Selfsug versus identiteit

  • 3

Ons afkeer in mense wat te veel van hulself dink, word meestal gegrond op die wete dat hulle slegs dit kan regkry om op ons neer te sien omdat ons “minder voel oor onsself” as wat ons is, en daarom die gevoel van minderwaardigheid bewerkstellig. Dit bots lynreg met ons identiteit. So steur ons ons aan mense – familie en vriende inkluis – wat soveel skade aan ons rig dat ons later ’n lewenskrisis bereik en nie weet wat om daarmee te maak nie. Ons word dus slawe van ander se gedagtes en ons maak keuses bloot omdat die mense ’n sekere denkbaken namens ons in ons lewens geskep het wat nie daar hoort nie.

Ek weet ek is jonk en ek besef hoeveel “foute” ek het weens my toedoen, maar ook ander se gedagtes oor my. Weens die feit dat ons elkeen se smake anders is en dalk loodreg staan en konflik met ’n ander kan bring, moet ons ons verantwoordelikheid besef dat ons juis meer sensitief met hierdie mense moet omgaan. Dit is juis dan veral moeilik om nie net te sê wat jy wil nie.

Dit laat my dan wonder: wat is die verskil tussen as ek myself laat geld, en dus my eie ek-mens identiteit, en dan daar waar ek myself laat geld en beslis iets in die ander persoon kan breek of selfs net beïnvloed.

Dis asof ek sukkel om die twee te onderskei.

In die een kantlyn staan dit wat ek is, wat wil presteer, wat wil bereik en ja, selfs nou en dan ’n klop op die skouer wil kry. Aan die ander is die tipe persoon (en ek glo in elkeen van ons bestaan so iemand) wat hom/haar altyd laat geld ten koste van die ander persoon. Die persoon sal altyd sy of haar mening opper, selfs al beteken dit dat die ontvanger in afgryse gevul sal word. Ongelukkig.

Wanneer moet jy jouself laat geld? En wanneer nie?

Ek skaf nou die dag ’n ou vriend aan: ’n Ou boek wat op skool behandel was. Lord of the Rings. Ek besef dat die les wat die boek gehad het, was dat ons nie die gevaar “daarbuite” moet vrees nie, maar eerder die monster binne onsself.

Selfsug is die monster.

Ek sukkel partymaal so om te onderskei wat my eie persepsies is oor die wêreld en wat ander mense vanaf my verlede is. Ons is maklik verskuifbaar in ons denke weg van wat die waarheid is.

Dit is wel so dat jy of dit raaksien en daaruit probeer leer, of jy ignoreer dit. Ek dink nie ek sal ooit waarde kan sit op vriendskap nie. Vriendskap is selde “oor my”. Dit gee net. Dit vra niks terug nie.

Ek voel ons spandeer soveel tyd op onsself en ander, dat ons tred verloor het met die werklik belangrike goed.

Om vir jouself ’n bos blomme te koop op Lentedag, byvoorbeeld. Wanneer laas het jy weer na jou naaste parkie gestap en op die rondomtalie gillend gelag terwyl jy vry en ongeskonde die draaiende wêreld bewonder terwyl dit voor jou gesig flits, snel en sonder ophou?

Dit is ook asof geen lig se krag daarin bestaan om helder te skyn nie. Nee, ’n kers se beste vermoë bestaan in die diepste donkerte. Met die gelag kom die verstaan van hartseer. Maar dis ook uit hartseer wat ons die waarde van die geluk wat ons elkeen het, waardeer.

En dit dan my sieninge oor bovermelde vraagstuk: selfsug versus identiteit. Identiteit is om jouself te laat geld omdat jy reeds daar is. Selfsug is wanneer jy dit nie doen nie, en hoop om ’n manier te vind om dit te kan doen, en dan op iemand slaan vir die vervulling wat jou bly kortwiek.

Ons voel leeg wanneer ons onsself verhef bo ander. Vervulling kom juis uit eenvoud. Want eenvoud is armoede. En armoede is eintlik juis ’n vorm van rykdom.

Dink net hoeveel jy gaan gee as jy reeds alle verwagtinge wat jy het, net laat gaan. Dit sal wees asof jy besef waaroor die lewe gaan.

Ongelukkig is die prentjie dat dit nie gaan gebeur nie. En dan hou ons terug.

En dit is die wete dan: selfsug in volheid.

 

 

  • 3

Kommentaar

  • Francois Verster

    Goeie stuk. Inderdaad is ewewigtigheid, daardie vae en fyn balans wat die meeste mense nie eens herken as hulle dit sien nie, die goue koord om op te loop, al wankelend.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top