra se Ondergang - DIE OPPERMENS oorspronklik uit "Also Sprach Zarathustra 1883-1885", deur Friedrich Nietzsche met julle:

Zarathustra het alleen langs die berg afgeklim en niemand het hom teëgekom nie. Toe hy in die eerste stad kom, wat naby die bos geleë was, vind hy 'n hele klomp mense op die mark byeen, want vroeër was daar gerugte dat 'n koordanser in die openbaar sou optree. Zarathustra het die mense as volg toegespreek: "Ek verkondig die leer van die Oppermens. Die mens is iets wat oorwin moet word. Wat het julle gedoen om hom te oorwin? Tot dusver het alle wesens iets geskep wat hoër as hulself is: wil julle dan die ebgety van hierdie groot vloed wees? Hoe kom 'n aap vir die mens voor? As 'n grap, of iets pynlik om oor skaam te word; en so behoort die mens ook vir die Oppermens te wees. Julle het van wurm tot mens ontwikkel, en tog is baie van julle nog soos die wurm. Voorheen was julle ape, en selfs nou nog is die mens meer aapagtig as 'n regte aap. Kyk, ek verkondig die leer van die Oppermens! Die Oppermens is die uiteindelike doel van die aarde; wees julle dan ook vasberade om die Oppermens die uiteindelik doel van die aarde te maak! Die mens is soos 'n koord wat oor die afgrond tussen die dier eb die Oppermens strek. Gevaarlik is die oorgang, die heenreis en die terugblik, gevaarlik is ook die huiwering en die aarseling tussen twee pole. Dit is iets groot aan die mens: dat hy 'n brug is en nie 'n spyker nie. Dit kan ons aan die mens liefhê: dat hy 'n ondergang en 'n oorgang is.  O my broeders, ek dra die nuwe adel aan julle op, julle moet die verwekkers en telers daarvan word, en saaiers van die toekoms; maar nie van die adel wat soos handelaars met goud omgekoop kan word nie, want alles wat 'n prys het, is waardeloos. Wees nie trots oor waar julle vandaan kom nie, maar oor die weg wat julle gaan inslaan! Dit moet julle er wees; dat julle die wil en die deursettingsvermoë het om bokant julle self uit te styg; dit is julle eer! Hierdie adel moet vorentoe kyk, nie agtertoe nie! Ons weg gaan hoër  opwaarts, van hierdie geslag na die Oppergeslag. Duisend weë is nog onbegaan, duisend bronne van krag en verborge eilande van die lewe is onaangeraak nog steeds is die mens se krag onuitgeput en die aarde waarop hy woon onontdek. Wag, en luister! Die geheime vlerkslag van winde word waarneembaar (uit die toekoms); en aan fyn oor word 'n boodskap oorgebring. Waarlik, daar sal nog genesing op die aarde plaasvind! Reeds hang daar 'n nuwe, fris geur om Haar, 'n geur van genesing  - en 'n nuwe Hoop."

Wat is jul sin aan als hiervan?

Hindoe-, Moslem-, Joodse-, katolieke-, Boeddhistiese-, Boeregroete en Afrikaliefde,

Cornelius Henn

  • 2

Kommentaar

  • Beste Cornelius, 

    Hier raak jy ? interessante ou sakie aan wat my bek ook laat oophang. Hoe kon die priesters van die Orakel by Delphi voorspel dat  ? man sy pa sal doodmaak en met sy ma trou? Of hoe kon H.G. Wells in Modern Utopia die moderne wêreld so raaksien? George Orwell se 1984 wat hy in 1946 geskryf het, laat my sprakeloos. Dis sowaar Suid-Afrika 2013 wat hy daar beskryf! Dan is daar nog die profete en die sieners, die toekomsduiers wat meestal in die kol is, behalwe natuurlik as hulle die einde van die wêreld voorspel. 


    Die antwoord het ek by Jesus gekry in die verbande  Evangelie van Thomas, waar hy aan Apollo verduidelik dat die Orakel by Delphi so raak kan voorspel omdat hulle wêreldgebeure so goed ken. Dan moet jy natuurlik nie vergeet van die menslike vermoë tot verbeelding nie. Voeg dit by die kennis van wêreldgebeure en jy het die begin van die grootste uitvindings en wetenskaplike teorieë.

     Die menslike verbeelding is letterlik tot alles in staat, selfs die skepping van godedomme wat oor die mens heers. ? Kleinneef van my wat nou rekonstruktiewe chirurg is, het in sy studiejare op Medunsa die taak gehad om vir ? man wat sy oor in ? pangageveg verloor het weer een te laat groei. Weke lank het hy in sy verbeelding gesien hoe hy te werk gaan, en hoe die oor vorm aanneem en groei. En siedaar! daar loop die man vandag met ? skulp wat nogal na ? oor lyk, wat die klanke kan opvang, en goed kan hoor. Ek het hom so ? rukkie gelede gebel, maar hy wil nie toestemming gee dat ek ? foto daarvan moet plaas nie. Hy sê die oor lyk baie soos myne wat ek gekry het van skrum druk in my jong dae. 

     So my antwoord is “menslike verbeelding” wat tot absoluut alles in staat is: soms tot voordeel van die mens, maar ook tot sy nadeel soos die skepping van ? god wat deur miljoene slaafs nagevolg word.

     Groete,  Angus
  • CorneliusHenn

    Beste Angus,  

    Na baie dink oor jou antwoord, kan ek jou verseker dat jy wel 'n splinternuwe en wonderlik geseënde faset in my begrip daarvan gebring het.  

    My tyd is so 'n bietjie beperk om werklik reg daaraan te geskied, dus vra ek jou my nog tyd te gun voor ek my denke hieroor met jou deel.  

    Namaste!  

    Cornelius

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top