Albert Camus se pes of plaag

  • 5

Die HAT definieer 'n epidemie as: "Besmetlike siekte wat hom vinnig oor 'n groot gebied uitbrei en na 'n tyd ... verdwyn." As hierdie geografiese gebied baie groot is, bv 'n kontinent, word dit 'n pandemie genoem. Godsdiensonderrig sorg dat baie kinders vroeg leer van die plae wat Egipte moontlik in die 3de millennium vC getref het. Verder is daar twee pandemies waarvan 'n mens vroeg in jou lewe kennis neem. Eerstens die griepepidemie, bekend as die Spaanse Griep, wat Suid-Afrika in 1918 getref en die dood van bykans 'n halfmiljoen mense veroorsaak het. Tweedens die pes, bekend as die Swart Dood, wat van 1347 tot 1352 dwarsoor Europa getrek en moontlik 75 miljoen mense uitgewis het.

Sean Martin het 'n goed nagevorsde boek, The Black Death (Edison, NJ: Chartwell Books, 2007, 158p), gepubliseer. Die skatting is dat sowat 'n derde van Europa se bevolking slagoffers van die Swart Dood was. Die bakterie Yersinia pestis lewe normaalweg skadeloos in die mae van knaagdiere. Hierdie bakterie kan egter geneties verander en dan in 'n dodelike vorm die bloedstroom van klein knaagdiere (rotte, muise, marmotte, eekhorings) binnedring. Vandaar versprei vlooie dit na ander diere (voëls, katte, honde, skape, perde, kamele) en ook mense. Die siekte kom in drie vorms voor. In klier- of builepes word die limfstelsel aangetas. In die longpesvariasie word die longe aangetas, terwyl bloedpes die bloedstroom vergiftig. Die siekte is deur swart rotte van 1328 af in China via die handelsroetes na Indië en in 1347 na Sisilië en mettertyd na die res van Europa versprei. In Middeleeuse Europa is dit as goddelike wraak vertolk en die skuld daarvoor is deur sommige op die Jode gepak.

Giovanni Boccaccio (1313-1375) beskryf in Die Decamerone hoe die pandemie in 1348 in Florence dood gesaai het. Daar was geen mediese teenmiddels soos entstof nie. Al waartoe die mense hulle kon wend, was afsondering en gebed. Uit die 15de eeu dateer die dodedans, Danse Macabre, waarin die dooies die lewendes na hulle dood lei. Sulke illustrasies word egter dikwels met die Swart Dood geassosieer. Die Kerk is deur die Swart Dood bevoordeel in die opsig dat hy skielik ongeëwenaard met skenkings en bemakings oorval is. Van die negatiewe gevolge vir die Kerk was egter dat baie priesters dood is, onder andere omdat hulle siekes bygestaan en begrafnisse waargeneem het. Mense het agtergekom dat klerklike ampsdraers nie spesiale of bo-natuurlike beskerming teen die siekte geniet het nie. Veral in Spanje het dit opgeval dat nóg Christene nóg Moslems weerstand teen die siekte gehad het. Die gevolg was dat sommige mense die waarde van godsdienstige geloof betwyfel het.

Verlede jaar was Albert Camus (1913-1960) plaaslik in die nuus omdat sy roman, La Peste (1947), deur Piet de Jager in Afrikaans vertaal en onder die titel, Die Pes, gepubliseer is. Ek het net toegang tot Stuart Gilbert se Engelse vertaling onder die titel, The Plague (The Collected Fiction of Albert Camus, London: Hamish Hamilton, 1960, p 69-250). Die vraag wat dadelik opduik, is waarom daar in die Frans en Afrikaans na "pes" verwys word en in Engels na moontlik iets anders. Volgens Dalene Müller is albei vertalings korrek: "plague pes: 'n besmetlike siekte ... soos longpes ... pest plaag: diere of insekte, bv 'n sprinkaanplaag, wat 'n groot las is of skade veroorsaak" (Skryf Afrikaans van A tot Z, Kaapstad: Pharos, 2003, p 174). In Afrikaans en Engels word die betekenis van hierdie woorde dus omgeruil; iets wat seker min voorkom.

Die gebeure in Camus se roman speel in die 1940's in die stad Oran in Algerië af. Dit is Camus se geboorteland, waar hy die Spaanse Griepepidemie (wat in China ontstaan het) in 1918 in die stad Algiers meegemaak het. In 1942 het hy 'n tyd lank in Oran gewoon. Dr Bernard Rieux is die hoofkarakter: "A man who was sick and tired of the world he lived in ... he had ... no truck with injustice and compromises with the truth" (p 76). Die outeur beskryf hoe die pes al hoe meer momentum kry, die maatreëls wat getref word en hoe belangrik dit is dat die inwoners nie paniekerig moet word nie. Dit is duidelik dat Camus wyd oor pes, insluitende die Swart Dood, en ook oor die Spaanse Griep gelees het. "Everybody knows that pestilences have a way of recurring ... There have been as many plagues as wars in history; yet always plagues and wars take people equally by surprise" (p 91).

Dit word algemeen aanvaar dat Camus nie bedoel het om bloot 'n fiktiewe plaag beskryf het nie; dat hy sy verhaal ook, of veral, allegories bedoel het: "Allegorie ... verhalende beskrywing van 'n onderwerp onder die skyn van 'n ander wat daarmee suggestiewe ooreenkomste het" (HAT). Toe De Jager se Afrikaanse vertaling verskyn het, het die plaaslike Franse ambassade myns insiens doelbewus 'n misleidende verklaring uitgereik waarvolgens Camus die Nazi-besetting van Frankryk in gedagte kon gehad het. As dit Camus se bedoeling was, sou hy sy verhaal waarskynlik in Frankryk laat afspeel het. Ek dink die gebeure speel in Oran af omdat Camus hulle waarskynlik allegories op Algerië van toepassing wou maak.

Sy lewe lank was Camus 'n trotse Algeryn. Sy simpatie met die blanke inwoners het hom groot onmin in linkse intellektuele kringe in Frankryk op die hals gehaal. Suid-Afrika en Algerië was in daardie stadium die ontwikkeldste en vooruitstrewendste lande in Afrika. Ek skryf dit veral toe aan die teenwoordigheid van 'n substansiële getal blankes in albei lande. Die talle ooreenkomste tussen hierdie twee lande, ook met betrekking tot albei se sogenaamde bevrydingsoorlog (toe die blanke- of koloniale "juk" afgeskud is), blyk uit bv Alister Horne se uitstekende boek, A Savage War of Peace: Algeria 1954-1962 (London: MacMillan, 1977, 608p). Hierdie Brit skaar hom nie sonder meer aan die kant van die blanke Algeryne nie. Daarvoor kry hy te graag houe teen die Franse in.

In Camus se boek, Resistance, Rebellion and Death (London: Hamish Hamilton, 1961, 198p), is daar 'n afdeling oor Algerië (p 79-110). Camus skryf hy "cannot approve a policy of preservation or oppression in Algeria ... I ... cannot approve either a policy of surrender that would abandon the Arab people to an even greater poverty, tear the French in Algeria from their century-old roots, and favour, to no one's advantage, the new imperialism" [van Islam] (p 81). Algerië was sedert 1830 'n Franse kolonie. "Terrorism as it is practised in Algeria greatly influenced my attitude ... I never cease fearing that, by pointing out the long series of French mistakes, I may, without running any risk myself [hy het toe in Frankryk gewoon], provide an excuse for the insane criminal who may throw his bomb into an innocent crowd that includes my family" (p 82).

"We must condemn with equal force and in no uncertain terms the terrorism applied by the FLN [die "bevrydingsbeweging"] to French civilians and, indeed, to an even greater degree, to Arab civilians. Such terrorism is a crime that can be neither excused nor allowed to develop ... a part of French opinion vaguely holds that the Arabs have in a way earned the right to slaughter and mutilate" (p 84). "It is dangerous ... to expect a nation to confess that it alone is guilty and to condemn it to perpetual penance ... there will be no future that does not do justice at one and the same time to the two communities [Arabiere/Berbers en blankes] of Algeria" (p 87).

In 1958 het Camus korrek voorspel dat "the independence of Algeria under the direction of the most relentless military leaders of the insurrection" [die FLN] sal lei tot "the eviction of 1 200 000 Europeans from Algeria" (p 88). "My solution ... excludes the dream of uprooting the French in Algeria who, if they have no right to oppress anyone, do have the right not to be oppressed themselves and to be their own masters in the land of their birth ... An Algeria made up of federated settlements and linked to France seems to me preferable ... to an Algeria linked to an empire of Islam which would bring the Arab peoples only increased proverty and suffering" (p 90).

In sy outobiografiese en laaste, onvoltooide boek, First Man (London: Hamish Hamilton, 1995, 263p), vertel Camus hoe 'n wonderlike plek die Algerië van sy jeug was. In die voorwoord skryf sy dogter, Catherine (gebore in 1945), oor Camus: "As for Algeria, he advocated a federation in which the Arab and European peoples would be equally represented" (p vi). Dit is soortgelyk aan die vorm wat FW de Klerk se beloofde magsdeling kon aanneem, maar daarvan het daar helaas in Suid-Afrika (en Algerië) absoluut niks gekom nie.

Die woorde "pes" en "plague" dui dus nie noodwendig op 'n mediese situasie nie. Dit is ook "a generic term for things going rather badly" (Martin, p 13). Die woord "pes" kan gebruik word om na 'n onaanvaarbare persoon of situasie te verwys. Volgens die HAT beteken plaag onder andere: "Onheil, ramp ... Iets wat voortdurend ergernis veroorsaak." Na aanleiding van die voorafgaande kan pes of plaag in hierdie sin goedskiks op Suid-Afrika se "demokratiese rewolusie" van toepassing gemaak word, al het Camus in sy roman die destydse situasie in Algerië in gedagte gehad. Met die oog op moontlike toepassing op Suid-Afrika haal ek vervolgens tersaaklike gedeeltes uit Camus se The Plague aan, met die minimum kommentaar van my kant af.

"No one will ever be free so long as there are pestilences" (p 92). "We walk ... in the thick darkness of this plague" (p 125). "The frantic desire for life that thrives in the heart of every great calamity" (p 139). "What's true of all evils in the world is true of plague as well. It helps men to rise above themselves" (p 143). "The issue was whether or not plague was in their midst and whether or not they must fight against it. Many fledgling moralists ... were going about our town proclaiming there was nothing to be done about it and we should bow to the inevitable" (p 147). "The plague had swallowed up everything and everyone. No longer were there individual destinies; only a collective destiny, made of plague and the emotions shared by all. Strongest of these emotions was the sense of exile and of deprivation" (p 167).

"Nothing is less sensational than pestilence and by reason of their very duration great misfortunes are monotonous ... the grim days of plague do not stand out like livid flames ... but rather like the slow, deliberate progress of some monstrous thing crushing out all upon its path" (p 174). "In the morning they harked back to normal condition ["normalisering"], in other words, the plague ... all of us ate the same sour bread of exile" (p 177). "The one way of making people hang together is to give 'em a spell of plague" (p 183). "We all were up against the wall that plague had built around us, and in its lethal shadow we must work out our salvation" (p 200).

"Each of us has the plague within him; no one ... is free from it ... on this earth are pestilences and there are victims, and it's up to us, so far as possible, not to join forces with the pestilences" (p 218). [Dit is hierdie passasie wat De Jager se Afrikaanse vertaling gemotiveer het.] "Some of them plague had imbued with a scepticism so thorough that it was now a second nature; they had become allergic to hope in any form" (p 228). "For the moment, he wished to behave like all those others round him who believed, or made believe, that plague can come and go without changing anything in men's hearts" (p 242).

Les bes is die volgende twee aanhaling ook ter sake: "Destruction is an easier, speedier process than reconstruction" (p 226) en "Stupidity has a knack of getting its way" (p 91).

Johannes Comestor

  • 5

Kommentaar

  • Oeps!

    Nogal geglimlag vir die politieke-siening wat so deursypel. Interessant geskryf en geniet.

    Dankie

    Trienie

  • Johannes Commestor, laaste aanhaling korrek in Sa! 'stupidity...?'

    Ek vloek deesdae aanhoudend, want 'stupidity' is frustrerend oral in Sa! Ek het al 'n staalstoel moertoe geslaan teen die vloer by die werk, nie agv stres nie, maar agv fokken blatante fokken onnoselheid waarmee man sukkel 14 ure elke dag! Dit maak my ou draad kameellyf erg aggressief! Wvk/ talkshop oor fokken alles, sonder logiese redenasie!  Ek het nie my voorvader vlaams weggebliksem vir khoisan khoekhoe nie en wil nie verduidelik hoekom ek nog steeds nie wil nie! Dis my vryheid van Keuse en Assosiasie! Nou ja, ek ontspan die week en is verbaas hoe afgemat mens is na jaar van sukkel met onnosel Kak elke dag!

    Hans

  • Bravo Johannes (is 'braaf' en 'dapper' nie dalk ook van daai omgeruilde betekenisse nie?)
    Hans, ek verstaan.  Baie van ons voel so.

  • Domheidsmacht - skrywer Van Schendel

    Die mag van domigheid word hier op SêNet in die wese van Hans en sy disleksiese soort skrywes openbaar.   Dat hy van ander se dommigheid hierbo kan praat is seer seker die grootste ironie  van die dag.

    Jaco Fourie

  • Johannes Comestor

    Jan Rap, in die landboubylae (p 12) tot Die Burger (15.03.2013) is daar interessante opmerkings oor die woord "pomelo" wat letterlik of etimologies na 'n groter sitrusvrug as "grapefruit" verwys. "Pomelo" kom van die Franse woord "pamplemousse" en verwys na Citrus maxima of Citrus grandis, terwyl "grapefruit" na Citrus paradisi verwys. Hierdie kleiner vrug is uit die groter vrug ontwikkel. Net die kleiner weergawe kom in Suid-Afrika voor terwyl die groter een in Namibië aangetref word. As die berig saam met Boshoff en Nienaber se Afrikaanse Etimologiee (1967) gelees word, blyk dit dat die groter vrug oorspronklik uit die Ooste (bv Maleisie, Mauritius) kom en in Engels "shaddock" genoem word, terwyl die kleiner vrug, "grapefruit" genoem, uit die Wes-Indiese eilande kom.

     

    Johannes Comestor 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top